Bedrog in die wetenskap—’n Groter bedrog
Bedrog word gedefinieer as “’n daad van misleiding of wanvoorstelling”. Dit is die “opsetlike verdraaiing van waarheid om iemand anders te oorreed om van iets waardevols af te sien”.—Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary.
“EVOLUSIE is ’n feit.” Dit is die standaardgeloofsbelydenis wat die wetenskaplike gemeenskap van jou ortodoksie verseker. En vir die publiek word dié bewering dikwels bygevoeg: ‘Dit is al so dikwels bewys dat dit nie meer nodig is om die bewys te herhaal nie.’ Dit is baie gerieflik, veral omdat die evolusionis geen bewys het om te herhaal nie. Nogtans word die stelling jare lank reeds oor en oor herhaal, soos ’n mistieke dreungesang: “Evolusie is ’n feit.”
Verlede jaar in April het bioloog Richard Dawkins in ’n boekoorsig in die tydskrif The New York Times Book Review geskryf: “Ons praat hier oor evolusie as feit, ’n feit waarvoor daar onomstootlike bewys is.” Hy het toe gesê dat dit “net soveel sin het [om die skepping] in biologieklasse [te bespreek] as om te vra dat ewe veel tyd tydens astronomieklasse gewy word aan die teorie dat die aarde plat is. Of, soos iemand opgemerk het, kan jy net sowel ewe veel tyd tydens geslagsvoorligtingsklasse vir die ooievaarteorie eis. Wanneer jy iemand ontmoet wat beweer dat hy nie in evolusie glo nie, is dit heeltemal veilig om te sê dat daardie persoon onkundig, dom of versteurd is (of sleg, maar ek sal dit liewer nie oorweeg nie).”
Stephen Jay Gould het in die wetenskaptydskrif Discover se nommer vir Januarie 1987 ’n verhandeling oor evolusie geskryf. Hy was vasbeslote om mense te oortuig, aangesien hy in hierdie artikel van vyf bladsye 12 keer verklaar het dat evolusie ’n feit is! Hier is ’n paar uittreksels uit die artikel:
Darwin se lewenstaak was “om die evolusionêre feit te bewys”. “Evolusie as feit is so goed vasgestel soos enigiets anders in die wetenskap (so seker soos die aarde se wenteling om die son).” Toe Darwin gesterf het, “het bykans alle denkers evolusie as feit aanvaar”. Gould het daarvan gepraat as ’n “vasstaande feit” en “die feit van transmutasie”. “Evolusie is ook ’n feit van die natuur.” “Evolusie is so goed vasgestel soos enige wetenskaplike feit.” “Ons vertroue in evolusie as feit berus op oorvloedige gegewens.” Hy praat van bioloë se eenstemmigheid “oor evolusie as feit”. “Teoloë word nie deur evolusie as feit gekwel nie.” “Ek ken honderde wetenskaplikes wat oortuig is dat evolusie ’n feit is.”
Op een plek in die artikel het Gould gesê: “Ek wil nie soos ’n kras dogmatis klink . . . nie, maar bioloë het eenstemmigheid bereik . . . oor evolusie as feit.” Maar klink dit nie juis soos “’n kras dogmatis” nie?
Molekulêre bioloog Michael Denton het na hierdie slim praatjies wat evolusie as feit bestempel, verwys en dit met hierdie woorde verwerp: “Natuurlik is sulke bewerings eenvoudig onsin.” Dit is veel meer as onsin. Dit is bedrog. Dit is misleidend en ’n wanvoorstelling. Dit verdraai die waarheid om iemand anders te oorreed om van iets waardevols af te sien. Koerante, die radio, die TV, natuurreekse, wetenskapprogramme, boeke wat van die tweede jaar op skool gebruik word—al dié dinge hamer hierdie ‘evolusie is ’n feit’-litanie in die verstand van die publiek. The New York Times het egter onlangs berig dat die skoolraad van Kalifornië riglyne gegee het wat blykbaar bepaal dat wetenskaphandboeke minder klem moet lê op evolusie as feit.—10 November 1989.
Dit is dieselfde taktiek as dié van die owerpriesters en die Fariseërs in die dae van Jesus. Toe dienaars uitgestuur is om Jesus in hegtenis te neem en hulle sonder hom teruggekom het, het die Fariseërs gevra: “Waarom het julle Hom nie gebring nie? Die dienaars antwoord: Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie. En die Fariseërs antwoord hulle: Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek!” (Johannes 7:45-49). Die tirannie van gesag: ‘Geeneen van die vooraanstaande mense, geeneen van die geleerde mense het Jesus as Messias aanvaar nie. Slegs die dwase vervloektes het.’
Vandag gebruik evolusioniste dieselfde benadering as die Fariseërs: ‘Glo wat ons glo’ sê hulle. ‘Alle bekwame wetenskaplikes glo in evolusie. Alle intelligente mense glo daarin. Slegs die ongeletterdes en die onkundiges glo dit nie.’ Deur sulke intimidasie en verstandelike afknouery word groot menigtes na die evolusioniste se kamp gedryf. Hulle is onbewus van die evolusieteorie se swakhede en gebreke of die ongegronde bespiegelinge en hipotetiese onmoontlikhede daarvan—soos dat lewe uit lewelose chemikalieë ontstaan het.a Gevolglik word hulle deur die evolusiepropagandiste se herhaalde mantras meegevoer. Die teorie word dogma, die verkondigers daarvan raak verwaand, en andersdenkendes maai minagtende beledigings. Die taktiek werk. Dit het gewerk in Jesus se dag; dit werk ook vandag.
Die propagandaspreuk ‘Evolusie is ’n feit’ bestaan uit net vier woorde en is beperk (beperk wat inhoud betref), is ’n eenvoudige sin (maklik om te sê) en word aanhoudend herhaal (selfs 12 keer in een kort verhandeling). Dit voldoen aan die vereistes vir doeltreffende breinspoelingspropaganda, en met herhaling word dit ’n slagspreuk—en slagspreuke wat oral herhaal word, word gou in die brein ingeprent en rol gou van die tong af sonder dat dit juis krities ondersoek of skepties ontleed word. As ’n teorie eers in die gedagtes van die gemeenskap as slagspreuk posgevat het, is dit nie meer nodig om dit te bewys nie, en enigeen wat nie daarmee saamstem nie, word bespot. Wanneer sulke andersdenkendes die slagspreuk se geldigheid rasioneel weerlê, is hulle ’n bron van besondere irritasie en kry hulle die enigste beskikbare antwoord, bespotting.
Evolusioniste wat spesialiseer in die Groot Leuen dat ‘Evolusie ’n feit is’, gebruik weer eens dieselfde strategie as Hitler, want in sy boek het hy oor die menigtes wat hy beheer het, gesê: “Met die primitiewe eenvoud van hulle verstande sal hulle makliker die slagoffers van ’n groot leuen as van ’n kleintjie word, aangesien hulle self moontlik somtyds oor klein dingetjies leuens vertel, maar sekerlik te skaam sal wees om alte groot leuens te vertel.” ’n Boek met gewilde aanhalings meld onder andere hierdie een: “As jy ’n groot genoeg leuen vertel en dit dikwels genoeg vertel, sal baie dit glo.” Die leuen wat evolusioniste vertel, is blykbaar groot genoeg, en dit word gewis dikwels genoeg vertel, want miljoene glo dit.
Dit is ’n leuen wat ook bedrog is, want dit is “’n daad van misleiding of wanvoorstelling”, ’n “opsetlike verdraaiing van waarheid om iemand anders te oorreed om van iets waardevols af te sien”. Evolusioniste, wat beweer dat diere, wat met ’n mikrobe begin het en in ’n aap geëindig het, die mens se voorouers was, het ‘die waarheid van God vir die leuen verruil’. Met hierdie leuen oorreed hulle talle om van iets baie waardevols af te sien—hulle geloof in God as hulle Skepper.—Romeine 1:25.
Hierdie bedrog rig ontsettende skade aan. Die slagoffers daarvan meen dat hulle vrygestel is van die Skepper se wette en maak hulle eie wette: ‘Geen reg of verkeerd nie. Bevredig alle vleeslike begeertes. Doen wat jy wil. Dit is nie nodig om skuldig te voel nie.’ Die gevolg is die onkeerbare en algehele sedelike verval. Omdat hulle hul van hulle Skepper en die suiwer waardes van die Bybel afgekeer het, verarm hulle geestelik en word hulle “soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word”.—2 Petrus 2:12.
[Voetnoot]
a Sien hoofstuk 4 van die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., gepubliseer word.
[Venster op bladsy 9]
“Propaganda sal nie suksesvol wees tensy ’n fundamentele beginsel deurentyd noukeurig gevolg word nie: dit moet tot min beperk wees en vir ewig herhaal word. Ook hier is deursettingsvermoë, soos met so baie ander dinge in hierdie wêreld, die eerste en die belangrikste vereiste vir sukses. . . . Die volksmassa . . . sal slegs die duisendvoudige herhaling van die eenvoudigste gedagtes onthou. ’n Verandering moet nooit die inhoud van die propaganda se oogmerk wysig nie, maar op die ou end moet dit altyd dieselfde sê. Die slagspreuk moet dus van verskeie kante opgehelder word, maar die finale boodskap van elke omskrywing moet altyd weer die slagspreuk self wees.”—Mein Kampf, deur Adolf Hitler.
[Venster op bladsy 10]
Propaganda oor die Groot Leuen
“Evolusie word universeel as feit aanvaar.”—Limitations of Science, 1933.
“Evolusie as ’n historiese feit is voor die laaste dekades van die negentiende eeu onweerlegbaar bewys.”—The Biological Basis of Human Freedom, 1956.
“Die evolusie van lewe is nie meer ’n teorie nie. Dit is ’n feit.”—Julian Huxley, 1959.
“Alle agtenswaardige bioloë het saamgestem dat die evolusie van lewe op die aarde ’n vasstaande feit is.”—Biology for You, 1963.
“Enigeen wat blootgestel word aan die bewyse wat evolusie steun, moet erken dat dit ’n historiese feit is.”—New Orleans se Times-Picayune, 1964.
“Die evolusieteorie is vandag vir almal buiten ’n handjievol fundamentaliste ’n aanvaarde feit.”—James D. Watson, 1965.
“Evolusie word nou as ’n feit erken.”—Science on Trial, 1983.
“Ons beskik wel oor onbetwisbare bewyse dat evolusie ’n feit is.”—Ashley Montagu, 1984.