Jongmense vra . . .
Waarom voel ek so onseker?
“Wanneer ek tussen mense is, bekommer ek my altyd oor hoe ek lyk, wat ek sê, hoe ek optree, en wat die ander persoon van my dink. Ek is deurentyd onseker.”—Sewentienjarige Angelica.
WEERHOU vrees vir mislukking jou daarvan om dinge te doen wat jy graag sou wou doen? Is jy afgunstig op ander se suksesse? Kwel jy jou baie oor wat ander van jou dink? Voel jy ongemaklik wanneer jy nuwe mense moet ontmoet? Stort jou wêreld in duie wanneer jy gekritiseer word? Dan ly jy miskien ook aan knaende onsekerheid. Waar kom hierdie gevoelens presies vandaan? Hoe kan jy hulle te bowe kom?
Jonk en kwetsbaar
Jy moet eerstens besef dat gevoelens van onsekerheid algemeen is. Ons word almal onvolmaak gebore en is dus geneig om van tyd tot tyd onbekwaam en selfs nutteloos te voel. (Jakobus 3:2; vergelyk Romeine 7:21-24.) Jy is boonop jonk en onervare. Dit is net natuurlik dat jy ongemaklik sal voel in vreemde omstandighede of wanneer jy gevra word om iets heeltemal nuuts te doen.
Die Bybel vertel ons byvoorbeeld van die jong man Jeremia toe hy as God se profeet aangestel is. Hoewel Jeremia heel waarskynlik diep in die twintigerjare was, het hy onseker gevoel oor sy vermoë om hierdie taak uit te voer en homself verskoon deur te sê: “Ek is nog te jonk” (Jeremia 1:6, NAV). Ook die jong man Timotheüs het klaarblyklik onbekwaam gevoel. Die apostel Paulus moes hom reguit raad gee om hom te help om sy onsekerheid te bowe te kom.—1 Timotheüs 4:11-16; 2 Timotheüs 1:6, 7.
Die boek Talking With Your Teenager sê dat jongmense “as ’t ware van nature uiters kwetsbaar is. . . . Hulle bekommer hulle oor hoe hulle lyk, wat hulle gesê het, of hulle gewild is, of hulle bemind is. . . Hulle is selfbewus en word maklik in die verleentheid gestel of verneder.” Hulle is dikwels “baie onseker oor wie hulle is”. Waarom?
Een rede is dat jongmense in die middel van ’n tydperk van vinnige fisiese groei en verandering is. Dr. Betty B. Youngs merk op dat “hierdie veranderinge, wat buite [’n jeugdige se] beheer is, intens, veeleisend en angswekkend is. . . . [’n] Tiener kan nie die lig aan die einde van die tonnel sien nie en het geen idee wat hom volgende gaan tref nie. Dit is vanselfsprekend dat hierdie gebrek aan beheer onsekerheid en spanning veroorsaak.”
Die invloed van vriende en gesinslede
Nog ’n faktor is jou huislike milieu. Ideaal gesien, dien die gesin as ’n bron van geestelike leiding en emosionele ondersteuning (Efesiërs 6:1-4). Die Bybel beveel ouers selfs: “Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.”—Kolossense 3:21.
Ongelukkig terg sommige ouers hulle kinders deur hulle aan ’n eindelose spervuur van kritiek te onderwerp, en die nodige lof en liefde te weerhou. Sielkundige Eleanor S. Field verduidelik: “Ouerlike kritiek kan dikwels tot diepgewortelde onsekerheid lei. . . . En as jy nog steeds [negatiewe] boodskappe as ’n tiener ontvang, sal dit jou gevoelens van onsekerheid net vererger.”
Jou maats kan jou selfvertroue ook ondermyn deur jou aanhoudend te terg of jou voorkoms of gedrag te kritiseer. Jy is veral aan sulke kritiek onderhewig as jy Jesus se bevel gehoorsaam om “nie van die wêreld” te wees nie (Johannes 17:16). “Dis frustrerend!” verduidelik 15-jarige Andrew. “Jy probeer inpas, maar jy probeer ook nié inpas nie. Jy wil nie ’n uitgeworpene wees nie, maar jy probeer Bybelbeginsels handhaaf.” ’n Vyftienjarige meisie het bygevoeg: “Dis moeilik want jy wil nie hê die ander kinders moet sê jy is ‘snaaks’ nie. Almal wil hê dat mense van hulle moet hou.” Dit kan ’n groot stryd wees om ’n behoorlike balans te handhaaf. Dit kan jou moontlik onseker laat voel.
Soms is gevoelens van onsekerheid egter selftoegediend. “Wanneer ek tussen mense is”, het een 17-jarige erken, “voel ek nutteloos omdat ek nie weet hoe om enigiets goed te doen nie. Ek raak dus baie onseker.” Sulke gevoelens kan die gevolg wees van onredelike vergelykings wat jy tussen jou en ander maak.
Stry teen gevoelens van onsekerheid
Wat ook al die oorsaak van gevoelens van onsekerheid, hulle is eenvoudig ’n deel van die grootwordproses en sal moontlik nooit heeltemal verdwyn nie.a Oordrewe besorgdheid oor ’n mens se voorkoms, reputasie of vermoëns kan jou selfvertroue bly ondermyn selfs wanneer jy ’n selfversekerde volwassene is.
Baie jongmense probeer om hulle gebrek aan selfvertroue agter valse bravade, verregaande kleredrag of opstandigheid te verberg. Maar daar is baie beter maniere waarop jy daardie tye van onsekerheid kan verwerk.
Erken jou positiewe eienskappe: Jy het miskien nie die volmaakste figuur of liggaamsbou nie, maar jy het moontlik die Christelike eienskappe “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” ontwikkel (Galasiërs 5:22). Hierdie eienskappe is oneindig kosbaarder as enige fisiese bates en kan jou selfs help om God se goedkeuring te verkry.
Vermy onredelike vergelykings: Soos Eleanor Roosevelt, vrou van die 32ste president van die Verenigde State, eenkeer gesê het: “Niemand kan jou sonder jou toestemming minderwaardig laat voel nie.” Galasiërs 6:4 (NAV) gee dus goeie raad wanneer dit sê: “Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ander te vergelyk.”
Maak die feit dat iemand anders mooier lyk, mooier klere het, of slimmer as jy is hom of haar ’n beter persoon as jy? Feit is dat die uiterlike min by God tel. Die Bybel sê: “Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.”—1 Samuel 16:7.
Vermy die strik van jaloesie: “Jaloesie is verrotting vir die gebeente”, en dit wek onsekerheid (Spreuke 14:30, NW). Leer eerder om ‘bly te wees met die wat bly is’ en wees opreg bly oor wat hulle bereik het (Romeine 12:15). As jy dit doen, sal ander baie minder geneig wees om negatiewe opmerkings oor jou suksesse te maak.
Raak betrokke by ander mense: Dr. Allan Fromme het opgemerk dat “mense met ’n goeie selfbeeld ’n soort van vrede geniet, omdat hulle aan ander dink . . . Mense met ’n swak selfbeeld is gevangenes van hulleself. Hulle is vasgevang in hul volgehoue selfbewustheid.” Ontsnap uit daardie gevangenis deur ‘nie na jou eie belange om te sien nie, maar elkeen ook na die ander s’n’ (Filippense 2:4). Hoe meer jy by ander betrokke is, hoe minder sal jy jou oor jou eie gevoelens van onsekerheid bekommer.
Moenie oorreageer op kritiek nie: “Jy moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie”, veral nie wanneer hulle jou net neerhaal nie (Prediker 7:21). As kritiek daarenteen gegrond is, moet jy jou bes doen om dit toe te pas. “Laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder . . . Sotte verag wysheid en tug” (Spreuke 1:5, 7). Jy skiet moontlik op een gebied te kort, maar dit maak jou kwalik ’n mislukkeling.
Maar sê nou die kritiek kom van jou ouers? Dit is ouers se plig om hulle kinders te dissiplineer (Efesiërs 6:4). As jy dink dat dit oormatig, onregverdig of vernederend is, kan jy dalk ’n kalm oomblik kies om sake met jou ouers te bespreek en hulle te vertel watter uitwerking hulle woorde op jou het.
Stel realistiese doelwitte: Jy hoef nie die klas se topstudent te wees om ’n goeie student te wees of ’n Olimpiese atleet om sport te geniet nie. “By die beskeidenes is wysheid”, en beskeidenheid beteken om jou eie beperkinge te ken (Spreuke 11:2). Maar moenie jou doelwitte uitermate laag stel omdat jy mislukking vrees nie. Mislukking kan ’n leermeester wees. Jy leer per slot van rekening loop deur die neiging om te val te bowe te kom!
Moenie bang wees om anders te wees nie: Jongmense wat toelaat dat portuurs hulle spraak, kleredrag en persoonsversorging beheer, is niks anders as slawe nie (Romeine 6:16, NAV). Dien eerder Jehovah “as slaaf” (Romeine 12:11, NW). As jy geterg word omdat jy doen wat reg is, kan jy vertroosting put uit die wete dat jou moedige dade God se hart verbly.—Spreuke 27:11.
Hierdie wenke sal jou sonder twyfel help. Maar moenie verwag dat jou onsekerheid oornag sal verdwyn nie. Wees geduldig. Verwag terugslae, en probeer om jou nie aan selfbejammering oor te gee nie. Jy sal mettertyd meer selfvertroue as ooit tevore hê.
[Voetnoot]
a Ons bespreek nie die gevoelens van onsekerheid wat ontstaan as gevolg van ernstige uitskellery of seksuele mishandeling nie. Hoewel sommige van die beginsels wat hier bespreek word nuttig kan wees, sal slagoffers van verskillende vorme van mishandeling moontlik baie geduldige hulp nodig hê sodat die emosionele letsels van sulke mishandeling kan genees.
[Prent op bladsy 26]
Ouers kan onsekerheid veroorsaak deur lof te weerhou en te krities te wees