Van ons lesers
Negatiewe emosies Dankie vir die wonderlike reeks artikels met die titel “Jy kan negatiewe emosies te bowe kom” (8 Oktober 1992). Ek het hierdie probleem al lank. Maar noudat Jehovah hierdie artikels aan my voorsien het, het ek eindelik die krag gevind om teen hierdie gevoelens te stry. Dit help my baie om die toekoms wat hy vir ons in die vooruitsig het en die seëninge wat ons dan sal geniet voor my geestesoog te sien.
C. I., Italië
Ek het terneergedruk geword nadat ek romanties betrokke geraak het by iemand wat heeltemal bedrieglik opgetree het. Ek het my maande lank gepynig met negatiewe denke soos: ‘Ek was onnosel om sy leuens te glo.’ Of: ‘Ek is ’n swak beoordelaar van geaardhede.’ Ek het toe tot ’n siniese slotsom gekom: ‘Ek sal nooit weer ’n man vertrou nie.’ Die artikel se praktiese benadering tot positiewe denke help my om my eiewaarde te herwin en om te onthou dat hierdie voorval bloot nog ’n leersame ondervinding was.
R. M., Verenigde State
Julle bespreking van negatiewe emosies was uitstekend. Maar nie alle negatiewe emosies word deur bewuste denke veroorsaak nie. Onderbewuste denke—soos onderdrukte herinneringe aan kindermolestering—kan ook sterk gevoelens wek. Party sal dalk hierdie inligting probeer toepas en dan vind dat dit hulle nie beter laat voel nie. Hulle probleem is dalk dieper. Daarom moet mense wat meen dat hulle meer hulp met hulle geestes- of emosionele gesondheid nodig het—hetsy dit professionele hulp insluit of nie—nie veroordeel word as mense wat tot uiterstes oorgaan nie.
M. W., Verenigde State
Dankie vir hierdie kommentaar. Lesers moet in gedagte hou dat die artikels nie gerig is tot mense wat aan ernstige probleme soos major depressie of die nagevolge van kindermolestering ly nie. Sulke mense kan dalk ’n mate van voordeel daaruit trek as hulle die wenke toepas wat daarin bevat is; die artikels het nietemin die aandag gevestig op “die normale negatiewe emosies wat almal ondervind”, soos dit aan die begin gesê het. Wat ernstige vorme van depressie betref, het die artikel erken dat sulke siektes ‘professionele behandeling kan vereis’.—RED.
Trane Ek het onlangs die begrafnis van ’n getroue Christen bygewoon wat jare lank as ’n ouere man in ons gemeente gedien het. Toe hulle die kis uit die saal gestoot het, het ek bitterlik gehuil. Die meeste ander aanwesiges het egter hulle gevoelens in toom gehou. Die dag daarna het ek die Ontwaak! van 22 September 1992 ontvang met die artikel “Waarom al die trane?” Dit het my gehelp om te verstaan dat trane nie ’n teken van swakheid is nie, maar ’n manier om aan intense emosies uiting te gee. Baie dankie vir die insiggewende artikel.
S. Z., Duitsland
Hande Die artikel “Ons fassinerende hande” (8 Augustus 1992) was baie interessant. Ek het voorheen besef dat ons hande wonderbaarlik gemaak is. Maar hierdie artikel het my gehelp om ons Skepper se grootsheid te waardeer.
K. Y., Japan
Gebed Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Verhoor God my gebede?” (22 September 1992). Die artikel het my baie gehelp. Dit het my geleer dat my gebede nie nietige versoeke om materiële dinge moet insluit nie. Ek het ook geleer dat ek in die gebed moet volhard omdat Jehovah gebede nie altyd dadelik beantwoord nie. En hy beantwoord dit dalk nie op die manier wat ons sou verkies nie.
B. G., Verenigde State