Van ons lesers
Gehoorverlies Ek het julle brokkie oor gehoorverlies in “Ons beskou die wêreld” (22 Oktober 1989) gelees. Dit is waar dat dit jou gehoor beskadig as jy musiek te hard speel. Ek het nie geluister wanneer mense vir my gesê het om my musiek sagter te sit nie. Nou boet ek omdat ek nie geluister het nie. Ek is 19 jaar oud en word doof, en dis baie pynlik.
K. G., Verenigde State
Astrologie Julle artikel oor astrologie (22 November 1989) het beweer dat Oosterse sowel as Westerse astrologie die sodiak in 12 streke indeel en elke maand na ’n dier vernoem. Dit is verkeerd. Westerse astrologie skryf een teken van die sodiak aan elke maand toe. Maar in die Ooste is die tekens op die hele jaar van toepassing.
C. B., Frankryk
Dit is waar dat ’n siklus van 12 diere (elke dier verteenwoordig een jaar) algemeen onder die Chinese gebruik word om ’n mens se geboortejaar te onderskei. Dit is dus volksgewoonte vir ’n Chinees om te sê hy behoort tot die ‘jaar van die bul’ of watter simbool ook al gegeld het die jaar toe hy gebore is. Maar, soos ons in ons artikel gesê het, hierdie selfde 12 diere word ook gebruik om astrologiese siklusse van 12 uur, dae en maande te onderskei.—RED.
Lesersreaksie op nommer oor “Satanisme” ’n Leser het, in die nommer van 22 Februarie 1990, sy skok oor die voorblad van die tydskrif oor Satanisme (22 Oktober 1989) uitgespreek. Toe ek ’n kind was, het my ouers ons in Satanisme, in sy ergste en gewelddadigste vorme, betrek. Daardie herinnering was begrawe, tot hierdie jaar in my onderdruk, en ek begin dit nou eers verwerk. Daardie tydskrif het my werklik gehelp. En ek het die voorblad waardeer. Ontwaak! is veronderstel om mense wakker te skud! Toe ons die tydskrif tydens ons predikingswerk aangebied het, het niemand daardie nommer van die hand gewys nie. Ons kon nog honderde versprei het!
L. H., Verenigde State
Ek is baie dankbaar oor die inligting wat julle oor Satanisme gepubliseer het. Ek was ook as kind by Satanisme betrokke. Die aaklighede wat ek deurgemaak het, is onbeskryflik. Maar dit is vertroostend om te weet dat ek nie my verlede as ’n slagoffer van rituele misbruik hoef te ontken nie en dat dit vir my moontlik is om God se goedkeuring te verkry. Die artikels het nie doekies omgedraai nie. Kinders word gemartel, verkrag en vermoor. Mense moet weet dat daar so iets is!
P. M., Verenigde State
Puberteit Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Wat gebeur met my liggaam?” (22 Januarie 1990). My ma is oorlede toe ek twee was, en toe ek begin menstrueer het, het ek niemand gehad met wie ek daaroor kon praat nie. My pa was te skaam, en ek was te trots om na my ouer suster te luister. Ek is nou ’n bietjie ouer, maar ek weet steeds nie veel nie. Julle artikel het dit beter aan my verduidelik as die meeste boeke. Baie dankie dat julle verstaan wat ons deurmaak.
D., Verenigde State
Skoonfamilie Vandat ek en my man tien jaar gelede getroud is, was dit die een rusie na die ander met my skoonfamilie. Soos Jesus voorspel het, het die probleme vererger nadat ek my byna vyf jaar gelede aan Jehovah toegewy het (Mattheüs 10:35). Die wrywing het die afgelope maand so toegeneem dat ek soms siek gevoel het. Maar my waardering vir hierdie artikels oor skoonfamilie (22 Februarie 1990) is onuitspreeklik. Dit het my soveel insig gegee in my skoonma se gevoelens en vrese dat ek begin verstaan waarom sommige dinge gesê en gedoen is. Met baie meer harde werk van my kant kan ons miskien almal eendag vriende wees.
J. P., Verenigde State