Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 9/8 bl. 3-4
  • Hedendaagse jongmense—’n wêreldbeeld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hedendaagse jongmense—’n wêreldbeeld
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Neerslagtige en selfvernietigende jeugdiges
  • Wat is die uitdagings?
    Ontwaak!—2009
  • Hedendaagse jongmense—Die uitdagings waarvoor hulle te staan kom
    Ontwaak!—1990
  • Wanneer hoop en liefde terugkeer
    Ontwaak!—1998
  • Hedendaagse jongmense—Bied die uitdagings van die 1990’s die hoof
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 9/8 bl. 3-4

Hedendaagse jongmense—’n wêreldbeeld

GEWILDE stereotipes beeld tienderjariges uit as dwelmbehepte rebelle wat leeghoofdig, egosentries en lui is en wat aan weinig meer as klere, TV en seks dink. Hierdie negatiewe siening van jongmense lyk egter vir die meerderheid ver verwyderd van die werklikheid.

’n Opname waaroor Psychology Today berig het, het gevind dat ‘amper ’n driekwart van diegene wat ondervra is blykbaar goed aangepas is. Hulle was oor die algemeen gelukkig, beheers, sorgsaam teenoor ander, besorg oor die gevolge van hulle dade.’ Die meeste jongmense is nie van hulle ouers vervreemd nie, inteendeel, daar is bevind dat hulle “’n baie positiewe houding teenoor hulle gesin” het.

Ander opnames het aan die lig gebring dat baie van die verwagtinge, aspirasies en vrese van vandag se jongmense eweneens gesonde, nugtere denke weerspieël. In 1985 het die Unesco Courier jongmense in 41 lande gevra: “Wat is die probleem wat alle jongmense vandag die meeste bekommer?” Hulle het sulke deurdagte antwoorde soos “probleme van oorlog en vrede” (50 persent), “werkloosheid en werk” (30 persent) en “die toekoms” (10 persent) ontvang.

Selfs wanneer die klem verskuif na persoonlike ambisie, het jongmense ’n verrassend pragmatiese benadering. Nadat die tydskrif Seventeen ’n meningspeiling gemaak het onder “’n groep jong [Amerikaanse] seuns en meisies tussen veertien en een-en-twintig jaar, wat verteenwoordigend was van jongmense landwyd”, het die tydskrif vir sy jong lesers gesê: “Julle wil hoofsaaklik trou en ’n gesin hê. Die tweede ding wat julle wil hê, is ’n betrekking of ’n beroep. Julle wil geld maak. Julle bekommer julle ook oor geld en opleiding. Maar meer as 60 persent van julle glo nie die wêreld se probleme is te groot vir julle geslag om sake te verbeter nie.”

Oor die algemeen wil jongmense wêreldwyd dus dieselfde dinge hê waarna hulle ouers strewe: geluk, sekuriteit, hegte gesinne. Hulle is bekommerd oor die wêreld waarin hulle leef en het ’n opregte begeerte om dit te verbeter. Nietemin het hierdie beeld ’n donker kant.

Neerslagtige en selfvernietigende jeugdiges

Die bogemelde ondersoek het hierdie sombere ontdekking gedoen: “’n Kwart van die adolessente wat ondervra is, het gesê hulle is dikwels terneergedruk en eensaam en hulle voel emosioneel leeg, en deur die lewe se probleme oorweldig. ’n Paar het selfs erken dat hulle selfmoordgedagtes en -neigings het.” In party lande gaan jongmense verder as om net daaraan te dink. Die selfmoordsyfer onder ouer tienderjariges in die Verenigde State het gedurende die afgelope 20 jaar feitlik verdubbel!a

’n Ander oorsaak van groot kommer is die wêreldwye toename in die gebruik van dwelmmiddels, soos dagga, heroïen, kokaïen en crack, ’n vorm van kokaïen, onder tienderjariges. Een 14-jarige meisie in die Verenigde State het die volgende oor daggarokery gesê: “Dis nie eers meer iets wat ‘mode’ is nie. Dis feitlik al bloot ’n deel van almal se lewe.”

Ontwikkelende lande het ook nie hierdie probleem vrygespring nie. In baie van hierdie lande is dit ’n algemene gesig om jongmense te sien wat ’n kokamengsel en soortgelyke stowwe rook. Die sekretaris-generaal van die VV Javier Pérez de Cuéllar het gevolglik gesê dat die probleem van onwettige dwelmhandel en dwelmmisbruik “net so ’n vernietigende bedreiging vir huidige en toekomstige geslagte is as die plae wat baie dele van die wêreld in vorige eeue geteister het”.

Die gebruik van wettige dwelmmiddels, soos alkohol en tabak, onder jongmense bekommer talle deskundiges—en ouers. Die UN Chronicle berig: “Volgens die WGO [Wêreldgesondheidsorganisasie] het toenemende persentasies kinders en adolessente gedurende die afgelope 30 tot 40 jaar alkohol begin drink; daar word groter hoeveelhede en meer dikwels gedrink, en hulle begin op ’n jonger ouderdom drink.”

Daar moet toegegee word dat slegs ’n minderheid jongmense terneergedruk is of selfvernietigende gewoontes het. Wêreldwyd beteken dit nogtans miljoene wat ernstige probleme het. Soos ons vervolgens sal sien, word jongmense vandag blootgestel aan stres en druk wat uniek is aan die tyd waarin ons leef.

[Voetnoot]

a Volgens die boek Helping Your Teenager Deal With Stress meen sommige kenners dat “motorongelukke die metode is wat die meeste deur ouer jeugdiges gebruik word om selfmoord te pleeg”. Aangesien motorongelukke gewoonlik nie as selfmoord beskou word nie, is die selfmoordsyfer onder tienderjariges moontlik hoër as dié wat aangegee word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel