Die Wagtoring en die Ontwaak!—betuigings van waardering
’n Rubriekskrywer van die Nederlandse koerant NRC Handelsblad van 24 Julie 1990 het die volgende oor die Ontwaak! en sy mede-tydskrif Die Wagtoring gesê:
‘Diegene wat, soos ek, twee dekades lank dit nie die moeite werd geag het om deur die Ontwaak! en Die Wagtoring [wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word] te blaai nie, maar wat onlangs toevallig op hulle afgekom het, sal verbaas wees. Hulle het drasties verander, in formaat sowel as in inhoud.
‘Wat ’n mens voorheen in albei tydskrifte die meeste opgeval het, was die tekeninge: prente in een kleur en op koerantpapier. Die artikels, as ek reg onthou, was ’n soort Reader’s Digest van die goeie nuus en het slegs terloops moeilike wêreldprobleme, soos oorlog, dwelms, seks en politiek, aangeroer.
‘Dit het nou heeltemal verander. Albei tydskrifte is soos kommentare op aktuele sake in die klein. Hulle is oorvloedig geïllustreer met kleurfoto’s. . . . Soms kan ’n mens selfs ’n ietwat stigtelike kunswerk bewonder soos ’n reproduksie van die apostels by die Laaste Nagmaal (in Die Wagtoring van 1 Julie 1990), maar wanneer moontlik word foto’s gebruik. Dit is opmerklik dat die Ontwaak! dikwels wetenskaplike onderwerpe bespreek. In die uitgawe van 8 Julie is daar ’n gedeelte oor die maansverduistering op 16 Augustus verlede jaar, ’n kort stukkie oor borsvoeding en oor die skakel tussen osteoporose en die mangaanvlak in die bloed, en laaste maar nie die minste nie, ’n driedelige hoofartikel waarin menings ten gunste van en teen dierenavorsing gestel word.’
Die skrywer sê verder: ‘Met sy oplaag van 11 930 000 eksemplare in 61 tale [nou 12 980 000 eksemplare in 64 tale] is die Ontwaak! ’n onskatbare bron van wetenskaplike nuus vir ’n breë leserspubliek.’
Natuurlik het Die Wagtoring en die Ontwaak! ‘drasties verander’ slegs in voorkoms—nie in inhoud nie. Dekades lank al bied albei tydskrifte goed nagevorste artikels wat die aandag op God se Koninkryk as die enigste hoop vir die mensdom vestig. Maar ons hoop dat die verbeterde voorkoms van ons tydskrifte daartoe sal lei dat meer individue ons tydskrifte sal lees en by die lewegewende boodskap sal baat vind.
[Prente op bladsy 9]
Nederlandse uitgawes van “Die Wagtoring” en die “Ontwaak!”