Pedofielpriesters se slagoffers praat openlik
“GEDURENDE die afgelope dekade is ongeveer 400 Rooms-Katolieke priesters by kerk- of siviele owerhede aangekla weens die seksuele molestering van kinders”, sê U.S.News & World Report. ’n Nasionale byeenkoms van mense wat al gemolesteer is, is onlangs naby Chicago, Illinois, gehou. Baie het openlik vertel hoe hulle die slagoffer van pedofielpriesters geword het.
Maar die NCR (National Catholic Reporter) sê dat die sprekers by die konferensie herhaaldelik ’n ander tema laat hoor het: “Die eerste molestering is seksueel; die tweede en pynliker soort is sielkundig.” Hierdie tweede molestering kom voor wanneer die kerk weier om na die slagoffers van molestering te luister, versuim om hulle beskuldigings ernstig op te neem en slegs maatreëls tref om die priesters wat die misdryf gepleeg het te beskerm. “Hulle het”, berig die NCR, “of dit nou redelik of onredelik was, die Katolieke geestelikes uitgebeeld as mense wat aan ’n ongesonde en misleide groep behoort wat meer daarop uit is om hulle voorregte en mag te beskerm as om in die lekedom se behoeftes te voorsien.” Verskeie sprekers het onheilspellende vergelykings getref met die Hervorming, wat die kerk in die 16de eeu heeltemal verdeel het.
Volgens Richard Sipe, ’n voormalige priester wat ’n psigoterapeut geword het en ’n deskundige is op die gebied van seksuele molestering deur Katolieke geestelikes, verraai al hierdie institusionele ontkenning “’n diepe, desperate en ingeligte persoonlike betrokkenheid by die probleem”. Hy het voorts gesê: “Die kerk is al lank bewus van baie van die seksuele bedrywighede van sy priesters. Hy het die wye spektrum van sy priesters se seksuele bedrywighede opsetlik geïgnoreer, toegelaat, weggesteek en eenvoudig daaroor gelieg.”
Dit is dus nie verbasend dat baie gemolesteerdes die kerk dagvaar nie. Die NCR haal ’n regsgeleerde aan wat in sulke sake spesialiseer en wat gesê het dat daar in elkeen van die kerk se 188 bisdomme in die Verenigde State sake is waarby pedofielpriesters betrokke is. Hy sê dat skikkings buite die hof al tot R885 000 per saak beloop het. U.S.News & World Report sê dat sulke sake die kerk al R1180 000 000 gekos het, ’n bedrag wat teen die jaar 2000 tot R2950 000 000 kan styg. En die Canadian Press het onlangs berig dat sowat 2000 mense wat as kinders in 22 kerkbestuurde wees- en sielsieke-inrigtings in Quebec seksueel gemolesteer is ses kloosterordes om skadevergoeding van R3304 000 000 dagvaar.
Maar dit is interessant dat die bogenoemde Amerikaanse regsgeleerde, wat 150 slagoffers van pedofielpriesters in 23 state verteenwoordig, sê dat hy nog nooit ’n kliënt gehad het wat gretig was om hof toe te gaan nie. Elkeen het eers probeer om “binne die pastorale verband van die kerk” geregtigheid te vind. Die NCR sluit af: “Dit lyk of mense wat gemolesteer is nie as ’n eerste uitweg hof toe gaan nie, maar as ’n laaste uitweg.”