Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 7/22 bl. 10-13
  • Die krag van die waarheid om te rehabiliteer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die krag van die waarheid om te rehabiliteer
  • Ontwaak!—1991
  • Soortgelyke materiaal
  • Van ’n brullende leeu tot ’n sagmoedige lammetjie
    Ontwaak!—1999
  • My ontvlugting na die waarheid
    Ontwaak!—1994
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Ek was ’n inbreker van beroep
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 7/22 bl. 10-13

Die krag van die waarheid om te rehabiliteer

“Een inbreker, wat vroeg vrygelaat is, het 500 inbrake in sewe maande gepleeg. ’n Verkragter, wat vrygelaat is vier jaar voordat sy minimumvonnis van tien jaar verstryk het, het ’n vrou seksueel aangerand en vermoor. ’n Moordenaar wat op parool vrygelaat was, het by twee huise ingebreek en drie mense vermoor.”—Reader ’s Digest, November 1990.

“Bykans 63 persent van die gevangenes wat uit staatsgevangenisse vrygelaat is, is binne drie jaar weer vir ’n ernstige misdaad gearresteer, het die Departement van Justisie gesê in ’n studie wat vandag uitgegee is.”—The New York Times, 3 April 1989.

“Die ideaal dat die tronk ’n plek moet wees waar misdadigers gerehabiliteer kan word, is net nie waar nie. Tronke is ’n kombinasie van ‘inrigtings’ en ‘misdaadskole’.” —Toronto se Sunday Star, 20 Maart 1988.

Die bewaarder by Rikers Island, ’n tronk in die stad New York, sê: “’n Kind, negentien jaar oud, kom hierheen omdat hy ’n uitkyker vir ’n roof was. Wanneer hy hier uitkom, gaan hy nie die uitkyker wees nie. Volgende keer gaan hy die kêrel wees wat die sneller trek.” —Die tydskrif New York, 23 April 1990.

“Gevangenishekke het meer soos draaideure geword: nagenoeg twee derdes van alle gevangenes word weer gearresteer binne drie jaar ná hulle vrylating.” —Die tydskrif Time, 29 Mei 1989.

NIKS van die bogenoemde is vir ons nuus nie. Dit is ’n ou verhaal: Gevangenisse rehabiliteer nie. Die waarheid rehabiliteer wel. ’n Voorbeeld hiervan: Ron Pryor.

Ron begin elke dag deur ’n teks uit die Bybel saam met sy gesin te lees. Daar is vrede en liefde in sy huwelik. Die huis is netjies en skoon. Hulle twee seuns was goeie studente—geen dwelms, geen alkohol, geen probleme nie. Hulle is nou al uit die huis uit en neem aan Christelike bedrywighede deel. Ron en sy vrou, Arlynn, doen vrywillige werk as Christene in hulle gemeenskap. Hulle het ’n sinvolle lewe terwyl hulle ander dien.

In 1970 het Ron Pryor egter in die tronk verhoor afgewag op aanklag van moord. Hy is skuldig bevind en het sy vonnis in ’n strafgevangenis begin uitdien. Dit was die uiteinde van ’n lang misdaadloopbaan wat hom herhaaldelik in die tronk laat beland het. Maar laat Ron sy verhaal vertel.

“Die eerste ‘gevangenskap’ wat ek onthou, was ’n tuig wat aan ’n leiriem aan ’n wasgoedlyn vasgemaak was. Toe ek drie of vier jaar oud was, het ek blykbaar ’n swerflus in my gehad. Ek het gedurig rondgedwaal en verdwaal en is dan deur die polisie opgelaai en teruggeneem huis toe. Uiteindelik het my ma vir my gesê dat sy ’n weeshuis sou bel sodat hulle my kan kom haal en opsluit as ek nie daarmee ophou nie. Ek het in die werf gesit en huil en gewag dat hulle moes kom. Hulle het nie. Pleks daarvan het my ma my aan die wasgoedlyn vasgemaak.

“Toe ek ouer geword het, het ek altyd in die moeilikheid beland, en geweld het my oplossing vir elke probleem geword. Ek het verward, gefrustreerd en verstote gevoel. Ek het geen begrip gehad van wat reg en verkeerd is nie. Ek het toegelaat dat my gevoelens, nie ’n gewete nie, my lei. Op skool is ek van die een standerd na die volgende oorgeplaas omdat die onderwysers bly was om van my ontslae te raak. Ek het in standerd vyf die skool verlaat en van die huis af weggeloop. Ek het met slegte maats deurmekaar geraak, en net soos die Skrif waarsku, het dit my in groter moeilikheid laat beland.—1 Korinthiërs 15:33.

“Verbeterskole het spoedig die tuig aan die wasgoedlyn vervang. Hulle het my nie verbeter nie. Ek het herhaaldelik weggeloop en is weer gevang. Nadat ek uit een skool in Virginië ontsnap het, het ek ’n bakkie gesteel en is ek gearresteer. Toe ek voor ’n regter met die naam Jenkins op aanklag van motordiefstal verskyn, het ek ontdek dat dit regter Jenkins se bakkie was wat ek gesteel het! Ek was net 16, maar daar is verklaar dat ek nie vatbaar vir verbetering was nie, en ek is as volwassene verhoor. Ek is vir twee jaar tronk toe gestuur.

“Nadat ek uit die tronk gekom het en in my twintigerjare was, het ek ’n motorfiets gekry. Ek is gefassineer deur die gevoel van mag wat dit my gegee het, maar dit was nie genoeg nie. Ek het by die Pagans aangesluit—’n motorfietsbende wat altyd op die uitkyk was na moeilikheid, altyd op soek na rusie. Ek het volkome by hulle ingepas.

“Later was ek ’n vragwabestuurder en het ek produkte uit Florida vervoer. Ek was nie meer ’n aktiewe lid van die Pagans nie, maar in 1969 het ek een keer op pad deur Virginië ’n paar van my ou Pagan-maats ontmoet. Ons het partytjie begin hou—wyn gedrink en ‘hoog’ geraak op dwelms. ’n Getwis het begin wat al hoe erger geword het, en in die daaropvolgende bakleiery wat deur drank en dwelms aangestook is, het ek ’n man doodgeskiet. Nog vrugte van slegte omgang! Later het twee speurders my ondervra en ek het beken dat ek moord gepleeg het. Dit was in 1970.

“Ek was in die tronk terwyl ek my verhoor afgewag het en was steeds ’n opstandige skoorsoeker. Een oggend het ’n gevangene aan wie verantwoordelikheid toevertrou is byvoorbeeld die koffie gebring. Hulle het jou gewoonlik ’n ekstra koppie vir later gegee. Op daardie spesifieke dag het ek my ander koppie onder die koffiekan gehou, maar hy het gesê: ‘Geen ekstras nie.’ Ek het tot die slotsom gekom dat hy besluit het om dit vir iemand anders te gee. Daarom het ek gesê: ‘So jy het nie vanoggend genoeg koffie nie, nè?’ Hy het gesê: ‘Ja.’ ‘Wel, vat myne terug.’ Ek het dit in sy gesig gegooi. Die uiteinde was dat ek alleen opgesluit is.

“Ek het al in die rondte geloop in daardie sel sonder vensters wat [2,5 by 3 meter] is. Vir die eerste keer in my lewe het ek werklik begin dink. Vrae het die een na die ander by my opgekom. ‘Waarom is my lewe altyd so ’n mislukking? Waarom is ek altyd in en uit die tronk? Waarom is ek in hierdie sel? Waarom lewe ek? Waarom? Waarom? Waarom?’ Die waaroms het aanhou kom, maar ek het geen antwoorde gehad nie. Toe het ek by myself gesê: ‘Ek het ’n laagtepunt bereik. Ek kan nie meer so aangaan nie. Behalwe—behalwe as daar ’n God is—’n God wat my sien, wat weet dat ek bestaan, wat my verstaan—want ek verstaan myself beslis nie! God, as u bestaan, as u van my bewus is, as daar enigiets is wat ek kan doen—sê net vir my iets, enigiets!’

“Daar was ’n Bybel by my in die sel. Ek het gedink: ‘Dis ’n begin.’ Ek het begin lees. Ek onthou nie wat ek gelees het nie. Ek onthou net dat ek dit gelees het maar niks verstaan het nie. Binne ’n week was ek terug in die selle. Een sel was leeg, en albei die beddens daarin was leeg. Hulle het my daarin gesit, en twee dae later het hulle nog ’n gevangene saam met my gesit. Ek het die Bybel gedurig gelees en het gesukkel om dit te verstaan. Hy het gesien dat ek lees en gevra: ‘Sal jy graag die Bybel wil verstaan?’ ‘Ja!’ ‘Ek sal vir jou ’n boek kry wat jou sal help.’ Hy het met een van Jehovah se Getuies in aanraking gekom—hulle het vroeër met hom ’n studie gehou—en het spoedig vir my ’n boek met die naam Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gegee. Dit was in Julie 1970.

“Ek het dit begin lees, en ek het dit van voor tot agter deurgelees. Ek het nie alles verstaan nie, maar dit het sin gehad. Toe Jehovah se Getuies ’n studie met my begin hou het, is al die vrae beantwoord wat ek in alleenopsluiting gevra het. Vir die eerste keer in my lewe het ek insig gekry in wat reg en wat verkeerd is. Hoe meer ek hierdie geestelike voedsel ingeneem het, hoe meer het ek geword soos “die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:14). My gewete is geprikkel en het sensitief geword!

“Die feit dat ek skielik die Bybelwaarheid geleer het, het ’n totale omwenteling in my geestestoestand teweeggebring. Ek het die boek binne 24 uur gelees. Oornag het ek van die een uiterste tot die ander gegaan. Ek was vasbeslote dat my mede-gevangenes die waarhede wat ek geleer het, moes verstaan. Ek het gedink dat almal net so opgewonde soos ek daaroor sal wees. Hulle was nie. Ek het voorheen probleme vir die ander gevangenes veroorsaak; nou was ek ’n selfs groter bron van irritasie—wat niemand gedink het moontlik was nie! Maar namate die Getuies na die distriksgevangenis gekom het om met my te studeer, het ek taktvoller in my prediking geword.

“Ek het baie veranderinge aangebring en binne twee maande is verantwoordelikheid aan my toevertrou. Hulle het my selfs buite toe laat gaan, wat ongehoord was as ’n mens my rekord in die verlede en die rede waarom ek daar was, in aanmerking neem. Die beginsels wat ek in die Bybel geleer het, het hulle stempel op my gedruk. Die waters van waarheid in God se Woord het hulle reinigingswerk gedoen, net soos in die dae van die apostels. Hulle rehabilitasiekrag word soos volg in 1 Korinthiërs 6:9-11 aangedui:

“‘Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het julle laat afwas.’

“Eindelik is ek verhoor. Hulle het my 20 jaar vir moord gegee. In 1971 is ek na ’n maksimumveiligheidsgevangenis gestuur. Daar het ek my Bybelstudie met die Getuies hervat. My gedrag het drasties verander. In hierdie nuwe gevangenis het hulle spoedig verantwoordelikheid aan my toevertrou en my verlof begin gee. Terwyl ek eenkeer op verlof was, het ek vir die Getuie by wie ek gebly het, gevra: ‘Wat verhinder my om gedoop te word?’ Hy het die plaaslike gemeente gevra en hulle het geantwoord: ‘Niks nie.’ In 1973 is ek teen skemer in ’n dam op ’n nabygeleë plaas gedoop. Ek het gebid terwyl ek in die water ingegaan het, aangesien Jesus dit gedoen het toe hy in die Jordaanrivier deur Johannes die Doper ondergedompel is.

“Daarna het ek geestelik vinnig vooruitgang gemaak. Ek het by die Teokratiese Bedieningskool van die plaaslike gemeente aangesluit—ek het dit natuurlik nooit persoonlik bygewoon nie. Ek het toewysings op die skool ontvang en my toesprake op band opgeneem, en hulle is vir die gemeente gespeel. Die skoolraadgewer het raad teruggestuur om my te help verbeter. Ons het weeklikse vergaderinge in die gevangenis gehad wat ander gevangenes ook kon bywoon.

“Ek het deurentyd baie tekste by my kennis van die Bybel gevoeg. Hulle was soos trapklippe wat my uit die morele moeras gelig het waarin ek vir die grootste gedeelte van my lewe geleef het, totdat ek besef het wat die verandering beteken waarvan die apostel Paulus gepraat het in Kolossense 3:9, 10: ‘Lê die ou persoonlikheid met sy werke af en beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur middel van juiste kennis vernuwe word na die beeld van die Een wat dit geskep het.’—NW.

“In 1978 was daar ’n derde verhoor voor die paroolraad. Ek is al twee keer parool geweier as gevolg van die ernstige aard van my oortredings. Hierdie keer het die raad sowat 300 briewe van Getuies en ander ontvang wat getuig het van die veranderinge wat ek gemaak het.

“My kanse op vrylating was beter, en ek het aan die moontlikheid gedink om te trou. Arlynn, ’n weduwee met twee kinders, was ’n Getuie wat vir my geskryf het terwyl ek in die gevangenis was. Sy en haar twee seuns het my besoek. Ons het mekaar liefgekry. Ek is op 1 Februarie 1978 vrygelaat. Ons is op 25 Februarie 1978 getroud. Nou, 13 jaar later, is ons steeds gelukkig getroud. Een van ons seuns is getroud en bedrywig as een van Jehovah se Getuies. Die ander seun werk voltyds by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York.

“My gebede is verhoor. Ek is dankbaar teenoor die broers en susters wat my so baie gehelp het. Al my geluk is te danke aan die gelukkige God, Jehovah.—1 Timotheüs 1:11, NW.

“Ek het egter berou oor my sondes van die verlede. Ek dink met walging terug aan my vorige verdorwe gedrag. Ek het al baie kere tot Jehovah gebid om my te vergewe, en ek glo dat hy my wel vergewe het. Ek hoop ook dat mense wat ek in die verlede te na gekom het my sal kan vergewe. En ek hoop veral dat Jehovah die man wat ek doodgemaak het, sal opwek en dat hy die geleentheid sal hê om vir ewig in God se Paradysaarde te lewe. Dit sal my vreugde volmaak maak!”

Wat gevangenistralies en alleenopsluiting nie kon regkry nie, het Bybelwaarheid reggekry. Dit het Ron Pryor in staat gestel om die ou kriminele persoonlikheid af te lê en hom met ’n nuwe Christelike persoonlikheid te beklee. Waarom? Omdat ‘die woord van God lewend is en krag uitoefen’, waaronder die krag om te rehabiliteer.—Hebreërs 4:12, NW.

[Lokteks op bladsy 11]

Dit was regter Jenkins se bakkie wat ek gesteel het!

[Lokteks op bladsy 12]

Daar was ’n Bybel in alleenopsluiting. Ek het dit begin lees

[Lokteks op bladsy 12]

Ek het 20 jaar vir moord gekry

[Prent op bladsy 13]

Ron Pryor en sy vrou, Arlynn, vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel