Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 3/22 bl. 13-15
  • Deel 6—Ekonomiese kommer—Wanneer sal dit eindig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deel 6—Ekonomiese kommer—Wanneer sal dit eindig?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Baie doeltreffende instrument
  • Is ekonomiese wedywering nodig?
  • Bevry jou vir iets beters!
  • Leer om te wag—Hoe belangrik is dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Deel 5—Die sakewêreld verstewig sy greep
    Ontwaak!—1992
  • Is wedywering die sleutel tot sukses?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Gemoedsrus in ’n wedywerende gemeenskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 3/22 bl. 13-15

Die opkoms en ondergang van wêreldhandel

Deel 6—Ekonomiese kommer—Wanneer sal dit eindig?

SOLANK hebsugtige handel sy stewige greep op die massas behou, sal ekonomiese kommer voortduur. Dit is die slegte nuus. Die goeie nuus is dat sy greep binnekort verbreek sal word en dat ekonomiese kommer derhalwe eens en vir altyd iets van die verlede sal wees. Tans maak meer as viermiljoen Getuies van Jehovah hierdie goeie nuus wêreldwyd aan ander bekend. Sien venster op bladsy 14.

’n Baie doeltreffende instrument

Die doel van reklame—wanneer dit op die ekonomie van toepassing is—is om produkte of dienste te verkoop. As ’n mens verkope wil bevorder, moet die publiek beïnvloed word om te koop. Dit is wat met reklameborde, koerante, tydskrifte, radio en televisie, laat staan nog daardie irritasie bekend as rommelpos, beoog word.

Die gesofistikeerde advertensies van hedendaagse televisie is ver verwyderd van die boodskappe van openbare omroepers in eertydse Griekeland. Maar die doel van reklame—om mense te beïnvloed—het nie verander nie. Johannes Gutenberg se uitvinding van los letters in die drukkuns het sulke wonderlike nuwe moontlikhede met betrekking tot reklame in die vooruitsig gestel dat die vername Engelse letterkundige Samuel Johnson teen 1758 kon skryf: “Advertensies is nou so volop dat hulle heel onverskillig deurgekyk word, en dit het derhalwe nodig geword om mense se aandag te trek deur indrukwekkende beloftes en deur oortuigende woorde wat soms verhewe en soms roerend is.” Dit lyk amper asof Johnson hierdie woorde vandag, in 1992, geskryf het.

Die industriële omwenteling het reklame ’n nuwe stoot gegee. Die menigte nuwe produkte wat dit beskikbaar gestel het, het kopers nodig gehad, wat nou deur ’n groeiende netwerk van koerante en tydskrifte bereik kon word. Mettertyd het radio en televisie ’n selfs groter gehoor bereik. Reklame het ’n volwaardige bedryf geword. Reklameburo’s is reeds in 1812 opgerig toe Reynell and Son in Londen geopen is.

Wanneer reklame eerlik is en dit ons inlig oor beskikbare produkte en dienste wat in werklike behoeftes voorsien, is dit baie nuttig. Maar dit is nie die geval wanneer dit geoorloofde perke oorskry en ons in die versoeking bring om dinge te koop wat ons nie nodig het nie, en om ter wille van onmiddellike bevrediging drukkende skuld aan te gaan nie. “Dit flikflooi, dit soebat, dit redeneer, dit skreeu”, is hoe een skrywer dit beskryf het, en hy het bygevoeg: “Hetsy bewustelik of onbewustelik, ons almal word ten goede of ten kwade deur reklame geraak.”

Voornemende kopers word dikwels deur faktore gelei wat nie eers belangrik is nie. Adverteerders streel die ego; hulle werk op die emosies. Hulle dis miskien selfs halwe waarhede op. Wat meer is, hulle kan selfs die negatiewe of gevaarlike aspekte van hulle produk versteek, en sodoende ’n ernstige gebrek aan besorgdheid oor die welsyn van ander toon—en dit alles in die naam van ekonomiese wedywering.

Is ekonomiese wedywering nodig?

Jy meen moontlik, soos baie mense, dat wedywering noodsaaklik is vir vooruitgang. En tans beskerm eerlike ekonomiese wedywering die verbruiker wel in sommige opsigte. Maar die onderwyshandboek Psychology and Life bevraagteken die gedagte dat wedywering “’n noodsaaklike karaktertrek van die mensenatuur” is deur te vra: “Moet ons seëvierend met een voet op die verslane mededinger se nek staan om gelukkig te wees?”

Hoewel hierdie handboek meld dat mense wat in ’n wedywerende gemeenskap grootword blykbaar “wel reageer op die uitdaging om die oorhand oor die ander kêrel te kry”, hou dit vol dat wedywering nie ’n ingebore sielkundige eienskap is nie. Trouens, wedywering is op die lange duur kontraproduktief. Toetse toon dat dit “’n gesindheid van wen-tot-elke-prys voortbring wat dikwels nie bydra tot die beste gehalte werk nie”.

Wedywering kan byvoorbeeld ’n vrees vir mislukking tot gevolg hê. Maar vrees, hetsy op skool, by die werk of elders, bevorder nie werklik goeie werkverrigting nie. Wedywering kan boonop tot oneerlikheid of kullery lei. Skoliere wat kwaai meeding om goeie punte te behaal verloor moontlik die ware doel van skoolopleiding heeltemal uit die oog—om hulle toe te rus om beter en produktiewer lede van die samelewing te word.

Toe Psychology and Life in die dertigerjare geskryf is, het dit Samoa genoem as ’n voorbeeld van ’n gemeenskap wat grootliks niewedywerend is. “Mense werk en bêre die opbrengs van hulle arbeid in ’n gemeenskaplike pakhuis waaruit almal volgens hulle behoeftes kan neem”, verduidelik die boek en voeg by: “Antropoloë sê dat sulke mense net so gelukkig is as hulle meer individualistiese medemens in ander wêrelddele.”

’n Lonende en suksesvolle ekonomiese stelsel hoef dus nie noodwendig op wedywering gegrond te wees nie. ’n Vooraanstaande sakeman sê dat wedywering moontlik nodig is om onvolwasse mense te motiveer, maar volwasse mense behoort dit nie moeilik te vind om motivering uit die bedrywigheid self te put nie. ’n Mens put vreugde daaruit wanneer jy leer, dinge skep, ander gelukkig maak, verbeteringe aanbring en nuwe dinge ontdek.

’n Mens kan dus begryp waarom die Bybel dié wyse raad gee: “Laat ons nie egotisties word, deurdat ons onderlinge wedywering aanwakker en mekaar beny nie.”—Galasiërs 5:26, NW; Prediker 4:4.

Bevry jou vir iets beters!

Dit is duidelik dat Satan hebsugtige handel as ’n instrument gebruik om sy eie doelwitte te bereik. Deur ekonomiese kommer te wek, word sy greep op die mens al hoe stewiger. Wanneer mense hulle bekommer oor die bevrediging van materiële begeertes het hulle nie tyd om in hulle noodsaaklike geestelike behoeftes te voorsien nie. Die weggooi-mentaliteit wat deur die handel bevorder word, het ’n negatiewe uitwerking op die omgewing. Die gesindheid van besit-dit-alles-en-besit-dit-nou vernietig vergenoegdheid en geluk. Trouens, wanneer wetlike ekonomiese belange nie deur goddelike beginsels gematig word nie, ontaard dit uiteindelik in eiebelang, en gee dit aanleiding tot hebsug.

Maar hebsug en uitermatige eiebelang is vorme van afgodediens, wat God mishaag (Kolossense 3:5). Mense wat toelaat dat die handel ’n negatiewe uitwerking op hulle persoonlikhede het, verkeer, soos diegene wat valse godsdiens bevorder en die kampvegters vir menseheerskappy, in groot gevaar. Hulle loop die gevaar om die voorwerp van goddelike wraak te word. Jesus het gewaarsku: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe [waaronder ekonomiese kommer] nie, en dié dag [van Jehovah se oordeel] julle nie skielik oorval nie.”—Lukas 21:34.

Diegene wat Christene wil wees, moet hulle bevry van die greep van onvolmaakte ekonomiese stelsels deur die gees wat hierdie stelsels bevorder te verwerp en selfsugtige ekonomiese doelwitte te laat vaar. Persoonlikhede moet deur die almagtige Skepper gevorm word en nie deur die kragtige invloed van geld nie. Eerlikheid moet te alle tye nagejaag word. ’n Mens moet tevrede wees met wat jy het en nie voortdurend meer wil hê nie.—Efesiërs 5:5; 1 Timotheüs 6:6-11; Hebreërs 13:18, NW.

Om die regte prioriteite te stel, moet Christene van tyd tot tyd hulle doelwitte in die lewe ondersoek (Filippense 1:9, 10). Dit word weerspieël in hulle keuse van werk, asook hulle kinders se skoolopleiding. Hulle hou die volgende in gedagte: “Alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” Hulle herinner hulleself gedurig daaraan dat wanneer die wêreld verbygaan die wêreldhandel ’n ‘Wall Street-ineenstorting’ sal ervaar waarvan die handel en sy aanhangers nooit sal herstel nie.—1 Johannes 2:16, 17.

[Venster op bladsy 14]

Geen ekonomiese kommer onder God se Koninkryk nie

Geen stygende pryse weens voedseltekort nie: “Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” “Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge.”—Psalm 67:7; 72:16.

Geen agterstallige doktersrekeninge nie: “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie.” “Die oë van die blindes [sal] geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”—Jesaja 33:24; 35:5, 6.

Geen buitensporige huurgelde of verbandpaaiemente nie: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie.”—Jesaja 65:21, 22.

Geen ryk en arm klasse nie: “Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte . . . Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik.”—Miga 4:3, 4.

Geen onvervulde behoeftes van enige aard nie: “Die wat Hom vrees, het geen gebrek nie.” “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.”—Psalm 34:10; 145:16.

[Prent op bladsy 15]

Onder God se Koninkryk sal ekonomiese kommer uiteindelik verby wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel