Jongmense vra . . .
Een van my ouers is ’n alkoholis—Hoe kan ek daarmee saamleef?
“Ek het dit gehaat om huis toe te gaan. Ek was nie seker of Ma daar sou wees nie, en as sy daar was, of sy dronk sou wees en luidrugtig sou begin verkondig watter slegte seun ek is nie.”—Robert.
“Ek was so skaam om mense huis toe te bring . . . Ek het my vreeslik vir my gesin geskaam.”—Patricia.
MILJOENE jongmense verduur die daaglikse ontwrigting van die lewe saam met ’n ouer wat ’n alkoholis is. Die boek Teen Troubles sê: “As jy saam met ’n ouer woon wat ’n alkoholis is, beteken dit dat jy saam met spanning leef—spanning wat deur verskeie faktore veroorsaak word.”
’n Groot persentasie van ouers wat alkoholiste is, mishandel hulle kinders liggaamlik of seksueel.a En selfs wanneer sulke mishandeling nie voorkom nie, sê die boek Options: “As [die alkoholisouer] se drinkery hom onvoorspelbaar, onverantwoordelik, roekeloos of buierig maak, is dit vir die kinders klaar erg genoeg.”
Dit is dus geen wonder dat jy soms kwaad, skaam of gefrustreerd is nie. Hoewel dit moeilik is om saam met ’n ouer te woon wat ’n alkoholis is, kan jy nietemin leer hoe om met die probleem saam te leef.
Verstaan die probleem
Om mee te begin, sal dit help as jy verstaan waarom jou ouers in die eerste plek drink.b “Die verstandige sal verstandige gedagtes verkry”, sê Spreuke 1:5.
’n Alkoholis is nie net iemand wat af en toe dronk word nie; ’n alkoholis is ook nie noodwendig ’n dronkaard nie. Kenners definieer alkoholisme as ’n chroniese drinkversteuring wat ernstige probleme skep wat jou lewe, werk en gesondheid beïnvloed. Die alkoholis het ’n beheptheid—’n obsessie—met alkohol en kan eenvoudig nie sy inname daarvan beheer nie. Die meeste kenners stem saam dat alkoholisme net deur geheelonthouding beheer kan word.c
Hoewel ’n paar ongewone fisiologiese verskynsels ’n rol in alkoholisme kan speel en sommige mense vatbaarder vir alkoholisme kan maak, speel emosionele faktore klaarblyklik ook ’n rol. Chroniese selfveragting kan byvoorbeeld agter ’n alkoholis se uiterlike skuil. (Vergelyk Spreuke 14:13.) “Ek het nog nooit”, sê dr. Abraham Twerski, “’n alkoholis teëgekom wat ’n positiewe siening van sy eiewaarde, gevoelens van bevoegtheid en selfvertroue gehad het voordat hy by alkohol betrokke geraak het nie.” Baie alkoholiste kom weliswaar uit alkoholisgesinne. Drankmisbruik kan ’n manier wees waarop die pyn gestil word van die emosionele wonde wat hulle as kinders opgedoen het.
Maar ’n alkoholis vererger net sy probleme as hy drink. Volgens die boek Under the Influence word sy “optrede, gedagtes en emosies deur alkohol benewel”. Die alkoholis het dus veel meer as net ’n drinkprobleem; hy het ook ’n diepgewortelde dinkprobleem. Hy het moontlik baie hulp, miskien van ’n professionele persoon, nodig om op te hou drink. Nogtans kan jy, omdat jy in ’n mate verstaan wat alkoholisme behels, darem ’n mate van meegevoel met jou ouer hê.—Spreuke 19:11.
Hoe jy geraak word
Wanneer ’n ouer ’n alkoholis is, word elke gesinslid daardeur geraak. (Vergelyk 1 Korinthiërs 12:26.) Jou lewe is dalk vol onsekerheid. Gaan jou ouer nugter of dronk huis toe kom? Sal hy jou omhels of jou ’n oorveeg gee? Ja, ouers wat alkoholiste is se optrede wissel dikwels van die een uiterste na die ander. “Hulle kan liefdevol en verantwoordelik wees wanneer hulle nugter is en onredelik gewelddadig en beledigend raak wanneer hulle dronk is”, sê dr. James P. Comer. Sulke onvoorspelbaarheid kan van jou lewe ’n emosionele wipplank maak. Jy het jou alkoholisouer die een oomblik lief, die volgende oomblik verag jy hom. “Party dae het ek net gewens dat hy dood is”, het een jong vrou erken.
Soms duur dit jare voor die gevolge daarvan om uit ’n alkoholishuisgesin te kom duidelik word. Kinders van alkoholiste word dikwels self alkoholiste—of hulle trou met een. ’n Jong Christenvrou het gevolglik emosioneel betrokke geraak by ’n man wat sy as “’n ontluikende alkoholis” beskryf het. Hoewel sy ’n paar baie oulike, stabiele Christenmans geken het, het sy nie in hulle belanggestel nie. Waarom het sy aangetrokke gevoel tot ’n alkoholis? Sy het namens ander wat soos sy voel, gesê: “Hulle is die enigste soort mans wat ons ken en wat ons verstaan.”
’n Christen- ouere man het haar gehelp om haar denke hieroor reg te stel en sodoende die verwoestende kring van alkoholisme te verbreek. Dit is dus duidelik dat jy nie tot ongelukkigheid gedoem is net omdat jy in ’n alkoholishuishouding woon nie. Dit is moontlik om die potensiële skade te beperk en miskien selfs jou ouer wat ’n alkoholis is te help.
Hoe om daarmee saam te leef
Dr. Stanton E. Samenow sê: “Die omgewing waaruit ’n mens kom, is minder belangrik as die mate waarin die individu gaan toelaat dat daardie omgewing hom beïnvloed.” Ja, selfs wanneer dit lyk asof dinge tuis buite beheer is, kan jy beheer van jou lewe neem. Hoe?
Moenie die verantwoordelikheid vir jou ouer se drinkery op jou neem nie. “My ouers het vir my gesê dat dit my skuld is”, het 13-jarige Beth gesê. Hulle het haar weerbarstige gedrag vir hulle drinkery geblameer. “Ek het vreeslik skuldig gevoel oor alles”, het sy erken. Maar jou ouer—en net jou ouer alleen—is vir sy alkoholisme verantwoordelik. “Elkeen sal sy eie pak dra”, sê Galasiërs 6:5.
Jy kan gevolglik nie jou ouer wat ’n alkoholis is, genees nie. As jy skree, te kere gaan, huil en met hom baklei, gaan dit nie veel vermag nie. Daarenteen hoef jy hom nie te beskerm teen die gevolge van sy drinkery deur leuens te vertel en hom van die voorstoep af weg te sleep wanneer hy sy roes daar uitslaap nie.
Moedig hom aan om hulp te kry. Dít vereis gewoonlik die samewerking van jou ouer wat nie ’n alkoholis is nie en jou broers en susters.d Die Ontwaak! van 8 April 1983 het spesifieke wenke gemeld oor hoe gesinslede (1) die alkoholis kan help om die gevolge van sy drinkery onder die oë te sien en (2) hom regstreeks met die feite oor sy drinkery kan konfronteer. As jy die saak só benader, kan dit hom laat besef dat hy hulp nodig het.
Verlaat die toneel van moeilikheid. Spreuke 17:14 sê: “Laat die twis vaar voordat dit losbreek.” Moenie jouself in gevaar stel deur in die middel van jou ouers se rusie te beland nie (Spreuke 26:17). Gaan, indien moontlik, na jou kamer of na ’n vriend se huis. Wanneer die gevaar van geweld bestaan, is hulp van buite af dalk nodig.
Erken jou gevoelens. Party jongmense voel skuldig omdat hulle soms veragting teenoor hulle pa voel. Maar dit is net normaal om so te voel, veral as sy drinkery hom daarvan weerhou om jou die nodige sorg en ondersteuning te gee. Die Bybel verplig jou weliswaar om jou ouer te eer (Efesiërs 6:2, 3). Maar “eer” beteken om sy gesag as ouer te respekteer net soos jy ’n polisieman of ’n regter sou respekteer. Dit beteken nie dat jy sy drinkery goedkeur nie (Romeine 12:9). Jy is ook nie ’n slegte mens omdat sy drinkery jou walg nie; dronkenskap is walglik! (Sien Spreuke 23:29-35.) Maar jy kan dalk leer om jou haat op sy alkoholisme pleks van op hom toe te spits.—Vergelyk Judas 23, NW.
Soek opbouende omgang op. Wanneer die lewe tuis chaoties is, kan jy dit wat normaal is uit die oog verloor. Daarom is dit belangrik dat jy met mense omgaan wat geestelik en emosioneel gesond is. Die Christengemeente is ’n bron van “broers en susters en moeders” wat baie sorg en ondersteuning kan bied (Markus 10:30). Hulle kan jou ook soms ’n geleentheid bied om van die gesinspanning af weg te kom. Omgang met Christengesinne kan jou ook ’n gesonde voorbeeld van die gesinslewe gee, een wat die verdraaide weergawe wat jy tuis sien, kan verander.
Kry hulp. As jy ’n volwasse vertroueling het met wie jy jou gevoelens kan deel, help dit werklik. Gemeentelike ouere manne vertolk dikwels hierdie rol. “Hoe sleg jy ook al voel”, sê dr. Timmen Cermak, “moet jy onthou dat jy nie alleen hoef te ly nie.”
Nee, jy kan dalk nie die situasie tuis verander nie. Maar soos dr. Claudia Black geskryf het: “Gesinslede kan die wyse waarop hulle lewe geraak word, verander.” Pleks van die alkoholis te probeer verander, moet jy jou aandag toespits op die een mens wat jy wel kan verander—jy. Voorsien in jou geestelike behoeftes (Mattheüs 5:3, NW; 24:14; Hebreërs 10:24, 25). “Werk julle eie heil uit”, sê die Bybel in Filippense 2:12. Dit sal jou help om ’n positiewe uitkyk te behou, en dit sal dalk selfs jou ouer aanmoedig om hulp te soek sodat hy kan werk maak van sy probleem.
[Voetnote]
a As jy mishandel word deur ’n ouer wat ’n alkoholis is, het jy hulp nodig. Vertel ’n volwassene in wie jy vertroue het daarvan. Onder Jehovah se Getuies kan jongmense byvoorbeeld gerus gemeentelike ouere manne of ander ryp Christene nader. Waardevolle leiding om slagoffers van mishandeling te help, kan in die Ontwaak! van 8 Oktober 1991 gevind word.
b Om dit makliker te maak, verwys ons in hierdie artikel na die alkoholis as ’n man. Maar die beginsels geld ook vir vroulike alkoholiste.
c Vir meer inligting oor alkoholisme sien die Ontwaak! van 22 Mei 1992 en 8 November 1982. Sien ook Die Wagtoring van 15 Julie 1983.
d As die alkoholisouer sê dat hy ’n Christen is, sal jou gesin ook moontlik die hulp van die gemeentelike ouere manne wil inroep.
[Prent op bladsy 17]
Bespreek jou gevoelens openhartig met ’n volwassene in wie jy vertroue het