“Julle móét dit eenvoudig doen”
Deur Ontwaak!-medewerker in Colombia
’N JONG paartjie van Missouri in die Verenigde State verduidelik: “Ons het in die somer van 1988 van die Internasionale Vrywillige Konstruksiewerkerprogram gehoor toe ’n paar vriende teruggekeer het van ’n toewysing by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Honduras, in Sentraal-Amerika. ‘Julle móét dit eenvoudig doen!’ het hulle vol entoesiasme gesê.”
Die konstruksieprogram waarna hier verwys word, is dié wat deur Jehovah se Getuies ontwikkel is om hulle takkantore wêreldwyd op te rig. Om hiervoor in aanmerking te kom, moet voornemende personeel eers by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, werk waar hulle werkgewoontes en -vermoëns geëvalueer kan word. Die man uit Missouri het gevolglik met die Genootskap se kantoor in Brooklyn in aanraking gekom en hom beskikbaar gestel om tydelik daar te werk.
Gedurende sy verblyf by die hoofkwartier in Brooklyn het hy aangebied om in ’n ander land te gaan werk. By sy terugkeer na Missouri het hy en sy vrou toe vir die verwagte reis begin spaar. Etlike maande later het hulle hul toewysingsbrief ontvang. Hulle sou na Colombia, in Suid-Amerika, gaan!
Van 1987 tot aan die einde van 1990 het meer as duisend tydelike vrywilligers op eie koste na Colombia gereis om tussen twee weke en twee maande lank te help met die oprigting van die groot nuwe drukkery vir Jehovah se Getuies se takkantoor in daardie land. Hierbenewens het ongeveer 80 ander vrywilligers uit 14 verskillende lande langer as ’n jaar aan hierdie groot projek in Colombia gewerk. Party van hierdie kort- en langtermynwerkers het by vorige geleenthede gehelp om nuwe takkantore in lande soos Nigerië, die Filippyne, Guyana, El Salvador, Guatemala, Costa Rica, Peru en Ecuador te bou.
Wanneer vrywilligers in Colombia aankom, help hulle gasheer hulle om immigrasie- en doeaneformaliteite af te handel. Daarna word hulle per motor na die konstruksieterrein in Facatativá, sowat 50 kilometer noordwes van Bogotá, geneem.
Oriëntering
Op die eerste dag by die projek word ’n tipiese nuwe aankomeling op ’n toer van die fasiliteite geneem en ontvang hy instruksies oor die leefwyse as ’n lid van die konstruksiespan. Die meeste van die internasionale konstruksiewerkers—in onlangse jare was daar tussen 40 en 60 op enige gegewe tydstip—woon in huisvesting wat naby die konstruksieterrein verkry is.
Die nuwe konstruksiewerkers ontvang instruksies oor werkprogramme, die bywoning van Christelike vergaderinge, deelname aan die predikingswerk oor naweke en die behoorlike versorging van hulle woonplekke. Hulle ontvang ook inligting oor die wassery en hulle deelname aan die oggend se Bybelbesprekingsprogram en verwante sake.
Die kamers wat voorsien word, is gerieflik, die etes is warm en voedsaam en die wasgoed word stiptelik terugbesorg nadat dit gewas en gestryk is. Selfs mediese sorg word voorsien indien dit nodig is. Niks word oor die hoof gesien om die verblyf van vrywilligers so aangenaam moontlik te maak nie.
Hierdie nuwe aankomelinge is gewoonlik verras as hulle besef dat die bouprojek baie groter is as wat hulle verwag het. Teen die helling wat na ’n digte immergroen woud op die berg daaragter lei, is mense druk besig in die twee vyf verdieping hoë woongeboue. Hierdie geboue sal uiteindelik huisvesting bied vir tot 250 lede van Colombia se takpersoneel, wat as die Bethelgesin bekend staan. Gedurende die afgelope maande het nuwe aankomelinge die spanne besig gesien met loodgieterswerk, bedrading en die oprigting van staalskotstylrame vir die mure.
Die eetsaal, wat gerieflik vir 400 sitplek bied, is oor naweke stampvol met 600 of meer wanneer daar ’n toestroming van plaaslike vrywilligers is wat hulle maaltye op kafeteria-wyse geniet. Afgesien van ’n paar laaste afwerkings, is die eetsaal nou voltooi.
Die Versendingsafdeling en die Smoutpersafdeling het reeds in die groot twee verdieping hoë fabrieksgebou ingetrek. Wanneer nuwe aankomelinge deur die eerste verdieping van die fabriek gaan, vestig die toerleier trots die aandag op die kolossale nuwe Hantscho-rotasierubberdrukpers. Verskeie broers wat in die perskamer in Brooklyn werk, het toesig gehou oor die installering daarvan, terwyl hulle op bekwame wyse deur ander vrywilligers bygestaan is.
Hierdie rekenaarbeheerde drukpers—65 ton en 27 meter lank—is een van die beste wat vandag beskikbaar is. Dit druk nou 38000 nommers per uur van die Spaanse uitgawes van die Wagtoring en die Ontwaak! wat oor die hele noordweste van Suid-Amerika versprei word. Oor die 155 000 van Jehovah se Getuies in Colombia, Venezuela, Panama, Ecuador en Peru het onlangs vir die eerste keer hulle tydskrifte ontvang wat op hierdie drukpers gedruk is—almal in volkleur.
Plaaslike ondersteuning
Baie Colombiaanse vrywilligers, mans sowel as vroue, werk ook op die konstruksieprojek. Hulle is trots om aan hulle nuwe tak, soos hulle dit noem, te werk. Party van hulle woon in tydelike behuising naby die konstruksieterrein, en ander ry gereeld heen en weer van Bogotá en ander nabygeleë dorpe. Oor naweke en gedurende vakansies kom daar om die beurt nog 50 tot 150 vrywilligers van ongeveer honderd gemeentes van Jehovah se Getuies in Bogotá en omstreke.
’n Vrywillige konstruksiewerker uit Kanada, wat ondervinding het in staalskotstylraamwerk en die installering van stapelmure, het opgemerk: “Die plaaslike broers is gretig om te leer, en die kwaliteit van hulle werk is net so goed, indien nie beter nie, as dié wat jy op ’n handelsprojek in Kanada sal aantref.”
’n Werker wat sedert 1987 in beheer van swaartoerusting en grondverskuiwing is, voeg by: “Ons het ’n goeie klomp manne, onder meer ’n aantal plaaslike broers, wat saam met ons werk. Party van hulle kon voorheen beswaarlik ’n motor bestuur, maar nou is hulle uitstekende masjienoperateurs.”
’n Aantal jong Colombiane wat gereeld aan die projek gewerk het, het nou aansoek gedoen om permanent in Bethel te dien, wat binnekort aansienlik vergroot gaan word. Ander sal die voltydse predikingswerk in Colombia hervat. Hulle almal het geestelik baie gegroei deur as vrywillige konstruksiewerkers in hierdie Bethel-gesinsatmosfeer te dien.
’n Lonende werk
Duisende wat aan die Internasionale Vrywillige Konstruksiewerkerprogram deelgeneem het, het getuig dat dit ’n hoogtepunt in hulle lewe was. “Dit is iets baie besonders”, het ’n werker uit Mississippi, VSA, van die Colombia-projek gesê. “Die ménse maak dit iets besonders. Ek sou wat wou gee om dit altyd te doen, as dit maar moontlik was. Jy kan enige plek geboue oprig, maar dit is anders as jy saam met die broers werk.” Om daagliks met Christene in aanraking te kom wat die vrugte van Jehovah se gees aan die dag lê, is so anders as om in die sekulêre wêreld te werk!
Die afskeid breek gewoonlik alte gou vir die tydelike werkers aan. Daar is omhelsings en baie trane. Hoe dikwels word dié afskeidswoorde nie gehoor nie: “Ons wens ons kon langer bly.” “Ons sou wat wou gee om langer te kon bly!” Almal vertrek met ’n dieper waardering vir die internasionale broederskap van Jehovah se Getuies. Hulle het ’n voorsmakie geniet van hoe dit sal wees om in die toekoms saam te leef en te werk wanneer die Paradys oor die hele aarde uitgebrei word.
Natuurlik kan nie almal aan hierdie internasionale konstruksieprogram deelneem nie. Maar vir diegene wie se omstandighede dit toelaat, het ’n groot deur tot nuwe en opwindende geleenthede deur middel van die Internasionale Vrywillige Konstruksiewerkerprogram oopgegaan.