Toewyding—Aan wie? Waarom?
“Maar julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie [’n gewyde nasie; ’n toegewyde nasie], ’n volk as spesiale eiendom verkry’.”—1 Petrus 2:9, New World Translation; The Jerusalem Bible; The New English Bible.
1, 2. (a) Was Abraham Lincoln ’n lidmaat van enige kerk van die Christendom, en hoe het hy nietemin in sy Gettysburg-toespraak verwys na die nasie waarvan hy die president was? (b) Watter optrede stel die vertroue van hierdie nasie in God in ’n slegte lig, en hoe sal die regering wat op die wêreldmoeilikheid volg “vir die mense” wees?
NlE een van die kerke van die Christendom kon daarop aanspraak maak dat die 16de president van die Verenigde State van Amerika ’n lidmaat daarvan was nie. En tog het daardie Bybelleser, Abraham Lincoln, tydens sy beroemde Gettysburg-toespraak op 19 November 1863 hierdie kragtige woorde geuiter:
“Sewe-en-tagtig jaar gelede het ons vaders die lewe aan ’n nuwe nasie op hierdie vasteland geskenk, ’n nasie wat in Vryheid ontvang is en toegewy is aan die proposisie dat alle mense gelyk aan mekaar geskape is. . . . Maar in ’n groter sin kan ons nie hierdie grond toewy, wy of heilig nie. Die dapper manne, lewend sowel as dood, wat hier geswoeg het, het dit dermate gewy dat dit bo ons powere krag is om daarby te voeg of daarvan weg te neem. . . . Ons, die lewendes, moet eerder hier toegewy wees aan die onvoltooide taak wat diegene wat hier geveg het tot dusver so edel bevorder het. Ons moet liewer toegewy wees aan die groot taak wat op ons wag . . .”
2 Sedert daardie gedenkwaardige toespraak by die slagveld te Gettysburg, Pennsilvanië, het die Verenigde State die aanspraak van die leuse op sy dollarnoot, “Ons vertrou op God” geloënstraf. Ondanks die toewyding van die president of enige ander opregte Amerikaners daaraan sal die “regering van die mense, deur die mense” ‘van die aarde af vergaan’. Gelukkig sal dit geen blywende ramp “vir die mense” wees nie, want die oppermagtige koninklike regering van God deur sy aangestelde Koning, Jesus Christus, sal die bewind oorneem tot seën van al die bewoners van hierdie aardbol, die Amerikaanse vasteland inkluis.
3, 4. (a) Watter “nasie” sal dan na vore kom? (b) Uit watter woorde van Jehovah aan die nasie Israel het Petrus aangehaal toe hy van hierdie nuwe “nasie” gepraat het?
3 Dan sal ’n nuwe nasie na vore kom. Watter nasie is dit? Dit is die een tot wie die volgende geïnspireerde woorde gerig is: “Maar julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk as spesiale eiendom verkry’.”—1 Petrus 2:9, NW.
4 Met daardie woorde haal die apostel Petrus uitdrukkings aan wat God gebruik het vir Sy uitverkore volk Israel wat destyds by die berg Sinai in Arabië was, soos opgeteken in Exodus 19:5, 6. Daar lees ons: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees.”
5. Beteken “wy” en “toewy” in Bybeltaal dieselfde?
5 In Exodus 19:6 en 1 Petrus 2:9, wat hierbo aangehaal is, versterk party vertalings die eenvoudige uitdrukking “’n heilige nasie” deur dit te vertaal met “gewyde nasie” of “toegewyde nasie”.a (Kyk The Jerusalem Bible; Moffatt; Knox; The New English Bible.) As die Israeliete Jehovah se standaarde aanvaar het en daarvolgens gelewe het, sou dit hulle afgesonder het as ’n gewyde of toegewyde nasie. God kan iets of iemand of ’n groep mense “wy” of “toewy”. Uit God se standpunt kan die twee woorde basies dieselfde beteken. Maar hoewel onvolmaakte mense nie iets kan “wy” deur dit vir ’n heilige doel rein te verklaar nie, kan hulle iets, hulself inkluis, tereg en liefdevol “toewy”.
6. (a) Wat het die nasie Israel, as individue en gesamentlik, gedoen toe hulle gesê het: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen”? (b) In watter reëling het Jehovah hulle sonder dwang gebring?
6 God het die bevryde Israeliete genooi om vir hom ’n heilige nasie te word, op voorwaarde dat hulle ‘terdeë na sy stem luister en sy verbond hou’. Hulle het geantwoord: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen.” Hulle het hulle aldus individueel en gesamentlik onherroeplik aan hulle Verlosser, Jehovah God, toegewy. Alhoewel Jehovah hulle reeds gekies het omdat hulle die natuurlike afstammelinge van Abraham was en hulle wonderdadig deur die Rooi See uit Egipte bevry het, het hy op die Israeliete gewag om hulle vrywillig aan hom en sy aanbidding toe te wy. Dit is op hierdie grondslag dat hulle Jehovah se verbondsvolk gemaak is. Ons lees hieromtrent:
“Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk oorgedra het, het hy bloed van kalwers en bokke saam met water geneem en met rooi wol en hisop die wetboek self sowel as die hele volk besprinkel en gesê: ‘Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle ingestel het.’—Hebreërs 9:19, 20, NTP; Exodus 24:1-8.
7. (a) Wat sou die situasie van Jode in daaropvolgende geslagte wees? (b) Hoe kon hulle hulle toegewyde status verloor?
7 Daaropvolgende geslagte Jode sou in hierdie toegewyde nasie en, gevolglik, in ’n toegewyde verhouding met God, gebore word. Maar wanneer hulle individueel die ouderdom van aanspreeklikheid bereik, sou hulle daardie Jode by die berg Sinai moes navolg en deur die beweegredes van hulle hart en dade toon dat hulle waarlik aan Jehovah toegewy was as hulle goedgekeurde lede van sy heilige nasie wou bly. Hulle welsyn as ’n nasie en hulle eie lewens was inderdaad op die spel. Dit is so omdat God die heilige status wat hy aan ’n volk verleen, kan wegneem as hulle dit onwaardig is, en dit gee aan diegene wat dit waardig is. Dit is waarom die apostel Petrus die woorde wat God oorspronklik tot natuurlike Israel gespreek het, naamlik dat hulle vir hom “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” sou word, toegepas het op die nuwe Christelike nasie wat op Pinkster 33 G.J. in aansyn gekom het. Wat het tot hierdie oordrag van heilige erkenning gelei?
8. (a) Op watter ramp het Israel afgestuur toe Petrus sy eerste geïnspireerde brief geskryf het, en watter verhouding het die Jode nie meer met Jehovah God gehad nie? (b) Wie het toe die “gewyde nasie” uitgemaak?
8 Toe die apostel die woorde in 1 Petrus 2:9 geskryf het, het die Joodse volk op ’n volksramp afgestuur. Hulle tempelstad Jerusalem sou kort daarna deur die Romeinse legioene vernietig word, en hulle sou na baie lande verstrooi word, soos Jesus voorspel het (Lukas 21:20-24). In 33 G.J. het hulle Jesus Christus, die Middelaar van God se nuwe verbond, verwerp, en die ou Wetsverbond waarvan die profeet Moses die middelaar was, was ongetwyfeld nie langer van krag nie. “Israel na die vlees” was nou verwerp (1 Korinthiërs 10:18; Mattheüs 23:38). Jehovah God het die nuwe nasie van geestelike Israel voortgebring (Romeine 9:6; Galasiërs 6:15, 16). Hierdie nuwe “gewyde nasie” het bestaan uit die dissipels van Jesus Christus tot wie Petrus sy brief gerig het, naamlik diegene wat “uitverkore [was] volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees”.—1 Petrus 1:1, 2.
9. Het God die lede van daardie heilige nasie individueel vooruit geken, en hoe het hulle ’n “uitverkore ras” geword?
9 Dit beteken nie dat God die individuele lede voor die tyd geken en by name aangestel het nie. Hy het eerder vooruit geweet dat hy ’n nuwe nasie, “’n heilige nasie” sou voortbring en hy het vooruit geweet wat van elke lid verwag sou word om uitverkies en ’n lid van die heilige nasie te word. En hierdie geestelike nasie sou besonder heilig gemaak word deur God se heilige gees daar die lede van die nasie deur middel van die heilige gees verwek is om geestelike seuns van God te word (Titus 3:4-7). Met hierdie heilige status kon hulle as ’n “koninklike priesterdom” dien. As geesverwektes was hulle ’n “ras” ’n “uitverkore ras”.
10. Watter vrae ontstaan oor persoonlike verantwoordelikheid aangesien God met gesalfde Christene as ’n “nasie” of groep handel?
10 Maar wat het die toewyding van die individuele lede van die nuwe nasie aan Jehovah met die saak te doen? Moet elkeen hom onvoorwaardelik aan God toewy om as ’n lid van hierdie nuwe nasie aanvaar te word, aangesien God hulle as ’n groep of nasie “wy” of “toewy”? Sê die Skrif dan nie net: ‘Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word’ nie? Of bloot: ‘Toon berou en bekeer jou’ nie? Is blote geloof, berou en bekering dan nie al wat gespesifiseer word as vereistes om ’n dissipel van Jesus, ’n Christen, te word nie? Het Jesus, die Seun van God, hom toegewy toe hy op aarde was? Kom ons kyk.
“Hier het ek gekom . . . om u wil te doen”
11. Onder watter verbondsreëling met God is Jesus gebore, en hoe so?
11 In verband met Jesus se menslike geboorte deel Galasiërs 4:4 ons mee: “Toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die [Mosaïese] wet.” Na sy wonderdadige geboorde uit ’n Joodse maagd het sy besnydenis op die agtste dag bevestig dat hy van geboorte ’n lid van God se verbondsvolk was, en daarom het Josef en Maria “Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel”.—Lukas 2:22-24.
12. As simbool waarvan het Johannes die Jode wat na hom gekom het, gedoop, maar waarom wou hy Jesus aanvanklik nie doop nie?
12 Dit was na hierdie toegewyde nasie dat Jesus Christus se voorloper, Johannes die Doper, gestuur is om die nasie tot bekering te bring. Selfs Jesus het gesê: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel” (Mattheüs 15:24). Die boodskap aan hierdie toegewyde volk van God was ’n spesiale, een wat nie gegeld het vir nie-Israelitiese nasies nie. Johannes die Doper het ’n beroep op daardie “verlore skape van die huis van Israel” gedoen om hulle te bekeer oor hulle sondes teen die Wetsverbond (Mattheüs 3:1-6). “Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus” (Handelinge 19:4). Maar toe Jesus na Johannes gegaan het om in water gedoop te word, was dit klaarblyklik nie om bekering te simboliseer nie, want Jesus was sonder sonde en hy was nie ’n oortreder van die Wetsverbond waaronder hy gebore is nie. Omdat Johannes dit geweet het, het hy geaarsel om Jesus te doop, maar hy het aan die versoek voldoen toe daar vir hom gesê is: “Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul” (Mattheüs 3:13-17). Wat het hy bedoel?
13. (a) Hoe het Jesus Psalm 40:8, 9 vervul? (b) Wat het Jesus se doop gesimboliseer?
13 Jesus het hier opgetree in ooreenstemming met die profesie oor hom in Psalm 40:8, 9 (NTP): “Daarom het ek gesê: Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is. Om u wil te doen, my God, is my een begeerte.” In Hebreërs 10:5-10 word daardie profesie op Jesus Christus toegepas aangesien God in Jesus se geval nie offerandes wou hê wat volgens die Mosaïese Wetsverbond geoffer is nie, maar die volmaakte menseliggaam wat God vir sy Seun voorberei het om as grondslag vir ’n nuwe verbond geoffer te word. Toe Jesus gedoop is, het hy hom dus nie aan God toegewy nie, want hy was reeds ’n lid van ’n toegewyde nasie en omdat hy geen sonde gehad het nie, was dit nie vir hom nodig om hom te bekeer nie (Hebreërs 7:26). Sy doop het eerder gesimboliseer dat hy hom aan sy hemelse Vader aanbied om Sy verdere wil te doen. En in hierdie opsig het Jesus ’n voorbeeld gestel vir die doop van sy dissipels.
14. (a) Watter boodskap het Jesus begin verkondig nadat Johannes in die gevangenis gesit is? (b) Waarvoor het bekering en doop die mense destyds voorberei?
14 Toe Jesus gehoor het dat Johannes die Doper in die gevangenis is, het hy begin met ’n predikingsveldtog onder die reeds toegewyde Israeliete. “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 4:17). Al hoe meer mense het hulle laat doop as simbool van bekering (Johannes 3:26; 4:1, 2). Toe die Grotere Moses, Jesus Christus, opgevaar het hemel toe en die waarde van sy mense-offer vir Jehovah God aangebied het, is die Mosaïese Wetsverbond kragteloos gemaak en is die grondslag vir die voorspelde “nuwe verbond” gelê (Jeremia 31:31-34). Op Pinksterdag, 33 G.J., is die Joodse dissipels van Jesus dus oorgeplaas uit die Mosaïese Wetsverbond na die “nuwe verbond” waarvan die Grotere Moses, Jesus Christus, die Middelaar was.b
15. (a) Wat het nie dadelik vir die Jode geëindig toe die Wetsverbond kragteloos gemaak is nie? (b) Wat was nou God se wil vir die Jode wat besorg was oor hulle toegewyde verhouding met God?
15 Hoewel die Wetsverbond nou kragteloos gemaak is, het God se tydperk van spesiale guns en aandag aan die Jode, op grond daarvan dat hulle die natuurlike saad van Abraham was, nog nie verstryk nie; dit het eers in die jaar 36 G.J. verstryk. Daarom het die geesgesalfde apostel Petrus selfs ná die eerste uitgieting van heilige gees in 33 G.J. vir ’n skare Jode in Jerusalem gesê: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus.” Om hulle toegewyde verhouding met God te herstel, sou hulle hulle nou nie alleen moes bekeer van sondes teen die Wetsverbond waarin hulle gemeen het hulle steeds was nie, maar sou hulle hulself ook moes aanbied as aanstaande lede van hierdie nuwe nasie, iets wat toe God se wil was vir almal wat dissipels van Jesus, Christene, geword het. Dit word gestaaf deur wat Petrus vroeër op Pinksterdag gesê het vir Jode wat “diep in die hart getref was oor hulle aandeel in Jesus se dood. Petrus het vir hulle gesê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Veel meer was dus nodig as blote bekering en ’n algemene voorneme op grond van geloof in Jesus om te verbeter.—Handelinge 3:19, 20; 2:37-40.
16. (a) Wat het die besnede Samaritane se waterdoop gesimboliseer nadat die Koninkryksboodskap hulle bereik het? Waarom? (b) Wat het gestaaf dat hulle in ’n verbondsverhouding met God opgeneem is?
16 Voor sy hemelvaart het Jesus vir sy apostels gesê dat hulle die getuienis oor hom na “Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” sou uitdra (Handelinge 1:8). Hoewel die Samaritane nie-Israeliete, ‘vreemdelinge’, was, het hulle hulle laat besny omdat hulle die boeke van die Bybel wat deur Moses geskryf is, aanvaar het en hom as die middelaar tussen hulle en God beskou het (Lukas 17:16-18). As gevolg van Sy onverdiende goedheid het Jehovah dit goedgevind om Petrus ’n spesiale sleutel vir die Samaritane te laat gebruik ’n rukkie voordat hy die een vir onbesnede nie-Jode gebruik het om geleenthede in verband met die koninkryk van die hemele te open. Maar omdat daardie Samaritane nie werklik in die Mosaïese Wetsverbond was nie en ‘aanbid het wat hulle nie geweet het nie’, moes hulle hulle nou met hulle doop eers met begrip in die naam van die Messias, Jesus, as die Middelaar van ’n nuwe verbond, aan Jehovah God toewy. Die feit dat hulle daarna met die heilige gees gedoop is, het gestaaf dat hulle in die nuwe verbond aanvaar is.—Mattheüs 16:18, 19; Johannes 4:4-42; Handelinge 8:5-25.
17. (a) Wanneer en hoe het God die eerste keer die onbesnede nie-Jode besoek “om ’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem”? (b) Wat het hulle waterdoop gesimboliseer?
17 In die jaar 36 G.J., toe God se tyd van spesiale guns aan die Jode verstryk het, het Jehovah God sy aandag op die onbesnede nie-Israeliete, die Heidene, gevestig om “’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem” (Handelinge 15:14-18). Petrus het nog een van die “sleutels” gebruik toe hy gestuur is na die huisgesin van die Romeinse hoofman Cornelius, wat die Jode goedgesind was. Hierdie nie-Jode moes die getuienis oor Jehovah God en sy verheerlikte Messias aangeneem het, want die heilige gees is op hulle uitgestort en hulle het in tale begin spreek. God het barmhartig begin om “aan die heidene die bekering tot die lewe” te skenk deur Jesus Christus, “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Handelinge 11:18; Johannes 1:29). Jehovah het hulle ook as lede van sy geestelike nasie aanvaar op grond van die toewyding wat hulle in hulle harte gedoen het. Die heilige gees het dit bevestig. Nie een van die gekerstende Jode wat Petrus vergesel het, kon dus beswaar maak teen sy bevel dat hulle “gedoop moet word in die Naam van” Jesus Christus nie. Dit was die begin van “die bekering van die heidene” (Handelinge 10:1-48; 15:3). Sedertdien moes almal wat God wou dien, hetsy Jood of nie-Jood, hulle in hulle harte aan Jehovah toewy. En wanneer hulle in water gedoop word, bied hulle hulle aan om God se wil vir hulle in navolging van Jesus te doen. is Maar hoe belangrik is toewyding, waarvan waterdoop ’n simbool is? Hoe hou dit verband met redding, veral in die lig van God se dag van toorn wat ophande is? Moet diegene wat nie deel van Jehovah se geestelike nasie is nie, maar wat hoop om vir ewig op aarde te lewe, gedoop word?
[Voetnote]
a Die woord “Toegewyd” kom vir die eerste keer in die Hebreeuse Skrifte voor in Genesis 5:18-24 in die naam “Henog”, wat “Toegewyd” beteken. In die Hebreeuse teks word hierdie naam Hhanokh’ gespel, en dit is verwant aan die Hebreeuse woord Hanukka, wat “Toewyding” beteken. In Johannes 10:22 word melding gemaak van die “fees van die tempelwyding” wat Jesus bygewoon het. Tot vandag noem die Jode hierdie fees Hanukka, wat “Toewyding” beteken, soos blyk uit Hebreeuse vertalings van Johannes 10:22
b Daar is geen verslag dat hierdie vroeë dissipels van Jesus weer voor die uitgieting van die heilige gees op Pinkster as simbool van hulle aanbieding gedoop is nie. Hulle vroeëre doop van bekering terwyl hulle nog onder die Wet was, het hierdie aspek ingesluit, en dit sou in navolging van Jesus wees, aangesien Johannes se doop gedoen is met die oog op die Messias se verskyning en hulle voorberei het vir God se wil vir hulle in verband met sy koms.
KAN JY HIERDIE VRAE TER HERSIENING BEANTWOORD?
◻ Wie maak die “heilige” of “toegewyde” nasie van 1 Petrus 2:9 uit?
◻ Hoe het die eertydse Israeliete hulle aan Jehovah God toegewy?
◻ Het Jesus hom aan God toegewy toe hy gedoop is?
◻ Wat is gesimboliseer deur die waterdoop van gelowige Samaritane en nie-Jode?
◻ Wat moes onbesnede nie-Jode doen om Jesus se volgelinge te word?
18. Watter vrae wat in die volgende studie beantwoord word, ontstaan nou?
[Prent op bladsy 16]
Die eertydse Israeliete het hulle aan Jehovah God toegewy
[Lokteks op bladsy 17]
’n Nuwe “nasie” het op Pinksterdag van 33 G.J. in aansyn gekom