Ons beskou die wêreld
’N GEWELDDADIGE DEKADE
In die Verenigde State is moorde weer besig om toe te neem. Hoewel moorde in die vroeë tagtigerjare effens afgeneem het, het dit na 1985 weer begin toeneem, aldus The New York Times. Die getal vermoordes in 1989 was omtrent 5 persent hoër as die 20 680 wat in 1988 vermoor is, en dit was alreeds gemiddeld 1 vermoorde elke 25 minute. Vuurwapens is in sowat 60 persent van die moorde gebruik en het dus die agtste vernaamste doodsoorsaak onder die nasie geword. Volgens een studie is daar in die skole alleen op ’n gewone dag ten minste honderdduisend leerlinge wat vuurwapens by hulle het. Skole in die stad New York word dus genoodsaak om die “elfde grootste sekuriteitsmag in die VSA” te hê, sê die tydskrif Time. Vir die stad New York was die tagtigerjare die gewelddadigste dekade in die stad se geskiedenis, met sowat 17 000 moorde. Die koms van die dwelmmiddel crack het tot dié syfer bygedra.
HEPATITIS ONOPGESPOOR IN BLOED
’n Suid-Afrikaanse man het vyf jaar gelede hepatitis B opgedoen van ’n bloedoortapping terwyl hy hartchirurgie ondergaan het. Vandag kan hy beswaarlik loop, is hy in pyn en moes hy noodgedwonge aftree. Die bloedskenker is drie maande voor die operasie getoets en het geen tekens van besmetting getoon nie. Bowendien het sy oor ’n lang tyd bloed geskenk—altesaam 67 eenhede. Skenkers wat herhaaldelik bloed geskenk het sonder om enige infeksie te veroorsaak, word oor die algemeen as die veiligste skenkers beskou. Hoe het dit dan gebeur? Die inkubasie-tydperk van die hepatitis B-virus wissel van 4 tot 26 weke. Die Rapport verduidelik dat die skenker se virus dus ‘nog in die inkubasie-stadium was en nie in die heel eerste toetse opgespoor kon word nie’.
GODSDIENSSWENDELAARS
“‘Valse profete van die beleggingswêreld’ het in die afgelope vyf jaar bykans $500 000 000 [R1300-000 000] uit godsdienstige Amerikaners geswendel”, sê The Dallas Morning News. Volgens ’n verslag deur die nasionale Raad vir Beter Sakeburo’s en die Noord-Amerikaanse Vereniging van Effekte-Administrateurs was meer as 15 000 Amerikaners slagoffers van die “Bybel-dwepende swendelaars” se godsdiensskemas. Die swendelaars, wat aangevuur is deur die somme geld wat TV-evangeliste insamel, het munt geslaan uit die toename in godsdiensprogramme om op hulle slagoffers toe te slaan. “Die skemas het gewissel van valse beleggingskemas wat deur selfverklaarde wedergebore finansiële beplanners aangebied is tot ‘goddelik geïnspireerde’ beleggingsadvies oor muntstukke, edelmetale, vaste eiendom en olieboorprogramme”, het die koerant gesê.
’N UITSONDERING WORD GEMAAK
Die Vatikaan het ’n staande beleid wat individuele priesters toelaat om nie-alkoholiese wyn tydens die Mis te drink as hulle dit versoek. Maar die priesters van die hele Friuli-streek in Italië is onlangs toestemming gegee om ongegiste druiwesap in plaas van wyn by die Mis te drink. Waarom? Volgens die Catholic Herald het die priesters die versoek gedoen omdat hulle gevrees het dat die alkoholiste in hulle geledere moontlik “weer straf sal begin drink” as hulle die een slukkie wyn by die Mis neem. Die Katolieke koerant het ook gesê: “Opnames in die Friuli-streek toon dat 15 persent van die bevolking ’n drankprobleem het en dat baie van die gebied se 400 priesters in die hoë-risiko-groep is.”
SINIESE ROMANSES
“Romanses” het in hierdie eeu van Vigs en algemene onsedelikheid al hoe gevaarliker geword. In ’n poging om die risiko’s te verminder, huur al hoe meer ongetroude vroue privaatspeurders om die mans met wie hulle uitgaan te ondersoek, berig The New York Times. Hoewel speuragentskappe die huidige opswaai in hulle bedryf in groot mate toeskryf aan die verspreiding van Vigs, sê hulle dat vroue hulle ook gewoonlik vra om hulle kêrels se werkstatus, kredietstand, geleerdheid, sowel as seksuele gewoontes te ondersoek. Een speuragentskap adverteer selfs in ’n Chicago-tydskrif. Die advertensie vra: “Weet jy met wie jy uitgaan?” en voeg by: “Dit is nou, belangriker as ooit om te weet.”
DODELIKE HOUDING
Frankryk het een van die hoogste syfers vir noodlottige motorongelukke onder die industriële nasies—330 sterfgevalle vir elke miljoen motors op die pad, in vergelyking met 185 in die Verenigde State, 182 in Italië, 163 in Japan, 162 in Wes-Duitsland en 127 in Brittanje. Die International Herald Tribune, met sy hoofkantoor in Parys, berig dat sielkundiges by ’n onlangse simposium oor bestuursgedrag die probleem grotendeels aan ongeduld, frustrasie en aggressie toegeskryf het. Hulle het gemeld dat baie hulle motors gebruik om te wys watter hoë dunk hulle van hulleself het en watter lae dunk hulle van ander het.
DIE PRYS VAN HEBSUG
Hoewel party wetenskaplikes ontken dat die mens se besoedeling besig is om die atmosfeer te verwarm in ’n kweekhuiseffek, beweer Franse agronoom Rene Dumont dat die effek mense alreeds laat sterf—eenmiljoen die afgelope jaar alleen. Hy sê dat die kweekhuiseffek droogtes veroorsaak, wat weer hongersnood veroorsaak. Dumont, wat al baie droogtes akkuraat voorspel het, waarsku dat “ons op die randjie van die grootste droogte in die mensegeskiedenis is”. Hy blameer ontwikkelde nasies se hebsugtige verbruik van energie vir die krisis: “Daar is tweemiljard mense wat in armoede in die wêreld leef en hulle is gyselaars van ons hebsug, van ons energievermorsing.”—The Globe and Mail, Toronto, Kanada.
KAN DIT GENEES WORD?
Die moord op drie jong seuns, waarvan twee seksueel misbruik is, in die westelike deel van die Verenigde State het aanleiding gegee tot ’n toenemende debat oor die vraag of gewoonte-kindermolesteerders genees kan word of nie. Die man wat vir die moorde aangekla word, is herhaaldelik vir misdade teen kinders verhoor en gevonnis om geslagsvoorligting te ondergaan. Net voordat hy vir die drie moorde gearresteer is, het hy agt maande se voorligting voltooi deur ’n sielkundige wat self 13 jaar as dwelmsmokkelaar en gewapende rower in die tronk was. “Enigeen kan ’n bordjie uithang en homself ’n terapeut noem”, kla die hoof van die Vereniging vir die Gedragsbehandeling van Seksmolesteerders in The New York Times. Die Times sê dat al hoe meer gesondheidspraktisyns tot die slotsom kom dat “party gewoonte-kindermolesteerders nie genees kan word nie en lewenslank opgesluit moet word”.
TUINONGELUKKE
Die Britse Vereniging vir die Voorkoming van Ongelukke het die jongste syfers vir tuinongelukke in Brittanje bekendgemaak. Gedurende ’n tydperk van een jaar “het 21 mense in hulle tuin gesterf—masjinerie het die dood van 14 veroorsaak terwyl ‘plante en bome’ vir die ander sewe sterfgevalle verantwoordelik was”, berig The Medical Post. Die Britse statistiek toon dat 151-000 tuiniers in hospitale behandel is. Die beserings sluit 6 400 in weens grassnyerongelukke, 4 200 met heiningskêre, 4 000 met tuinvurke, 3 000 met tuingrawe, 2 000 met snoeiskêre, 1 000 met sense en 1 600 met bamboespale. Tuinmeubels het 3200 ongelukke veroorsaak, die kruiwa het 1200 beseer en “die eenvoudige blompot het 59 tuiniers beseer”.
VROUE EN MISDAAD IN JAPAN
Die misdaadsyfer in Japan is aan die styg, en vroue is vir al hoe meer misdade verantwoordelik. In 1988 is sowat 1 641 310 ernstige misdade in Japan gepleeg, wat nagenoeg 63 000 meer as die vorige jaar is. Die Japannese, wat oor die algemeen wetsgehoorsaam is, was ontsteld om te sien dat misdaad in 1989 ’n na-oorlogse hoogtepunt bereik het. Maar moontlik nog verbasender, berig Tokio se Sankei Sjimboen, is dat vroue nou sowat 25 persent van Japan se misdade pleeg.
STORTING UIT TREINE
Amtrak, ’n Amerikaanse spoorwegdiens, het onlangs onder sterk kritiek deurgeloop oor die gebruik om onbehandelde menseafval op die treinspoor te stort. Treintoilette spoel nog altyd direk op die spoorlyn uit, en Amtrak sê die gewoonte is “onskadelik vir die omgewing”. Maar owerhede in Florida het die spoorlyn begin ondersoek nadat vissers gekla het dat hulle met rioolafval bespat word wanneer treine oor brûe bokant hulle ry. ’n Hof in Florida het Amtrak skuldig bevind aan kommersiële besoedeling. Amtrak beplan om teen die uitspraak te appelleer en beweer dat dit R382 miljoen sal kos om na moderner metodes vir die verwerking van afval oor te slaan. Intussen sal kondukteurs passasiers vra om nie die toilette te spoel wanneer die trein oor sekere brûe ry nie.
NIE-GODSDIENSTIGE BEGRAFNISSE
Namate godsdiensontnugtering toeneem, stel al hoe meer Britte belang in sekulêre begrafnisse sonder ’n sweem van godsdiens. Die Britse Humanistiese Vereniging het ’n gewilde boek getiteld Funerals Without God: A Practical Guide to Nonreligious Funerals gepubliseer en stuur vrywilligers uit om sekulêre begrafnisse te hou. Die vereniging se koördineerder beweer dat families moeg is vir predikante wat dieselfde by alle begrafnisse sê; die vereniging probeer dus om hulle begrafnisse persoonliker te maak. By ’n begrafnis vir ’n man wat lief was vir dans, het die begrafnisgangers ’n tango gedans. By ’n sirkuskunstenaar se begrafnis het die oorledene se seuns ’n ewewigstoertjie voor die kis uitgevoer.