Het die woude ’n toekoms?
OP PAASEILAND in die Stille Suidsee troon yslike klipkoppe oor grasryke heuwelhange en staar hulle wesenloos oor die see. Die mense wat hulle gebou het, het eeue gelede al uitgesterf. In die westelike deel van die Verenigde State is die murasies van eertydse geboue in eensame woestenye die enigste oorblyfsels van ’n volk wat verdwyn het lank voor Witmense dit ooit daar gewaag het. Party Bybellande waar die beskawing en handel eens floreer het, is nou winderige woestyne. Waarom?
In al drie gevalle is ontbossing deels die antwoord. Party deskundiges meen dat mense hierdie gebiede moes verlaat omdat hulle die woude daar uitgewis het. Sonder bome het die grond onvrugbaar geword, en die mens het toe verder getrek. Maar vandag dreig die mens om dieselfde met die hele planeet te doen. Sal hy? Kan niks die proses keer nie?
Talle probeer. In die Himalaja het vrouens na bewering aan bome vasgeklou in desperate pogings om te keer dat houtkappers die bome afkap. In Maleisië het stamlede wat in die woude woon hande aanmekaargevat en kettings gevorm om naderende houtkappers en hulle swaar masjiene te keer.
Die tweehonderdmiljoen mense wat uit die reënwoude ’n bestaan voer, het ’n baie persoonlike aandeel in die krisis. Namate die beskawing uitbrei, trek inboorlingstamme al hoe dieper die woude in, partykeer totdat hulle koloniste raakloop wat van die ander kant nader. Baie stamme word deur die siektes van die buitestaanders uitgewis. Ander, wat gedwing word om hulle by die buitewêreld aan te pas, beland onder die stedelike armes—vervreemd en losbandig. Maar die wêreld raak bewus van hulle verknorsing. ’n Gevoel van omgewingsbewaring het die aardbol begin deurtrek.
Kan omgewingsbewaarders die verskil maak?
“Sowel die kennis as die tegnologie bestaan om die wêreld se tropiese woude te red”, begin die boek Saving the Tropical Forests. Die verklaring word in parke dwarsoor die wêreld bewys. Guanacaste- Nasionale Park in Costa Rica spits hom daarop toe om uitgestrekte woudstreke te herbeplant. Bome word by die miljoene aangeplant in lande soos Kenia, Indië, Haïti en China. Maar om bome aan te plant is nie heeltemal dieselfde as om woude te herstel nie.
Soms is “herbebossing” in werklikheid die kommersiële aanplanting van ’n enkele boomspesie wat later afgekap sal word. Dit is nouliks dieselfde as die komplekse ekosisteem van ’n reënwoud. Daarbenewens sê sommige dat ’n vogtige tropiese reënwoud nooit tot sy oorspronklike kompleksiteit herstel kan word nie. Geen wonder dat baie omgewingsbewaarders volhou dat bewaring beter as herstelling is nie.
Maar bewaring is nie so maklik soos dit klink nie. As ’n woud te klein is, sal dit nie voortbestaan nie. Party omgewingsbewaarders doen aan die hand dat minstens 10 tot 20 persent van die wêreld se reënwoude as reservate opsygesit moet word indien hulle hul oorvloedige verskeidenheid moet behou. Maar tans word slegs 3 persent van Afrika se reënwoude beskerm. In Suidoos-Asië is die syfer 2 persent; in Suid-Amerika, 1 persent.
En party van daardie gebiede word slegs op skrif beskerm. Parke en reservate faal wanneer hulle swak beplan of bestuur word of wanneer verdorwe beamptes parkfondse in hulle eie sak steek. Party verdien selfs geld deur agteraf konsessies vir houtkappery toe te staan. Daarbenewens is mannekrag skaars. In die Amasone is ’n enkele wag aangewys om ’n reënwoudgebied so groot soos Frankryk te beskerm.
Omgewingsbewaarders dring ook daarop aan dat boere geleer word hoe om te boer sonder om die grond uit te put, sodat hulle nie gedwing word om verder te trek en ander dele van die woud af te kap nie. Sommige probeer ’n groot verskeidenheid produkte verbou wat saam op een stuk grond groei, sodat dit plae wat van een spesie leef, teenwerk. Vrugtebome kan die grond teen die tropiese reëns beskerm. Ander het ’n ou tegniek laat herlewe. Hulle grawe kanale rondom klein tuinakkers en skep modder en alge uit die kanale op die stukke grond as voedingstowwe vir die gewasse. Visse kan in die kanale gekweek word as ’n bykomende voedselbron. Sulke metodes het reeds groot sukses in eksperimente behaal.
Maar om mense te leer hoe om dit te doen, verg tyd en geld en vaardigheid. Tropiese nasies het dikwels te veel onmiddellike ekonomiese probleme om daardie soort langtermynbelegging te maak. Maar al was tegniese vernuf algemeen, sou dit die probleem nie oplos nie. Michael H. Robinson skryf in Saving the Tropical Forests: “Die reënwoude word nie uit onkunde of dwaasheid vernietig nie, maar grootliks as gevolg van armoede en hebsug.”
Die wortel van die probleem
Armoede en hebsug. Dit lyk of die ontbossingskrisis sy wortels diep in die struktuur van die menslike samelewing indring, veel dieper as wat die reënwoud se bome hulle wortels in die vlak tropiese grond indring. Is die mensdom in staat om die probleem te ontwortel?
’n Spitsberaad wat verlede jaar deur 24 nasies in Den Haag, Nederland, bygewoon is, het die instelling van ’n nuwe gesag binne die Verenigde Volke voorgestel, wat Globe genoem moet word. Volgens Londen se Financial Times sal Globe “ongeëwenaarde magte [besit] om omgewingstandaarde tot stand te bring en toe te pas”. Hoewel nasies van hulle gekoesterde nasionale soewereiniteit sal moet prysgee as Globe enigsins wesenlike beheer wil uitoefen, is sommige van mening dat dit onvermydelik is dat so ’n organisasie eendag tot stand sal kom. Slegs ’n verenigde, wêreldwye mag kan wêreldprobleme aanpak.
Dit spreek vanself. Maar watter menseregering of mag kan hebsug en armoede uitroei? Watter regering kon dit tot dusver regkry? Hulle is alte dikwels op hebsug gegrond en laat armoede dus voortbestaan. Nee, as ons moet wag dat ’n menslike instelling die ontbossingskrisis oplos, het die woude geen toekoms nie; trouens, die mens ook nie.
Maar oorweeg die volgende. Lewer die woude nie bewys dat hulle deur ’n besonder intelligente wese geskep is nie? Ja, beslis! Van hulle wortels tot hulle blare verklaar die reënwoude dat hulle die handewerk van ’n Meesterontwerper is.
Wel, sal hierdie Groot Ontwerper die mens toelaat om al die reënwoude uit te wis en ons aarde te verderf? ’n Belangrike profesie in die Bybel beantwoord hierdie vraag ronduit. Dit lui: “En die nasies was vertoornd, en u [God se] toorn het gekom en die tyd . . . om die verderwers van die aarde te verderf.”—Openbaring 11:18.
Daar is twee merkwaardige dinge aangaande daardie profesie. Ten eerste dui dit op die tyd wanneer die mens daartoe in staat sal wees om die hele aarde te verderf. Toe daardie woorde bykans tweeduisend jaar gelede geskryf is, kon die mens net so min die aarde verderf as wat hy maan toe kon vlieg. Maar vandag doen hy altwee. Ten tweede beantwoord die profesie die vraag of die mens die aarde heeltemal sal verderf—met ’n dawerende nee!
God het die mens gemaak om na die aarde om te sien en dit te bewerk, nie om dit kaal te stroop nie. In eertydse Israel het hy perke gestel op die mate waarin sy volk die Beloofde Land kon ontbos na hulle dit verower het (Deuteronomium 20:19, 20). Hy belowe dat die hele mensdom in die nabye toekoms in harmonie met die omgewing sal lewe.—1 Johannes 2:17; Jeremia 10:10-12.
Die Bybel bied hoop, hoop op ’n tyd wanneer die mens die aarde in ’n paradys sal omskep pleks van dit tot ’n woestyn plat te stoot, dit sal herstel pleks van te skend, dit met versiendheid sal oppas pleks van dit gulsig droog te melk vir ’n oomblik se gewin. Die woude het ’n toekoms. Die verdorwe stelsel van dinge wat die woude en die hele aarde verderf, het geen toekoms nie.
[Prent op bladsy 13]
Ontbossing hier op Paaseiland het moontlik veroorsaak dat ’n beskawing verdwyn het
[Erkenning]
H. Armstrong Roberts