Uile—Ontwerp vir naglewe
UILE kom byna oral voor. Hulle word op elke kontinent behalwe Antarktika aangetref. Hulle groottes wissel van dié van ’n mossie tot dié van ’n arend. Die kleinstes is die dwerguile; die ooruile van Eurasië, die groot grysuile, die groot horinguile en die opvallend mooi sneeu-uile van die Noordpoolstreke is baie groter. Sowat 140 spesies kom algemeen voor in sulke uiteenlopende habitats soos grasvelde, prêries, woestyne, moerasse, woude, reënwoude en noordelike toendra. Hulle dieet is net so uiteenlopend soos hulle habitats: wurms, insekte, paddas, knaagdiere, klein voëltjies en vis.
Met sy groot kop en sy yslike, ronde oranje of geel oë wat albei vorentoe kyk en uit pieringvormige veerskywe tuur, lyk mnr. Uil alte wys. Dit is geen wonder dat hy die wyse ou uil genoem word nie. Die indruk van wysheid word gedeeltelik geskep deur die groot oë wat met so ’n kalm en deurdringende uitdrukking tuur. Daardie deurdringende blik is egter nie aan enige diep peinsvermoëns toe te skryf nie—sy oë is geleë in kasse wat nie toelaat dat hulle rondrol of -draai nie. Die uil is nietemin sedert vervloë tye as wys beskou—dit was die heilige voël van Pallas Athene, die Griekse godin van die wysheid.
Nie alle uile straal so ’n aura van wysheid uit nie. Nòg die klein dwerguiltjie, nòg die graafuil het die indrukwekkende voorkoms van die groot horinguil. Dwerguiltjies woon in woestyngebiede en bewoon houtkappergate wat in reuse-saguaro’s gemaak is. Hulle maak harde geluide vir sulke klein voëltjies, en wanneer die mannetjie en die wyfie duette sing—as jy dit sing kan noem—klink dit soos die getjank en gekef van klein hondjies.
Graafuile woon in die gate van prêriehonde of grondeekhorings, en hulle word dikwels gesien waar hulle op grondhope of heiningpale sit. Neskuikens wat in hulle gate bedreig word, maak ’n woeste gonsgeluid wat soos die ratelslang se waarskuwingsein klink. Dit skrik ongewenste besoekers af.
Baie mense dink dat uile in daglig nie baie goed kan sien nie. Hulle dink ook dat uile in die donkerte heel goed kan sien. Maar hulle is in albei gevalle verkeerd. Uile kan baie goed sien. Gedurende die dag is hulle gesigsvermoë uitstekend. Gedurende die nag sien hulle ook baie goed. Die naguile—en die meeste uile is nagdiere—het retinas wat stampvol stafies is om hulle in staat te stel om in die swakste lig te sien. In so ’n omgewing neem hulle oë die swak lig honderd keer beter as ons s’n in. Maar in stikdonkerte kan hulle net sowel blind wees. Een navorser het dooie muise op die vloer van ’n stikdonker kamer versprei en uile daarin losgelaat. Daardie uile het nie een muis gevind nie.
Wanneer ore oë word
Maar toe ’n nonnetjie-uil (bladsy 15) losgelaat is in ’n stikdonker kamer met blare op die vloer en lewende muise wat daartussen skarrel, het hy almal gevang. Ander naguile sou dit ook kon doen, maar die nonnetjie-uil is ongetwyfeld ’n spesialis. In stikdonkerte word sy ore sy oë. Nonnetjie-uile het ’n rigtingsgehoorsin wat akkurater is as dié van enige ander landdier wat tot dusver bestudeer is.
Wanneer ons ’n baie sagte geluid wil hoor, draai ons ons oor na die bron daarvan en ons maak dalk ’n hand bak agter ons oor om die klankgolwe op te vang en dit na ons ooropening te lei. Die nonnetjie-uil se gesig is ontwerp om dit outomaties te doen, en hy kan uiters sagte geluide wat ons nie kan hoor nie, maklik hoor. World Book se Science Year 1983 verduidelik: “Die nonnetjie-uil se groot gevoeligheid vir geluide is grootliks toe te skryf aan die gesigskyf—die rand van stywe, opeengepakte vere wat hartvormig rondom die gesig gerangskik is—se vermoë om geluide op te vang. . . . Soos ’n hand wat agter ’n oor bak gemaak word, vang die groot oppervlak van die gesigskyf geluide op en lei dit die geluide na die ooropeninge.”
Die gehoormeganisme eindig nie by die nonnetjie-uil se gesigskyf nie. Nog ’n ‘bakgemaakte hand’ is beskikbaar om die geluid na die ooropening te lei. Science Year 1983 beskryf dit so: “Die pienk klap wat die nonnetjie-uil se ooropening bedek, het ’n strukturele ooreenkoms met die mens se buiteoor. Vere aan die buitekant van die oorklap en in die gesigskyf agter die oor tree op soos bakgemaakte hande om geluide na die opening te lei.”
Hierdie oorklap is egter nie net nog ’n ‘bakgemaakte hand’ om die gesigskyf se vermoë om geluide op te vang te versterk nie. Dit, tesame met die gesigskyf, is spesiaal ontwerp om ’n heel nuwe dimensie aan die nonnetjie-uil se rigtingsgehoorvermoëns te verleen. Die ooropeninge in die nonnetjie-uil se skedel is simmetries, dit wil sê, die regter- en linkerooropeninge is presies teenoor mekaar in die skedel geleë. Die uitwendige oorstrukture is egter nie simmetries nie. Die regteroorklap sowel as die uitwendige ooropening is laer en opwaarts gerig, terwyl die linkeroorklap en die uitwendige ooropening hoër en afwaarts gerig is. Gevolglik is die regteroor, met sy oorklap en -opening wat na bo wys, sensitiewer vir geluide wat van bo kom, terwyl die linkeroor, met sy oorklap en -opening wat na onder wys, sensitiewer is vir geluide wat van onder kom. As die geluid harder in die regteroor is, weet die uil dat die bron bo hom is; as dit harder in die linkeroor is, is die bron onder hom.
As die klankbron eweneens meer horisontaal as vertikaal is en eerste deur die regteroor gehoor word, weet die uil onmiddellik dat dit van regs kom; as dit eerste deur die linkeroor gehoor word, weet die uil dat dit van links kom. Die uil se kop is klein, en gevolglik is die verskil in aankomstyd van die geluid by een oor vergeleke met die ander oor minimaal, gemeet in mikrosekondes (’n mikrosekonde is ’n miljoenste van ’n sekonde). Die uil se rigtingsreaksie op geluide is onmiddellik—binne ’n honderdste van ’n sekonde draai die uil se gesig na die bron. Sy vermoë om hierdie oombliklike leidrade onmiddellik te verwerk is belangrik om vas te stel presies waar die klankbron is.
Soos ons al genoem het, is die uil se oë feitlik onbeweeglik. Dit is egter nie ’n ontwerpfout nie. Die uil se nek is so buigsaam dat party uile hulle kop tot 270 grade kan draai, wat hulle in staat stel om selfs direk agter hulle te sien. Die feit dat die oë nie kan beweeg nie, is origens ’n bate. Dit beteken dat wanneer die uil ’n geluid hoor en sy kop na die bron draai, sy oë outomaties in daardie rigting kyk. Hy sien die klankbron ’n honderdste van ’n sekonde nadat hy dit gehoor het.
Vlerke ontwerp met geluiddempers
Die vere van die meeste voëls raas wanneer hulle deur die lug beweeg as die voël vlieg. Dit is nie die geval met die uil se vere nie; hulle is spesiaal ontwerp om stil te wees. Hulle is sag en donsig, en voel fluweelagtig; die wind raas dus nie wanneer dit daaroor waai nie. Die slagvere het nie reguit, harde rande soos dié van die meeste ander voëls, wat ’n gonsgeluid maak wanneer hulle deur die lug waai as die voël vlieg nie. Die baarde op die uil se vere is nie ewe lank nie, en dit vorm sagte, fraiingagtige rande wat geruisloos deur die lug beweeg.
Hierdie verknogtheid aan stilte word egter op die agtergrond geskuif wanneer uile met mekaar praat—hoe-hoes, ’n gesing, ’n gefluit, ’n gekletter van snawels en die geklap van vlerke wanneer hulle vlieg. Party navorsers verwys na hierdie geluide as uilgesang en party van die geluide klink dalk na sang vir uilore, aangesien dit wel ’n rol speel in kommunikasie tussen mannetjie en wyfie gedurende hofmakery.
Hoewel hulle dalk nie oorspronklik vir hierdie doel geskep is nie, is uile vandag nuttig om insekte en knaagdiere te beheer. Veral die nonnetjie-uil word as die boer se vriend beskou, omdat hy die boer se lande vry hou van muise en rotte en ander plae wat sy oeste verniel. In sommige plekke word uile gelok deur spesiale “uildeure” wat maklike toegang tot plaasgeboue verleen. In Maleisië maak kwekers van oliepalms broeihokke vir nonnetjie-uile—en dit is nie liefdadigheid nie. Die paar wat daar woon, betaal huur, deurdat hulle die boer help om jaarliks van tot 3000 rotte ontslae te raak wat andersins sy oeste sou vreet. En die nonnetjie-uile dra by tot die prag van die omgewing. Hulle tel onder die mooiste voëls, kom wêreldwyd voor, en het een van die oulikste hartvormige gesigte in die natuur.
Wanneer jy dink aan die groot geel oë wat die swakste lig inneem, die ore wat ’n fluistergeluidjie uit enige rigting opvang en die slagvere wat geruisloos deur die lug beweeg, kan jy nie anders as om jou oor daardie naguile wat so goed ontwerp is vir naglewe te verwonder nie.
[Prente op bladsy 16, 17]
Links en bo: Groot horinguil en kuiken
[Erkenning]
page 16 left, Robert Campbell; page 16 right, John N. Dean
Regs: Graafuil
[Erkenning]
Paul A. Berquist
Heel regs: Dwerguiltjie
[Erkenning]
Paul A. Berquist
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Photos: page 15, Paul A. Berquist