Hoe ek geleer het om ander te help
IN 1973, toe alles gebeur het, was ek ’n gesonde 22-jarige man. Ek het my lewe baie geniet. Ek het aan sport deelgeneem en het van fisiese werk gehou. Tydens my vakansies het ek gewoonlik gaan branderry. Ek het dit geniet om te bestuur. Maar ’n dwase, impulsiewe vlaag van woede het al hierdie dinge skielik beëindig.
Ek en my vrou, Gemma, het by familielede gekuier toe ’n paar jong seuns ons aandag getrek het. Ons het gesien hoe hulle stukke van die tuin se heining afbreek terwyl hulle met die pad langs aangekom het. Toe hulle ons opmerk, het hulle begin om stukke hout in die tuin en toe op die huis se balkon, waar ons gestaan het, te gooi. Die een stuk het Pippa, my vierjarige dogter, getref. Ek het woedend omgeswaai en die glas wat ek vasgehou het na die vandale gegooi. Die balkon was 3,7 meter hoog, en ek het op die een of ander manier my balans verloor. Ek het daar afgeval en op my kop te lande gekom en sodoende etlike van my nekwerwels verskuif en gebreek.
Omdat ek byna ’n jaar lank in ’n hospitaalbed gelê het, het ek tyd gehad om oor my toestand na te dink. Die man langs my het selfmoord gepleeg, en ander wat ek daar ontmoet het, het dit sedertdien ook gedoen. Die wanhoop en frustrasie is onbeskryflik. Ek het my baie gekwel oor die las wat ek op ander gelê het en oor die wete dat daar geen verbetering kon wees nie. Ja, ek het ook baie keer daaraan gedink om my lewe te beëindig. Trouens, ek het my vrou gevra om my daarmee te help deur vir my tablette te kry. Maar sy het vir my gesê dat ek mal is en wou nie luister nie. Hoe dankbaar is ons albei tog nou dat sy geweier het!
Dinge het begin verander toe Gemma se tante, wat al jare lank een van Jehovah se Getuies was, die Bybel met haar begin studeer het. Dit het vir Gemma sin gehad, maar ek het nooit in godsdiens belanggestel nie. Dinge wat ek geestelikes oor die televisie hoor sê het, het my gehinder. Ek was in elk geval nie besonder leergierig nie. Maar toe Gemma met my oor haar nuutgevonde geloof begin praat het, was daar twee dinge wat my onmiddellik aangetrek het.
Ek het ten eerste uitgevind dat die Bybel ooreenkom met geskiedenis, een van die vakke op skool wat my geboei het. Dit het my verbaas. Dit het nooit by my opgekom dat daar so ’n verband bestaan nie. Ten tweede het God se geregtigheid my tot hom aangetrokke laat voel. Ek het altyd gedink dat die ongeregtighede van die lewe nooit reggestel kan word nie. Maar toe ek van Jehovah se voorneme en sy Koninkryk geleer het, het ek begin sien dat geregtigheid sal seëvier.—Deuteronomium 32:4; Lukas 18:7, 8.
’n Doel in die lewe
Daarna het ek vinnig vooruitgang gemaak met my Bybelstudie. Ek het ’n doel in die lewe gevind, ondanks die feit dat ek fisies gestrem was en so sou bly. Ek het alle rede gehad om dankbaar te wees. Maar ek het my beskouing spoedig verruim toe ek besef hoe baie ek kon doen om ander te help met die kennis wat ek opgedoen het.
Hoe kon ek vooruitgang maak? Dit was die kwelvraag. Ek en Gemma is saam gedoop, en ek het met die hulp van my leermeesters hard studeer om geestelik vooruitgang te maak. Maar die keerpunt het gekom toe ek van ’n Getuie in Libanon gelees het.a Hy was 46 jaar oud en was reeds 18 jaar lank heeltemal bedlêend. En tog, hoe onmoontlik dit ook al vir my gelyk het, was hy ’n ouere man in die Christengemeente! Tot op daardie stadium het hy 16 mense gehelp om toegewyde knegte van Jehovah te word en het hy elke maand sewe Bybelstudies gehou. Sy ondervinding het my besiel.
Die plaaslike woningowerheid het my gesin voorsien van ’n eenverdiepinghuis wat ten volle toegerus is met meganiese toestelle waarmee ek myself kan help. Ek is geseën met al die fisiese hulp wat ek nodig het. Ons families het saamgespan en ’n bakkie gekoop sodat my rolstoel maklik daarin vervoer kan word. Dit stel ons as gesin in staat om na die vergaderinge by die Koninkryksaal te gaan. Die plaaslike gemeente het spoedig liefdevol gereël dat ’n Gemeentelike Boekstudie in my huis gehou word.
My begeerte om van huis tot huis te getuig is vervul toe broers en susters in die gemeente aangebied het om my rolstoel te stoot. Ek kan met die huisbewoners praat maar omdat ek my arms en hande nie kan gebruik nie, is dit buite die kwessie om die Bybel te gebruik. Ek meld derhalwe die tekste en my metgesel wys dan die verse in sy Bybel en bied die Bybelstudiehulpe aan waaroor ek praat.
Daar is natuurlik baie mense wat my tuis kom besoek, en ek kan so Bybelstudies hou. Ek het ook die kuns bemeester om briewe te skryf deur ’n pen in my mond vas te hou, en ek kan my dus wanneer ek ook al wil met die predikingswerk besig hou. En ek neem al drie jaar lank gereeld aan die hulppionierdiens deel.
Ek bekwaam my as onderrigter
Ek het mettertyd aan die vereistes voldoen om ’n bedieningskneg te word, maar hoe sou ek ooit van die verhoog af kon onderrig? Gedurende my studies het ek geleer om die Bybel se bladsye om te blaai met ’n stokkie wat ek tussen my tande vasgehou het. Hoe nuttig hierdie gewoonte ook al is, dit beteken natuurlik dat ek moet ophou praat wanneer ek die stokkie optel en dit dan terugsit. Ek het weldra besef dat die gebruik van my tong om die Bybel se bladsye om te blaai die oplossing is! En dit is wat ek nou doen.
Hierdie ongewone tegniek het my gehelp om my spreekvermoë te verbeter, en ek het baie meer uit my toewysings op die Teokratiese Bedieningskool geleer. Stel jou voor hoe ek gevoel het toe ek in 1984 aangestel is om as gemeentelike ouere man te dien!
Die volgende stap was om ’n openbare toespraak, wat 45 minute duur, te hou. Dit verg noukeurige voorbereiding, en hoewel dit altyd vir my fisies vermoeiend is, volhard ek daarmee. Ek het nou die bykomende voorreg om nabygeleë gemeentes van tyd tot tyd te besoek om hulle toe te spreek. Die kinders is gefassineer wanneer hulle sien hoe ek die Bybel se bladsye met my tong omblaai, en hulle probeer my soms naboots. Maar hulle gooi gou tou op. Dit verg baie oefening om dit goed te kan doen.
Wanneer ek terugkyk, kan ek goed onthou hoe bitter ek gevoel het toe ek die hospitaal aanvanklik verlaat het. Ek het geweet dat die vrouens van baie ander wat, soos ek, gebreklik is hulle mans verlaat het. As Gemma my verlaat het, sou ek dit verstaan het. Sy het my egter, met die ondersteuning van ons dogter, Pippa, as ’n liefdevolle metgesel bygestaan. Met hulle hulp en die hulp van die gemeente het ek geleer om “verruim” te word en ander te help (2 Korinthiërs 6:13).—Soos vertel deur Tony Wood.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Van wanhoop tot vreugde”, soos vertel deur Estefan Kalajian, wat in Die Wagtoring van 1 Julie 1981 verskyn het.
[Prente op bladsy 25]
By Gemma en Pippa, my vrou en my dogter
Ek blaai die bladsye met my tong om