Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 5/22 bl. 32
  • Wat is die grondslag van ware geluk?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is die grondslag van ware geluk?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Christus se raad oor geluk
Ontwaak!—1992
g92 5/22 bl. 32

Wat is die grondslag van ware geluk?

GELUK is ’n toestand van welsyn wat gekenmerk word deur betreklike bestendigheid, deur emosie wat wissel van blote tevredenheid tot diep en intense lewensvreugde en deur ’n natuurlike begeerte dat dit sal voortduur. Dit verskil dus van blote genot, wat ’n mens kan ondervind deur net toevallig met iets in aanraking te kom en daardeur geprikkel te word.

Al die geluk wat in die Bybel belowe word, hang af van ’n goeie verhouding met God; dit word op grond van liefde vir God en getroue diens aan hom verwesenlik. Ware geluk kan nie sonder gehoorsaamheid aan Jehovah verkry word nie. Sy seën, as een van sy ‘goeie gifte’ en ‘volmaakte gawes’, is onontbeerlik as ’n mens gelukkig wil wees.

’n Mens vind nie geluk deur materiële rykdom op te gaar of deur mag te verkry nie. Jesus het gesê: “Dit is gelukkiger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35, NW). Aan die een wat ag gee op die arme, en sodoende die geluk van mededeelsaamheid smaak, word daar belowe: “Die HERE sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde.”—Psalm 41:2, 3.

Christus se raad oor geluk

Jesus het sy Bergpredikasie op ’n treffende wyse ingelei deur nege maniere te noem waarop die mens geluk kan vind, en hy het eienskappe genoem wat God se guns meebring, sodat die mens die vooruitsig het om die Koninkryk van die hemele te beërwe (Mattheüs 5:1-12, NW). Met betrekking tot hierdie geluk is dit opmerklik dat dit nie die toestand is waarin ’n persoon hom weens tyd en onvoorsiene omstandighede bevind of die blote liefdadigheid van ’n persoon wat die seën van geluk meebring nie. Ware geluk spruit voort uit daardie dinge wat met geestelikheid, die aanbidding van God en die vervulling van God se beloftes verband hou. Jesus het byvoorbeeld gesê: “Salig is die wat arm van gees is . . . ” of, soos dit duideliker weergegee word: “Gelukkig is diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Mattheüs 5:3, NW). Hy sê verder: “Gelukkig is diegene wat treur, want hulle sal vertroos word” (Mattheüs 5:4, NW). Dit is duidelik dat hy nie almal in gedagte het wat om die een of ander rede treur nie. Hierdie mense sal treur weens hulle arm geestelike toestand, hulle sondige staat, die onrusbarende toestande wat uit die mens se sondige toestand voortgespruit het, sowel as hulle honger en dors na geregtigheid. God sal bewus wees van sulke treurendes en hy sal hulle met sy seën van geestelike voldoening begunstig, net soos Jesus belowe: “Hulle sal versadig word.”—Vergelyk 2 Korinthiërs 7:10; Jesaja 61:1-3; Esegiël 9:4.

Dit is dus nie deur ’n mens se rykdom of jou wysheid, die dinge wat jy doen of deur mag wat jy geluk kan vind nie. Dit is deur kennis van Jehovah, wat ons aanspoor: “Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ’n behae.”—Jeremia 9:23, 24.

As jy enige vrae oor die Bybel het nadat jy hierdie tydskrif gelees het, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in aanraking kom by ’n Koninkryksaal in jou omgewing of aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf. (Sien bladsy 5.)

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel