Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 5/22 bl. 8-9
  • Vuurwapens—’n weg van die dood

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vuurwapens—’n weg van die dood
  • Ontwaak!—1990
  • Soortgelyke materiaal
  • Vuurwapens—’n leefwyse
    Ontwaak!—1990
  • Vuurwapens—nie net vir mans nie
    Ontwaak!—1990
  • Ons beskou die Wêreld
    Ontwaak!—2010
  • Wat is die toekoms van wapenbeheer?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 5/22 bl. 8-9

Vuurwapens—’n weg van die dood

“HULLE het hierdie illusie”, het ’n hooggeplaaste polisie-amptenaar gesê, “dat hulle die vuurwapen op iemand gaan rig en dat hulle in beheer sal wees, en wanneer dit nie so uitwerk nie, huiwer hulle, net soos baie konstabels ’n breukdeel van ’n sekonde huiwer, en dan boet hulle daarvoor met hulle lewe.” Daar is ook hierdie opmerking van ’n bekende Amerikaanse kommissaris van landsveiligheid: “Baie mense besef nie ten volle dat wanneer hulle ’n handgeweer besit dit beteken dat hulle bereid moet wees om die gevolge te dra as hulle ’n ander mens doodmaak nie. As jy nie skiet nie en ’n misdadiger op jou vuur, is dit gevaarliker om ’n wapen te besit as om glad nie een te hê nie.”

Ten slotte: “Selfs ’n bietjie verbeelding behoort ons te sê dat al hierdie ontwerperwapens tot meer probleme, nie minder nie, sal lei”, het ’n verslaggeefster geskryf wat ’n lid van ’n polisieman se gesin en self ’n bedrewe skut is. “Het vroue wat ‘mooi’ vuurwapens koop al gedink aan hoe mooi uitgeblaasde harsings is? Die resultaat is nie mooi nie. Al ooit ’n man gesien wie se gesig weggeskiet is?” Of, vra sy, “kan jy na die hart korrel?”

Hoe vinnig kan jy jou versteekte vuurwapen uitkry as jy skielik aangeval word? Beskou haar eie ondervinding: “Toe ek op straat deur ’n waansinnige dwelmslaaf met ’n slagtersmes beroof is, was die lem teen my keel nog voor ek my aanvaller gesien of gehoor het. Wie sou ’n fotobeslissing gewen het as ek na ’n vuurwapen gegryp het?” Dan voeg sy by: “Ek sal nie droom om ’n vuurwapen vir persoonlike beskerming aan te hou nie. Dit is nie ’n geval van moraal nie; dit is ’n geval van wat prakties is.”

Beskou nou ’n paar oorweldigende feite. In die “relatief min skietgevegte wat wel tussen huisbewoners en inbrekers plaasvind, kan dit baie maklik die inbreker wees wat sy vuurwapen vaardiger hanteer en die huisbewoner wat in die lykhuis beland”, het die tydskrif Time van 6 Februarie 1989 berig. Al is ’n vuurwapen ook hoe ’n goeie afskrikmiddel om ’n misdaad te voorkom, weeg die negatiewe faktore baie swaarder. Beskou byvoorbeeld selfmoorde. In die Verenigde State alleen het meer as 18 000 mense hulself gedurende ’n tydperk van 12 maande doodgeskiet.

Dit is onmoontlik om vas te stel hoeveel van hierdie selfmoorde op die ingewing van die oomblik plaasgevind het maar dalk nooit sou gerealiseer het as daar nie ’n vuurwapen in ’n handsak of ’n kaslaai was nie. Die geredelike beskikbaarheid van ’n vuurwapen het sekere slagoffers ongetwyfeld nie genoeg tyd gegee om rasioneel te dink en dalk te bly lewe nie. Tel die getal selfmoorde met vuurwapens in Amerika by dié van die res van die wêreld en die totaal sal inderdaad skokkend wees.

Die tydskrif Time van 17 Julie 1989 het berig dat 464 mense gedurende die eerste week van Mei 1989 in die Verenigde State alleen doodgeskiet is. “Vanjaar sal meer as 30 000 ander hulle lot deel”, het Time gesê. Die tydskrif het berig dat “meer Amerikaners elke twee jaar aan vuurwapenwonde beswyk as wat daar tot op hede aan Vigs gesterf het. Vuurwapens neem insgelyks meer Amerikaanse lewens elke twee jaar as wat die hele Viëtnamese Oorlog geneem het.”

Ouers wat vuurwapens besit, moet die verantwoordelikheid dra as hulle kinders dit gebruik om hulle eie lewe of dié van ander te neem. “Die toename in kinderselfmoorde in 1988”, het een koerant gesê, “kan volgens die polisie deels toegeskryf word aan makliker toegang tot vuurwapens namate meer huiseienaars wapens bymekaarmaak om hulle woonplekke te beskerm. . . . As jy ’n wapen in die huis het, is daar net ’n kans dat ’n kind dit eendag in die hande gaan kry.” “Verlede jaar [1988] het meer as 3000 kinders ander kinders geskiet”, het ’n Amerikaanse televisienuusuitsending in Junie 1989 berig.

Ouers, weet julle waar julle vuurwapens is? Een ouer het geweet, maar sy tienjarige seun ook. “Hy het sy pa se kragtige jaggeweer gelaai”, het die New York Times van 26 Augustus 1989 berig, “en ’n meisie doodgeskiet wat gespog het dat sy beter as hy is met videospeletjies.” Weet jy wat buiten toebroodjies en koekies in jou kind se kosblik is wanneer jy hom of haar skool toe stuur? Sal jy glo dat dit jou vuurwapen kan wees? Wat moes die ouers van ’n vyfjarige kleuter gedink het toe skoolamptenare hulle in kennis gestel het dat hulle ’n gelaaide 6,35-kaliber pistool van hulle seun in ’n stampvol kafeteria afgeneem het terwyl honderde leerlinge hulle toebroodjies, melk en koekies geëet het?

Later in 1989 is ’n sesjarige graadeentjie betrap waar hy met ’n gelaaide pistool te koop geloop het. Daardie selfde maand is ’n 12-jarige gearresteer omdat hy ’n gelaaide pistool by die skool gedra het. Dit alles in dieselfde skoolstreek. In Florida het ’n leerling dit nie gelukkig genoeg getref om die ramp van ’n gelaaide vuurwapen in die hande van ’n kind te ontkom nie. Sy is in die rug geskiet toe ’n 11-jarige meisie per ongeluk die vuurwapen afgevuur het wat sy skool toe gebring het om vir haar vriende te wys.

“Ons klein sesjariges gaan huis toe en byna almal weet dat daar ’n vuurwapen in hulle huis is”, het een skoolhoof gesê. “Baie van hulle het al die effek van ’n vuurwapen gesien”, het ’n standerd een-onderwyser gesê. “Miskien is ’n pa, ’n oom of ’n broer nie meer in hulle huis nie as gevolg van ’n vuurwapen”, het hy gesê. Party skole het dit selfs nodig gevind om metaalverklikkers aan te bring om vuurwapens op te spoor wat deur die baie jong kinders skool toe gebring word, laat staan nog die ouer leerlinge! Moet ouers nie die verantwoordelikheid vir hulle kinders se dade dra nie, veral ouers wat dit goeddink om vuurwapens in hulle huis aan te hou waar hulle kinders dit kan vind?

Ouers troos hulle dalk daaraan dat hul vuurwapens weggesteek is waar hulle kinders of ander dit nie sal kry nie. Maar ongelukkig het kinders wat gesterf het hulle ouers verkeerd bewys. Beskou boonop die vanselfsprekende. “Wel, dis die een of die ander”, het een polisiehoof gesê. “As jy jou vuurwapen werklik so veilig wegbêre dat onskuldige mense in jou huis, jou kinders of besoekers of iemand anders, nie daardeur kan seerkry nie, dan sal [jy] nie daardie vuurwapen in die hande kan kry in die soort noodgeval waarvoor [jy] dit in die eerste plek gekoop het nie.”

Die polisie skat dat as ’n huishoudelike vuurwapen ooit gebruik word, “dit ses keer so waarskynlik is dat daar op ’n gesinslid of ’n vriend geskiet sal word as op ’n indringer”, het die tydskrif Time berig. “’n Vrou of ma meen sy hoor ’n inbreker maar skiet haar man of seun wat laat tuiskom”, het ’n kommisaris van landsveiligheid gesê. ‘Hoe moet mense hulle huise dan beskerm?’ is hy gevra. “Die beste manier om jouself te beskerm, is seker om jou eiendom eerder as jou lewe te waag. Die meeste rowers en inbrekers is daar om te steel, nie om dood te maak nie. Die meeste vuurwapenverwante sterfgevalle in huise word deur die huiseienaar se vuurwapen veroorsaak. Hoe dit ook al sy, stedelinge moet hul beskerming probeer verbeter deur misdaadvoorkomende ‘waakgroepe’ te vorm.” En ten slotte moet die vuurwapeneienaars hulself afvra of hulle bereid is om ’n ander mens se lewe te neem ten einde die inhoud van ’n handsak of notebeurs of ’n paar waardevolle besittings in ’n huis te beskerm.

As jy verstandig is, sal jy jou nie verset teen iemand wat jou lewe bedreig om jou kosbaarhede af te neem nie. Jou lewe is meer werd as enige besitting.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel