Die Bybelse beskouing
Is die Jode God se uitverkore volk?
DIE stigting van ’n Joodse tuisland in 1948 was vir die Christendom se teoloë ’n traumatiese gebeurtenis. Baie mense het eeue lank geleer dat dit die Jode se lot is om weens hulle sonde teenoor Christus oor die aarde te swerf, en nou sou die “wandelende Jood” nie meer swerf nie.
Terwyl onlangse gebeure in die Midde-Ooste steeds die aandag op die Joodse volk vestig, ontstaan vrae nou oor geskille wat volgens mening lankal geskik is. Is die Jode steeds God se uitverkore volk? Betoon God nou spesiale guns aan die Jode?
God het eeue gelede aan die Israeliete gesê: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my [“spesiale”, NW] eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Exodus 19:5, 6). Alle nasies het aan God behoort, maar die Israeliete kon sy spesiale eiendom word en eindelik as priesters ten behoewe van die hele mensdom dien.
Maar was hierdie spesiale verhouding met God onvoorwaardelik? Nee! God het gesê: “As julle dan nou terdeë na my stem luister . . . sal julle my eiendom uit al die volke wees.” Hulle voorreg om in ’n uitverkore verhouding met God te bly was voorwaardelik, afhanklik van hulle volgehoue getrouheid aan hom.
’n Kragtige illustrasie
Dit is beklemtoon deur gebeure in die agtste eeu v.G.J., gedurende die dae van die profeet Hosea. Nieteenstaande die feit dat hulle spesiale guns as God se uitverkore volk ontvang het, het die meeste Israeliete die ware aanbidding van Jehovah verlaat. Wat was Jehovah se reaksie? “Ek sal My verder nie meer oor die huis van Israel ontferm deur hulle vergifnis te skenk nie. . . . Julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle s’n wees nie” (Hosea 1:6, 9). Daardie afvallige Israeliete sou dus nie in God se guns bly nie. Net ’n getroue oorblyfsel sou eendag die voorreg hê om herstel te word en weer goddelike seëninge te geniet.—Hosea 1:10.
Soos hierdie profesie voorspel het, het God toegelaat dat die Israeliete se vyande hulle gevange neem en hulle tempel vernietig, wat op kragtige wyse getoon het dat hulle hul goedgekeurde verhouding met hom verloor het. Net ’n getroue oorblyfsel Israeliete (toe reeds bekend as Jode) het in 537 v.G.J. uit ballingskap teruggekeer en Jehovah se tempel herbou, en weer eens Jehovah se guns as sy uitverkore volk geniet.
Net “’n oorblyfsel” bly getrou
Die Jode is nogtans in die daaropvolgende eeue grootliks beïnvloed deur die Griekse filosofie—soos die Platoniese leerstelling van die onsterflikheid van die siel—met rampspoedige gevolge vir hulle aanbidding. Daardie aanbidding sou nooit weer net op die leer van Moses en die Hebreeuse profete gegrond wees nie.
Sou Jehovah aanhou om die Jode as sy uitverkore volk te beskou? Omdat Jesus geweet het dat baie weer eens van die rein aanbidding van Jehovah afvallig geword het, het hy gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra” (Mattheüs 21:43). Die meeste het, sonder om op daardie waarskuwing ag te slaan, op hulle afvallige weg voortgegaan en Jesus as Jehovah se gesalfde verwerp. Dit was dus nie lank daarna nie, in 70 G.J., dat God toegelaat het dat die herboude tempel vernietig word (Mattheüs 23:37, 38). Het dit beteken dat God nou al die Jode verwerp het?
Soos Paulus, ’n Joodse apostel van Christus, verduidelik het: “God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. . . . Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ’n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade” (Romeine 11:2, 5). Net soos baie na ’n huwelikseremonie uitgenooi kan word en moontlik net ’n paar dit bywoon, het God die hele Joodse nasie genooi om ’n spesiale verhouding met hom te hê, maar net ’n oorblyfsel van hulle het daardie spesiale band deur hulle getrouheid gehandhaaf. God se verdraagsaamheid het inderdaad sy onverdiende goedheid geopenbaar!
“Die wat nie my volk is nie” word “my volk”
Nie-Jode wat God ook wou dien, het hulle weldra by hierdie getroue Joodse oorblyfsel aangesluit. Hoewel hierdie getroue nie-Jode se voorouers nie ’n spesiale verhouding met Jehovah gehad het nie, was hy nou bereid om hulle as sy volk te aanvaar. Paulus het die volgende daaroor geskryf: “En as God . . . ons . . . geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? Soos hy ook in Hosea sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem.”—Romeine 9:22-25.
Jode sowel as nie-Jode kon dus God se uitverkore volk wees, met die vooruitsig om as priesters ten behoewe van die res van die mensdom te dien. Die Christenapostel Petrus, ’n Jood van geboorte, het met getroue aanbidders uit verskillende nasionale agtergronde gepraat toe hy geskryf het: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry . . . julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is” (1 Petrus 2:9, 10). Dit was die “volk”, mense met godvrugtige eienskappe, wat Jesus gesê het die ‘vrugte van God se koninkryk’ sou voortbring en derhalwe ’n spesiale verhouding met Jehovah sou geniet.—Mattheüs 21:43.
God het na geloof en regverdige gedrag gesoek toe hy hierdie toekomstige priesters gekies het, nie die een of ander spesiale afkoms nie. Soos Petrus gesê het: ‘God is geen aannemer van die persoon nie, maar in elke nasie is die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig.’—Handelinge 10:34, 35.
God bewys dus nie meer aan enige mens spesiale guns op grond van sy afkoms nie. Hy gee aan mense van alle nasionale agtergronde die geleentheid om ’n verhouding met hom aan te knoop. Mag ons deur ons geloof en gedrag toon dat ons graag God se volk wil wees.