Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 2/8 bl. 11-15
  • My ontvlugting na die waarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My ontvlugting na die waarheid
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My ontmoeting met Jehovah se Getuies
  • Ek neem ’n besluit
  • Terug in die tronk
  • Oorweging vir parool
  • Vryheid en ’n nuwe lewe
  • Van ’n brullende leeu tot ’n sagmoedige lammetjie
    Ontwaak!—1999
  • Ek was ’n inbreker van beroep
    Ontwaak!—1991
  • “Julle het my indruk van Jehovah Se Getuies verander”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 2/8 bl. 11-15

My ontvlugting na die waarheid

Toe ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, was ek ’n ontsnapte gevangene. Kort voor lank moes ek besluit of ek gaan ophou leuens vertel en die waarheid gaan begin praat.

DIT was November 1974 en ek het voor die hoër hof van die Pender-distrik, Noord-Carolina, VSA, verskyn. Die aanklagte het gewapende roof ingesluit, asook aanranding met ’n dodelike wapen en ’n spoedoortreding omdat ek teen ’n snelheid van 145 kilometer per uur gery het waar die beperking 55 kilometer per uur was. Die volgende maand, toe ek net 22 was, is ek op al die aanklagte skuldig bevind en tot 30 jaar in Noord-Carolina se Departement van Korrektiewe Dienste gevonnis.

Ek het in Newark, New Jersey, grootgeword. Hoewel my pa ’n polisieman was, het ek my ouers altyd hoofbrekens gegee. Ek het in verbeterings- en rehabilitasiehuise vir jeugdiges beland en is een keer selfs in die einste polisiekantoor opgesluit waar my pa gewerk het. Ek sal nooit die pak slae vergeet wat hy my daardie aand gegee het nie! Dit was genoeg om byna enige ander tiener sy lewenswyse te laat verander—maar nie vir my nie.

Ek het van die huis af weggeloop en snags by ’n vriend deurgebring of op straat gebly. Ek het op die ou end weer in die tronk beland. My ma het my teen my pa se wense uit die tronk gekry. My ouers, wat vyf ander kinders gehad het, het besluit dat die leër my dalk sou regruk.

Ek het by die leër aangesluit en ’n ruk lank het die verskeie opleidingsprogramme ’n verskil in my gedrag gemaak. Maar toe het ek dwelms begin gebruik en ’n heroïenverslaafde geword. Ek is in Fort Bragg, Noord-Carolina, gestasioneer en dit was nie lank nie voor ek en my makkers van dorp tot dorp gegaan en gesteel het wat ons ook al nodig gehad het om vir ons dwelmverslawing te betaal. Berigte oor ons roofaanvalle het in die koerante en op TV verskyn.

Die owerhede het my gou opgespoor en ek het die vonnis van 30 jaar gekry wat ek in die begin genoem het. Jare lank het ek in die tronk teen die reëls en regulasies in opstand gekom, maar het uiteindelik besef dat dit net ek is wat daaronder ly. Ek het dus die reëls probeer gehoorsaam in die hoop om minimumbewaring te kry en op parool vrygelaat te word.

Nadat ek tien jaar in die tronk was, het ek minimumbewaring gekry en is nie lank daarna nie op ’n werkvrylatingsprogram geplaas. Dit het beteken dat ek soggens die tronk kon verlaat en saans op my eie kon terugkom. Eendag het ek nie dadelik ná werk teruggekom nie en is van die program afgehaal. Ek is egter nog steeds toegelaat om minimumbewaring te geniet.

Nadat ek amper 11 jaar in die tronk was, het my kanse om op parool vrygelaat te word nie baie belowend gelyk nie. Op ’n warm oggend in Augustus 1985, terwyl ek buite die tronk was, het ’n geleentheid hom voorgedoen om te ontsnap—om ongesiens weg te glip. Ek het na die huis van ’n vriend gegaan wat vroeër saam met my in die tronk was. Nadat ek ’n nagrus geniet en skoon klere aangetrek het, het hy my per motor na Washington, DC, geneem, ’n afstand van ongeveer 400 kilometer.

Ek het my voorgeneem om nooit weer terug te gaan tronk toe nie, wat beteken het dat ek enige verdere kriminele bedrywighede moes vermy. Aanvanklik het ek werk op ’n daaglikse basis aanvaar, enigiets wat ek kon kry. Toe het ek werk by ’n elektrisiteitsmaatskappy gekry. Mettertyd het ek daarin geslaag om ’n geboortesertifikaat met ’n ander naam—Derek Majette—in die hande te kry. My naam, geboorteplek, agtergrond en familie—alles omtrent my was nou ’n leuen. Ek het gevoel dat ek veilig is so lank niemand geweet het nie. Só het ek drie jaar lank in en om Washington, DC, geleef.

My ontmoeting met Jehovah se Getuies

Een aand het twee netjies geklede jong mans na my woonstel toe gekom. Hulle het met my oor die Bybel gesels, ’n boek by my gelaat en belowe om terug te kom. Maar ek het na ’n ander woonstel getrek en hulle nooit weer gesien nie. Toe, een oggend voor werk, het ek by ’n plek gaan koffie drink en twee vroue ontmoet wat vir my Die Wagtoring aangebied het. Ek het dit geneem en hierdie vroue het elke oggend daarna met my oor die Bybel kom gesels.

Hoewel die gesprekke altyd kort was, het my belangstelling in wat die vroue gesê het só gegroei dat ek elke oggend daarna uitgesien het om hierdie vroue, Cynthia en Jeanette, te ontmoet. Mettertyd het ek ander Getuies van Jehovah leer ken wat vroeg in die oggend aan die predikingswerk deelgeneem het. Hulle het my genooi om ’n vergadering by die Koninkryksaal by te woon. Ek was bangerig, maar het die uitnodiging aanvaar.

Terwyl ek daardie middag na die toespraak gesit en luister het, het ek vir die eerste keer gehoor hoe Bybeltekste op ’n verstaanbare manier verduidelik word. Ek het vir die Bybelstudie gebly waar Die Wagtoring gebruik is en het agtergekom dat ek kon deelneem deur die vrae te beantwoord. Ek het my eerste antwoord gegee, en ná die vergadering het ek ingestem dat een van die gemeentelike ouere manne ’n Bybelstudie met my hou.

My kennis van die Bybel het gou vermeerder. En, selfs belangriker, ek het die waarhede waardeer wat ek begin leer het. Ek was nie meer tevrede met my lewe nie. Ek het skuldig begin voel oor die leuens wat ek hierdie mense, wat nou my vriende was, vertel het. Ek het aangehou met my studie en het gedink dat ek sou regkom so lank niemand die waarheid omtrent my weet nie. Maar toe het my Bybelonderrigter oor deelname in die huis-tot-huis-bediening begin praat.

Omstreeks dié tyd het iets gebeur wat my laat besef het dat dit onmoontlik sou wees om aan die bediening of aan soortgelyke bedrywighede deel te neem tensy ek iets omtrent my omstandighede doen. Ek was besig om brandstof in my motor te gooi toe iemand my arms agter my rug vasgryp. Vrees het my oorweldig! Ek het gedink dat die owerhede my uiteindelik opgespoor het. Wat ’n verligting was dit tog om te sien dat dit ’n vriend was wat vroeër saam met my in die tronk was! Aangesien hy nie geweet het dat ek ontsnap het nie, het hy my op my regte naam genoem en allerhande vrae gevra.

Ek was sedert die dag van my ontsnapping nog nooit só bang nie. Maar toe het dit my getref. Gestel ek is in die bediening van huis tot huis en iemand wat my ware identiteit ken, kom na die deur toe? Hoe kon ek in Jehovah se diens uitgaan en die waarheid verkondig terwyl ek ’n huigelaar is? Wat moes ek doen? Moes ek aanhou studeer en skynheilig wees of ophou studeer en verhuis? Dit was so verwarrend dat ek net vir ’n rukkie moes weggaan om daaroor na te dink.

Ek neem ’n besluit

Ek het ’n ent gaan ry. Die lang, rustige rit was net wat ek nodig gehad het om te ontspan, te dink en Jehovah te vra om my te help besluit wat om te doen. Dit was eers op pad terug na Washington, DC, dat ek my besluit geneem het—hou op leuens vertel en praat net die waarheid. Maar dit was nie so maklik om te doen nie. Aangesien ek Cynthia goed leer ken het, het ek haar in my vertroue geneem. Sy het dit duidelik gestel dat ek sake met Jehovah moes regstel. Sy het voorgestel dat ek met die gemeentelike ouere manne gesels.

Ek het geweet dat sy reg is en het ingestem. Maar aangesien ek nie seker was wat ek wetlik moes doen nie, het ek ’n plaaslike prokureur geskakel en my situasie verduidelik. Hy het my aangeraai om met ’n prokureur in Noord-Carolina in aanraking te kom, aangesien hy die prosedures vir daardie staat sou ken. Ek het dus ’n reis suid onderneem om inligting omtrent ’n prokureur te kry.

Toe ek in Raleigh, Noord-Carolina, aankom, het ek na die tronk toe gery wat op een van die hoofstrate geleë is. Ek het stilgehou en net gesit en kyk na die hoë doringdraadheining, die gewapende wagte in die uitkyktorings en die gevangenes wat binnekant die heining rondloop. Ek was 11 lange jare só ’n gevangene! Dit was nie ’n maklike besluit nie.

Ek het nogtans ’n telefoongids nageslaan en ’n prokureur gekies. Ek het hom geskakel en hom dieselfde inligting gegee as die eerste prokureur met wie ek gesels het. Hy het nie baie vrae gevra nie. Hy het my net gesê wat dit sou kos en dat ek hom moes skakel sodra ek gereed was, en dat hy ’n afspraak sou reël. Terug in Washington, DC, het ek reguit na my Bybelonderrigter gegaan.

Hy, sy vrou en hulle dogter was vir my soos familie. Die aand wat ek dus na hulle huis toe gegaan het, het dit ’n rukkie geduur voor ek die woorde kon uitkry. Maar ek was verlig toe ek dit wel gedoen het. Hulle was, om dit saggies te stel, uit die veld geslaan. Toe hulle egter van die skok herstel het, was hulle baie simpatiek en ondersteunend.

Die volgende ding wat ek moes doen, was om geld te kry om die prokureur te betaal en te besluit wanneer ek myself sou oorgee. Ek het 1 Maart 1989 gekies, wat net ’n paar weke later was. Ek wou ophou werk en my laaste dae van vryheid geniet, maar ek kon nie omdat ek geld nodig gehad het om die prokureur te betaal.

Dit was ironies dat ek uit die tronk ontsnap het en nou geld gespaar het om terug te gaan. Soms het die gedagte by my opgekom om maar net van alles te vergeet en weg te gaan. Maar 1 Maart het veels te gou aangebreek. My onderrigter en een van sy ander Bybelstudente het saam met my na Raleigh gegaan. Ons is na die prokureur se kantoor toe en het die aanklagte bespreek waarvoor ek tronk toe gestuur is, die lengte van my vonnis en waarom ek gewillig was om my oor te gee. Die prokureur het toe die magistraat se kantoor geskakel om uit te vind waarheen ek moes gaan. Hy het verneem dat die magistraat my dadelik kon terugneem tronk toe.

Ek het nie beplan om so gou terug te gaan nie. Ek het gedink dat ons net met die prokureur sou gesels en dat ek my die volgende dag sou oorgee. Maar nou, met die besluit geneem, het die vier van ons in stilte na die tronk gery. Ek onthou nog hoe ek gedink het: ‘Is dit werklik besig om met my te gebeur?’ Toe ek my weer kom kry, was ons by die voorste hekke en het ons geluister hoe die prokureur aan die wag verduidelik wie ek is.

Terug in die tronk

Toe die hekke oopmaak, het ek geweet dat dit tyd is om afskeid te neem. Ek en my prokureur het mekaar met die hand gegroet. Toe het ek, my onderrigter en my medestudent mekaar omhels. Die oomblik wat ek aan die ander kant van die hek was, is ek geboei en na ’n plek geneem waar my persoonlike klere vir ’n gevangenisuniform verruil is. Ek het die gevangenenommer 21052-OS gekry, dieselfde een wat ek voorheen gehad het.

Die tronk was ’n minimumsekuriteitseenheid en ek is dus binne ’n uur na ’n topsekuriteitseenheid geneem. Ek kon net my Bybel en die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe by my hou. Ek is tussen gevangenes geplaas waar ek manne herken het wat ek deur die jare geken het. Hulle het aangeneem dat ek gevang is, maar toe ek verduidelik dat ek op my eie teruggekom het omdat ek een van Jehovah se Getuies wou word, het hulle almal gesê dat dit die domste ding is waarvan hulle tot nog toe gehoor het.

Een van die laaste dinge wat my onderrigter vir my gesê het, was: “Moet nooit ophou studeer nie.” Baie van my tyd is dus in beslag geneem deur die Bybel en my Paradys op aarde-boek te lees, sowel as om aan my vriende by die huis te skryf wat geweet het wat met my gebeur het. Een van die Getuies aan wie ek geskryf het, was Jerome en sy vrou, Arlene. My brief was kort, net ’n paar woorde van dank en ’n beskrywing van hoe ek gevoel het oor die tyd toe ek in die geselskap van Jehovah se Getuies was.

Ek het kort daarna van Jerome gehoor wat toestemming gevra het om my brief in ’n toespraak te gebruik wat hy by ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies sou hou. Ek het ingestem, maar het geen benul gehad van wat die gevolge sou wees nie. Net ’n paar Getuies het van my agtergrond geweet. Wat ’n verrassing was dit vir baie toe Jerome, nadat hy my brief gelees en my regte naam, Brian E. Garner, bekend gemaak het, gesê het: “Alias Derek Majette!” Toe was dit my beurt om verras te word. Briewe van bemoediging het van broers en susters begin instroom—nie net van dié in die Petworthgemeente waar ek die vergaderinge bygewoon het nie, maar ook van mense in ander gemeentes.

Ek is kort voor lank van die Sentrale Gevangenis na ’n mediumbewakingseenheid in Lillington, Noord-Carolina, oorgeplaas. Kort nadat ek daar aangekom het, het ek navrae oor godsdiensonderrigting gedoen. Tot my vreugde het ek verneem dat Jehovah se Getuies elke Woensdagaand vergaderinge in die tronk se klaslokaal hou. Ek sal nooit die liefde, ondersteuning en inspanning van die broers vergeet om nie net vir my te help nie, maar vir enigeen wat Bybelwaarhede in daardie tronk wou leer. Nadat hy gehoor het dat ek vroeër gestudeer het, het een van die ouere manne wat die vergaderinge by die tronk gehou het dadelik my studies met my hervat.

Oorweging vir parool

’n Paar maande het verbygegaan en toe het ek gehoor dat ek voor die paroolraad sou verskyn. Hoewel ek ontsnap het en net onlangs teruggekom het, het die wet vereis dat ek voor ’n paroolraad moes verskyn sodat hulle my saak kon heroorweeg of my ten minste in kennis kon stel dat hulle my saak heroorweeg het. Ek het my vriende laat weet dat ek vir parool in aanmerking sou kom. Weer het briewe ingestroom, nie aan my nie, maar aan die paroolraad.

Ek het in Oktober 1989 van die paroolraad verneem dat my saak heroorweeg sou word. Ek was opgewonde. Maar op die dag wat die raadslede sou kom, het niemand opgedaag nie. Ek het ook nie gehoor wanneer hulle sou kom nie. Ek was baie teleurgesteld, maar het nie opgehou om tot Jehovah te bid nie. ’n Paar weke later, op 8 November, is ek en twee ander mans in kennis gestel dat die lede van die paroolraad by die tronk was en dat ek eerste ingeroep sou word.

Toe ek die kantoor binneloop, het ek twee lêers vol papiere gesien. Die een was my lêer wat tot 1974 teruggedateer het. Ek was nie seker wat in die ander een was nie. Nadat hulle ’n paar sake aangaande my geval met my bespreek het, het ’n lid van die paroolraad die ander lêer oopgemaak. Dit het tientalle briewe bevat wat namens my geskryf is. Die komitee wou weet hoe ek soveel mense ná my ontsnapping uit die tronk leer ken het. Ek het dus kortliks van my ondervinding met Jehovah se Getuies vertel. Ek is toe gevra om buite die kantoor te wag.

Vryheid en ’n nuwe lewe

Toe ek teruggeroep is, is ek meegedeel dat die raad ten gunste van “Onmiddellike Voorwaardelike Vrylating” gestem het. Ek was oorstelp van vreugde. Ná slegs nege maande in die tronk sou ek vrygelaat word! Dit het ’n tydjie geduur om die dokumente afgehandel te kry en ek het dus op 22 November 1989 uit die tronk geloop—en hierdie keer was dit nie ongesiens nie.

Op 27 Oktober 1990, minder as ’n jaar na my vrylating, het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer. Ek dien Jehovah nou vreugdevol as ’n bedieningskneg in Washington, DC. Op 27 Junie 1992 is ek en Cynthia Adams in die huwelik verenig.

Ek dank Jehovah, my vrou en haar familie sowel as al die broers en susters wat my gehelp het om aan so ’n liefdevolle, wêreldwye organisasie te behoort.—Soos vertel deur Brian E. Garner.

[Prent op bladsy 13]

Die tronk waar ek 11 lange jare deurgebring het

[Prent op bladsy 15]

Saam met my vrou, Cynthia

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel