Die steenbok wat weggekom het
Deur Ontwaak!-medewerker in Suid-Afrika
DIE steenbok, ’n klein wildsbokkie van Afrika, stel instinktief ’n wonderlike voorbeeld wat higiëne betref. “’n Kenmerkende eienskap van die steenbok”, verduidelik professor John Skinner in die boek South African Animals in the Wild, “is dat hulle eers ’n plekkie met hulle voorste kloutjies skoon krap voordat hulle mis of urineer en dit dan daarna sorgvuldig bedek deur grond oor die plekkie te krap.” Ja, hierdie diertjie gaan selfs verder as die wet wat aan die Israelitiese krygsvolk gegee is (Deuteronomium 5:1; 23:13, 14). Hy bedek selfs sy urine.
Die steenbok se puntenerige toiletgewoontes pas by sy sierlike voorkoms. “Die steenbok is steeds vir my een van die mooiste en lieftalligste bokke van Afrika”, het Laurens van der Post geskryf. In sy boek The Heart of the Hunter beskryf hy hoe hy ’n steenbok vir ’n groep uitgehongerde Boesmans in die Kalahari-woestyn in Afrika probeer skiet het. “Sy fyn oortjies”, het die ontdekkingsreisiger geskryf, “was in my rigting gedraai en sy groot perskleurige oë was wyd oop, vreesloos en blink terwyl hy verwonderd na die vreemde gesig aan hierdie uithoek van die aarde gekyk het. . . . Ek het gou geskiet voordat hy kon skrik of voordat ek hierdie lieftallige diertjie kon jammer kry. Ek het nie gedink dit sou moontlik wees dat ek op so ’n kort afstand kon mis skiet nie. Maar ek het. My skoot het die klein bokkie net sy fyn koppie laat skud om van die gesuis by sy ore ontslae te raak wat deur die geknal van my swaar geweer veroorsaak is.”
Na nog ’n paar skote het die kêreltjie besluit dat die mens gevaarlike geselskap is en het hy gevlug. Hoewel Laurens van der Post se honger Boesmanmetgeselle ontneem is van ’n maaltyd wat hulle baie nodig gehad het, was hulle verheug. Waarom? Boesmans koester groot respek vir die steenbok se gewoontes, en hierdie steenbok het aan hulle verwagtinge voldoen. “Die hele lang, warm dag lank”, voeg Laurens van der Post by, “het my gedagtes teruggekeer na die gesig van daardie lieftallige bokkie wat ongestoord te midde van die een geweerskoot ná die ander gestaan het.”