Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 7/22 bl. 18-19
  • Die Foegoe—’n klein maar gevaarlike vissie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Foegoe—’n klein maar gevaarlike vissie
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Eetbaar ondanks sy slegte naam
  • ’n Gevaarlike vissie?
  • Wanneer vis jou siek maak
    Ontwaak!—2006
  • Waterkultuur—Vis as “vee”
    Ontwaak!—1995
  • Visskole
    Ontwaak!—2012
  • Sint Petrusvis
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 7/22 bl. 18-19

Die Foegoe—’n klein maar gevaarlike vissie

Deur Ontwaak!-medewerker in Japan

“EK HET ’n woelige vissie aan my hoek gehad. Toe ek hom ingekatrol het, het ’n vriendelike dorpenaar my verseker dat dit inderdaad ’n smaaklike vangs was. Die vis was egter te klein en ek het hom dus teruggegooi in die see. Ek het eers later uitgevind dat dit my laaste maaltyd kon gewees het as ek daardie stekelrige vissie gaargemaak en geëet het.”

Hierdie nuweling in Japan het ’n foegoe, ’n inheemse lekkerny, gevang. Fynproewers betaal enigiets van R150 tot R470 per persoon vir ’n volledige foegoemaaltyd. Maar foegoes bevat ’n gifstof wat tetrodotoksien genoem word en veral in die lewer, eierstokke, niere en soms die vel van die vis voorkom. Tienduisend muiseenhede daarvan, miskien soveel as wat op ’n speldekop kan pas, sal ’n persoon van gemiddelde grootte doodmaak.a

Hoewel daar oor die hele wêreld sowat 100 soorte foegoes is, gebruik hulle almal die opblaastaktiek. Wanneer hierdie onaansienlike vis water in ’n spesiale sakkie in sy slukderm intrek, blaas hy op tot ’n indrukwekkende bol wat met skerp stekels bedek is en enige roofdier afskrik wat daaraan dink om hom in te sluk. Sy veranderde voorkoms kan ’n vyand laat skrik, of hy kan die water uitblaas om ’n ontwykende “maaltyd” te dwing om uit ’n wegkruipplek in die sanderige seebodem te kom. Sy Afrikaanse name, blaasoppie, koeëlvis en blaasvis, is dus baie gepas.

In hedendaagse tye eis die foegoe elke jaar ’n paar lewens. Foegoevoorbereiders wys egter daarop dat die meeste sterfgevalle voorkom omdat amateurs probeer om self die vis voor te berei.

Die foegoe het internasionaal die aandag getrek toe die Japannese probeer het om dit in die Verenigde State bekend te stel. Toestemming om dit in te voer, is geweier en die nuusmedia het dit “moordvis” genoem en gesê dit is “dooduittartend” om foegoe te eet. Was die bewering gegrond?

Eetbaar ondanks sy slegte naam

“Dit is heeltemal veilig om foegoe te eet”, sê Sjinitsjiro Nagasjima, in wie se familie daar al drie geslagte lank ’n foegoekok is. “Ons weet watter dele van die vis giftig is en daar word op die regte manier daarvan ontslae geraak. Gedurende meer as 30 jaar van foegoevoorbereiding in die Tokio-gebied het niemand nog ooit weens foegoevergiftiging gesterf deur vis wat by ’n gelisensieerde winkel voorberei is nie.”

“Die wette is streng”, sê Sjinitsjiro voorts. “As daar byvoorbeeld nie op die regte manier van die organe ontslae geraak word nie, kan die winkel as straf ’n maand lank gesluit word. Of as ’n winkel, selfs op aanvraag, ’n onwettige deel aan iemand voorsit wat sy dood veroorsaak, sal dit verplig word om vir goed te sluit.

“Die voorskrifte in verband met foegoevoorbereiding en die toetsing en lisensiëring van die kokke in hierdie gebied is aanvanklik deur my oupa opgestel. Hy het die weg gebaan vir foegoekookkuns in die Groter Tokio-gebied gedurende die vyftigerjare toe dit reeds in die weste van Japan gewild was.”

Sjinitsjiro se pa, Joetaka, is ’n keurder van aspirantfoegoekokke. Hy lyk heeltemal op sy gemak terwyl hy in sy winkel gesels tussen gedroogde foegoelanterns wat aan die dakbalke hang.

“Opleiding as ’n foegoekok beteken dat ’n mens ’n deeglike kennis van die anatomie van ’n foegoe moet verkry en ’n streng toets moet slaag waartydens jy onder andere binne slegs 20 minute ’n foegoe moet skoonmaak en al sy dele moet identifiseer.”

Wanneer Sjinitsjiro sy mes optel om te wys hoe ’n foegoe skoongemaak moet word, word hy skielik die toonbeeld van ’n man wat hom toespits op die werk wat voorlê. Sy pa kyk toe en verduidelik met watter dele van die vis hy besig is. Daar staan twee vlekvrye panne langs die kerfplank. In een pan kom die lewer, niere en ander giftige dele. In die ander pan kom die eetbare dele van die vis. Binne minute word die dun, wit mootjies nog dunner gesny en soos deurskynende blomblare gerangskik. Gerasperde radyse met rooipeper dra tot die kleur by. Die keurige gereg lyk en smaak heerlik.

Die ouer mnr. Nagasjima glimlag wanneer hy terugdink aan die dae toe foegoe volop was. “Toe ek ’n seun was, was foegoe glad nie so duur soos dit vandag is nie. Aangesien my pa ’n foegoekok was, het ek dit in my kosblik skool toe geneem. Ander kinders wou my graag vir my heerlike middagete ruil.”

’n Gevaarlike vissie?

In 1988 het die Amerikaanse Administrasie vir Voedsel en Medisyne ingesien dat foegoe wat deur gelisensieerde kokke voorberei word met veiligheid geëet kan word, en hulle het toegelaat dat dit na die Verenigde State ingevoer word.

Maar foegoevoorbereiding is definitief nie doen-dit-self-kookkuns vir ’n visserman wat op vakansie is nie. As foegoe op jou spyskaart verskyn, moet dit deur ’n gelisensieerde kok voorberei word. Dit is die enigste veilige manier waarop hierdie klein maar gevaarlike vissie geniet kan word.

[Voetnoot]

a Tetrodotoksien word in muiseenhede gemeet. ’n Muiseenheid is die hoeveelheid wat nodig is om ’n muis van 20 gram binne 30 minute dood te maak.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel