Die geheime van die paling word ondersoek
Deur Ontwaak!-medewerker in Ierland
PALINGS het Aristoteles, die eertydse Griekse filosoof, dronkgeslaan. Hoe hy hierdie gladde, slangagtige visse ook al ondersoek het, hy kon net nie geslagsorgane of eiers vind nie. “Die paling”, het hy gesê, “is nie manlik of vroulik nie en kan niks verwek nie.” Hy het tot dié slotsom gekom: “Palings ontstaan uit die sogenaamde ‘derms van die aarde’, wat vanself in modder en in klam grond groei.”
Hedendaagse navorsers het hierdie spesifieke raaisel oor die paling opgelos. Christopher Moriarty van die Departement van Seelewe in Ierland verduidelik dat hoewel die meeste visse se eiers baie duidelik sigbaar is, is daar by die paling geen teken van selfs ’n klein eier nie. “Die paling se eierstokke”, sê hy, “is onopvallend—bykans onsigbaar in jong palings, en in ouer palings vorm dit niks meer as ’n witterige, geplooide lint nie.”
Aangesien daar selfs tot vandag toe nog nooit ’n kuitpaling gevang is nie, kan ’n mens verstaan waarom Aristoteles dronkgeslaan was. Omdat hy nie ’n mikroskoop gehad het nie, was daar geen manier waarop hy kon vasstel waar palings vandaan kom nie.
Hoewel wetenskaplikes hierdie spesifieke raaisel in verband met die paling opgelos het, het hulle ander ontdek wat steeds raaiselagtig is. Beskou byvoorbeeld die lewensiklus van die Europese varswaterpaling, en kyk of jy dit nie boeiend vind nie.
Die raaisel van sy oorsprong
Elke lente verskyn daar naby die kuste van Wes-Europa en Noord-Afrika miljoene palinkies van vyf tot agt sentimeter in lengte, wat elwers genoem word. Waar kom hulle vandaan? Tot die twintigerjare het niemand geweet nie.
Maar teen die einde van die 19de eeu is ’n opspraakwekkende ontdekking gedoen wat daartoe bygedra het om hierdie raaisel op te los. Daar is opgemerk dat die paling, soos die padda en die skoenlapper, sy lewe in ’n ander vorm begin. Bioloë het vir die eerste keer besef dat ’n dun, deurskynende vissie, wat leptocephalus genoem word, met ’n klein koppie en ’n liggaam wat soos ’n wilgerblaar gevorm is, metamorfoseer, of ’n gedaantewisseling ondergaan, om ’n piepklein, deurskynende larwe te word wat ’n glasaal genoem word.
Toe die verband tussen die leptocephalus en die glasaal eers vasgestel is, kon die palinglarwes tot by hulle oorsprong nagespeur word. In 1922 het die Deense oseanograaf Johannes Schmidt ontdek dat die broeigebied van alle Atlantiese palings die Sargassosee is, ’n uitgestrekte wierbesaaide gebied in die Noord-Atlantiese Oseaan. Die Amerikaanse sowel as die Europese palings broei daar uit, en daarin lê nog ’n raaisel.
Verskillende roetes
Amerikaanse en Europese palinglarwes se paaie skei êrens naby Bermuda. “Hoe hulle weet watter kant toe om te gaan wanneer geeneen nog sy ‘tuiste’ gesien het nie, is ’n vraag wat nog nie beantwoord is nie”, sê The Fresh & Salt Water Fishes of the World. Die boek sê voorts: “Vir die Amerikaanse palings is dit ’n reis van omtrent [1600 kilometer]; dit neem omtrent ’n jaar. Europese palings reis [5000 kilometer] of meer, en hulle reis duur bykans drie jaar. Net so verbasend is die feit dat die groeitempo van die twee palings [wat feitlik nie uitmekaar geken kan word nie] so verskil dat elkeen tot omtrent dieselfde grootte ontwikkel het teen die tyd dat hulle by hulle bestemming aankom.”
Op die een of ander verstommende wyse skei hierdie twee soorte palings se paaie instinktief. Aangaande hierdie geheimsinnige gebeurtenis sê die boek Fishes of Lakes, Rivers & Oceans: “Hoe en waarom hierdie verbasende skeiding plaasvind, is net so ’n groot raaisel as wat hulle oorsprong in Aristoteles se tyd was.”
Die lewe in varswater
Wanneer die groeiende elwers, nou geelbruin van kleur, die oseaan oorgesteek het, reis hulle instinktief stroomop om die mere, dammetjies en strome te bereik waar hulle gedurende die volgende 15 jaar en langer tot volwassenheid sal groei. Hulle oorkom alle hindernisse om hulle doelwit te bereik.
Die boek The Royal Natural History beskryf hoe “die rivieroewers plek-plek swart is van hierdie migrerende vissies”. Dit sê voorts: “Daar is al gesien hoe hierdie jong palings teen sluise van mere, waterpype of afvoerpype uitklim . . . en hulle sal selfs ’n stuk nat grond oorsteek om ’n wenslike plek te bereik.”
In die Bannrivier in Noord-Ierland het vissers in die moeilikste deel van die rivier strooilere vir die elwers gemaak. Die elwers klim dan teen hierdie toue uit tot binne-in spesiale tenks waar hulle getel word—20 000 000 van hulle elke jaar!
Gedaantewisseling en migrasie
Wanneer die palings volwassenheid bereik, gebeur iets anders wat baie raaiselagtig is. “’n Reeks merkwaardige veranderinge vind plaas wat met die begin van volwassenheid verband hou”, sê die boek Fishes of the Sea. “Die oog vergroot in deursnee en word spesiaal gewysig vir sig in diep oseaanwaters; die ingewande begin wegkwyn en die geslagskliere vergroot. Die kleur verander ook van geelbruin na silwergrys.”
Elke herfs begin volwasse palings met ’n migrasie van 5000 kilometer terug na die Sargassosee. Niemand weet hoe hulle hierdie merkwaardige prestasie van navigasie uitvoer nie. Hulle hou op eet, en gedurende die seereis van ses maande leef hulle van die vet wat hulle opgegaar het.
Bioloë sê dat sodra hulle terug is in die diep waters van die Sargassosee lê die wyfiepaling 10 tot 20 miljoen eiers, en die mannetjie bevrug hulle. Dan sterf die volwassenes. Die bevrugte eiers dryf na die oppervlak en broei uit as die blaarvormige leptocephalus, en die siklus is voltooid.
Waarom is daar nog nooit ’n kuitpaling gevang nie? “Hulle eet nie meer nie, aangesien hulle spysverteringsorgane weggekwyn het, en dus kan hulle nie met aaslyne gevang word nie”, sê Christopher Moriarty. “Hulle broei op groot dieptes uit”, sê hy voorts, “en aangesien die gebied van die Sargassosee groter is as dié van die Britse Eilande, en palings skugter visse is, sal hulle altyd ’n goeie kans staan om sleepnette wat vinnig getrek word te ontwyk.”
Miskien sal al die raaisels in verband met hierdie merkwaardige vis eendag opgelos wees. Wat fassinerende visse betref, is ‘die paling’ nietemin volgens navorser Christopher Moriarty ‘werklik uitstaande’.
[Venster op bladsy 18]
Palingresepte
Hoewel die idee om palings te eet vir sommige mense weersinwekkend is, word dit in baie dele van die wêreld as ’n lekkerny beskou. Wil jy paling probeer? Ontwaak! het ’n kok in Noord-Ierland gevra hoe die vis gaargemaak word. Hier is twee van sy resepte:
Palingbredie: Jy sal twee middelslagpalings van omtrent 50 sentimeter of so nodig hê. Hulle moet ontvel, ontbeen en in stukkies van vyf sentimeter elk gesny word. Jy sal ook 60 milliliter olyfolie; ’n hele paar fyngedrukte knoffelhuisies; een kruiesakkie; die sap van een lemoen; ’n bietjie gerasperde lemoenskil; ’n knippie rooipeper; ’n knippie sout en 140 milliliter rooi wyn nodig hê.
Plaas die olyfolie in ’n erdekastrol of ’n pan met ’n dik bodem wat groot genoeg is om al die bestanddele te bevat. Voeg die fyngedrukte knoffel, kruiesakkie, lemoensap en -skil en die rooipeper by. Besprinkel die stukkies paling met sout en plaas dit in die kastrol. Gooi die wyn daaroor en voeg genoeg water by om die paling te bedek. Kook omtrent 30 minute lank sonder ’n deksel oor ’n matige hitte totdat die paling gaar is. Dien op in warm borde.
Palingaspiek: Plaas ten minste ’n koppie paling wat ontvel, ontbeen en gekap is in ’n diep pan. Voeg hierby ’n gekapte ui, ’n wortel, ’n selderystingel, ’n lourierblaar, ’n bietjie pietersielie, sout en peper en genoeg water, wit wyn of appelwyn om die bestanddele te bedek. Bring dit stadig tot kookpunt, sit ’n deksel op en laat dit omtrent ’n uur lank prut. Plaas die gekookte palingstukkies in ’n bak. Kook die res van die bestanddele totdat die vloeistof met ’n kwart verminder het, en gooi dit dan deur ’n sif oor die stukkies paling. Die groente en kruie kan weggegooi word. Verkoel die stukkies paling en die vloeistof tot dit gestol het. Eet dit saam met suurlemoensap en gebotterde roosterbrood, net soos patee.
[Venster op bladsy 19]
Het jy geweet?
Die volwasse Europese palingwyfie is ongeveer een meter lank, maar die mannetjie is net die helfte so groot.
Sommige volwasse palings wat in dammetjies of mere woon wat deur land ingesluit word, migreer nooit. Hulle kan tot 50 jaar of langer in sulke plekke leef.
Palings kan 48 uur lank buite die water bly leef.
Die oudste paling wat bekend is, was ’n wyfie met die naam Putte. Sy was ouer as 85 toe sy in ’n akwarium dood is.
Palings het ’n buitengewoon goeie reuksin, ten minste so goed soos ’n hond s’n.
[Prent op bladsy 17]
Ierland se Bannrivier wemel van miljoene palings