Buiteaardse wesens—Wat is die waarheid?
OP 17 Februarie 1600 is ’n man genaamd Giordano Bruno in Rome, Italië, lewend verbrand op ’n openbare plein. Waarom? Sy geskrifte het die kerk aanstoot gegee. Hy het onder andere geleer dat daar baie bewoonde wêrelde in die heelal is. In die 11de eeu het die kerk daardie leerstelling, die pluraliteit van wêrelde, as kettery verklaar. Om dit te verkondig, het die dood beteken. Bruno het gesterf.
Die debat oor die bestaan van lewe op ander wêrelde is tot in die 19de eeu in die godsdiensarena voortgesit. Godsdiensleiers en wetenskaplikes onder hulle invloed het eeue lank volgehou dat die aarde die middelpunt van die heelal is; dat die heelal in 4004 v.G.J. geskep is; ensovoorts.
Dit is dan geen wonder dat baie wetenskaplikes en ander baie min respek vir godsdiens het nie. Maar algaande het baie boonop hulle respek vir die Bybel verloor, omdat hulle gedink het dat dit die bron van al daardie wanbegrippe is. Niks kan verder van die waarheid af wees nie.
Die Bybel beweer nie dat dit ’n wetenskaphandboek is nie. Nietemin is dit nooit onakkuraat wanneer dit die onderwerp van die heelal of enige ander wetenskaplike aangeleentheid aanroer nie. Die Bybel sê byvoorbeeld nooit dat die aarde en die mens die middelpunt van die heelal is nie. Inteendeel, sy geïnspireerde skrywers het duidelik begryp hoe onbenullig die mens in vergelyking met die uitgestrekte kosmos is.—Psalm 8:3, 4.a
Is daar dus, volgens die Bybel, enigiemand daar buite?
Die Bybel antwoord
Volgens die Bybel is daar nie net buiteaardse lewe nie, maar dit bestaan ook in oorvloed. Dit is ingewikkelder, interessanter en geloofwaardiger as enigiets wat evolusioniste, skrywers van wetenskapsverhale en rolprentmakers ooit kon uitdink. ’n Buiteaardse wese is per slot van rekening net ’n wese wat buite hierdie aarde en sy atmosfeer ontstaan het.
Wetenskaplikes wonder of daar lewensvorme bestaan wat ons nie kan bespeur nie. Die Bybel verseker ons dat sulke wesens inderdaad bestaan. Maar hulle is nie die produkte van evolusie nie. Soos alle lewe in die heelal, in watter vorm ook al, het hulle van die Bron van die lewe, Jehovah God, gekom. Hy is ’n Gees, en hy het derduisende ander soorte geeste geskep: engele, gerubs en serafs. Hulle het verskillende werke en funksies in sy ingewikkelde hemelse organisasie.—Psalm 104:4, NW; Hebreërs 12:22; Openbaring 19:14.
Wat van lewe op ander planete?
Party invloedryke godsdiensfigure het volgehou dat God nie enige wêreld sonder ’n doel sou skep nie en dat alle bewoonbare wêrelde gevolglik bewoon moet wees. Is dit wat die Bybel sê? Nee. Die Bybel toon dat dit baie onwaarskynlik is dat God tot nou toe intelligente fisiese skepsele op enige ander planeet behalwe ons eie geskep het. Hoe so?
As God wel sulke wesens geskep het, het hy dit gedoen voordat hy Adam en Eva geskep het. Sulke wesens het òf aan hulle Skepper getrou gebly, òf soos Adam en Eva gesondig en onvolmaaktheid oor hulleself gebring.
Maar as hulle onvolmaak geword het, het hulle ’n verlosser nodig gehad. Soos een essayis dit gestel het: “’n Mens het hierdie verskriklike gedagte dat Jesus op Vrydag [die dag waarop Jesus Christus tereggestel is], elke Vrydag, êrens in die heelal vir iemand se sondes gehang word.” Maar dit is nie skriftuurlik nie. Die Bybel deel ons mee dat Jesus ‘eens en vir altyd vir die sonde gesterwe’ het.—Romeine 6:10.
Gestel hierdie wesens het volmaak gebly? Wel, toe Adam en Eva gesondig het, het hulle in werklikheid God se reg om oor ’n wêreld van intelligente fisiese wesens te regeer bevraagteken. Sê nou ’n ander planeet het op daardie tydstip bestaan, ’n wêreld vol intelligente fisiese wesens wat in harmonie gelewe het en aan God se heerskappy lojaal was. Sou hulle nie as getuies geroep kon word om te getuig dat God se heerskappy inderdaad suksesvol is nie? Hierdie slotsom lyk onvermydelik, aangesien hy selfs onvolmaakte mense as sy getuies in daardie geskil gebruik het.—Jesaja 43:10.
Beteken dit dan dat God al daardie ontelbare miljoene sonne (en planete ás hulle bestaan) sonder ’n doel geskep het? Glad nie. Hoewel ons, met die oog op Jesus Christus se uniekheid weet dat die aarde tans die enigste bewoonde planeet in die heelal is, en hoewel ons ook weet dat dit vir ewig sal bestaan as die unieke planeet waar die Skepper die regmatigheid van sy heerskappy geregverdig het, weet ons nie wat die toekoms inhou nie.
Ons is nie alleen nie
Dag na dag, jaar in en jaar uit, hou SETI-sterrekundiges aan om die hemelruim te fynkam vir tekens van intelligente lewe. Hulle meen dat hulle soektog nog ’n dekade, of moontlik ’n eeu, kan duur. Hoe ironies tog! Hulle bestee hulle lewe, hulle verwagtinge en groot somme geld aan ’n sein wat die mensdom eeue gelede ontvang het. Want die Bybel self is ’n boodskap van ’n buiteaardse Intelligensie, en dit is in alle opsigte voortrefliker as die seine wat selfs die optimistiesste wetenskaplike verwag.—Sien venster op bladsy 10.
Hoe het die mensdom op die enigste ware buiteaardse boodskap gereageer? Hoe reageer mense oor die algemeen op die Bybel? Hulle ignoreer dit. Hulle pas dit opsetlik verkeerd toe vir hulle eie gewin. Hulle beledig die Sender daarvan met ’n verskriklike klomp ongegronde en bygelowige leringe. Hulle noem dit selfs bedrog en ontken die bestaan van die Sender daarvan. Dit is onnodig om te sê dat die mensdom se reaksie ons Skepper glad nie behaag nie. Nogtans het hy aangehou om te kommunikeer. Hy onderrig miljoene mense vandag in die weë van vrede deur middel van sy Woord. Hierdie mense verteenwoordig Jehovah en dra sy mededelings na die wêreld uit. Maar slegs ’n klein minderheid van die mensdom luister na hulle. Die wêreld oor die algemeen gee geen gehoor nie.—Jesaja 2:2-4; Mattheüs 24:14.
Maar gelukkig kan elkeen van ons met die grootste Wese in die heelal kommunikeer, en dit sonder duur tegnologie, sonder om ’n ewigheid vir boodskappe te wag om deur die lugruim te trek. Jy kan nou luister deur jou Bybel te bestudeer en aan jouself te bewys of dit inderdaad van ’n bomenslike Bron kom. Jy kan daaraan gehoor gee deur gebed en die wyse waarop jy jou lewe lei. Ons is nie alleen nie. Ons Skepper belowe dat ‘hy nie ver van elkeen van ons is nie’.—Handelinge 17:27; sien ook 1 Kronieke 28:9.
Hy het ook nog nie opgehou om met die mens te kommunikeer nie. Hy het belowe om die gang van wêreldgeskiedenis ingrypend te verander, om die mens in sy dolle vaart na selfvernietiging te stuit deur hierdie onpraktiese stelsel van dinge heeltemal tot niet te maak en dit deur sy eie regering te vervang, een wat werklik ten goede van almal sal werk (Daniël 2:44; Jesaja 9:5, 6). Ja, die volgende kommunikasie van die grootste buiteaardse Intelligensie beloof om in die vorm van aksie, nie woorde nie, te kom.—2 Thessalonicense 1:6-9.
[Voetnoot]
a Vir verdere bewys dat die Bybel in harmonie met beproefde wetenskap is, sien asseblief die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Venster op bladsy 10]
Die boodskappe wat wetenskaplikes Die boodskap wat
in hulle soektog na buiteaardse hulle ignoreer
intelligensie verwag: —God se Woord, die Bybel:
*Sal miskien vals alarms wees, *Kom wel van ’n bomenslike
aangesien hulle nie ongewoon is buiteaardse Intelligensie.
nie; moontlik gekskeerdery. —Jesaja 55:9; 2 Timotheüs 3:16.
*Sal miskien opleiding en die *Voorsien wel op die oomblik
voordele van miljoene jare se onderrigting aan miljoe,
ondervinding bied. met die voordeel van wysheid
*Sal ons dalk leer om *Leer miljoene tans wel om
kernslagting en alle oorlog vreedsaam te wees; sy Outeur
te vermy. belowe om die aarde vir ewig
te bewaar en om diegene te
vernietig wat dit vernietig.
*Sal moontlik genesing vir *Sy Outeur het sy vermoë
siektes en selfs die dood bied; gedemonstreer om alle
daar sal slegs sterftes weens siektes te genees; hy belowe
ongelukke wees. om ’n einde te maak aan die
dood en om die gevolge
daarvan ongedaan te maak,
deur ewige lewe tot stand
te bring.—Lukas 7:22;
*Sal miskien die mens se *Die Bybel se Outeur is nou
‘kosmiese alleenheid’ beëindig. “nie ver van elkeen van ons
nie”.—Handelinge 17:27.
*Sal dalk onmoontlik wees om te *Is geredelik beskikbaar vir
vertaal; sal duisende—miskien die mens. Ons kan dit nou
miljoene—jare neem om daarop te lees en daarop reageer.
antwoord en gesprekke te voer. Ons boodskappe word dadelik
ontvang.—Johannes 17:3;
*Die bogenoemde is alles op *Ons geloof in die
spekulasie en veronderstellinge bogenoemde is op bewyse en
gebaseer. op die rede gegrond.
[Prent op bladsy 11]
Ons kan met die grootste Wese in die heelal kommunikeer