Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 10/22 bl. 27
  • Afrika se raaiselagtige sirkels

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Afrika se raaiselagtige sirkels
  • Ontwaak!—2005
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Bly in my woord’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Die nes van die malleehoender
    Is dit ontwerp?
  • Tuinmaak op die organiese manier
    Ontwaak!—2002
  • Gebruik ’n benadering wat werk
    Ons Koninkryksbediening—2012
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 10/22 bl. 27

Afrika se raaiselagtige sirkels

In ’n 2 000 kilometer lange strook aan die westelike kant van die Namibwoestyn kom etlike kolle onvrugbare, sanderige grond voor wat twee tot tien meter in deursnee is. Elke kol word omring deur lang gras. Dit lyk vir party besoekers asof die grond waterpokkies het of reusagtige reëndruppels daar geval het. Volgens plaaslike tradisie het hierdie sirkels magiese kragte. Sommige stamme glo dat elke sirkel om die graf is van ’n Boesman wat gesterf het in een van die talle konflikte wat deur die eeue heen tussen Boesmans en koloniste plaasgevind het.

Wetenskaplikes probeer ook al lank om die bestaan van die sirkels te verklaar. In 1978 het navorsers wat aangeneem het dat die sirkels mettertyd van posisie sou verander, die middelpunt van party sirkels met metaalpenne gemerk. Twee-en-twintig jaar later was die sirkels nog op dieselfde plek. Daar is ’n oorvloed teorieë oor die oorsprong van die sirkels, berig die Londense koerant The Daily Telegraph, waaronder “termietbedrywighede, vergiftiging deur giftige inheemse plante, besoedeling deur radio-aktiewe minerale en selfs dat volstruise dit as sandbaddens gebruik”. Gretel van Rooyen, professor in plantkunde aan die Universiteit van Pretoria, het onlangs ’n navorsingsekspedisie gelei om ’n verklaring vir die bestaan van die sirkels te probeer vind. Sy sê: “Ons het die teorieë een vir een op die proef gestel en hulle is een vir een verkeerd bewys.”

Navorsers het, interessant genoeg, wel gevind dat gras doodgaan wanneer dit in grond geplant is wat uit die middel van die sirkels geneem is. Maar dit het goed gegroei in grond wat uit die graskringe geneem is, wat bevestig dat die grond binne en buite die sirkels verskil. Hoewel aanvanklike grondtoetse geen verklaring hiervoor gebied het nie, hoop Van Rooyen dat ontleding met behulp van ’n massaspektrometer meer lig hierop sal werp. Sy wonder of daar giftige elemente in die grond binne die sirkels is. “Maar al kry ons dit”, sê Van Rooyen in New Scientist, “is die volgende probleem hoe dit daar gekom het.” Vir eers bly die sirkels een van die aarde se talle fassinerende raaisels.

[Foto-erkenning op bladsy 27]

Courtesy of Austin Stevens

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel