Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 1/8 bl. 32
  • Godsdiens-verdraag-saamheid 500 jaar later!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Godsdiens-verdraag-saamheid 500 jaar later!
  • Ontwaak!—1993
Ontwaak!—1993
g93 1/8 bl. 32

Godsdiens-verdraag-saamheid 500 jaar later!

CHRISTOPHORUS COLUMBUS het vyfhonderd jaar gelede uit Spanje gevaar. Net een dag voor Columbus se vertrek het ’n ander vloot Spanje verlaat en in ’n ander rigting gevaar. Columbus en sy manskappe het nuwe lande ontdek, en hulle terugkeer was ’n ware triomftog. Maar die ander ongelukkige seevaarders het nooit weer hulle vaderland gesien nie.

Wie was hierdie mense, en waarom is hulle uit hulle land verban? Hulle was Spaanse Jode. Twee weke voordat Columbus koninklike steun vir sy ontdekkingsreis ontvang het, het Ferdinand en Isabella, Spanje se Katolieke heersers, ’n bevel uitgereik wat al die Jode uit Spanje verban het “om nooit weer terug te keer nie”. Hulle het die Spaanse Jode daarvan beskuldig dat hulle misdade teen die heilige Katolieke geloof gepleeg het.

Hierdie bevel, sowel as die Inkwisisie wat kort tevore ingestel is, was die begin van ’n kruistog om Spanje ’n land net vir Katolieke te maak. ’n Dekade nadat die Jode verban is, is enige More wat die Islamitiese geloof beoefen het ook verban. En die Inkwisisie het gou ’n einde gemaak aan ontluikende Protestantse groepe. Columbus, wat dieselfde onverdraagsame gesindheid as dié van sy koninklike beskermhere gehad het, het gesê dat hy die Jode uit alle lande sal verban wat hy ontdek.

Die gees van godsdiensonverdraagsaamheid in Spanje het selfs tot in hierdie eeu toe voortgeduur. Onder die diktatorskap van Francisco Franco het net die Katolieke geloof “amptelike beskerming” geniet. Baie wat graag ’n ander geloof wou beoefen, is eiemagtig in hegtenis geneem. Jehovah se Getuies in Spanje is in die tronk opgesluit op die aanklag dat hulle die geestelike eenheid van Spanje geskend het. In 1959 het minister Camilo Alonso Vega die polisie opdrag gegee om die Getuies se bedrywighede “uit te roei”. Maar tye het gelukkig verander.

Op 31 Maart 1992, presies vyfhonderd jaar nadat sy voorgangers die dokument onderteken het wat die Jode verban het, het Juan Carlos, die huidige koning van Spanje, ’n sinagoge in Madrid besoek vir ’n simboliese samespreking tussen die Spaanse Kroon en afstammelinge van die Spaanse Jode wat verban was.

“Ons het ’n nuwe blaadjie omgeslaan wat die onverdraagsaamheid in Spanje betref”, het die Spaanse Minister van Justisie, Tomás de la Quadra-Salcedo, verklaar. Nou beoefen Jode, Moslems en Protestante hulle aanbidding sonder enige hindernis. En Jehovah se Getuies se werk word nie meer verbied nie. Madrid spog met ’n nuwe moskee en ’n sinagoge asook met die takkantoor van Jehovah se Getuies in Spanje. Die Getuies word met meer as 90 000 bedrywige lidmate as die grootste nie-Katolieke godsdiens in Spanje beskou.

As jy meer inligting oor Jehovah se Getuies en hulle opvattings wil hê, kan jy gerus aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of aan die naaste adres op bladsy 5 skryf.

[Prent op bladsy 32]

Takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Spanje

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel