Die fassinerende prag van die opaal
Deur Ontwaak!-medewerker in Australië
’N GEWILDE liedjie sê: ‘Diamante is ’n meisie se beste vriend.’ Maar dit is nie net diamante wat hulle bekoorde eienaars na hulle asem kan laat snak nie. Trouens, wat briljante kleure en asemrowende prag betref, is die veelkleurige opaal iets besonders!
Opaal is ’n soort nie-kristalagtige silika. Chemies is dit baie dieselfde as gewone sand. Maar sy mineraalstruktuur is waterhoudend. Eeue gelede het ’n waterige silikajel skeure en krakies in rotse binnegesypel. Namate die water verdamp het, het die jel uiteindelik verhard en opaal geword.
Prospektering na opaal
Maar om opaal uit sy kliptuiste te bevry, is hoegenaamd nie ’n maklike taak nie. Dit word meestal in afgeleë, halfwoestynagtige gebiede gevind waar hitte, swerms gonsende vlieë en beperkte watervoorrade die lewe dikwels onaangenaam maak. En soos met die meeste prospekteringspogings hang sukses grotendeels van toeval af.
Daarbenewens is 95 persent van alle opaal wat ontdek word gewone opaal. Dit is dof en waardeloos. Wat die res van die opaal betref wat uitgegrawe word, is slegs ’n klein persentasie waardevolle opaal, of edelopaal.
Hoewel sommige prospekteerders dus met fabelagtige rykdom beloon is, het tallose ander tevergeefs gedelf. Pikke, grawe en hamers is al dekades lank die prospekteerder se basiese gereedskap. Eers grawe hy ’n nou skag in die harde, droë grond totdat hy die kleivlak bereik waar die opaal waarskynlik gevind sal word. Dan grawe hy horisontaal, met ’n lamp in die hand, op soek na die flikkering van kleur wat aandui dat hy ’n spoor van opaal gevind het.
Hierdie metode het plek gemaak vir duurder toerusting. Sommige kommersiële maatskappye bereik nou die opaalvlak deur die grond met stootskrapers om te dolf. Die meeste skagte word nou met groot meganiese bore gesink wat op vragmotors gemonteer is. Daar word ook van gesofistikeerde tonnelmasjiene gebruik gemaak om die opaallae te volg.
Hoe opaal se prag te voorskyn gebring word
Dit spreek vanself dat ruwe opaal baie van die afgewerkte produk verskil. Die ruwe opaal moet gesny en gepoleer word. Dan kan dit goed gebruik word in ringe, hangertjies en ander juweliersware. The World Book Encyclopedia sê: “Aangesien die prag van die opaal in sy inwendige kleurflitse lê, word dit nooit met fasette, soos ’n diamant, gesny nie. Inteendeel, dit word met ’n effens bolronde oppervlak gesny.”
Hoe ’n opaal se skitterende kleurvertonings ontstaan, was baie jare lank ’n raaisel. Deur middel van elektronmikroskope het wetenskaplikes egter die opaal se geheime begin ontsluit. ’n Diamant se kleure ontstaan weens refraksie, dit wil sê deur lig wat op die edelsteen se oppervlak gebuig word. Die opaal se inwendige en uitwendige struktuur buig lig deur diffraksie en breek dit binne die steen in baie kleure op.
Die boek Australian Opals in Colour sê: “As die edelsteen rondgedraai word, sal al die kleure verander. Ons noem dit die ‘kleurespel’, en dit is hierdie eienskap van kleure wat heeltyd verander wat aan opale hulle kenmerkende aantrekkingskrag gee.”
Faktore wat die prys beïnvloed
Maar voor jy ’n opaal koop, moet jy besef dat nie alle opale solied is nie. ’n Doeblet is ’n dun lagie, of oplegsel, van kosbare opaal wat bo-op ’n stukkie gewone opaal vasgesit is. Triplette is soortgelyk aan doeblette, maar om hulle teen slytasie te beskerm, word ’n kleurlose kwartsdoppie bo-oor gesit. Hoewel hulle heel pragtig kan wees, waarsku die boek Australian Opals & Gemstones—Nature’s Own Fireworks: “Doeblet- en tripletopale moet nooit in water, reinigingsmiddels, alkohol of ’n ultrasoniese reiniger gedompel word nie, aangesien hulle met ’n kleefmiddel gelamineer en vasgeheg is.”
Nog ’n prysfaktor is die steen se basis- of agtergrondskleur. Swart opaal is gewoonlik die duurste soort. Dit word swart genoem weens sy donker agtergrond, maar die steen self het asemrowende kleurvariasies wat feitlik onbeperk is. Ligte, of wit, opaal is gewoonlik nie so duur nie. Hoewel hierdie soort ’n bleek of wit agtergrond het, bring dit steeds briljante kleure voort—pienk, rooi, groen en blou. Die dominante vuurkleur (rooi is gewoonlik duurder as groen of blou) en die kleurpatroon is net so belangrik om ’n opaal se waarde te bepaal.
Maar of ’n opaal nou ’n glansryke soliede steen of ’n meer beskeie doeblet of triplet, ’n skitterende rooi edelsteen of ’n beskeie bloue is, dit is ’n pragstuk vir jou om te bewonder en te geniet.
[Prente op bladsy 24, 25]
Omtrent 95 persent van alle edelopaal is uit Australië afkomstig
[Erkenning]
Photos: By courtesy of Australian Overseas Information Service