Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 10/22 bl. 20-22
  • Hoe ver is “te ver”?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ver is “te ver”?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Deel van die grootwordproses?
  • Waartoe kan ’n soen lei?
  • Wat is “te ver”?
  • Hoe ver is te ver?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Voorhuwelikse seks
    Ontwaak!—2013
  • Is dit werklik so verkeerd om met onsedelikheid te speel?
    Ontwaak!—1994
  • Jou beskouing van seks—Maak dit saak?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 10/22 bl. 20-22

Jongmense vra . . .

Hoe ver is “te ver”?

“Sal julle mense asseblief teen die gevare daarvan waarsku om te ver te gaan? . . . Alles ‘tussenin’ moet bespreek word, omdat dit tot geslagsomgang lei. My vraag is: Waar stel ’n mens die perke?”

Dit is wat een meisie ’n tienertydskrif gevra het. Maar miskien is dit ’n vraag waaroor jy ook al gewonder het.

As jy ’n Christen is, neem jy die woorde in 1 Thessalonicense 4:3-6 ernstig op: “Dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; . . . dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat [Jehovah] ’n wreker is oor al hierdie dinge.”

Hoewel jy dus besef dat geslagsomgang vir ongetroude Christene verkeerd is, wonder jy dalk steeds hoe God dit beskou as ’n mens iemand van die ander geslag soen, omhels of liefkoos.

’n Deel van die grootwordproses?

Eerstens is dit goed om in gedagte te hou dat die Bybel nie geoorloofde, rein liefdesblyke sonder seksuele bedoelings veroordeel nie. Eertydse Christene het nie gehuiwer om hulle liefde teenoor mekaar te betoon nie. Dit was gebruiklik dat hulle ‘mekaar met ’n heilige kus gegroet het’ (Romeine 16:16; 1 Korinthiërs 16:20). Selfs Christene van dieselfde geslag het mekaar gesoen en omhels.—Vergelyk Handelinge 20:37, NAV.

In ’n aantal kulture word dit steeds as gepas beskou om jou liefde teenoor iemand te betoon deur hulle te soen en te omhels. Maar vandag betoon talle jongmense hulle liefde op maniere wat verder gaan as die redelike omskrywing van wat gepas is. Een Amerikaanse opname het bevind dat meer as twee derdes van tieners wat ondervra is, gesê het dat hulle al liefkosing ervaar het wat die streling van intieme liggaamsdele ingesluit het. Baie het dit reeds op die vroeë ouderdom van 14 begin doen. Soos in ’n ander opname bevind is, het 49 persent hulle liefkosing so ver gevoer dat dit tot ’n seksuele klimaks gelei het.

Sommige regverdig sulke seksuele eksperimentering as bloot ’n deel van die grootwordproses. Volgens die boek The Family Handbook of Adolescence “is seksuele spel en eksperimentering iets algemeens onder feitlik alle normale adolessente”. Sommige mense raai liefkosing selfs aan. Die boek Growing Into Love deur Kathryn Burkhart sê: “Omdat hulle net voor gemeenskap ophou, kan die meeste liefkosing kommervry ervaar word en ’n wonderlike uitingsmiddel vir seksuele energie wees.”

Die vraag is egter: Hoe beskou God sulke gedrag?

Waartoe kan ’n soen lei?

Wanneer jy in “die bloei van die jeug” is, is jou geslagsdrange sterk (1 Korinthiërs 7:36, NW). Daarom is dit net natuurlik om nuuskierig te wees oor hoe dit voel om iemand van die ander geslag te soen of aan te raak. Maar The Family Handbook of Adolescence sê: “Seksuele rypheid is emosionele volwassenheid soms met baie jare vooruit.” Talle jongmense besef inderdaad nie ten volle dat ’n soen of ’n liefkosing die krag het om sterk romantiese gevoelens of geslagsdrange te wek nie.

Dit sal dus verstandig wees as jy nadink oor wat die gevolge sal wees as jy dinge doen wat seksuele gevoelens wek. Sê nou jy is te jonk om te trou? Waarom iemand dan soen of enigiets doen op ’n manier wat jou seksueel sal prikkel? Al wat dit sal doen, is om jou te frustreer. Dit is omdat daar geen manier is waarop jy as ’n ware Christen daardie romantiese gevoelens tot hulle logiese uiteinde—geslagsomgang—kan voer nie. Die Bybel maak dit duidelik dat sulke omgang net binne die huwelik betaamlik is.—1 Korinthiërs 6:18.

Dink ook aan die ander persoon wat deur jou romantiese optrede seksueel geprikkel kan word. Is dit nie misleidend, en selfs wreed, om iemand te soen of te liefkoos met wie jy nie kan trou of wat jy selfs nie eers ernstig as ’n moontlike huweliksmaat oorweeg nie? (Vergelyk Spreuke 26:18, 19.) Die Bybel waarsku: “’n Wreedaard pynig sy eie vlees.”—Spreuke 11:17.

Enigiemand wat die Bybel bestudeer, weet dat ’n romantiese aanraking of ’n soen sterk seksuele begeertes kan wek. Die Bybel vertel van ’n jong man wat deur ’n prostituut verlei is. Dit sê: “Sy het hom gegryp en hom gesoen” (Spreuke 7:13). So ’n soen of aanraking kan ’n hewige fisiese reaksie aan die gang sit. Namate liefkosings toeneem, word ’n seun of ’n meisie al hoe meer gestimuleer. Die liggaam berei hom in werklikheid op geslagsomgang voor.

As ’n paartjie getroud is, kan hulle hulle hartstogte op ’n genotvolle en eerbare wyse bevredig. Maar wanneer ’n ongetroude paartjie hulle aan hartstogwekkende liefkosing oorgee, gaan dit beslis tot probleme lei. In een opname het die skryfster Nancy Van Pelt gevind dat talle jongmense wat by liefkosing betrokke geraak het, erken het dat hulle eenvoudig, soos hulle dit gestel het, “meegevoer is”. ’n Tipiese voorbeeld is dié van ’n jong meisie wat onder druk geplaas is om verder te gaan as wat sy ooit vantevore gegaan het. Hoewel sy nie geslagsomgang gehad het nie, het sy die seun wel toegelaat om haar intiem aan te raak. Sy sê: “Nou voel ek vreeslik.” Was dit wat sy die seun toegelaat het om aan haar te doen werklik verkeerd?

Wat is “te ver”?

Sommige jongmense meen dat solank hulle nie geslagsomgang het nie, het hulle nie te ver gegaan nie, dat wat hulle doen nie werklik verkeerd is nie. Die Bybel toon andersins. In Galasiërs 5:19-21 (NW) het die apostel Paulus gesê: “Die werke van die vlees is openbaar, en dit is: hoerery, onreinheid, losbandige gedrag . . . wie sulke dinge beoefen, [sal] God se koninkryk nie . . . beërwe nie.”

Wat is hoerery? Die oorspronklike Griekse woord vir hoerery is por·neiʹa. Dit verwys na seksuele bedrywighede buite die huweliksband wat die gebruik van die geslagsorgane behels. ’n Meisie wat in Seventeen aangehaal word, het toegelaat dat haar kêrel druk op haar uitoefen om orale seks te hê. “Ek voel regtig simpel”, het sy gesê, “want al my vriendinne sê hulle doen dit met hulle kêrels en dat ek hom gaan verloor as ek dit nie doen nie.” Navorsing toon dat ’n kommerwekkende aantal jongmense al daardie vorm van onsedelikheid beoefen het. Nietemin kom sulke dade op por·neiʹa neer en veroorsaak dit dat ons God se goedkeuring verloor.

Die apostel Paulus het hoerery ook met “onreinheid” gekoppel. Die oorspronklike Griekse woord, a·ka·thar·siʹa, omvat onreinheid van enige soort, of dit nou in jou spraak of dade is. Dit sal beslis onrein wees om jou hande onder iemand se klere te laat indwaal, om iemand se klere uit te trek of iemand anders op intieme plekke, soos die borste, te streel. Trouens, in die Bybel word die streling van die borste met die genietinge vereenselwig wat vir getroude paartjies bestem is.—Spreuke 5:18, 19; vergelyk Hosea 2:1.

Sommige jongmense verwerp hierdie Goddelike standaarde nietemin skaamteloos. Hulle gaan doelbewus te ver, of hulle soek op gierige wyse ’n klomp maats uit met wie hulle seksuele onreinheid kan bedryf. Hulle is dus skuldig aan wat die apostel Paulus “losbandige gedrag” genoem het.

Verskeie kenners toon dat die oorspronklike Griekse woord vir “losbandige gedrag” (a·selʹgei·a) ‘skandelike dade, uitspattigheid, arrogansie, onbeteuelde hartstog en skandelikheid’ beteken. Jongmense wat hulle aan losbandige gedrag skuldig maak, is soos die heidene waarna Paulus verwys het. Vanweë “die ongevoeligheid van hulle hart” het daardie heidene “alle begrip van sedelikheid verloor [en] het hulle hulleself oorgegee aan losbandige gedrag om hebsugtig allerlei onreinheid te bedrywe” (Efesiërs 4:17-19, NW). Jy sal tog ongetwyfeld nie onder sulke veroordeling wil kom nie!

Dan moet jy besef dat jy nie geslagsomgang hoef te hê om uit Jehovah se standpunt “te ver” te gaan nie. As jy te jonk is om te trou, behoort romantiese liefkosing en soenery verbode te wees. En diegene wat mekaar die hof maak, moet versigtig wees dat hulle liefdesblyke nie onrein word nie. Dit is waar dat dit nie maklik is om aan Goddelike standaarde gehoorsaam te wees nie. Maar God sê in Jesaja 48:17: “Ek is [Jehovah] jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.”—Sien ook Galasiërs 5:16.

[Prente op bladsy 21]

As jy ongetroud is, kan gedrag wat hartstog wek tot frustrasie en selfs erger dinge lei

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel