Is daar iemand daar buite?
DAAR is ’n man in Massachusetts, VSA, wat onder andere die werk het om elke dag te gaan kyk of enige boodskap ontvang is. Dag na dag is daar geen boodskappe nie. Jare lank al is daar geen boodskappe nie. Maar hy gaan kyk nogtans gereeld, en hy word gereeld teleurgestel. Is hy ongewild? Is sy boodskaptoestel stukkend?
Nie een van die twee nie. Hy gaan kyk na ’n toestel, maar dit is nie aan ’n telefoonlyn gekoppel nie. Dit is ’n rekenaar wat verbind is met ’n reuse-elektroniese oor, wat boontoe wys, weg van ons wêreld, in die dieptes van die buitenste ruimte in: ’n radioteleskoop. Hierdie man help ’n span wetenskaplikes om die sterre te ondersoek vir ’n boodskap van intelligente buiteaardse wesens.
Ander luister nou ook al, net soos hy, 30 jaar lank. In 1960 het sterrekundige Frank Drake die eerste man geword wat met ’n radioteleskoop geluister het of daar tekens van buiteaardse intelligensie is. Sedertdien het die mens sy ore in werklikheid in die ruimte geplaas. Tot dusver is sowat 50 uitgebreide soektogte in die hemelruim onderneem.
Radioteleskope dwarsoor die wêreld neem aan die soektog deel—in Frankryk, die Bondsrepubliek Duitsland, Nederland, Australië, die Sowjetunie, Argentinië, die Verenigde State en Kanada. Soos een persoon dit gestel het: “SETI [’n Engelse letterwoord vir die mens se soektog na buiteaardse intelligensie] is besig om so internasionaal soos die ruimte self te word.” Een simposium oor die onderwerp het sowat 150 wetenskaplikes gelok uit 18 lande wat oor al vyf kontinente strek.
Maar die ambisieusste SETI-projek tot nog toe word in 1992 van stapel gestuur. NASA, die Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie van die Verenigde State, beplan om ’n kragtige nuwe apparaat te gebruik wat dit moontlik sal maak om miljoene radiofrekwensies terselfdertyd te ondersoek. Die soektog sal na raming tien jaar duur en R234 miljoen beloop. Dit sal tienmiljard keer omvattender wees as al die vorige soektogte tesame.
Maar wanneer die mens die onmeetlike heelal vra: “Is daar iemand daar buite?” sal hy meer as hipertegnologiese apparate nodig hê om ’n antwoord te vind. Dit is in baie opsigte ’n geestelike vraag. In sy soeke na ’n antwoord, verraai die mens sommige van sy verwagtinge wat hom baie na aan die hart lê: Die einde van oorlog, die einde van siekte, miskien selfs die verkryging van onsterflikheid. Daar staan dus baie op die spel. Maar hoe naby is die mens aan ’n antwoord nadat hy eeue lank gewonder en dekades lank gesoek het?