Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 7/15 bl. 8-11
  • Drankprobleme—Wat kan die ouere manne daaromtrent doen?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Drankprobleme—Wat kan die ouere manne daaromtrent doen?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Alkoholisme
  • Een van my ouers is ’n alkoholis—Hoe kan ek daarmee saamleef?
    Ontwaak!—1992
  • Hoe kan die gesin help?
    Ontwaak!—1992
  • Jy kan probleme te bowe kom wat ’n gesin skade berokken
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Hoe kan ek ophou drink?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 7/15 bl. 8-11

Drankprobleme—Wat kan die ouere manne daaromtrent doen?

SY HET alles denkbaar probeer om minder te drink. Niks het skynbaar gehelp nie. Toe sy saam met die aangestelde ouere manne in die gemeente vergader het, was hulle baie besorg en het hulle haar Skriftuurlike raad oor matigheid gegee. Maar haar pogings was teleurstellend. Haar probleem was dieperliggend. Sy was ’n alkoholis.

Dit laat ’n baie belangrike vraag ontstaan: Wat kan ouere manne doen om hulle geestelike broers en susters wat drankprobleme het te help?

Dit is duidelik dat die Skrif dronkenskap geensins vergoelik nie. Dit is veral Christenopsieners se verantwoordelikheid om toe te sien dat verstokte, onberouvolle dronkaards nie in die Christengemeente geduld word nie; hulle moet uitgesit word (1 Korinthiërs 5:11-13; Galasiërs 5:19-21). Maar ouere manne moet allereers begerig wees om berouvolle persone wat deur alkoholgebruik verstrik is, te help. Wat moet ’n ouere man dus doen as hy genader word deur ’n broer of suster wat dronk geword het en nou hulp soek?

Ons moet eerstens daarop let dat daar ’n verskil bestaan tussen iemand wat onwetend by een geleentheid dronk word en ’n dronkaard—iemand wat ’n gebruik daarvan maak om dronk te word. Beskou die geval van Noag, wat by een geleentheid te veel wyn gedrink en dronk geword het (Genesis 9:20, 21). Noag was beslis nie ’n verstokte dronkaard nie. Daar is geen aanduiding in die Skrif dat hy ooit weer dronk geword het nie.—Vergelyk Hebreërs 11:7.

Die ouere man wat genader word, moet dus vasstel: Was dit ’n alleenstaande voorval? Het die individu hom voorgeneem om versigtig te wees sodat dit nie weer gebeur nie? Het hy die oortreding openlik bely en God om vergifnis gevra? Was die voorval van so ’n aard dat dit nie groot smaad meegebring het nie? Indien hierdie en ander faktore gunstig is, sal dit miskien voldoende wees as die ouere man liefdevolle raad oor matigheid “met die gees van sagmoedigheid” gee en aldus die persoon se voorneme versterk om nie die oortreding te herhaal nie.—Galasiërs 6:1.

Maar gestel dat daar herhaalde gevalle van dronkenskap was of dat die persoon berug geword het. In sulke gevalle moet die saak deur ’n regterlike komitee behartig word. Maar om die persoon te help, sal dit vir die ouere manne nuttig wees om te weet of die probleem alkoholisme is.

Alkoholisme

Watter verskil maak dit? Baie! Soos die ondervinding in die eerste paragraaf toon, sal dit nie veel help om vir die persoon te sê dat hy matig moet drink as hy ’n alkoholis is nie. Waarom nie? Omdat die meeste deskundiges op die gebied van alkoholisme geheelonthouding aanbeveel vir alkoholiste, aangesien hulle gewoonlik nie die hoeveelheid wat hulle drink, kan beheer wanneer hulle eers begin nie.

Daarbenewens ontken baie alkoholiste hulle probleem. Beteken dit dat hulle onberouvolle, verstokte dronkaards is? Nie noodwendig nie. Hou in gedagte dat alkoholiste gewoonlik nie hulle situasie besef nie. Hulle word fisies, verstandelik, emosioneel en geestelik geraak, en hierdie faktore moet in aanmerking geneem word. Dit is dus glad nie maklik om hulle te oortuig dat hulle ’n drankprobleem het nie.

Wanneer ouere manne sulke gevalle hanteer, is daar verskeie vrae waaraan hulle gerus aandag kan skenk.

Hoe kan jy weet of alkoholisme die probleem is? Jy kan die artikel “Alkoholisme—Die feite, die mites” in Ontwaak! van 8 November 1982 raadpleeg. Dit bespreek die simptome van alkoholisme.

Wees wakker. Alkoholisme kan soms die onderliggende probleem wees. In een gemeente het ’n suster byvoorbeeld die ouere manne genader vir hulp met ernstige depressie. Maar ondanks hulle welmenende pogings om haar te help, het die depressie voortgeduur. Die ouere manne het egter later uitgevind dat sy ’n drankprobleem het. Verdere pogings om haar te help het aan die lig gebring dat sy ’n alkoholis is. Nadat sy hulp met haar alkoholisme aanvaar het, het die suster baie mooi herstel.

Hoe kan jy die alkoholis help om te sien dat hy ’n drankprobleem het? Vermy menings en veralgemenings soos: “Ons dink dat jy te veel drink.” Sulke kommentare kan die alkoholis nog meer op die verdediging plaas. Die persoon kan eerder gekonfronteer word met spesifieke en beskrywende besonderhede van sy drinkgewoontes en die gevolge daarvan. Dit is belangrik dat die toon diepe besorgdheid weerspieël: “Ons is baie besorg oor wat met jou gebeur, en hier is die feite wat ons besorgdheid sal verklaar.”

Een ouere man, wat sy eie alkoholisme te bowe gekom het, beveel die volgende aan: “Ek het dit nuttig gevind om vas te stel watter probleme die persoon moontlik tuis of by die werk het. Met behulp van uitlokvrae help ek hom dan om te sien dat alkohol die onderliggende probleem kan wees. Ek onthou een gesprek wat soos volg verloop het:

‘Het jou drinkery ’n uitwerking op jou gesinslewe gehad?’

‘Ek glo nie.’

‘Het jy en jou vrou woorde gehad?’

‘Ja.’

‘Het drank iets daarmee te doen gehad?’

‘Nee.’

‘Wel, was jy besig om te drink toe julle woorde gehad het?’

‘Uh . . . wel, . . . ja.’

“Nadat ons verskeie probleme bespreek het, het ek daarin geslaag om hom te laat sien dat sy probleme feitlik by elke geleentheid met ’n drinksessie saamgeval het.”

Wat van professionele hulp? Die alkoholis het dalk sulke hulp nodig om te herstel. Die ouere manne sal natuurlik nie ’n bepaalde soort behandeling aanbeveel nie—die betrokke persoon moet self daaroor besluit. Hulle sal ook nie sy weiering om professionele hulp te verkry noodwendig as ’n aanduiding van gebrek aan berou beskou nie. Fermheid is terselfdertyd nodig. Die persoon moet duidelik verstaan dat sy genieting van Jehovah se guns as ’n goedgekeurde lid van die Christengemeente op die spel is.

Wat van uitsetting? Dit kom neer op die volgende: Wat is die persoon se gesindheid teenoor sy drinkery? Is hy, ondanks jou geduldige maar ferme pogings om tot hom deur te dring, vasbeslote om aan te hou drink? Dit is in hierdie verband interessant om te let op wat die boek Alcoholics Anonymous werkgewers van alkoholiste aanraai om te doen:

“As jy seker is dat hy nie wil ophou nie, kan jy hom maar net sowel ontslaan . . . Sy ontslag kan vir so ’n individu ’n seën wees. Dit is dalk net die skok wat hy nodig het.” Indien die individu se gesindheid verg dat hy uitgesit word om die gemeente skoon te hou, kan dit terselfdertyd net die “skok” wees wat hy nodig het.

Maar wat nou as jy daarvan oortuig is dat hy werklik wil ophou? As die individu instem om hulp te aanvaar, sal tyd nodig wees om te sien of hy voet by stuk gaan hou. Professionele behandeling kan help. Hy moet natuurlik begryp dat dit nie die hele oplossing vir die probleem is nie.

Hy sal gewoonlik deurlopende hulp nodig hê, veral van ’n geestelike aard. In die verlede het hy op depressie, woede, probleme by die werk, ensovoorts gereageer deur sy toevlug tot alkohol te neem. Nou het hy jou hulp nodig om die werklikheid met ’n nuwe denkpatroon onder die oë te sien. Daar kan ook langdurige, negatiewe gevoelens wees, soos skuld of ’n gebrek aan vertroue. Hy voel dalk onwaardig om Jehovah in gebed te nader en het jou hulp nodig om weer ’n intieme verhouding met God te verkry. Jou gebede met hom en vir hom, tesame met vertroostende gedagtes uit God se woord, kan sy vrese verlig en sy twyfelgedagtes laat bedaar.a—Jakobus 5:14-16.

’n Persoon wat sy been breek, het dalk ’n ruk lank ’n kruk nodig. Die persoon wat sukkel om op te hou drink, het eweneens ’n simpatieke skouer nodig om op te steun, ’n oor wat sal luister. Is jy bereid om te help?

“Die ouere manne sowel as ’n klomp broers het my besoek”, het een broer gesê wat gesukkel het om op te hou drink. “Woorde kan nie beskryf hoe baie ek al hierdie liefde en begrip waardeer het nie. Hoe wonderlik was dit tog om weer tot Jehovah te kan bid. Wat ’n verligting!”

“Die broers het my op baie maniere gehelp”, het ’n ander Getuie gesê wat gehelp is om sy alkoholisme te bowe te kom. “Hulle het selfs voorgestel dat ek gedurende vergaderinge by hulle sit, aangesien ek bang was om te kom. Een broer het my baie gehelp. Hy het my besoek wanneer ek dit die nodigste gehad het—ongeag wat sy rooster was. Ek is baie dankbaar vir sy liefde en geduld.”

In sommige gevalle help dit as die een wat sukkel om op te hou drink, kan gesels met ’n broer wat self alkoholisme te bowe gekom het. Waarom? Omdat so ’n persoon met begrip kan praat daar hy terdeë besef watter veranderinge ’n alkoholis moet aanbring. Maar dit is nie al nie. Dit toon ook vir die een wat sukkel om op te hou dat dit moontlik is om op te hou. Hy sien ’n voorbeeld voor hom. Dit is logies dat alkoholiste liewer ’n preek sal wil sien as hoor.

Gestel daar is ’n terugval. Wat dan? Dit kan gebeur. Die vraag is weer eens: Wat is die alkoholis se gesindheid? Is jy daarvan oortuig dat hy werklik sy drankprobleem te bowe wil kom? Besef hy dat hy baie harder sal moet probeer al hy verwag om te herstel? Dan sal hy begrip en hulp nodig hê.

’n Individu hoef dus nie uitgesit te word net omdat hy ’n alkoholis is nie. As hy waarlik wil ophou, moet hy die geleentheid gebied word om dit te doen. Maar gestel dat hy deur sy dade toon dat hy nie werklik wil ophou nie. Gestel hy word herhaaldelik dronk en dat alle redelike bystand hom nie gehelp het nie. Dan moet hy uitgesit word in ooreenstemming met Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 5:11-13.

Dit verg baie insig, geduld en fermheid om diegene met drankprobleme te help. Jy doen dit nie deur vir ’n broer of ’n suster te sê “Ruk jouself reg” of “As jy Jehovah liefhet, sal jy ophou drink” nie.

Jy moet eerder probeer om te verstaan wat alkoholisme is en wat dit aan mense doen. Hou in gedagte dat jy die muur van ontkenning wat die alkoholis om hom opgebou het, sal moet afbreek. Jy moet hom daarvan oortuig dat hy ’n drankprobleem het en dat hy hulp nodig het. Hy sal jou deurlopende hulp en steun nodig hê. Maar is die resultate nie die moeite werd nie?

Een suster, wat gehelp is om haar alkoholisme te bowe te kom, het gesê: “Die ouere manne het soveel liefde en begrip aan die dag gelê dat ek Jehovah elke dag dank dat hy hulle gestuur het. My kop is nou helder. Ek kan met ’n skoon gewete met Jehovah praat. Ek woon ook al die vergaderinge by en geniet dit.” Ja, hoe dankbaar is sulke persone tog oor opsieners wat hulself bestee en gewilliglik, met “’n ware begeerte om t| dien”, vir die kudde sorg!—1 Petrus 5:1, 2, Today’s English Version.

[Voetnoot]

a Kyk asseblief die artikel “’n Opgeleide tong—‘Om die vermoeides te bemoedig’” in Die Wagtoring van 15 Augustus 1982. Dit toon hoe ouere manne hulp kan verleen aan diegene wat neerslagtig is weens negatiewe gevoelens en gesindhede.

[Prent op bladsy 9]

’n Alkoholis het ’n simpatieke skouer nodig om op te steun, ’n oor wat luister

[Prent op bladsy 10]

Geheelonthouding is ’n moet vir die alkoholis

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel