VIGS—Gesondheidswerkers tref voorsorg!
“GESONDHEIDSWERKERS loop die gevaar om deur pasiënte met HIV besmet te word.” Hierdie waarskuwing, wat deur die College of Medicine of South Africa uitgereik is, verskyn in die South African Medical Journal. Dit kom kort ná die dood van ’n aantal lede van die mediese beroep wat hulle lewe verloor het omdat hulle per ongeluk met vigs besmet is.
Riglyne wat daarop gemik is om gesondheidswerkers te beskerm, word nou baie ernstig opgeneem. Die volgende paar punte is geneem uit die beleidsverklaring wat die kollege uitgereik het aan mediese personeellede wat dalk, in die loop van hulle pligte, met mense in aanraking sal kom wat HIV-positief is:
As ’n pasiënt in ’n situasie wat nie ’n noodgeval is nie, sou weier om sy bloed vir die vigs-virus te laat toets, kan die gesondheidswerker “professionele behandeling staak . . . ná ’n breedvoerige bespreking met die pasiënt”. Daar word gewaarsku dat alle pasiënte in ’n noodgeval ‘behandel moet word asof hulle HIV-positief is’.
Daar word ’n omvattende lys voorsorgmaatreëls in ’n bylae tot die dokument uiteengesit. Rubberhandskoene moet byvoorbeeld gedra word “wanneer daar aan bloed en liggaamsvloeistowwe, slymvliese of enige ontblote velareas geraak word . . . , wanneer daar aan voorwerpe of oppervlakke geraak word wat met bloed of liggaamsvloeistowwe besmet is . . . , wanneer behandeling gegee word waartydens die hande waarskynlik met bloed besmet sal word”. Gesondheidswerkers word ook aangeraai om “maskers en beskermende oog- en gesigskerms te dra tydens prosedures waar druppels bloed of liggaamsvloeistowwe op hulle kan spat”.
’n Hele subartikel word daaraan gewy om gesondheidswerkers te waarsku om spuitnaalde nie oop rond te dra of gebruikte skerp voorwerpe te laat rondlê nie. Teaterpersoneellede moet selfs nie eers gedurende operasies “skerp instrumente direk vir mekaar aangee nie”. Daar word verder aangeraai dat “alle bloed- of liggaamsvloeistofmonsters in sterk, lekvrye houers geplaas word” en dat dit net in ’n “waterdigte plastiese sak of houer” weggestuur moet word.
Indien die gesondheidswerker aan die virus blootgestel word omdat hy deur ’n besmette skerp voorwerp beseer is of omdat bloed met ’n oop seer in aanraking gekom het, word onmiddellike stappe aangeraai. Die dokument sê: “Die gesondheidswerker moet direk ná hy aan HIV blootgestel is daarvoor getoets word en dan weer ná 6 weke, 12 weke en 6 maande. Gedurende hierdie tyd moet spesiale voorsorg getref word om te verseker dat die virus nie seksueel oorgedra word aan die persoon of persone met wie die gesondheidswerker geslagsomgang het nie.”
Hierdie maatreëls toon dat daar ’n toenemende neiging onder ingeligte lede van die mediese beroep is om versigtiger te wees wat die gebruik en hantering van bloed betref.