‘Dit onthul die verborgenheid’
Die Drie-eenheid is al ’n verborgenheid genoem, maar ’n leser uit Australië sê dat die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo? “die verborgenheid onthul en dit finaal uit die weg ruim”.
In New York het ’n gewese instruktrise in die Rooms-Katolieke Kerk se program vir die Broederskap van die Christelike Leer gesê sy wens dat hierdie brosjure dekades gelede al beskikbaar was. Sy sê sy het 15 jaar lank voor klasse met tussen 30 en 35 leerlinge, tussen die ouderdomme van 7 en 12, gestaan en “’n klawer met drie blare geteken om hulle oor die Drie-eenheid te leer—drie blare vir drie afsonderlike Persone, wat almal God is, in een steel, wat een God uitmaak! Maar dit is wat die nonne en die priester vir ons gesê het om te doen”, skryf sy.
“Dit het my toe al gekwel”, sê sy verder. “Nou het ek die regte antwoorde en feite uit God se eie Woord. Hoe wens ek tog dat ek al daardie jongmense wat ek geleer het bymekaar kan bring en hulle die waarheid oor al hierdie dinge kan wys!”
Baie het al hierdie vakkundige, goed gedokumenteerde brosjure oor die Drie-eenheid, wat steeds ’n fundamentele leerstelling van die meeste kerke van die Christendom is, waardeer. Een van die brosjure se baie aanhalings is uit The New Encyclopædia Britannica wat sê: “Nóg die woord Drie-eenheid, nóg die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor.”
As jy graag meer inligting of ’n gratis tuisbybelstudie wil hê, skryf gerus aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, of aan die gepaste adres op bladsy 5.