Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 5/8 bl. 18-20
  • Wat is verkeerd daarmee as jy flankeer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is verkeerd daarmee as jy flankeer?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat ’n flirtasie beteken
  • Gevaarlike “pret”?
  • Om jou eiedunk te verhoog
  • ‘Skiet vuurpyle af’
  • ‘Ek wil hê dat mense van my moet hou’
  • Heilsame verhoudings
  • Wat is verkeerd met flankeerdery?
    Ontwaak!—1998
  • Is dit net onskuldige pret wanneer jy flirt?
    Jongmense vra
  • Hoe kan ek die pyn van ’n flirtasie vermy?
    Ontwaak!—1991
  • 1 Hoe om probleme te vermy
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2018
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 5/8 bl. 18-20

Jongmense vra . . .

Wat is verkeerd daarmee as jy flankeer?

“SARAH! Sarah!” fluister die seun ’n paar rye agter haar. “Kom sit hier by my!” Elke vyf minute herhaal hy sy versoek—tevergeefs. Vir Sarah is die seun se pogings om in die klaskamer te flankeer nie veel meer as ’n daaglikse irritasie nie.

Jong Jennifer is nog nie oud genoeg om na ’n hoërskool te gaan nie, maar sy vertel: “Seuns sê soms dubbelsinnige dinge en hulle optrede is meer as vriendelik.” “Die oë!” voeg Erika by. “Hulle kyk na jou met hierdie breë aangeplakte glimlagte, en skielik kry hulle hierdie diep stem—dit laat my lag. En hulle kom regtig na-aan jou.” Daar word dikwels ook met seuns geflankeer. John, ’n tiener, vertel: “Die meisies [by die skool] probeer om naby jou te kom en aan jou te raak en hul arms om jou te sit. Hulle kom na jou toe in die gange en probeer om jou te omhels.”

Baie jongmense geniet weliswaar die aandag. “Dis pret”, het ’n meisie genaamd Connie gesê wat ’n wellustige gestaar aanmoedig deur uitlokkend aan te trek. Baie jongmense geniet dit ook om aandag te gee aan meer as een persoon. “Ek is ’n meisie wat daarvan hou om met alle ouens te flankeer—of ek van hulle hou of nie”, het een meisie aan die tydskrif ’Teen geskryf. “’n Flirtasie laat my meer selfversekerd en aantrekliker voel.”

Hoe moet ’n Christenjeugdige ’n flirtasie dan beskou? Is dit net onskuldige pret, ’n onvermydelike stadium op die pad na die liefde? Of is daar ’n paar werklike gevare wat vermy moet word?

Wat ’n flirtasie beteken

In Afrikaans is ’n flirtasie nie dieselfde as die geoorloofde aandag wat ’n man aan ’n vrou (of andersom) skenk in die beginstadium van ’n hofmakery nie. Dit beteken eerder “om amoreus [romanties] op te tree sonder om dit ernstig te bedoel”. Die Franse noem ’n vrou wat so optree ’n koket.

Dit is egter nie so maklik om presies te sê watter soort gedrag ’n flirtasie is nie. ’n Flirtasie kan ’n kyk wees, ’n aanraking, ’n stemtoon, ’n skaam glimlag—selfs die manier waarop ’n mens aantrek, staan of beweeg. Hoewel dit dalk moeilik is om presies te sê wat ’n flirtasie is, is dit egter gewoonlik heel maklik om te sien wanneer daar met iemand geflankeer word. In elk geval, as ’n mens eenvoudig te jonk is om aan trou te dink, is koketterige gedrag of ’n flirtasie werklik gevaarlik!

Gevaarlike “pret”?

Dit is op sigself nie verkeerd om aangetrokke te voel tot iemand van die ander geslag nie. Trouens, dit is net natuurlik dat sulke gevoelens gedurende “die bloei van die jeug” sterk sal wees; dit is hoe die Skepper ons gemaak het (1 Korinthiërs 7:36, NW). Miskien wonder jy hoe aantreklik jy is; ’n flirtasie lyk miskien na ’n onskuldige manier om dit uit te vind. Die tydskrif ’Teen het meisies selfs aangemoedig om te flankeer deur te sê: “’n Flirtasie kan pret wees!” Die daaropvolgende artikel het uitvoerige instruksies oor die kuns van ’n flirtasie gegee.

Maar die blote feit dat ’n flirtasie pret genoem kan word, maak dit nie voordelig of heilsaam nie. Beskou die gesindheid van die regverdige man Job. Hy het eenkeer gesê: “Ek het ’n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ’n jonkvrou?” (Job 31:1, 9-11). In werklikheid het Job ’n kontrak met homself gesluit dat hy sy oë sou beheers en nooit na ’n ongetroude vrou sou kyk om met haar te flankeer nie. Waarom nie? Want Job was ’n getroude man. As hy aan klein flirtasies deelgeneem het, sou dit onvanpas, dislojaal, teenoor sy vrou wees. Op sy allerminste kon dit verkeerde begeertes en verwagtinge opgewek het. Job het ’n flirtasie dus vermy.

Jy is weliswaar dalk nie getroud nie. Maar dink hieraan: Het jy enigsins ’n gegronde rede om aandag te skenk aan ’n spesifieke lid van die ander geslag as Job nie eers ’n rede gehad het nie? As jy per slot van rekening nog nie oud genoeg is om te trou nie, wat sou die doel daarvan wees? Wat sal jy maak as hy of sy daarop reageer? Is jy werklik in ’n posisie om ’n verhouding verder te voer tot by sy logiese uiteinde—’n huwelik?a Indien nie, veroorsaak ’n flirtasie net frustrasie.

Om jou eiedunk te verhoog

Dikwels is romantiese betrokkenheid egter die laaste ding waaraan ’n flirt dink. Hy of sy beskou dit miskien as ’n soort speletjie of vermaak om die aandag van die ander geslag te trek. ’n Christenmeisie met die naam Maria was byvoorbeeld heeltemal bewus van die Bybel se bevel om nie op ’n romantiese manier in dieselfde juk saam met ’n ongelowige te trek nie (2 Korinthiërs 6:14). Maar sy het verkeerdelik geglo dat dit geen gevaar inhou om met die seuns by die skool te flankeer nie. “Sodra ek hulle aandag gekry het”, verduidelik sy gou, “was dit die einde daarvan. Jy kom by die punt waar hulle jou uitvra, en dis waar jy ophou.” Maar is dit waar hulle ophou?

Skryfster Kathy McCoy het in ’n artikel vir die tydskrif Seventeen opgemerk: “Dikwels het mense wat seksuele speletjies speel ’n lae gevoel van eiewaarde en probeer hulle goed oor hulleself voel deur die aandag en bewondering van ander.” ’n Reaksie op ’n verleidelike kyk of aanraking kan beslis jou eiedunk verhoog—maar net tydelik. Buitendien het die Bybelskrywer Paulus, in sy bespreking van ware liefde, tere geneentheid en Christelike eenheid, Christene gewaarsku om “niks uit ydele eer”, of “egotisme”, te doen nie.—Filippense 2:1-3, vgl. NW.

Daar is baie effektiewer en blywender maniere om ’n gevoel van eiewaarde op te bou as om met ander se gevoelens te speel. Probeer gerus om “die innerlike mens”, of die mens wat jy binne is, op te bou.—2 Korinthiërs 4:16.

‘Skiet vuurpyle af’

’n Artikel in die tydskrif Seventeen wys op nog ’n gevaar wanneer dit sê: “Die probleem met ’n flirtasie is dat dit verskillende dinge vir verskillende mense beteken, en soms word mense se bedoelings verkeerd verstaan—en gevoelens word seergemaak.”

Ja, jongmense is dikwels naïef en besef nie hoeveel ’n flirtasie iemand anders se gevoelens kan seermaak nie. Dit is soos ’n wyse spreuk sê: “Soos een wat onverskillig vuurpyle, dodelike pyle afskiet, so is die man wat sy naaste bedrieg en sê: Ek speel somaar” (Spreuke 26:18, 19). Die mag om ander se emosies te beïnvloed is potensieel dodelik. Soos enige mag moet dit versigtig en verantwoordelik gebruik word.

’n Flirtasie is misleidend, liefdeloos en dikwels wreed. Dit kan ’n potensieel gesonde, aangename verhouding bederf. Dit kan jou in ander se oë goedkoop maak. Nog erger, dit kan te vroeg lei tot romantiese betrokkenheid of selfs geslagsonsedelikheid! Die Bybel waarsku: “Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?”—Spreuke 6:27.

‘Ek wil hê dat mense van my moet hou’

Dit is natuurlik net normaal om te wil hê dat mense van ons moet hou. En dit lyk dalk vir jou of flirts al die pret het, dat dié wat weet hoe om die sjarme oop te draai die meeste vriende het. Maar sluit ’n flirt werklik ware, blywende vriendskappe? Nouliks. Dis waar, sommige hou dalk van ’n flirt, mits die aandag op hulle gevestig is. Maar wanneer iemand anders skielik die aandag kry, het hulle gewoonlik ’n teensin in die flirt.

Dit is dus nie verbasend nie dat 80 persent van tienermeisies onder wie ’n opname gedoen is, gesê het dat ’n seun wat “geneig is om te flankeer” “niks werd” is nie. Soos ’n ou spreuk sê: “’n Wreedaard pynig sy eie vlees.”—Spreuke 11:17.

Heilsame verhoudings

Dit is wel nie altyd maklik om die regte balans te handhaaf in jou optrede teenoor die ander geslag nie. ’n Tienermeisie met die naam Kelly sê dit is vir haar “moeilik om die verskil tussen vriendelikheid en ’n flirtasie te vind”. Sy voeg by: “Ek is baie, baie vriendelik.”

Daar is niks daarmee verkeerd om spontaan te wees nie. En dit is nie nodig om in jou dop te kruip of ’n koue uiterlike voor te hou nie. Die vermoë om opbouende, intelligente gesprekke te kan voer, is ’n vaardigheid wat jou kan help om vriende te win. Buitendien sal ’n openhartige gesprek waarskynlik nie verkeerd vertolk word soos onverklaarbare blikke of skaam glimlagte aan die anderkant van ’n vertrek nie. Maar as jy net vriendelik is met portuurs van die ander geslag en ander feitlik ignoreer, kan sommige dalk ’n verkeerde gevolgtrekking omtrent jou maak.

Die sleutel is dat “elkeen [nie] na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n”—ongeag die ouderdom of geslag (Filippense 2:4). Vermy spraak, kleredrag, persoonsversorging of optredes wat as verleidelik beskou kan word. (Vergelyk 1 Timotheüs 2:9.) As jy bekend is as iemand wat gewoonlik opreg in mense belangstel, sal vriendelikheid selde verkeerdelik as ’n romantiese lokmiddel beskou word. Deur jou spraak en gedrag kan jy ’n duidelike boodskap uitdra: ‘Ek is nie in die flirtasiebedryf nie!’

[Voetnoot]

a Sien hoofstuk 29 (“Is ek gereed om afsprake te maak?”) in Vrae wat jongmense vra—antwoorde wat werk, wat uitgegee word deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prent op bladsy 20]

Toon ’n opregte belangstelling in alle mense—ongeag hul ouderdom of geslag

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel