Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 10/22 bl. 18-19
  • Die mossie—Vriend of vyand?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die mossie—Vriend of vyand?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom hulle as deugniete beskou word
  • Goeie eienskappe
  • Iemand wat ons waarde raaksien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Die raaisel van Brittanje se huismossies
    Ontwaak!—2001
  • ’n Nuwe tuiste vir ’n beseerde mossie
    Ontwaak!—2005
  • Jehovah het “selfs die hare op julle kop” getel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 10/22 bl. 18-19

Die mossie—Vriend of vyand?

NUWE bure het so pas ingetrek. Nadat hulle die vorige bewoners verdryf het en enige nuuskierige toeskouers verjaag het, het hulle tot ruste gekom en hulle daaglikse plig aangepak om ’n gesin groot te maak en te voed.

Hulle naam, mossie, word vir ’n paar voëlsoorte gebruik, maar dit verwys gewoonlik na lede van die wewerfamilie. Mossies is gewoonlik klein, onopvallende voëls met grys, bruin en swart vere. Baie is begaafde sangers.

Maar mossies is dalk nie die soort bure wat jy sal kies nie. Want terwyl party hulle vir hulle manhaftigheid en aanpasbaarheid bewonder, het hierdie voëltjies op party plekke ongewild geword.

Waarom hulle as deugniete beskou word

Die huismossie (Passer domesticus), of Europese mossie, is in 1851 van Europa na Noord-Amerika geneem in die hoop dat hulle bome van die vernietigende bladruspe sou bevry. Maar mossies het gou geleer dat die stadslewe makliker as die plaaslewe is. Hulle het dus begin om, pleks van goggas, oorskietkos te eet en het gou die kuns bemeester om vullisblikke te beroof. “Die aanpasbaarheid en aggressiwiteit” van die huismossie, merk die boek North American Birds op, “pas by die karakter van harige immigrante soos die bruinrot, die swarthuisrot en die huismuis.”

Mossies bou hulle morsige, slordige huise in elke hoekie en gaatjie. Vere, wol en weggooilappies is van die materiale waarvan hulle hou wanneer hulle hul nes bou. Hulle verdryf dikwels die inheemse voëls, neem astrant hulle neste oor en gooi die verdryfde bewoners se eiers uit die nes uit. Mossies verniel verder ’n verskeidenheid vrugte, en hulle eet saad wat ryp word en sagte, jong groente.

In Brasilië, waar die huismossie doelbewus ingevoer is, het hy nie alleen oeste beskadig nie maar ook die geliefde tico-tico-voël verdryf. Die tico-tico is soortgelyk aan die mossie wat grootte en kleur betref en is ’n aangename, nuttige voëltjie wat insekte vreet wat skadelik is vir oeste.

Goeie eienskappe

Tog is mossies pretlustige voëls wat tjirp en kwetter, en baie mense geniet dit om hulle dop te hou terwyl hulle van hulle takkie af grond toe en weer terug fladder. Een voëlkyker vertel: “Ons het ongeveer sewe mossieneste in die onmiddellike omgewing van ons huis. . . . Soms speel ’n groep van die voëls saam in die water, terwyl hulle in die proses teen mekaar bots. Party raak nogal opgewonde. Hulle duik en wip op, hulle wikkel heen en weer terwyl hulle hul vere uitpof totdat hulle omtrent deurnat is. Dan gaan sit hulle bo-op die draad, vee hulle bekkies af, skud hulleself soos ’n hond, tuur af na die water en duik weer in. Dit duur soms ’n uur, en dan vlieg hulle weg en keer na ’n uur of twee maar net weer terug.” Soms sien ’n mens ook hoe mossies langs die pad of in ’n blombedding ’n sandbad neem.

Dit is interessant dat mossies in die Bybel genoem word. Jesus het hierdie nederige voëltjies twee keer gebruik om God se tere sorg te illustreer. Toe Jesus sy 12 apostels uitgestuur het om te preek, het hy hulle gevra: “Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie?” En toe het hy verduidelik: “En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” Later in sy bediening het Jesus hierdie illustrasie herhaal en dus beklemtoon dat God dié wat Hom dien nie sal vergeet nie, aangesien Hy selfs nie ’n enkele mossie vergeet nie, .—Mattheüs 10:29, 31; Lukas 12:6, 7.

Dit is duidelik dat Jehovah God waarde heg aan al sy skepsele, klein en groot. En hoewel die karaktertrekke van sekere skepsele hulle dalk nie by ons bemind maak nie, weerspieël al die verskillende vorme van lewende dinge die wysheid van ons Grootse Skepper.—Psalm 104:24.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel