Vuurwapens—nie net vir mans nie
IN DIE reklamewêreld word die manlike beeld van ’n stewig geboude kêrel met ’n geweer oor die arm gebruik om baie dinge te verkoop. Dit sluit alles denkbaar in—tabak, motors, klere, vuurwapens en ’n magdom ander dinge wat slegs deur die adverteerder se verbeelding beperk word.
Veral in die Verenigde State is die beeld geskep dat mans onskeibaar van hulle vuurwapens is. Op stadspleine is standbeelde van seëvierende helde met ’n vuurwapen oor die arm of aan die sy opgerig. Selfs sonder opskrifte word prentjies wat die Wilde Weste-era uitbeeld gou uitgeken aan die laaghangende rewolwers wat om die mans se heupe vasgegespe is. Talle rolprente met die Engelse woord “gun” in die titel is al gemaak. Televisieprogramme en rolprente is gevul met die klank van vinnige geweervuur—die goeie en die slegte ouens wat dit in elke denkbare situasie en plek uitveg. Tingerige mans word hipermanlik gemaak met ’n rewolwer of geweer in die hand, omring deur realistiese tonele van die dooies wat aan hulle voete lê.
Maar meer en meer vroue begin na vuurwapens reik. Gedurende die afgelope twee dekades het al hoe meer vrouespeurders en geheime agente wat dit met ongure elemente uitveg en met dodeliker akkuraatheid en verhewe vuurkrag wen hul verskyning op die televisie gemaak.
Vroue vergader in groot getalle by skietbane om met hulle pistole en gewere te oefen, vuur koeël op koeël na lewensgroot teikenplakkate van mans en tref tussen die oë.
Jy moet dus nie geskok wees om te verneem dat handgewere wat spesiaal vir vroue ontwerp is reeds op die mark is en goed verkoop nie. “Dames, julle sal nie ’n man se reukweermiddel gebruik nie”, het een verslaggeefster geskryf, “hoekom dan ’n man se rewolwer gebruik? Julle wil ’n rewolwer hê wat veerlig is en geen kante het wat julle naels sal haak nie, ’n klein rewolwertjie wat steeds ’n opstopper kan gee. Miskien wil julle ’n LadySmith met ’n [9,65]-kaliber hê . . . in glansend blou, of mat-sterling, waarvan julle self die loopgrootte gekies het”. ’n Deskundige het sy mening gelug oor wat vroue in vuurwapens wil hê: “’n Vrou wil hê dat die vuurwapen mooi moet lyk. Sy wil hê dit moet ’n aanskoulike voorwerp wees wat sy in haar handsak dra. Sy wil nie hê dat dit met haar poeierdosie en haar spieël bots nie . . . Baie vroue hou van passende kleure. Hulle wil nie hê dit moet sleg of gevaarlik lyk nie . . . Sy koop dit vir beskerming, maar terselfdertyd wil sy nie hê dat dit onooglik moet wees nie.”
Een van die handgewere wat spesiaal vir die elegante dame ontwerp is, is ’n 9,65-kaliber met ’n kapasiteit vir vyf patrone, en dit word aangebied in ’n keuse van twee loopgroottes—vyf sentimeter en agt sentimeter—sodat dit netjies in ’n handsak pas. Party het gladde, geronde rooshoutgrepe, en ander kan met pastelkleurige grepe gepas word. “Hulle is baie mooi”, het een vrou gesê, “en seker handig ook.” Daarbenewens is daar nuwe handsakskeppings met ingeboude vakkies wat spesiaal vir die dame se handgeweer gemaak word. “’n Vrou met ’n handgeweer wat nie ’n spesiale handsak besit nie, soek net moeilikheid”, het een vrou gesê. “Jy sal net koekiekrummels en pepermente, of tabak, as jy rook, of enigiets anders wat onder in ’n dame se handsak opgaar in die loop kry.” Sommige meen dat ’n tyd sal kom wanneer ’n vrou wat ’n vuurwapen dra net so alledaags sal wees soos een met ’n sambreel.
Hulle word al hoe meer
’n Onlangse opname het getoon dat die aantal vroue in die Verenigde State wat ’n vuurwapen besit tussen 1983 en 1986 met “sowat 53 persent, tot meer as 12 miljoen, toegeneem het”. Die opname het ook getoon dat “sowat 2 miljoen meer vroue” gedurende daardie drie jaar “die aankoop van ’n vuurwapen oorweeg het”. In sommige vrouetydskrifte word daar op subtiele wyse aandag gevestig op ’n vrou se behoefte aan beskerming deur ’n vrou uit te beeld wat tuiskom en ’n gebreekte ruit in haar voordeur aantref. Woon sy alleen? Besit sy ’n vuurwapen om haarself te beskerm as sy ’n indringer sou teëkom? ’n Tolvry nommer onderaan die advertensie is dié van ’n vuurwapenvervaardiger wat nou ’n nuwe reeks elegante handgewere vir vroue aanbied.
“Hierdie advertensies is soos om sout op ’n wond te gooi”, het een vrou gesê. Die rede is dat baie vroue alleen woon of enkelouers is en dus, dikwels heel tereg, meen dat hulle besonder kwetsbaar vir gewelddadige misdaad is. In die meeste groot stede neem verkragting toe. Vroue se beurse word gegryp—dikwels wanneer hulle met ’n mes gedreig word. Hulle word helder oordag op straat, in parkeerterreine en in kantoorgeboue aangeval. Daar word ingebreek by woonstelle en huise waarin vroue alleen woon terwyl die inwoner slaap. “Ons sal moet leer om vir onsself te sorg”, het een vrou gesê, “want namate ons al hoe meer rondbeweeg in ’n immer gewelddadiger gemeenskap, sal ons vir onsself moet sorg.”
“Ek het huis toe geloop van die werk af”, het ’n vrou in ’n onderhoud op die Amerikaanse televisie gesê. “Iemand het my skielik van agter gegryp. Hy het ’n mes gehad en my grond toe gedruk en my handsak gegryp. Net daar en dan het ek gesê dat ek iets sal moet doen.” Wat was haar uitkyk nadat sy aansoek gedoen het vir ’n permit om ’n vuurwapen te dra en by ’n skietbaan leer skiet het? “Ek het alle gevoel van kwetsbaarheid verloor. Ek het by myself gedink: Ek het ’n vuurwapen, ek gebruik dit en dit is wonderlik, ek voel nie bang nie. Met hierdie stuk metaal in my hande kan ek myself regtig beskerm.”
Dit is duidelik dat meer as 12 miljoen vroue in die Verenigde State dieselfde dink, en wie kan sê hoeveel ander onwettige wapens besit? Die wêreldsyfer kan verstommend wees. Maar is hierdie denke die produk van baie navorsing oor wat die feite toon? Beskou eers wat polisie-amptenare sê en statistieke toon voor jy ’n wapen vir selfverdediging gaan koop.