Van ons lesers
Epilepsie Ek skryf om my groot kommer oor julle artikel oor epilepsie te kenne te gee (22 Junie 1990). Dit sê dat Sandra se man ’n boek in haar mond geplaas het om te voorkom dat sy haar tong of mond gedurende ’n aanval byt! Dit druis in teen alle mediese gebruike in hierdie land. Ek is self ’n epileptikus en wil beslis nie hê dat enigiemand dit aan my moet doen nie, aangesien dit gebreekte tande tot gevolg kan hê.
L. M., Engeland
Die artikel het nie mediese aanbevelings gedoen nie maar het ’n persoonlike ondervinding vertel. Die meeste owerhede raai die publiek oor die algemeen aan om nie harde voorwerpe of vingers in die mond van ’n persoon wat ’n aanval kry te steek of die kake te probeer oopforseer nie. Dit kan meer kwaad as goed doen, en kan die slagoffer beseer sowel as die een wat die hulp verleen. Maar die uitvoerende direkteur van die New Yorkse Epilepsie-instituut het “Ontwaak!” verseker dat skade aan die mond voorkom kan word as iets redelik sags (soos ’n gevoude sakdoek) by die kant van ’n slagoffer se reeds geopende mond ingesteek word.—RED.
Tienerswangerskap Ek moet julle gelukwens met die uitstekende raad wat julle in julle artikel oor tienerswangerskap gee (8 Mei 1990). Op 16-jarige ouderdom het ek geboorte gegee aan my dogtertjie. Hoewel haar pa bereid was om met my te trou, het my familie gesê dat ek te jonk was. My familie het my gehelp totdat ek later getrou het. Jare later het ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Vandag dien my dogter as ’n voltydse bedienaar. Ek is so bly dat ek nie ’n aborsie ondergaan het of te vroeg getrou het nie!
L. B., Verenigde State
Dit was teleurstellend om te lees dat, hoewel pleegouers materieel beter vir ’n kind kan sorg, niemand liefde en toegeneentheid so goed soos sy natuurlike ouers kan voorsien nie. As ’n pleegmoeder het ek die wonderlike voorreg om ons seuntjie in Jehovah se weë groot te maak.
C. R., Bondsrepubliek Duitsland
Ons is jammer as die artikel ’n misverstand veroorsaak het. Baie pleegouers kwyt hulself baie goed van hulle taak deur hulle kinders die nodige ondersteuning en liefde te gee. Maar die artikel het die moontlikheid bespreek dat ’n kind wat vir aanneming aangebied word dalk nie volgens Christelike standaarde grootgemaak sal word nie. In so ’n geval moet ’n ongetroude meisie nie dink dat sy niks het om haar kind te bied nie. Sy kan hom volgens Bybelstandaarde grootmaak en ware liefde aan hom betoon—iets wat belangriker as ekonomiese voordele is.—RED.
Waarborge Julle artikel “Dit is lonend om jou waarborg te ken” (8 Junie 1990) bevat goeie wenke. Nog ’n faktor om in gedagte te hou is dat party waarborge geldig is net in die land waar die artikel gekoop is, al het die vervaardiger ’n wêreldwye diensnetwerk. Ek het ’n kamera van ’n welbekende handelsmerk in ’n ander land gekoop, en toe ek agterkom dat dit foutief is, het die plaaslike verteenwoordigers van die maatskappy geweier om dit te herstel.
J. K., Spanje
Dankie vir die herinnering. Lees alle waarborge sorgvuldig!—RED.
Vyf algemene drogredes Dankie vir julle artikel (22 Mei 1990). Dit het my denke geprikkel en het goed te pas gekom om ander te help om tussen gesonde redenering en leë bedrog te onderskei.
R. C., Italië
Dinosourusse Die artikel oor dinosourusse (8 Februarie 1990) was uiters prakties vir ons land, waar baie mense in evolusie glo. Ontwaak! het hierdie jaar vir die eerste keer in ons land begin verskyn. Ons lees elke nommer met geesdrif.
F. C., Tsjeggo-Slowakye