Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 3/22 bl. 16-19
  • Wat is intuïsie nou eintlik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is intuïsie nou eintlik?
  • Ontwaak!—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Vlamme van nuuskierigheid in hart en verstand’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • ’n Heelal vol verrassings
    Ontwaak!—2009
  • Einstein se wonderjaar
    Ontwaak!—2005
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 3/22 bl. 16-19

Wat is intuïsie nou eintlik?

EEN aand in 1893 het ’n klerk van ’n steenkoolmaatskappy in Detroit, Michigan, VSA, ’n snaakse affêre gesien wat van onderdele en fietswiele gemaak was en raserig die straat afgerammel het. Hy het opeens ’n gevoel—’n skielike ingewing—gehad. Op die een of ander manier het hy net geweet dat dít ’n uitvinding met ’n toekoms was. Hy het dadelik al sy spaargeld, duisend dollar, getrek en het, ten spyte van die smalende kenners wat volgehou het dat hierdie eienaardige uitvinding nooit baie gewild sal wees nie, in die uitvinder se maatskappy belê. Sowat 30 jaar later het hy sy aandele in Henry Ford se motormaatskappy vir $35 miljoen verkoop. Sy intuïsie was om die minste te sê lonend!

Die beroemde wetenskaplike Albert Einstein is nog iemand wat op ’n skielike ingewing gereageer het. Hy het ’n idee gehad—een wat hy later die gelukkigste gedagte van sy lewe genoem het—wat tot die ontstaan van die beroemde teorie van algemene relatiwiteit gelei het. Einstein het tot die gevolgtrekking gekom dat intuïsie ’n deurslaggewende rol speel in die ontdekking van natuurwette. Maar Einstein het nie met al sy ingewings soveel sukses behaal nie. Hy het erken dat hy eenkeer twee jaar se harde werk verloor het omdat hy ’n misleidende intuïsie gevolg het wat nooit op iets uitgeloop het nie.

Intuïsie lei natuurlik nie altyd tot roem en voorspoed nie, en dit is ook nie net vir genieë en multimiljoenêrs nie. Intuïsie is vir die meeste van ons iets alledaags. Dit speel dalk ’n rol in baie van die besluite wat ons neem: die besluit om nie ’n vreemdeling te vertrou nie, die voorneme om ’n saketransaksie aan te knoop en die vermoede dat daar iets skort met ’n vriend wie se stem oor die telefoon nie heeltemal reg geklink het nie.

Maar baie mense maak op intuïsie staat om baie belangriker besluite te neem: watter loopbaan hulle gaan volg, waar hulle gaan woon, met wie hulle gaan trou en selfs watter godsdiens hulle gaan aanhang. As intuïsie op hierdie gebiede nie slaag nie, kan die prys baie hoër wees as om soos Einstein twee jaar se werk te verloor. Maar wat is “intuïsie” dan? Hoe werk dit? Hoe betroubaar is dit?

’n Tienermeisie wie se woorde aangehaal word in The Intuitive Edge wat deur Philip Goldberg geskryf is, het daardie vraag só beantwoord: “Intuïsie is wanneer jy iets weet; maar waar dit vandaan kom, weet jy nie.” ’n Formeler definisie van intuïsie is: “Kennis wat by ’n persoon opkom sonder dat hy dit bewustelik onthou of daaroor redeneer.” Dit lyk asof intuïsie ’n soort sprong behels—die oomblik wanneer jy ’n probleem sien, weet jy wat die oplossing is. Skielik ken ons net ’n antwoord of begryp ons ’n situasie. Maar dit beteken nie dat intuïsie dieselfde as ’n drang of ’n begeerte is nie.

“Toe ek dit sien, het ek net geweet ek moet dit hê”, druk byvoorbeeld eerder begeerte as intuïsie uit. Dit lyk dalk asof intuïsie dieselfde as begeerte is omdat dit ook sonder ’n metodiese, stap vir stap redenasie by ons opkom. Maar dit is in werklikheid gewortel in iets wat baie minder emosioneel en geheimsinnig is as die begeertes wat uit ons dikwels ‘bedrieglike’ harte spruit.—Jeremia 17:9.

Blykbaar is intuïsie ook nie die een of ander geheimsinnige sesde sintuig nie. Soos The World Book Encyclopedia sê: “Party mense noem intuïsie verkeerdelik ‘die sesde sintuig’. Maar ’n nadere ondersoek toon gewoonlik dat intuïsies op ondervinding, veral die ondervinding van baie sensitiewe persone, gegrond is.” Die Encyclopedia voer aan dat ’n mens “’n skatkamer van herinneringe en indrukke” opbou waaruit die verstand ’n “skielike indruk [genaamd] ’n intuïsie of ’n ‘ingewing’ kan verkry”.

Pleks dat intuïsie dus die een of ander geheimsinnige of magiese eienskap is, is dit blykbaar eerder die natuurlike gevolg wanneer ’n mens ervaring verkry. Soos die tydskrif Psychology Today onlangs opgemerk het: “Navorsers het gevind dat mense met intuïsie een essensiële eienskap gemeen het: Hulle is deskundiges op spesifieke . . . vakgebiede. En hulle maak maklik van hulle geleerdheid gebruik om probleme op hulle vakgebiede op te los. Trouens, dit lyk asof mense intuïsie het juis omdat hulle ervare is, en na gelang van hoeveel ervaring hulle het.” Maar waarom sou ervaring intuïsie voortbring?

Michael Prietula, ’n assistentprofessor in industriële administrasie, sê glo dat namate mense meer kennis oor ’n onderwerp verkry “daar ’n geleidelike verandering is in die manier waarop hulle dink en redeneer”. Die verstand organiseer die inligting in blokke, of stukke. Hierdie breë inligtingspatrone maak dit partykeer vir die verstand moontlik om die stadiger, analitiese stappe oor te slaan en dadelik by intuïtiewe gevolgtrekkings of ingewings uit te kom. Volgens Prietula verbeter die ingewings namate die brein meer van hierdie breë patrone verbind.

Beskou ’n alledaagse voorbeeld uit die boek Brain Function: “Hou ’n slotmaker dop terwyl hy versigtig met ’n eenvoudige gebuigde draad in ’n ingewikkelde slot rondvoel en dit laat oopspring asof hy deur die een of ander geheimsinnige intuïsie gelei is.” Die slotmaker se intuïsie lyk heel moontlik vir die waarnemer geheimsinnig; in werklikheid spruit dit uit jare se ervaring. Ons gebruik almal hierdie soort intuïsie. Wanneer jy byvoorbeeld fietsry, sê jy nie bewustelik vir jouself dinge soos: ‘Ek dink ek moet liewer die voorwiel effens na regs draai voordat ek dalk my balans verloor’ nie. Nee, die brein neem sulke besluite intuïtief, besluite wat gebaseer is op kennis wat jy uit ervaring opgedoen het.

Net so het Einstein se intuïsie in fisika nie uit die niet te voorskyn gekom nie. Hy het ’n ontsaglike reservoir van ervaring gehad waaruit hy kon put. Maar ervaring op een gebied lei dalk nie tot intuïsie op ’n ander nie. Einstein se intuïsie kon hom nie help om ’n lekkende pyp reg te maak nie.

Vir baie mense gaan die woorde “vroue” en “intuïsie” saam. Het vroue werklik ’n sterker intuïsie as mans? En indien wel, hoe kan die verkryging van ervaring hierdie verskynsel verduidelik?

Beskou ’n algemene voorbeeld. ’n Baba huil. Die ervare moeder wat in ’n ander kamer besig is, neem die luiers eerder as om gereed te maak om die kind te voed. Waarom? Sy het ’n intuïtiewe gevoel ontwikkel in verband met haar kind se gehuil. Sy weet watter behoefte deur ’n sekere huil te kenne gegee word en watter huil teen sekere tye waarskynliker is. Sy kan oombliklik en sonder om bewustelik daaroor te redeneer bepaal wat die kind se behoefte is en dienooreenkomstig optree. Is die een of ander geheimsinnige sesde sintuig aan die werk? Nee, haar intuïsie is op haar ervaring as ’n moeder gegrond, ’n voordeel van ervaring wat deur ywerige inspanning verkry is. ’n Nuwe moeder of ’n babawagter wat hulle in dieselfde situasie bevind, sal dalk aanvanklik nie weet watter kant toe nie.

Maar die idee van vroulike intuïsie word nie tot moederskap beperk nie. Baie mense het al opgemerk dat dit lyk asof vroue dikwels die subtiliteite van situasies waarby mense en persoonlikhede betrokke is vinniger en met meer intuïsie as mans kan opsom. Wetenskaplikes is nie seker waarom die geslagte blykbaar in hierdie opsig verskil nie.

Sielkundige Weston Agor wat aan die Universiteit van Texas, El Paso, verbonde is, het op grond van sy studies oor dié onderwerp tot die gevolgtrekking gekom dat hoewel vroue oor die algemeen ’n sterker intuïsie as mans het, hierdie verskil meer op kultuur as op fisiologiese kenmerke gegrond is. Ander kenners het ook tot die gevolgtrekking gekom dat vroue se tradisionele rol hulle oplei om mensekenners te wees. Soos antropoloog Margaret Mead dit gestel het: “Weens hulle eeue-oue opleiding in menseverhoudings—want dit is wat vroulike intuïsie in werklikheid is—kan vroue ’n besondere bydrae tot enige groeponderneming lewer.”

Hoewel daar erken word dat vroulike intuïsie ’n spekulatiewe onderwerp is, is al hoe meer kenners dit eens dat intuïsie ’n uiters nuttige instrument vir mans sowel as vroue is. Sielkundige Jerome Bruner sê in sy boek The Process of Education: “Die hartlike lof wat wetenskaplikes hulle kollegas ‘met intuïsie’ toeswaai, is ’n vername bewys dat intuïsie iets waardevols in die wetenskap is en dat ons dit by ons studente moet probeer aanmoedig.”

Maar dit is nie net wetenskapstudente wat waarde heg aan intuïsie en dit graag wil aankweek nie. Die vraag is of dit gedoen kan word. Daar moet toegegee word dat party mense eenvoudig van nature ’n sterker intuïsie as ander het. Maar aangesien dit lyk asof intuïsie nou verbind is met die ervaring wat ons opdoen, meen party kenners dat ons ons aangebore intuïsievermoë kan vergroot deur meer aandag te skenk aan die manier waarop ons leer.

Wanneer ons byvoorbeeld lees, moet ons nie probeer om net ’n klomp feite in te neem nie. Vra vrae. Klaar enigiets op wat jy nie verstaan nie. Probeer om die hoofpunte op te som en gevolgtrekkings te maak. Pleks van tallose besonderhede te probeer snap, kan jy na die breë kategorieë en patroon, die onderliggende beginsels, kyk. Soos Robert Glaser, ’n professor in die sielkunde, dit sien, is intuïsie in wese “die vermoë om groot betekenisvolle patrone te begryp”.

Natuurlik is nie elke intuïsie gegrond nie. Gestel die kennis waarop die intuïsie gegrond is, is byvoorbeeld van die begin af verkeerd? Daardie ontstellende gedagte moedig ons dalk aan om die akkuraatheid van wat ons leer deeglik te ondersoek. Byna 2000 jaar gelede het die Bybel dieselfde wyse raad gegee. Filippense 1:10 stel dit so: ‘Vergewis jou van die belangriker dinge’ (NW).—Sien ook Handelinge 17:11.

Nog ’n nadeel van intuïsie is dat dit deur ons emosies beïnvloed kan word. Daarom is dit gevaarlik om slegs op intuïsie staat te maak wanneer ons belangrike besluite neem of wanneer ons ’n oordeel van mense vorm. Sielkundige Evelyn Vaughan waarsku: “Wanneer jy emosioneel by iets betrokke is, kan jou intuïsie minder betroubaar wees tensy jy jou gevoelens in perspektief plaas.” Woede, vrees, jaloesie en haat—hoewel hierdie sterk gevoelens op sigself nie intuïsies is nie, kan hulle ons intuïsies beïnvloed en selfs belemmer. Neem byvoorbeeld twee mense wat al lank ’n groot renons in mekaar het. Wanneer ’n nuwe misverstand opduik, weet albei net dat die ander slegte beweegredes het. Die Bybel waarsku ons wyslik daarteen om dinge ‘na hulle uiterlike waarde’ te beoordeel.—2 Korinthiërs 10:7.

Nog ’n emosie, trots, kan daartoe lei dat ons te veel waarde aan ons intuïsies heg asof hulle die een of ander spesiale waarde het in vergelyking met die oordeel en opinies van ander. Ons neem dalk oorhaastige besluite sonder om diegene wat geraak word te raadpleeg. Of trots kan daartoe lei dat ons koppig aan ’n intuïtiewe besluit vasklou ten spyte van ander se gekwetste gevoelens of hulle weloorwoë raad. Die Bybel gee weereens wyse raad: “As iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.”—Galasiërs 6:3.

Ten slotte kan dit tot verstandelike luiheid lei as ons grootliks op intuïsie staatmaak. Daar is geen kortpad om kennis, insig en wysheid te verkry nie; doelgerigte studie is die enigste manier. Daarom sal ’n verstandige persoon ’n reservoir van kennis opbou wat dan ’n bron van begrip en insig—en dikwels ook van intuïsie—word, pleks van die eerste intuïtiewe gedagte wat by hom opkom aan te gryp.

Buitendien is intuïsie net werklik nuttig wanneer dit in harmonie met die grootste verstand in die heelal is—die verstand van die Skepper. Hy is die bron van juiste kennis en ware wysheid, en hy wil hê dat ons hierdie lewensbelangrike kennis moet inneem. Deur middel van die Bybel laat hy ons goedgunstiglik toe om oor sy gedagtes, gevoelens en dade te lees. Namate ons sulke kennis in ons lewe toepas, word ons “geestesvermoëns”, wat intuïsie insluit, “geoefen”.—Hebreërs 5:14.

Doen dus gerus ervaring op hierdie gebied van kennis oor die Skepper en sy Seun op (Johannes 17:3). Jy sal nooit enigiets vind waarvoor jy jou eerder kan beywer nie. Daar is geen beter bron waaruit jy intuïsie kan put nie.

[Lokteks op bladsy 16]

Einstein het baie waarde aan intuïsie geheg

[Lokteks op bladsy 17]

Intuïsie is nie die een of ander geheimsinnige sesde sintuig nie

[Lokteks op bladsy 17]

Het vroue werklik ’n sterker intuïsie as mans?

[Lokteks op bladsy 19]

Intuïsies is onbetroubaar wanneer hulle op die verkeerde kennis gegrond is

[Prent op bladsy 18]

Deur intuïsie herken ’n moeder haar baba se behoeftes wanneer hy huil

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel