Menseheerskappy in die weegskaal
Deel 4—“Ons die volk”
Demokrasie: Regering deur die volk, wat direk of deur gekose verteenwoordigers uitgeoefen word.
“ONS DIE VOLK van die Verenigde State . . . verorden en stel hierdie Grondwet in.” Hierdie aanvangswoorde van die aanhef van die Amerikaanse grondwet is gepas, aangesien die stigters wou hê dat die Verenigde State ’n demokrasie moes wees. “Demokrasie” is ’n woord van Griekse oorsprong en beteken “regering van die volk”, of soos Abraham Lincoln, die 16de president van die Verenigde State, dit gedefinieer het: “Regering van die volk, deur die volk, vir die volk.”
Eertydse Griekeland, wat dikwels die bakermat van die demokrasie genoem word, spog dat demokrasie al sedert die vyfde eeu v.G.J. in sy stadstate, veral in Athene, beoefen is. Maar destyds was demokrasie nie wat dit vandag is nie. Eerstens, Griekse burgers was in groter mate by die regeringsproses betrokke. Elke manlike burger het aan ’n vergadering behoort wat dwarsdeur die jaar bymekaargekom het om probleme van onmiddellike belang te bespreek. Die vergadering het die politiek van die stadstaat bloot by meerderheid van stemme bepaal.
Maar vroue, slawe en buitelandse inwoners het geen politieke regte gehad nie. Atheense demokrasie was dus ’n aristokratiese vorm van demokrasie vir net die bevoorregte minderheid. Die helfte tot vier vyfdes van die bevolking het waarskynlik geen seggenskap in politieke sake gehad nie.
Hierdie reëling het nogtans die vrye woord bevorder, aangesien stemgeregtigde burgers die reg toegestaan is om hulle menings te lug voordat ’n besluit geneem is. Enige manlike burger, nie net ’n paar uitgesoektes nie, kon ’n politieke amp beklee. ’n Beheerstelsel is ontwerp om politieke magsmisbruik deur individue of groepe te voorkom.
“Die Atheners self was trots op hulle demokrasie”, sê geskiedskrywer D. B. Heater. “Hulle het geglo dat dit ’n stap nader was aan die volwaardige en volmaakte lewe as die alternatiewe monargie of aristokrasie.” Demokrasie het blykbaar goed begin.
Demokrasie het sy wieg ontgroei
Direkte, of suiwer, demokrasie bestaan nie meer nie, buiten wat op klein skaal gedurende dorpsvergaderinge in Nieu-Engeland, VSA, en in beperkte mate in party kantons van Switserland beoefen word. As ’n mens die grootte van hedendaagse state en hulle miljoene burgers in aanmerking neem, sal dit tegnies gesproke onmoontlik wees om op hierdie manier te regeer. Buitendien, hoeveel burgers in hierdie besige wêreld sal die nodige tyd hê om hulself aan urelange politieke besprekings te wy?
Demokrasie het opgegroei tot ’n taamlik omstrede volwassene—een met etlike gesigte. Soos die tydskrif Time verduidelik: “Dit is onmoontlik om die wêreld in duidelike demokratiese en nie-demokratiese blokke te verdeel. Binne die sogenaamde demokrasieë is daar grade van individuele vryheid, pluralisme en menseregte, net soos daar verskillende grade van onderdrukking in diktatorskappe is.” Tog verwag die meeste mense om sekere basiese dinge onder demokratiese regerings te vind, dinge soos persoonlike vryheid, gelykheid, respek vir menseregte en geregtigheid deur die wet.
Die direkte demokrasie van gister het die verteenwoordigende demokrasie van vandag geword. Wetgewende liggame, of hulle nou unikameraal is, dit wil sê, of hulle een kamer het, of bikameraal is, met twee kamers, bestaan uit individue wat deur die volk gekies is—of op ’n ander manier aangewys is—om hulle te verteenwoordig en wette te maak wat veronderstel is om hulle tot voordeel te strek.
Hierdie neiging tot verteenwoordigende demokrasie het in die Middeleeue begin. Teen die 17de en 18de eeue het 13de-eeuse instellinge, soos die Magna Charta en die Parlement in Engeland, sowel as politieke teorieë oor die gelykheid van die mens, natuurlike regte en die oppermag van die volk, groter betekenis aangeneem.
Teen die tweede helfte van die 18de eeu is daar begin om die term “demokrasie” algemeen te gebruik, hoewel dit met ’n mate van skeptisisme beskou is. The New Encyclopædia Britannica sê: “Selfs die opstellers van die Amerikaanse grondwet in 1787 was bang om die volk in sy geheel in die politieke proses te betrek. Een van hulle, Elbridge Gerry, het demokrasie ‘die slegste van alle politieke euwels’ genoem.” Manne soos die Engelsman John Locke het nietemin voortgegaan om aan te voer dat regering op die goedvinde van die volk berus, wie se natuurlike regte onskendbaar is.
Republieke
Talle demokrasieë is republieke, dit wil sê, regerings waarvan die staatshoof nie ’n koning is nie, deesdae gewoonlik ’n president. Eertydse Rome was een van die wêreld se eerste republieke, hoewel sy demokrasie weliswaar beperk was. Die gedeeltelik demokratiese republiek het nietemin meer as 400 jaar lank bly staan voordat dit deur ’n monargie en die Romeinse Ryk vervang is.
Republieke is tans die algemeenste regeringsvorm. Van die 219 regerings en internasionale organisasies wat in ’n naslaanwerk van 1989 genoem is, is 127 republieke, hoewel nie almal verteenwoordigende demokrasieë is nie. Trouens, die regeringsvorme van republieke dek ’n wye spektrum.
Party republieke is unitêre stelsels, dit wil sê, dit word deur ’n sterk sentrale regering beheer. Ander is federale stelsels, wat beteken dat daar ’n beheerverdeling tussen twee regeringsvlakke bestaan. Soos die naam aandui, het die Verenigde State van Amerika hierdie laasgenoemde soort stelsel wat as federalisme bekendstaan. Die nasionale regering sien om na die belange van die nasie in sy geheel, terwyl staatsregerings aan plaaslike behoeftes aandag gee. Daar is natuurlik baie variasies op hierdie algemene beskrywing.
Sommige republieke hou vrye verkiesings. Hulle burgers sal ook moontlik tussen ’n groot aantal politieke partye en kandidate kan kies. Ander republieke beskou vrye verkiesings as onnodig en voer aan dat die demokratiese wil van die volk deur ander middele uitgevoer kan word, soos deur die gemeenskaplike besit van die produksiemiddele voor te staan. Eertydse Griekeland dien as voorbeeld, aangesien vrye verkiesings daar ook onbekend was. Regeerders is deur loting gekies en gewoonlik toegelaat om net een of twee eenjaartermyne lank te dien. Aristoteles was teen verkiesings gekant en het gesê dat hulle die aristokratiese element van die uitkiesing van die “beste mense” inbring. Demokrasie is egter veronderstel om ’n regering van die hele volk, nie net van “die beste” nie, te wees.
Net vergeleke met ander die beste?
Selfs in eertydse Athene was demokratiese regering ’n omstrede saak. Plato was skepties. Demokratiese regering is as swak beskou omdat dit in die mag van onkundige mense was wat maklik deur die emosionele woorde van moontlike opswepers beheer word. Sokrates het geïmpliseer dat demokrasie niks anders as regering deur die gepeupel is nie. En Aristoteles, die derde van hierdie driemanskap van eertydse Griekse filosowe, het volgens die boek A History of Political Theory aangevoer dat “hoe meer demokraties ’n demokrasie word, hoe meer neig dit om deur ’n gepeupel regeer te word, . . . [en] in tirannie te ontaard”.
Ander stemme het soortgelyke bedenkinge geopper. Jawaharlal Nehru, voormalige eerste minister van Indië, het gesê dat demokrasie goed is, maar het vervolgens die kwalifiserende woorde bygevoeg: “Ek sê dit omdat ander stelsels slegter is.” En William Ralph Inge, Engelse biskop en skrywer, het eenkeer geskryf: “Demokrasie is ’n regeringsvorm wat rasioneel verdedig kan word, nie omdat dit goed is nie, maar omdat dit nie so sleg is soos al die ander nie.”
Demokrasie het etlike swakhede. Eerstens, om suksesvol te wees vereis dat mense bereid moet wees om die welstand van die meerderheid as belangriker as hul eie belange te beskou. Dit beteken dalk dat hulle belastingmaatreëls of ander wette moet steun waarmee hulle nie persoonlik saamstem nie maar wat noodsaaklik vir die welsyn van die land in sy geheel is. Sodanige onselfsugtige belange is moeilik om te vind, selfs in demokratiese “Christen”-lande.
Plato het nog ’n swakheid bespeur. Volgens A History of Political Theory het hy “die onkunde en onbevoegdheid van politici, wat die spesiale vloek van demokrasieë is”, aangeval. Talle beroepspolitici betreur die feit dat dit so moeilik is om bekwame en begaafde mense te vind om in die staatsbestuur te dien. Selfs gekose amptenare is dalk weinig meer as politieke amateurs. En in die eeu van die televisie kan ’n kandidaat se goeie voorkoms of charisma vir hom stemme werf wat sy administratiewe vermoëns nooit sou regkry nie.
Nog ’n duidelike nadeel van demokrasieë is dat hulle stadig is. ’n Diktator praat, en dinge word gedoen! In ’n demokrasie word vooruitgang dalk deur eindelose debatte vertraag. Dit kan natuurlik bepaalde voordele hê om omstrede kwessies deeglik te bespreek. Maar soos Clement Attlee, voormalige eerste minister van Brittanje, eenkeer opgemerk het: “Demokrasie beteken regering deur bespreking, maar dit is net doeltreffend as jy mense kan laat ophou praat.”
Selfs nadat die gepraat opgehou het, kan ’n mens met reg wonder in hoeverre die besluite wat geneem is werklik verteenwoordigend is van wat “die volk” wil hê. Aanvaar verteenwoordigers die gevoelens van die meerderheid van hulle kiesers of, meer dikwels, hulle eie? Of praat hulle bloot die amptelike beleid van hulle party na?
Die demokratiese beginsel om ’n ondersoek- en beheerstelsel te hê om korrupsie te bekamp word as ’n goeie idee beskou, maar is beslis nie doeltreffend nie. In 1989 het die tydskrif Time gepraat van “agteruitgang op alle regeringsvlakke”, en dit het ’n toonaangewende demokratiese regering “’n opgeblaasde, ondoeltreffende, hulpelose reus” genoem. Die voorsitter van ’n taakmag wat in die middel-tagtigerjare aangestel is om verkwisting in ’n ander regering te ondersoek kon nie anders nie as om te kla: “Die Regering word sleg bestuur.”
Weens hierdie en etlike ander redes kan demokrasieë beslis nie ideale regerings genoem word nie. Die duidelike waarheid, soos John Dryden, 17de-eeuse Engelse digter, gesê het, is dat “die meerderheid dalk net so erg sondig soos die minderheid”. Henry Miller, Amerikaanse skrywer, was reguit maar nietemin reg toe hy gespot het: “Die blindes lei die blindes. Dit is die demokratiese manier.”
Na sy graf?
Demokratiese regering het in hierdie eeu groter aanvaarding as ooit tevore gekry. Onlangse politieke omwentelinge in Oos-Europa getuig hiervan. Joernalis James Reston het nietemin ’n paar jaar gelede geskryf dat “liberale demokrasie tans in ernstige moeilikheid in die wêreld verkeer”. Daniel Moynihan het gewaarsku dat “liberale demokrasie nie ’n groeiende ideologie is nie” en dat “dit lyk asof demokrasieë verdwyn”. Britse geskiedkundige Alexander Tyler het gesê dat ’n demokratiese regering nie vir ewig kan duur nie, want dit “stort altyd in duie weens ’n agtelosige fiskale beleid”. Sy beskouing is natuurlik betwisbaar.
Demokrasie is in elk geval ’n duidelike voortsetting van die neiging wat in Eden begin is, toe mense besluit het om dinge op hulle manier, nie op God se manier nie, te doen. Dit is die toppunt van menseregering, aangesien dit, ten minste teoreties, almal in die regeringsproses probeer betrek. Maar die Latynse gesegde Vox populi, vox Dei, “die stem van die volk is die stem van God”, is onwaar. Diegene wat demokratiese menseregering steun, moet dus bereid wees om aanspreeklikheid vir sy dade te aanvaar.—Vergelyk 1 Timotheüs 5:22.
Hierdie feit het sedert 1914 toenemende erns aangeneem. In daardie noodlottige jaar het goddelike regering op ’n unieke manier aan bewind gekom. God se Messiaanse Koninkryk staan nou gereed om totale beheer van wêreldsake oor te neem. Alle soorte menseregerings—met inbegrip van demokratiese vorme—is nou in die weegskaal. Ons word saam met hulle geweeg, na die mate waarin elkeen van ons hulle steun.—Daniël 2:44; Openbaring 19:11-21.
[Lokteks op bladsy 12]
‘Dit behoort nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.’—Jeremia 10:23
[Lokteks op bladsy 14]
“Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”—Spreuke 14:12
[Prent op bladsy 13]
Diegene wat demokratiese menseregering steun, moet bereid wees om aanspreeklikheid vir sy dade te aanvaar
[Foto-erkenning op bladsy 11]
U.S. National Archives photo