Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 2/22 bl. 25-27
  • Kan musiek my regtig benadeel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan musiek my regtig benadeel?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die mag van musiek
  • Nie vir ore en oë geskik nie
  • Kan dit jou benadeel?
  • Waak teen skadelike musiek!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Sal jy wyse keuses maak?
    Ontwaak!—2011
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Wat is fout met my musiek?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 2/22 bl. 25-27

Jongmense vra . . .

Kan musiek my regtig benadeel?

TOM was ’n gewone 14-jarige—’n puik student wat daarvan gehou het om sy bure te help. Maar nadat hy ’n duur stereostel gekoop het, het hy na heavy metal-musiek begin luister.

Tom het feitlik ’n kluisenaar in sy kamer geword. Sy pa sê: “Ek het gewoonlik gesê: ‘Jy kan nie die hele tyd daar bo bly en na jou stereo luister nie.’” Maar Tom het aanhou luister. Toe, op ’n wintersdag, het hy sy ma doodgesteek en selfmoord gepleeg. “Sê vir ouers om te kyk na watter musiek hulle kinders luister”, waarsku Tom se geskokte pa. ’n Paar dae voor die moorde het Tom herhaaldelik ’n lied gesing oor “bloed en oor hoe om jou ma dood te maak”.

’n Uiterste geval? Beslis. En hoewel ander faktore ongetwyfeld ’n rol in hierdie tragedie gespeel het, getuig dit wel van ’n feit wat baie jongmense geneig is om te verkleineer: Musiek kan jou beïnvloed! Jy hou dalk nie van heavy metal-musiek nie, en jy sal waarskynlik nie so gewelddadig optree nie. Nietemin kan musiek jou beïnvloed op maniere wat jy nie eens besef nie.

Die mag van musiek

Musiek het mag. Trouens, dit kan op alle denkbare menslike emosies inwerk—van droefheid en ontroering tot liefde en blydskap. Musiek kan ’n mens kalmeer en jou woedend maak. Dit kan toegewydheid inboesem en dekadensie bevorder. Daarom is dit geen wonder nie dat musiek al van die ou tyd af ’n kragtige instrument van “die god van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, is.—2 Korinthiërs 4:4.

Ter toeligting: Kort nadat die Israeliete uit slawerny in Egipte bevry is, het hulle die aanbidding van Jehovah laat vaar en ’n goue kalf begin aanbid. Wat het met hulle skandelike optrede gepaardgegaan? Wilde en verdorwe musiek! (Exodus 32:1-6, 17, 18). Hoe het die selfbehepte koning Nebukadnesar sy volk se patriotiese en godsdienstige geesdrif probeer opwek toe hy sy onderdane beveel het om ’n heidense afgod te aanbid? Deur opwekkende musiek te gebruik!—Daniël 3:1-7.

Ons moet derhalwe verwag dat Satan vandag musiek sal gebruik om mense te mislei. Hy is “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Baie hedendaagse musiek weerspieël Satan se gees van opstandigheid. En dit is geen wonder nie, want dit word meestal geskryf deur diegene wat volgens die Bybel ‘in die verdwaasdheid van hulle gemoed wandel en wat verduisterd is in die verstand en vervreemd is van die lewe van God’. Trouens, te oordeel na hulle lewenswyse het baie popsangers, -musikante en -komponiste “alle sedelikheidsbegrip verloor”.—Efesiërs 4:17-19, vgl. NW.

As jong Christene na sulke musiek luister, kan dit vir hulle ernstige gevare inhou. Dit is nou nie te sê dat alle popmusiek sleg is of dat rockmusiek die enigste musiek is waarvoor jy versigtig moet wees nie.a Ongesonde musiek kan ook onder klassieke komposisies en operas voorkom. Maar terwyl van die musiek in die verlede op onsedelikheid gesinspeel het of daarop gedui het, moedig baie van vandag se musiek onsedelikheid met ongekende vermetelheid aan.

Nie vir ore en oë geskik nie

Dink aan heavy metal-musiek—’n besonder verderflike vorm van hard rock wat gewoonlik oorverdowend hard gespeel word. Heavy metal-groepe het dikwels name soos Poison, Skid Row, Guns N’ Roses en Slayer. Die tydskrif Time het gesê: “Net die name van die groepe laat jou dink aan tonele van verminking, pyniging en die dood.” Dieselfde kan gesê word van die skrikwekkende kunswerk wat die albumoortreksels versier en wat dikwels sataniese simbole uitbeeld.

Maar wat van die musiek self? Dit het titels soos “Vlees en bloed” en “Begeerte na verwoesting” en het lirieke wat sadomasochisme, verkragting en moord verheerlik. Daarom is dit nie verbasend nie dat Stairway to Hell, ’n heavy metal-musiekgids, heavy metal “’n oorwinning van vulgariteit, tempo, eksplisiteit en gewelddadige onverskilligheid” noem. Heavy metal-musiek is ook al herhaaldelik met dwelmmisbruik, Satanisme en selfmoord onder sy luisteraars verbind. Tog word heavy metal, volgens mediaberigte, deur al hoe meer mense aanvaar.

Baie rap-musiek (of hip-hop) gaan eweneens tot die ergste uiterstes toe oor.b Die tydskrif Time sê: “Rap-digters . . . dring aan op die vuur van oorlog teen die polisie of die swael van eksplisiete . . . seks.” Die lirieke van talle gewilde rap-liedjies is, om die waarheid te sê, te smerig om hier aan te haal. ’n Tienermeisie het na so ’n liedjie verwys toe sy gesê het: “Ek het die eerste woord gehoor—en ek was geskok!”

Baie van die alledaagse rock is egter ook nie vir ’n Christen se ore geskik nie. Hoewel die meeste liedjies op die Top 40 selde so onbeskaamd soos rap of heavy metal is, moedig baie nog subtiel—of openlik—geslagsonsedelikheid en ander onchristelike gebruike aan. Musiekvideo’s, wat ontsettend gewild onder jongmense is, verhoog die trefkrag van die musiek deur kragtige visuele beelde by te voeg. In een studie oor musiekvideo’s is daar bevind dat 57 persent geweld bevat het, en 75 persent het tonele van geslagsgemeenskap bevat. Daar is ook bevind dat verleidelike kleredrag en sensuele danse algemeen in musiekvideo’s uitgebeeld word.

Kan dit jou benadeel?

Pleks van opbouend en heilsaam te wees, is baie van die musiek wat vandag bevorder word duidelik “aards, dierlik, demonies” (Jakobus 3:15, NW). Dit is egter opvallend dat nie alle jong Christene dink dat daar iets mee fout is om na sulke liedjies te luister of na die video’s te kyk nie. “Jy hoef jou nie oor die lirieke in rap-musiek te bekommer nie”, sê ’n jong meisie. “Jy kan hulle in elk geval nie verstaan nie!” Enigiemand wat al probeer het om rap-lirieke te ontsyfer, sal seker saamstem dat daar iets steek in wat sy sê.

Jongmense snap nie altyd die versteekte betekenis van gewilde liedjies nie. Tieners moes in ’n opname die inhoud van ’n paar gewilde liedjies beskryf. Baie van die jongmense het die subtiele temas van seks, geweld, dwelms en Satanisme waarvan hulle musiek deurtrek was eenvoudig nie onderskei nie. Daarom het The Journal of the American Medical Association tot hierdie slotsom gekom: “Daar is geen bewyse dat hierdie musiek enige [nadelige] uitwerking op die gedrag van adolessente het nie.”

Die Bybel stem egter nie daarmee saam nie. Om maar een voorbeeld te noem: dit sê dat ‘slegte gesprekke goeie sedes bederf’ (1 Korinthiërs 15:33). Sou jy ure lank omgaan met of luister na iemand wat uiters growwe taal gebruik, wat jou aanspoor om dwelms te gebruik, wat Satanaanbidding voorstaan of wat perverse seks in aanskoulike terme beskryf? Natuurlik nie! Waarom is sulke taal dan enigsins minder nadelig bloot omdat dit getoonset is of op maat gepraat word? Wanneer sulke verderflike temas oor en oor gespeel word, kan dit nie anders as om jou te beïnvloed nie! “Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?” vra Spreuke 6:27.

Om dié rede vermaan die Bybel ons om onsedelike dinge selfs nie te noem nie, wat nog te sê hulle oor en oor te herhaal (Efesiërs 5:3-5; Filippense 4:8). Diegene wat hierdie beginsel ignoreer, sal ongetwyfeld “verderf maai” (Galasiërs 6:8). “Die liedjies laat jou dink”, erken ’n jongmeisie met die naam Jodie. “Wanneer verkeerde begeertes by jou opkom, sal die liedjies dit verder prikkel.” Nadat een jongmens na ’n rap-liedjie geluister het wat perverse seks beskryf, het hy erken: “Ek kon dit net nie uit my verstand uit kry nie.”

En wat gebeur as ’n mens na heavy metal-liedjies luister wat die dood, dwelms of Satanisme verkondig? ’n Jong Christen het na heavy metal begin luister en was gou met die dood behep. Dit was slegs danksy die doelgerigte pogings van sy ouers en ’n geestelik bekwame vriend dat hy geestelike en fisiese ondergang vrygespring het.

Soms gaan gedagtes in dade oor (Jakobus 1:14, 15). En baie van die hedendaagse musiek word versigtig geskryf om jou verstand met slegte gedagtes te vul. Dit is weliswaar so dat as jy volgens Bybelstandaarde grootgemaak is, jy waarskynlik nie moord sal pleeg of geslagsomgang sal hê net omdat jy dit in ’n liedjie gehoor het nie. Maar daar is ander maniere waarop slegte invloede ’n uitwerking op jou kan hê. Party jong Christene het al die vreemde klere en haarstyle van rock- en rap-kunstenaars begin navolg. Die spraak, gebare en houding van sulke jongmense toon duidelik dat hulle wel beïnvloed word deur die musiek wat hulle hoor.

“Jongmense sê dat musiek hulle nie beïnvloed nie”, sê ’n Suid-Afrikaanse seun. “Maar dit bied Satan die geleentheid om in jou lewe te kom—om dit te beheer.” Hy weet dit uit persoonlike ondervinding, soos hy verduidelik: “Die musiek waarna ek geluister het, het oor spiritisme, dwelms en seks gegaan.” Hoe het hy onder die skadelike invloed van verderflike musiek uitgekom?

“Ek het al my musiek weggegooi. Dit was ’n drastiese verandering om in ’n stil kamer te sit. Maar dit het ’n baie beter mens van my gemaak.” Moet jy soortgelyke stappe doen—nie noodwendig al jou musiek weggooi nie, maar ten minste van plate ontslae raak wat ongetwyfeld verderflik is?—Vergelyk Handelinge 19:19.

Dit beteken nie dat jy musiek moet afsweer nie, maar eerder dat jy moet leer om selektief te wees! Ons sal in ’n toekomstige artikel bespreek hoe om dit te doen.

[Voetnote]

a Die woord “rockmusiek” word in hierdie artikel gebruik vir enige van die verskeie musiekstyle wat onder jongmense gewild is.

b Sien “Jongmense vra . . . Wat is fout met my musiek?” in die nommer van 8 Februarie 1993.

[Prent op bladsy 26]

Sal dit jou help of jou benadeel as jy jou verstand vul met boodskappe van die dood, vernietiging en seksuele verdorwenheid?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel