DANIËL
1 In die derde regeringsjaar van koning Jojaʹkim+ van Juda het koning Nebukadneʹsar van Babilon teen Jerusalem opgetrek en dit beleër.+ 2 En Jehovah het koning Jojaʹkim van Juda in sy hand gegee,+ sowel as party van die voorwerpe van die huis* van die ware God. Hy het dit na die land Siʹnear*+ gebring, na die tempel van sy god. En hy het die voorwerpe in die skatkamer van sy god gesit.+
3 Toe het die koning sy hoofhofbeampte, Asʹpenas, beveel om van die jong Israeliete te bring, veral dié uit die koninklike familie en uit ander belangrike families.+ 4 Die jongmense moes aantreklik en sonder enige gebrek wees. Hulle moes wysheid, kennis en insig hê+ en in staat wees om in die paleis van die koning te dien. Hy moes hulle die skrif en die taal van die Galdeërs leer. 5 En die koning het beveel dat daar vir hulle ’n daaglikse porsie van die koning se kos en wyn gegee moet word. Hulle moes drie jaar lank opgelei* word, en daarna sou hulle in die diens van die koning aangestel word.
6 En onder hulle was daar sommige uit die stam van Juda: Daniël,*+ Hananʹja,* Miʹsael* en Asarʹja.*+ 7 En die hoofhofbeampte het vir hulle ander name* gegee. Hy het vir Daniël die naam Beltʹsasar+ gegee, vir Hananʹja die naam Sadrag, vir Miʹsael die naam Mesag en vir Asarʹja die naam Abedneʹgo.+
8 Maar Daniël het in sy hart besluit om rein te bly en nie van die kos en die wyn van die koning te eet en te drink nie. Daarom het hy die hoofhofbeampte vir toestemming gevra om nie die dinge te eet wat hom onrein sou maak nie. 9 En die ware God het die hoofhofbeampte beweeg om goedheid en genade aan Daniël te betoon.+ 10 Maar die hoofhofbeampte het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir my heer die koning, want hy het gesê wat julle moet eet en drink. Sê nou hy sien dat julle nie so goed lyk soos die ander jongmense van julle ouderdom nie? Dan sal ek in die moeilikheid wees by die koning.” 11 Maar Daniël het vir die amptenaar wat deur die hoofhofbeampte oor Daniël, Hananʹja, Miʹsael en Asarʹja aangestel is, gesê: 12 “Gee u knegte asseblief tien dae kans. Laat hulle vir ons groente gee om te eet en water om te drink. 13 Vergelyk dan hoe ons lyk met hoe die ander jongmense lyk wat die koning se kos eet, en besluit dan wat met u knegte gedoen moet word.”
14 Hy het toe ingestem dat hulle dit tien dae lank kan probeer. 15 Ná die tien dae het hulle beter en gesonder gelyk as al die jongmense wat die koning se kos geëet het. 16 Die amptenaar het dus aangehou om vir hulle groente te gee in plaas van die koning se kos en wyn. 17 En die ware God het aan hierdie vier jongmense kennis en wysheid gegee, asook insig in alles wat geskryf is. En Daniël is die vermoë gegee om allerhande visioene en drome te verstaan.+
18 Aan die einde van die tydperk wat die koning vasgestel het,+ het die hoofhofbeampte hulle voor Nebukadneʹsar ingebring. 19 Die koning het toe met hulle gepraat, en daar was niemand in die hele groep soos Daniël, Hananʹja, Miʹsael en Asarʹja nie.+ En hulle is in die diens van die koning aangestel. 20 Elke keer wanneer die koning hulle gevra het oor ’n saak wat wysheid en insig vereis het, het hy gesien dat hulle tien keer beter is as al die towerpriesters en die towenaars*+ in sy hele koninkryk. 21 En Daniël het tot die eerste jaar van koning Kores+ daar gebly.
2 In Nebukadneʹsar se tweede regeringsjaar het hy drome gehad wat hom so ontstel het+ dat hy nie kon slaap nie. 2 Daarom het die koning beveel dat die towerpriesters, die waarsêers, die towenaars en die Galdeërs* geroep moet word om vir hom te vertel wat hy gedroom het. En hulle het ingekom en voor die koning gaan staan.+ 3 Toe het die koning vir hulle gesê: “Ek het ’n droom gehad, en ek is ontsteld, want ek wil weet wat ek gedroom het.” 4 Die Galdeërs het die koning in die Aramese taal* geantwoord:+ “O koning, mag u vir ewig lewe. Vertel vir u knegte wat u gedroom het, en ons sal vir u sê wat dit beteken.”
5 Die koning het die Galdeërs geantwoord: “Ek het klaar besluit: As julle nie vir my sê wat ek gedroom het en wat die droom beteken nie, sal julle in stukke gekap word, en julle huise sal in openbare toilette* verander word. 6 Maar as julle vir my sê wat ek gedroom het en wat die droom beteken, sal ek vir julle geskenke en ’n beloning en groot eer gee.+ Sê dus vir my wat ek gedroom het en wat die droom beteken.”
7 Hulle het ’n tweede keer geantwoord: “Laat die koning vir sy knegte vertel wat hy gedroom het, en ons sal vir u sê wat die droom beteken.”
8 Die koning het geantwoord: “Ek weet goed dat julle tyd probeer wen, want julle weet wat ek besluit het. 9 As julle nie vir my sê wat ek gedroom het nie, sal julle almal dieselfde straf kry. Maar julle het ooreengekom om my met leuens om die bos te lei in die hoop dat ek van plan sal verander. Sê dus vir my wat ek gedroom het, en ek sal weet dat julle kan verduidelik wat die droom beteken.”
10 Die Galdeërs het die koning geantwoord: “Daar is nie ’n mens op die aarde wat kan doen wat die koning beveel nie, want geen groot koning of goewerneur het al ooit so iets van enige towerpriester of waarsêer of Galdeër gevra nie. 11 Wat die koning vra, is moeilik, en daar is niemand wat dit aan die koning kan openbaar nie, behalwe die gode, en hulle woon nie onder blote mense nie.”
12 Toe die koning dit hoor, het hy briesend kwaad geword en beveel dat al die wyse manne van Babilon doodgemaak moet word.+ 13 Toe die bevel gegee is om die wyse manne dood te maak, het hulle Daniël en sy vriende ook gaan soek om hulle dood te maak.
14 Aʹriog, die hoof van die koning se lyfwag, het uitgegaan om die wyse manne van Babilon dood te maak. Toe het Daniël op ’n versigtige en taktvolle manier met hom gaan praat. 15 Hy het vir Aʹriog, die beampte van die koning, gevra: “Hoekom het die koning so ’n wrede bevel gegee?” Toe het Aʹriog vir Daniël vertel wat gebeur het.+ 16 Daniël het toe na die koning gegaan en hom gevra om hom tyd te gee sodat hy vir die koning kon sê wat die droom beteken.
17 Daarna het Daniël na sy huis gegaan en vir sy vriende Hananʹja, Miʹsael en Asarʹja van die saak vertel. 18 Hy het hulle gevra om die God van die hemel om genade te smeek en te vra dat Hy die geheim moet openbaar, sodat Daniël en sy vriende nie saam met die res van die wyse manne van Babilon doodgemaak sou word nie.
19 Toe is die geheim in die nag in ’n visioen aan Daniël geopenbaar.+ Daarom het Daniël die God van die hemel geloof. 20 Daniël het gesê:
“Laat die naam van God tot in alle ewigheid geloof word,
want hy alleen het wysheid en mag.+
21 Hy verander tye en tydperke,+
verwyder konings en stel konings aan,+
gee wysheid aan die wyses en kennis aan dié wat insig het.+
22 Hy openbaar die diep dinge en die geheime dinge.+
23 Ek dank en loof u, o God van my voorvaders,
want u het vir my wysheid en mag gegee.
En nou het u aan my bekend gemaak wat ons u gevra het.
U het aan ons bekend gemaak wat die koning wil weet.”+
24 Toe het Daniël na Aʹriog gegaan, wat deur die koning aangestel is om die wyse manne van Babilon dood te maak,+ en hy het vir hom gesê: “Moenie een van die wyse manne van Babilon doodmaak nie. Neem my na die koning toe, en ek sal vir die koning sê wat die droom beteken.”
25 Aʹriog het Daniël dadelik na die koning toe geneem en vir hom gesê: “Ek het ’n man onder die ballinge* van Juda+ gevind wat vir die koning kan sê wat die droom beteken.” 26 Die koning het vir Daniël, wat die naam Beltʹsasar+ ontvang het, gevra: “Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat die droom beteken?”+ 27 Daniël het die koning geantwoord: “Nie een van die wyse manne, waarsêers, towerpriesters of sterrevoorspellers kan die geheim waaroor die koning vra aan hom openbaar nie.+ 28 Maar daar is ’n God in die hemel wat ’n Openbaarder van geheime is,+ en hy het aan koning Nebukadneʹsar bekend gemaak wat aan die einde van die dae gaan gebeur. Dít is u droom, en dít is die visioene wat u gesien het terwyl u op u bed gelê het:
29 “Op u bed, o koning, het u gedroom van wat in die toekoms gaan gebeur, en die Openbaarder van geheime het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur. 30 Hierdie geheim is nie aan my geopenbaar omdat ek meer wysheid het as enigiemand anders nie, maar sodat die betekenis van die droom aan die koning bekend gemaak kan word en sodat u kan weet wat u gedroom het.+
31 “U, o koning, het ’n groot beeld* gesien. Die beeld was ontsaglik groot en het baie geblink. Dit het voor u gestaan, en dit was skrikwekkend. 32 Die kop van die beeld was van suiwer goud,+ sy bors en sy arms was van silwer,+ sy maag en sy bobene was van koper,+ 33 sy bene was van yster,+ en sy voete was gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.*+ 34 Terwyl u gekyk het, is ’n klip uit ’n berg uitgekap, maar nie deur mensehande nie, en dit het die beeld op sy voete van yster en van klei getref en hulle verpletter.+ 35 Toe is die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud alles saam verpletter, en dit het soos kaf op die dorsvloer in die somer geword, en die wind het dit weggewaai sodat geen spoor daarvan gevind kon word nie. Maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot berg geword, en dit het die hele aarde gevul.
36 “Dit is die droom, en ons sal nou vir die koning sê wat dit beteken. 37 U, o koning – die koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koninkryk,+ die mag, die sterkte en die heerlikheid gegee het, 38 en in wie se hand hy mense gegee het, waar hulle ook al woon, sowel as die diere van die veld en die voëls van die hemel, en wat hy as heerser oor hulle almal aangestel het+ – u is die kop van goud.+
39 “Maar ná u sal daar ’n ander koninkryk wees,+ wat nie so belangrik soos u sal wees nie, en daarna nog ’n koninkryk, ’n derde, van koper, wat oor die hele aarde sal regeer.+
40 “En die vierde koninkryk sal so sterk soos yster wees.+ Want net soos yster alles stukkend breek en vernietig, ja, soos yster wat verpletter, sal dit al die ander stukkend breek en verpletter.+
41 “En die feit dat die voete en die tone wat u gesien het gedeeltelik van klei en gedeeltelik van yster was, beteken dat die koninkryk verdeeld sal wees. Maar daar sal van die hardheid van yster daarin wees, want soos u gesien het, was daar yster tussen die sagte klei. 42 En net soos die tone van die voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei was, so sal die koninkryk gedeeltelik sterk en gedeeltelik swak wees. 43 En die feit dat u yster gesien het wat met sagte klei gemeng was, beteken dat hulle met die gewone mense gemeng sal wees, maar hulle sal nie aan mekaar kleef nie, net soos yster en klei nie meng nie.
44 “In die dae van daardie konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig+ wat nooit vernietig sal word nie.+ En hierdie koninkryk sal nie aan ’n ander volk oorgedra word nie.+ Dit sal al daardie koninkryke vernietig en ’n einde aan hulle maak,+ en dit alleen sal vir ewig bestaan.+ 45 Dit sal wees net soos u gesien het: Die klip wat uit die berg gekap is, maar nie deur mensehande nie, het die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verpletter.+ Die Groot God het aan die koning bekend gemaak wat in die toekoms sal gebeur.+ Die droom is waar, en die betekenis daarvan is betroubaar.”
46 Toe het koning Nebukadneʹsar op sy knieë voor Daniël neergeval en aan hom eer bewys. En hy het beveel dat ’n geskenk vir hom gegee moet word en dat reukwerk vir hom gebrand moet word. 47 Die koning het vir Daniël gesê: “Julle God is beslis God van die gode en Here van die konings en ’n Openbaarder van geheime, want jy het dit reggekry om hierdie geheim te openbaar.”+ 48 Die koning het Daniël toe ’n belangrike man gemaak en vir hom baie, waardevolle geskenke gegee, en hy het hom die heerser oor die hele Babilon-provinsie+ en die hoofprefek oor al die wyse manne van Babilon gemaak. 49 En op Daniël se versoek het die koning Sadrag, Mesag en Abedneʹgo+ oor die administrasie van die Babilon-provinsie aangestel, maar Daniël het in die koning se paleis gedien.
3 Koning Nebukadneʹsar het ’n goue beeld* gemaak wat 60 el* hoog en 6 el* breed was. Hy het dit in die Dura-vlakte in die Babilon-provinsie opgerig. 2 Toe het koning Nebukadneʹsar beveel dat die satrape, prefekte, goewerneurs, raadgewers, skatmeesters, regters, magistrate en al die administrateurs van die provinsies bymekaargeroep moet word vir die inwyding van die beeld wat koning Nebukadneʹsar opgerig het.
3 Toe het die satrape, prefekte, goewerneurs, raadgewers, skatmeesters, regters, magistrate en al die administrateurs van die provinsies bymekaargekom vir die inwyding van die beeld wat koning Nebukadneʹsar opgerig het. En hulle het voor die beeld gestaan wat Nebukadneʹsar opgerig het. 4 Die aankondiger het hard uitgeroep: “O volke, nasies en taalgroepe, luister na hierdie bevel: 5 Sodra julle die geluid van die horing, fluit, siter, harp, lier, doedelsak en al die ander musiekinstrumente hoor, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadneʹsar opgerig het. 6 Elkeen wat nie neerval en aanbid nie, sal onmiddellik in die brandende vuuroond gegooi word.”+ 7 Toe al die volke, nasies en taalgroepe die geluid van die horing, fluit, siter, harp, lier en al die ander musiekinstrumente hoor, het hulle almal dus neergeval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadneʹsar opgerig het.
8 Toe het party van die Galdeërs na die koning gegaan en die Jode beskuldig. 9 Hulle het vir koning Nebukadneʹsar gesê: “O koning, mag u vir ewig lewe. 10 U, o koning, het die bevel gegee dat almal wat die geluid van die horing, fluit, siter, harp, lier, doedelsak en al die ander musiekinstrumente hoor, moet neerval en die goue beeld moet aanbid 11 en dat elkeen wat nie neerval en aanbid nie, in die brandende vuuroond gegooi moet word.+ 12 Maar daar is sekere Jode wat u oor die administrasie van die Babilon-provinsie aangestel het: Sadrag, Mesag en Abedneʹgo.+ Hierdie manne het hulle nie aan u gesteur nie, o koning. Hulle dien nie u gode nie, en hulle weier om die goue beeld wat u opgerig het, te aanbid.”
13 Toe het Nebukadneʹsar woedend geword en beveel dat Sadrag, Mesag en Abedneʹgo na hom toe gebring moet word. Hierdie manne is dus voor die koning gebring. 14 Nebukadneʹsar het vir hulle gesê: “Sadrag, Mesag en Abedneʹgo, is dit werklik so dat julle nie my gode dien nie+ en dat julle weier om die goue beeld wat ek opgerig het, te aanbid? 15 As julle dan nou bereid is om neer te val en die beeld wat ek gemaak het, te aanbid wanneer julle die geluid van die horing, die fluit, die siter, die harp, die lier, die doedelsak en al die ander musiekinstrumente hoor, dan is alles reg. Maar as julle weier om te aanbid, sal julle onmiddellik in die brandende vuuroond gegooi word. En wie is die god wat julle uit my hand kan red?”+
16 Sadrag, Mesag en Abedneʹgo het die koning geantwoord: “O Nebukadneʹsar, dit is nie eers vir ons nodig om u te antwoord nie. 17 As dit gebeur, kan ons God wat ons dien, ons uit die brandende vuuroond en uit u hand red, o koning.+ 18 Maar selfs as hy dit nie doen nie, moet u weet, o koning, dat ons nie u gode sal dien of die goue beeld sal aanbid wat u opgerig het nie.”+
19 Toe het Nebukadneʹsar so kwaad geword vir Sadrag, Mesag en Abedneʹgo dat sy gesindheid* teenoor hulle verander het. En hy het beveel dat die oond sewe keer warmer as gewoonlik gemaak moet word. 20 Hy het van die sterk manne in sy leërmag beveel om Sadrag, Mesag en Abedneʹgo vas te bind en hulle in die brandende vuuroond te gooi.
21 Toe is hierdie manne vasgebind en met klere en al, met hulle mantels, tulbande en al hulle ander klere aan, in die brandende vuuroond gegooi. 22 Omdat die koning se bevel so streng was en die oond buitengewoon warm gemaak is, is die manne wat Sadrag, Mesag en Abedneʹgo na die oond geneem het, deur die vlamme van die vuur doodgebrand. 23 En hierdie drie manne, Sadrag, Mesag en Abedneʹgo, wat vasgebind was, het in die brandende vuuroond geval.
24 Koning Nebukadneʹsar het toe bang geword en dadelik opgestaan en vir sy hoë amptenare gevra: “Het ons nie drie manne vasgebind en in die vuur gegooi nie?” Hulle het die koning geantwoord: “Ja, o koning.” 25 Hy het gesê: “Kyk! Ek sien vier manne in die vuur rondloop. Hulle is nie vasgebind nie en hulle makeer niks nie. En die vierde man lyk soos ’n seun van die gode.”
26 Nebukadneʹsar het nader aan die deur van die brandende vuuroond gegaan en gesê: “Sadrag, Mesag en Abedneʹgo, knegte van die allerhoogste God,+ kom uit en kom hier na my toe!” Toe het Sadrag, Mesag en Abedneʹgo uit die vuur uitgekom. 27 En die satrape, prefekte, goewerneurs en die hoë amptenare van die koning wat daar bymekaar was,+ het gesien dat die vuur niks aan hierdie manne gedoen het nie.+ Nie eers ’n haar op hulle kop was geskroei nie, hulle mantels het nog dieselfde gelyk en hulle het nie eers na vuur geruik nie.
28 Nebukadneʹsar het toe gesê: “Mag die God van Sadrag, Mesag en Abedneʹgo geloof word,+ wat sy engel gestuur en sy knegte gered het. Hulle het op hom vertrou en het geweier om die koning se bevel te gehoorsaam. Hulle was bereid om te sterf eerder as om enige ander god as hulle eie God te dien en te aanbid.+ 29 Ek beveel dus dat enige volk, nasie of taalgroep wat enigiets teen die God van Sadrag, Mesag en Abedneʹgo sê, in stukke gekap moet word, en hulle huise moet in openbare toilette* verander word, want daar is geen ander god wat kan red soos dié een nie.”+
30 Die koning het Sadrag, Mesag en Abedneʹgo toe hoër posisies gegee* in die Babilon-provinsie.+
4 “Hier volg ’n boodskap van koning Nebukadneʹsar aan al die volke, nasies en taalgroepe op die hele aarde: Mag julle groot vrede hê! 2 Ek wil graag die tekens en wonders aan julle bekend maak wat die allerhoogste God vir my gedoen het. 3 Hoe groot is sy tekens, en hoe magtig is sy wonders! Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, en sy heerskappy duur van geslag tot geslag.+
4 “Ek, Nebukadneʹsar, was rustig in my huis en het voorspoed geniet in my paleis. 5 Ek het ’n droom gehad wat my bang gemaak het. Terwyl ek op my bed gelê het, het ek dinge en visioene gesien wat my baie bang gemaak het.+ 6 Daarom het ek beveel dat al die wyse manne van Babilon na my toe gebring moet word, sodat hulle vir my kan sê wat die droom beteken.+
7 “Toe het die towerpriesters, die waarsêers, die Galdeërs* en die sterrevoorspellers+ na my toe gekom. Ek het vir hulle vertel wat ek gedroom het, maar hulle kon nie vir my sê wat dit beteken nie.+ 8 Uiteindelik het Daniël na my toe gekom. Hy het die naam Beltʹsasar+ ontvang omdat hy na my god vernoem is,+ en die gees van die heilige gode is in hom.+ Ek het vir hom vertel wat ek gedroom het:
9 “‘O Beltʹsasar, hoof van die towerpriesters.+ Ek weet goed dat die gees van die heilige gode in jou is+ en dat geen geheim te moeilik is vir jou nie.+ Sê dus vir my wat die visioene beteken wat ek in my droom gesien het.
10 “‘In die visioene wat ek gesien het terwyl ek op my bed gelê het, het ek in die middel van die aarde ’n boom+ gesien wat baie hoog was.+ 11 Die boom het groot en sterk geword, en sy top het tot by die hemel gekom, en die boom kon tot aan die eindes van die hele aarde gesien word. 12 Sy blare was mooi en sy vrugte was baie, en daar was kos vir almal daaraan. Die diere van die veld het onder die boom skaduwee gesoek, die voëls van die hemel het op sy takke gewoon en alles wat lewe,* het daarvan geëet.
13 “‘In die visioene wat ek gesien het terwyl ek op my bed gelê het, het ek ’n wag gesien, ’n heilige, wat uit die hemel neerdaal.+ 14 Hy het hard uitgeroep: “Kap die boom af,+ kap sy takke af, skud sy blare af en verstrooi sy vrugte! Laat die diere wat onder die boom is en die voëls wat op sy takke is, wegvlug. 15 Maar laat die stomp met sy wortels in die grond bly, tussen die gras van die veld, met ’n band van yster en van koper om die stomp. Laat die dou van die hemel dit natmaak, en laat sy deel saam met die diere tussen die plante van die aarde wees.+ 16 Laat sy hart anders word as dié van ’n mens, en laat die hart van ’n dier aan hom gegee word, en laat dit sewe tye lank so wees.+ 17 Dit is volgens die bevel van die wagte,+ en dit is volgens die versoek van die heiliges, sodat die lewendes kan weet dat die Allerhoogste die Heerser in die koninkryk van die mensdom is+ en dat hy dit gee aan wie hy ook al wil en selfs die laagste van die mensdom daaroor aanstel.”
18 “‘Dit was die droom wat ek, koning Nebukadneʹsar, gehad het. O Beltʹsasar, vertel my nou wat dit beteken, want nie een van die ander wyse manne van my koninkryk kan vir my sê wat dit beteken nie.+ Maar jy kan, want die gees van die heilige gode is in jou.’
19 “Toe was Daniël, wat die naam Beltʹsasar+ ontvang het, vir ’n oomblik geskok, en sy gedagtes het hom begin bang maak.
“Die koning het gesê: ‘Beltʹsasar, moenie toelaat dat die droom en wat dit beteken, jou bang maak nie.’
“Beltʹsasar het geantwoord: ‘O my heer, mag die droom van toepassing wees op dié wat u haat, en die betekenis daarvan op u vyande.
20 “‘Die boom wat u gesien het, wat groot en sterk geword het, waarvan die top tot by die hemel gekom het en wat oral op die aarde gesien kon word,+ 21 wat mooi blare en baie vrugte gehad het, sowel as kos vir almal, en waaronder die diere van die veld gewoon het, en op wie se takke die voëls van die hemel gebly het,+ 22 dit is u, o koning, want u het groot en sterk geword, en u heerlikheid het al hoe groter geword en tot by die hemel gekom,+ en u koningskap het tot aan die eindes van die aarde uitgebrei.+
23 “‘En die koning het ’n wag, ’n heilige,+ uit die hemel sien neerdaal, wat gesê het: “Kap die boom af en vernietig dit, maar laat die stomp met sy wortels in die grond bly, tussen die gras van die veld, met ’n band van yster en van koper om die stomp. En laat dit deur die dou van die hemel natgemaak word, en laat sy deel saam met die diere van die veld wees, totdat sewe tye verbygegaan het.”+ 24 Dít is wat die droom beteken, o koning. Dít is wat die Allerhoogste besluit het met my heer die koning sal gebeur: 25 U sal van mense af weggejaag word en tussen die diere van die veld woon, en u sal gras eet soos ’n bees, en die dou van die hemel sal u natmaak,+ en dit sal sewe tye lank so wees.+ Daarna sal u weet dat die Allerhoogste die Heerser in die koninkryk van die mensdom is en dat hy dit gee aan wie hy ook al wil.+
26 “‘Maar die feit dat daar gesê is dat die stomp van die boom met sy wortels moet bly staan,+ beteken dat u koninkryk weer aan u sal behoort nadat u besef het dat die hemel regeer. 27 Aanvaar dus my raad, asseblief, o koning. Draai weg van u sondes deur te doen wat reg is, en van u ongeregtigheid deur genade aan die armes te betoon. Miskien sal u voorspoed dan langer hou.’”+
28 Dit alles het oor koning Nebukadneʹsar gekom.
29 Twaalf maande later het hy op die dak van die paleis in Babilon rondgeloop. 30 Die koning het gesê: “Is dit nie Babilon die Grote wat ek vir die koninklike huis gebou het met my eie krag en mag en vir die heerlikheid van my majesteit nie?”
31 Terwyl die koning nog gepraat het, het daar ’n stem uit die hemel gekom: “Vir jou word daar gesê, o koning Nebukadneʹsar: ‘Die koninkryk word van jou weggeneem,+ 32 en jy word van mense af weggejaag. Jy sal tussen die diere van die veld woon, en jy sal gras eet net soos ’n bees, en dit sal sewe tye lank so wees. Daarna sal jy weet dat die Allerhoogste die Heerser in die koninkryk van die mensdom is en dat hy dit gee aan wie hy ook al wil.’”+
33 Op daardie oomblik het dit met Nebukadneʹsar gebeur. Hy is van mense af weggejaag, en hy het gras begin eet net soos ’n bees, en sy liggaam is deur die dou van die hemel natgemaak, totdat sy hare lank geword het net soos die vere van ’n arend en totdat sy naels soos die kloue van voëls was.+
34 “Aan die einde van daardie tydperk+ het ek, Nebukadneʹsar, na die hemel opgekyk, en ek het my verstand teruggekry. Ek het die Allerhoogste geloof, en ek het die Een wat vir ewig lewe, geprys en verheerlik, want sy heerskappy is ’n ewige heerskappy en sy koninkryk duur van geslag tot geslag.+ 35 In vergelyking met hom is al die bewoners van die aarde soos niks, en hy doen wat hy wil met die leërmag van die hemel en die bewoners van die aarde. En daar is niemand wat hom kan keer+ of wat vir hom kan sê: ‘Wat het u gedoen?’ nie.+
36 “Toe het ek my verstand teruggekry, en ook die heerlikheid van my koninkryk, my majesteit en my glorie.+ My hoë amptenare en belangrike manne het my raad gretig gesoek, en ek is weer oor my koninkryk aangestel, en ek het selfs meer eer as voorheen gehad.
37 “Ek, Nebukadnesar, loof en eer en verheerlik nou die Koning van die hemel,+ want al sy werke is waarheid en sy weë is geregtigheid,+ en hy kan dié wat trots is, verneder.”+
5 Koning Belʹsasar+ het ’n groot feesmaal vir 1 000 van sy belangrike manne gehou, en hy het saam met hulle wyn gedrink.+ 2 Toe Belʹsasar onder die invloed van die wyn was, het hy beveel dat die goue en silwerhouers ingebring moet word wat sy vader Nebukadneʹsar uit die tempel in Jerusalem geneem het,+ sodat die koning en sy belangrike manne, sy byvrouens en sy ondergeskikte vrouens daaruit kon drink. 3 En hulle het die goue houers ingebring wat uit die tempel van die huis van God in Jerusalem geneem is, en die koning, sy belangrike manne en sy vrouens het daaruit gedrink. 4 Hulle het wyn gedrink, en hulle het die gode van goud en silwer, van koper, yster, hout en klip geloof.
5 Op daardie oomblik het die vingers van ’n mensehand verskyn en oorkant die lampstaander op die pleister van die muur van die koning se paleis begin skryf, en die koning het die hand gesien terwyl dit skryf. 6 Toe het die koning bleek geword, en hy het baie bang geword. Sy bene het lam geword+ en sy knieë het teen mekaar geslaan.
7 Die koning het hard uitgeroep dat die waarsêers, die Galdeërs* en die sterrevoorspellers ingebring moet word.+ Die koning het vir die wyse manne van Babilon gesê: “As enige mens hierdie skrif kan lees en vir my kan sê wat dit beteken, sal ’n pers* kleed vir hom aangetrek word en ’n goue ketting om sy nek gehang word.+ En hy sal as die derde heerser in die koninkryk regeer.”+
8 Toe het al die wyse manne van die koning ingekom, maar hulle kon nie die skrif lees of vir die koning sê wat dit beteken nie.+ 9 Daarom was koning Belʹsasar baie bang, en hy het bleek geword. En sy belangrike manne was dronkgeslaan.+
10 Toe die koningin hoor waarvan die koning en sy belangrike manne praat, het sy in die feessaal ingekom. Die koningin het gesê: “O koning, mag u vir ewig lewe. Hoekom het u so bleek geword? Moenie bang wees nie. 11 Daar is ’n man in u koninkryk wat die gees van die heilige gode het. In die tyd van u vader is kennis en insig en wysheid soos die wysheid van die gode in hom gevind.+ Koning Nebukadneʹsar, u vader, het hom as hoof van die towerpriesters, waarsêers, Galdeërs* en sterrevoorspellers aangestel.+ Dit is wat u vader gedoen het, o koning. 12 Want Daniël, aan wie die koning die naam Beltʹsasar+ gegee het, het buitengewone wysheid en kennis en insig om drome te openbaar, om raaisels te verduidelik en om moeilike probleme op te los.*+ Laat Daniël nou geroep word, en hy sal vir u sê wat die skrif beteken.”
13 Toe is Daniël voor die koning ingebring. Die koning het vir Daniël gevra: “Is jy Daniël, wat deur my vader, die koning, saam met die ander ballinge* uit Juda gebring is?+ 14 Ek het gehoor dat die gees van die gode in jou is+ en dat jy kennis en insig en buitengewone wysheid het.+ 15 Die wyse manne en die waarsêers is voor my ingebring om hierdie skrif te lees en vir my te sê wat dit beteken, maar hulle kan nie vir my vertel wat die boodskap beteken nie.+ 16 Maar ek het gehoor dat jy geheime kan openbaar+ en moeilike probleme kan oplos.* As jy dan nou die skrif kan lees en vir my kan sê wat dit beteken, sal ’n pers* kleed vir jou aangetrek word en ’n goue ketting om jou nek gehang word. En jy sal as die derde heerser in die koninkryk regeer.”+
17 Toe het Daniël die koning geantwoord: “U kan maar u gawes hou en u geskenke aan ander gee. Maar ek sal die skrif vir die koning lees en vir u sê wat dit beteken. 18 Wat u betref, o koning, die allerhoogste God het aan u vader Nebukadneʹsar die koninkryk en grootheid en eer en majesteit gegee.+ 19 Weens die grootheid wat Hy hom gegee het, het alle volke, nasies en taalgroepe van vrees voor hom gebewe.+ Hy kon almal doodmaak wat hy wou doodmaak en almal laat lewe wat hy wou laat lewe. Hy kon mense verhoog en hy kon hulle verneder.+ 20 Maar hy het hoogmoedig en hardkoppig geword,* en toe het hy vermetel* opgetree.+ Hy is van die troon van sy koninkryk verwyder, en sy heerlikheid is van hom weggeneem. 21 Hy is van mense af weggejaag, en sy hart is soos dié van ’n dier gemaak, en hy het by die wildedonkies gewoon. Hy het gras geëet net soos ’n bees, en sy liggaam is deur die dou van die hemel natgemaak. Daarna het hy geweet dat die allerhoogste God die Heerser in die koninkryk van die mensdom is en dat hy daaroor aanstel wie hy ook al wil.+
22 “Maar u, sy seun Belʹsasar, het nie u hart verneder nie, hoewel u dit alles geweet het. 23 In plaas daarvan het u in opstand gekom teen die Here van die hemel,+ en u het gesê dat die houers van sy huis na u toe gebring moet word.+ Toe het u en u belangrike manne, u byvrouens en u ondergeskikte vrouens wyn daaruit gedrink, en gode van silwer en goud, van koper, yster, hout en klip geloof – gode wat niks sien en niks hoor en niks weet nie.+ Maar u het nie die God verheerlik van wie u lewe en al u weë afhang nie.+ 24 Daarom het hy die hand gestuur om hierdie skrif te skryf.+ 25 En dít is wat geskryf is: MENE, MENE, TEKEL en PARSIN.
26 “Dít is wat die woorde beteken: MENE – God het die dae van u koninkryk getel en ’n einde daaraan gemaak.+
27 “TEKEL – u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind.
28 “PERES – u koninkryk is verdeel en aan die Mede en die Perse gegee.”+
29 Toe het Belʹsasar die bevel gegee, en hulle het vir Daniël ’n pers* kleed aangetrek en ’n goue ketting om sy nek gehang. En hulle het aangekondig dat hy die derde heerser in die koninkryk sou word.+
30 Daardie selfde nag is Belʹsasar, die Galdese koning, doodgemaak.+ 31 En Darius+ die Meder het die koninkryk ontvang. Hy was ongeveer 62 jaar oud.
6 Darius het besluit om 120 satrape oor die hele koninkryk aan te stel.+ 2 Drie hoë amptenare is oor hulle aangestel, van wie Daniël+ een was. En die satrape+ het aan hulle verslag gedoen sodat die koning se belange beskerm sou word. 3 Daniël het bewys dat hy bekwamer is as die ander hoë amptenare en die satrape, want hy was besonder wys.+ En die koning was van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel.
4 Toe het die hoë amptenare en die satrape fout probeer vind met die manier waarop Daniël na regeringsake omgesien het, maar hulle kon geen fout of oneerlikheid vind waarvoor hulle hom kon aankla nie, want hy was betroubaar en was glad nie nalatig of oneerlik nie. 5 Hierdie manne het toe gesê: “Ons sal niks vind waarvoor ons Daniël kan aankla nie, tensy ons iets teen hom kan vind wat verband hou met die wet van sy God.”+
6 Toe het hierdie hoë amptenare en satrape saam na die koning gegaan en vir hom gesê: “O koning Darius, mag u vir ewig lewe. 7 Al die hoë amptenare van die koninkryk, prefekte, satrape, hoë koninklike beamptes en goewerneurs het saam besluit dat die koning ’n bevel moet gee en ’n verbod moet instel dat enigiemand wat gedurende die volgende 30 dae ’n versoek tot enige god of mens behalwe u rig, o koning, in die leeukuil gegooi moet word.+ 8 Mag u, o koning, die bevel gee en dit onderteken,+ sodat dit nie verander kan word nie, want die wette van die Mede en die Perse kan nie teruggetrek word nie.”+
9 Toe het koning Darius die bevel en die verbod onderteken.
10 Toe Daniël hoor dat die bevel onderteken is, het hy huis toe gegaan. Sy dakvertrek het vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem.+ En net soos hy altyd gedoen het, het hy drie keer per dag op sy knieë gegaan om tot sy God te bid en hom te loof. 11 Toe het daardie manne ingestorm en Daniël gevind terwyl hy gebid het en sy God om genade gesmeek het.
12 Toe het hulle na die koning gegaan en hom herinner aan die koninklike verbod: “Het u nie ’n verbod onderteken wat sê dat enigiemand wat gedurende 30 dae ’n versoek tot enige god of mens behalwe u rig, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie?” Die koning het geantwoord: “Ja, en dit is besluit volgens die wet van die Mede en die Perse, wat nie teruggetrek kan word nie.”+ 13 Hulle het dadelik vir die koning gesê: “Daniël, wat uit die ballinge* van Juda is,+ het hom nie aan u gesteur nie, o koning, en ook nie aan die verbod wat u onderteken het nie, maar hy bid drie keer per dag.”+ 14 Toe die koning dit hoor, was hy baie ontsteld, en hy het probeer dink aan ’n manier om Daniël te red. Tot sononder het hy alles gedoen wat hy kon om hom te red. 15 Uiteindelik het daardie manne saam na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “Onthou, o koning, volgens die wet van die Mede en die Perse mag geen verbod of bevel van die koning verander word nie.”+
16 Op die koning se bevel het hulle Daniël dus gebring en hom in die leeukuil gegooi.+ Die koning het vir Daniël gesê: “Jou God wat jy so getrou dien, sal jou red.” 17 Toe is ’n klip oor die opening van die kuil gesit, en die koning het dit met sy seëlring en met die seëlringe van sy belangrike manne verseël, sodat niks in verband met Daniël se saak verander kon word nie.
18 Toe het die koning na sy paleis gegaan. Hy het die hele nag lank gevas en het geweier om enige vermaak te geniet,* en hy kon nie slaap nie. 19 Uiteindelik, toe dit net begin lig word, het die koning opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan. 20 Toe die koning naby die kuil kom, het hy hartseer na Daniël geroep en gevra: “O Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy so getrou dien, in staat om jou van die leeus te red?” 21 Daniël het onmiddellik vir die koning gesê: “O koning, mag u vir ewig lewe. 22 My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegemaak,+ en hulle het niks aan my gedoen nie,+ want ek was onskuldig voor hom. En ek het ook niks verkeerds teenoor u gedoen nie, o koning.”
23 Die koning was baie bly, en hy het beveel dat Daniël uit die leeukuil opgetrek moet word. Toe Daniël uit die kuil kom, het hulle gesien dat daar nie eers ’n skrapie aan hom is nie, want hy het op sy God vertrou.+
24 Die koning het toe beveel dat die manne wat Daniël beskuldig* het, gebring moet word, en hulle is saam met hulle seuns en hulle vrouens in die leeukuil gegooi. Nog voordat hulle die onderkant van die kuil bereik het, het die leeus hulle aangeval en hulle verskeur.+
25 Toe het koning Darius aan al die volke, nasies en taalgroepe op die hele aarde geskryf:+ “Mag julle groot vrede hê! 26 Ek beveel dat die mense in elke gebied van my koninkryk moet bewe van vrees voor die God van Daniël.+ Want hy is die lewende God wat vir ewig bestaan. Sy koninkryk sal nooit vernietig word nie, en sy heerskappy* duur vir ewig.+ 27 Hy red,+ bevry en verrig tekens en wonders in die hemel en op die aarde.+ Hy het Daniël uit die kloue van die leeus gered.”
28 En dit het goed gegaan met Daniël in die koninkryk van Darius+ en in die koninkryk van Kores die Pers.+
7 In die eerste jaar van koning Belʹsasar+ van Babilon, het Daniël ’n droom gehad en visioene gesien terwyl hy op sy bed gelê het.+ Toe het hy die droom neergeskryf.+ Hy het ’n volledige verslag neergeskryf. 2 Daniël het gesê:
“Ek het in my visioene gedurende die nag gesien hoe die vier winde van die hemel die uitgestrekte see onstuimig laat word.+ 3 En vier yslike diere+ het uit die see opgekom. Elkeen was anders as die ander.
4 “Die eerste was soos ’n leeu,+ en hy het die vlerke van ’n arend gehad.+ Terwyl ek gekyk het, is sy vlerke uitgeruk, en hy is van die aarde af opgetel sodat hy op twee voete gestaan het soos ’n mens, en die hart van ’n mens is aan hom gegee.
5 “Toe het ’n ander dier verskyn, ’n tweede, wat soos ’n beer gelyk het.+ Sy een kant was opgelig, en daar was drie ribbebene in sy bek tussen sy tande. En daar is vir hom gesê: ‘Staan op, eet baie vleis.’+
6 “Ek het bly kyk, en toe het ’n ander dier verskyn. Hy het soos ’n luiperd gelyk,+ maar hy het vier vlerke soos dié van ’n voël op sy rug gehad. En die dier het vier koppe gehad,+ en hy het gesag ontvang om te regeer.
7 “Hierna het ek in die visioene van die nag ’n vierde dier gesien. Hy was vreesaanjaend en skrikwekkend en buitengewoon sterk, en hy het groot tande van yster gehad. Hy het verslind en stukkend gebyt, en wat oorgebly het, het hy met sy pote vertrap.+ Hy was anders as al die ander diere wat voor hom was, en hy het tien horings gehad. 8 Terwyl ek na die horings gekyk het, het ’n ander horing, ’n kleintjie,+ tussen hulle uitgekom, en drie van die eerste horings is voor hom uitgeruk. En hierdie horing het oë soos die oë van ’n mens gehad, en hy het ’n mond gehad wat spog.+
9 “Terwyl ek gekyk het, is trone neergesit, en die Oue van Dae+ het gaan sit.+ Sy klere was wit soos sneeu,+ en die hare van sy kop was soos skoon wol. Sy troon was vuurvlamme, en die wiele daarvan was ’n brandende vuur.+ 10 ’n Stroom vuur het van die troon af voor hom uitgevloei.+ ’n Duisend maal duisend het hom bly dien, en tienduisend maal tienduisend het voor hom gestaan.+ Die Hof+ het gaan sit, en boeke is oopgemaak.
11 “Ek het aangehou om te kyk omdat ek gehoor het hoe die horing bly spog.+ Ek het gekyk totdat die dier doodgemaak is en sy liggaam in die brandende vuur gegooi en vernietig is. 12 Maar die heerskappy van die res van die diere+ is van hulle weggeneem, en hulle is toegelaat om nog ’n tyd en ’n tydperk te lewe.
13 “Terwyl ek na die visioene van die nag gekyk het, het ek gesien dat iemand soos ’n seun van die mens+ met die wolke van die hemel kom. Hy het toegang tot die Oue van Dae+ verkry, en hy is tot voor Hom gebring. 14 En aan hom is heerskappy,+ eer+ en ’n koninkryk gegee, sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sal dien.+ Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie tot ’n einde sal kom nie, en sy koninkryk sal nie vernietig word nie.+
15 “Ek, Daniël, was baie ontsteld, want die visioene het my bang gemaak.+ 16 Ek het gegaan na een van dié wat daar gestaan het om hom te vra wat dit alles beteken. En hy het vir my gesê wat al hierdie dinge beteken:
17 “‘Hierdie vier yslike diere+ is vier konings wat op die aarde sal regeer.+ 18 Maar die heiliges van die Allerhoogste+ sal die koninkryk ontvang,+ en hulle sal die koninkryk vir ewig besit,+ ja, vir ewig en altyd.’
19 “Toe wou ek meer weet oor die vierde dier, wat anders was as al die ander. Hy was buitengewoon vreesaanjaend, met tande van yster en kloue van koper, en hy het verslind en stukkend gebyt, en wat oorgebly het, het hy met sy pote vertrap.+ 20 Ek wou ook meer weet oor die tien horings+ op sy kop en oor die ander horing wat uitgekom het en drie ander horings laat val het.+ Daardie horing het oë gehad, en ’n mond wat spog, en hy was groter as die ander.
21 “Terwyl ek gekyk het, het daardie horing teen die heiliges oorlog gevoer. Hy het die oorhand oor hulle gehad+ 22 totdat die Oue van Dae+ gekom het en ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste+ geoordeel het en die vasgestelde tyd aangebreek het vir die heiliges om die koninkryk in besit te neem.+
23 “Dít is wat hy gesê het: ‘Die vierde dier is ’n vierde koninkryk wat op die aarde sal wees. Dit sal anders wees as al die ander koninkryke, en dit sal die hele aarde verslind en sal dit vertrap en verwoes.+ 24 Die tien horings is tien konings wat uit daardie koninkryk sal opstaan. Ná hulle sal nog ’n ander een opstaan, en hy sal anders wees as die eerstes, en hy sal drie konings verneder.+ 25 Hy sal teen die Allerhoogste praat,+ en hy sal aanhou om die heiliges van die Allerhoogste te vervolg. Hy sal daarop uit wees om tye en wet te verander, en hulle sal vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd* in sy hand gegee word.+ 26 Maar die Hof het gaan sit, en hulle het sy heerskappy weggeneem, en hy is verwoes en heeltemal vernietig.+
27 “‘En die koninkryk en die heerskappy en die heerlikheid van al die koninkryke onder die hemel is gegee aan die volk wat die heiliges van die Allerhoogste is.+ Hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk,+ en al die koninkryke sal hulle dien en gehoorsaam.’
28 “Dit is die einde van die saak. En ek, Daniël, was so bang dat ek bleek geword het, maar ek het oor die saak bly nadink.”
8 In die derde jaar van die koningskap van koning Belʹsasar+ het ek, Daniël, nog ’n visioen gesien, ná die een wat ek vroeër gesien het.+ 2 In die visioen was ek in die paleis* Susan,*+ wat in die Elam-provinsie is.+ Ek het die visioen gesien, en ek was langs die Ulai-rivier.* 3 Toe ek opkyk, het ek ’n ram+ voor die rivier sien staan, en hy het twee horings gehad.+ Die twee horings was lank, maar die een was langer as die ander, en die langste horing het laaste uitgekom.+ 4 Ek het gesien dat die ram na die weste en na die noorde en na die suide toe stoot. Geen wilde dier kon teen hom staande bly nie, en daar was niemand wat hulle uit sy mag* kon red nie.+ Hy het gedoen net wat hy wil, en hy het hoogmoedig geword.
5 Terwyl ek bly kyk het, het ’n bokram+ uit die weste* gekom wat die oppervlak van die hele aarde deurkruis het sonder om aan die grond te raak. En die bokram het ’n opvallende horing tussen sy oë gehad.+ 6 Hy het al hoe nader gekom aan die ram met die twee horings, wat ek voor die rivier sien staan het. Hy het met groot woede na hom toe gehardloop.
7 Ek het gesien hoe hy al hoe nader aan die ram kom, en hy was baie kwaad. Hy het die ram gestoot en sy twee horings gebreek, en die ram het geen krag gehad om teen hom staande te bly nie. Hy het die ram teen die grond gegooi en hom vertrap, en daar was niemand wat die ram uit sy mag* kon red nie.
8 Toe het die bokram baie hoogmoedig geword, maar net toe hy magtig geword het, is die groot horing gebreek. Toe het vier opvallende horings in die plek van daardie horing uitgekom, en hulle het in die vier windrigtings gewys.+
9 Uit een van hulle het ’n ander horing voortgekom, ’n kleintjie, en hy het baie groot geword na die suide en na die ooste* en na die Pragtige Land toe.+ 10 Hy het so groot geword dat hy tot by die leërmag van die hemel gekom het, en hy het ’n deel van die leërmag en party van die sterre op die aarde laat val, en hy het hulle vertrap. 11 Hy het selfs teen die Hoof van die leërmag hoogmoedig opgetree, en die gereelde offerande* is van hom weggeneem, en die vaste plek van sy heiligdom is verwoes.+ 12 As gevolg van die oortreding is ’n leërmag, saam met die gereelde offerande,* oorgelewer. En hy het die waarheid na die grond toe bly gooi, en hy was suksesvol in wat hy gedoen het.
13 En ek het ’n heilige hoor praat, en ’n ander heilige het vir die een wat praat, gevra: “Hoe lank sal die dinge in die visioen aanhou, naamlik die gereelde offerande* en die oortreding wat verwoesting veroorsaak+ en die vertrapping van die heiligdom en die leërmag?” 14 Toe het hy vir my gesê: “Dit sal 2 300 aande en oggende aanhou, en daarna sal die heiligdom beslis tot sy regte toestand herstel word.”
15 Terwyl ek, Daniël, die visioen gesien en probeer verstaan het, het ek skielik iemand voor my sien staan wat soos ’n man gelyk het. 16 Toe het ek die stem van ’n man gehoor wat vanuit die Ulai-rivier*+ roep en sê: “Gaʹbriël,+ laat hom verstaan wat hy gesien het.”+ 17 Hy het gekom tot waar ek gestaan het, maar ek het so geskrik dat ek neergeval het met my gesig na die grond toe. Hy het vir my gesê: “Verstaan, o mensekind, dat die visioen vir die tyd van die einde is.”+ 18 Maar terwyl hy met my gepraat het, het ek vas aan die slaap geraak met my gesig na die grond toe. Hy het aan my geraak en my laat opstaan waar ek gestaan het.+ 19 En hy het gesê: “Ek sal jou vertel wat aan die einde van die veroordeling sal gebeur, want dit is vir die vasgestelde tyd van die einde.+
20 “Die ram met die twee horings wat jy gesien het, stel die konings van Medië en Persië voor.+ 21 Die harige bokram stel die koning van Griekeland voor,+ en die groot horing wat tussen sy oë was, stel die eerste koning voor.+ 22 Die feit dat die horing gebreek is en vier ander in sy plek uitgekom het,+ beteken dat vier koninkryke uit sy nasie sal opstaan, maar nie met sy krag nie.
23 “En aan die einde van hulle koninkryk, terwyl die oortreders hulle dade voltooi, sal daar ’n koning opstaan wat ’n wrede voorkoms het en wat weet hoe om slinkse planne te beraam.* 24 Hy sal baie magtig word, maar nie deur sy eie mag nie. Hy sal verskriklike* verwoesting aanrig, en hy sal suksesvol wees in wat hy doen. Hy sal verwoesting bring oor magtiges, asook oor die heilige volk.+ 25 En weens sy slinksheid sal hy bedrieglik optree om sukses te behaal. Hy sal baie hoogmoedig word. En in ’n tyd van veiligheid,* sal hy verwoesting oor baie bring. Hy sal selfs teen die Heerser van die heersers* opstaan, maar hy sal gebreek word, en nie deur ’n mensehand nie.
26 “Wat in die visioen oor die aande en die oggende gesê is, is waar. Maar jy moet die visioen geheim hou, want dit verwys na ’n tyd in die verre toekoms.”*+
27 Ek, Daniël, was uitgeput en ek was dae lank siek.+ Toe het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen,+ maar ek was stomgeslaan weens wat ek gesien het en wat niemand kon verstaan nie.+
9 In die eerste jaar van Darius,+ die seun van Ahasʹveros – ’n afstammeling van die Mede wat oor die koninkryk van die Galdeërs+ koning gemaak is – 2 ja, in sy eerste regeringsjaar, het ek, Daniël, uit die boeke* onderskei hoeveel jaar Jerusalem verlate sou wees+ volgens Jehovah se boodskap aan die profeet Jeremia, naamlik 70 jaar.+ 3 Toe het ek tot Jehovah, die ware God, gebid en hom om hulp gesmeek. Ek het gevas,+ saklinne gedra en as oor my gegooi. 4 Ek het tot Jehovah my God gebid en die sondes van my volk bely en gesê:
“O Jehovah, die ware God, u is die groot en ontsagwekkende Een wat u verbond hou en wat lojale liefde betoon+ aan almal wat u liefhet en u gebooie gehoorsaam.+ 5 Ons het gesondig en gedoen wat verkeerd is en het goddeloos opgetree en in opstand gekom.+ Ons het nie by u gebooie en u oordele gebly nie. 6 Ons het nie geluister na u knegte, die profete,+ wat in u naam met ons konings, ons leiers, ons voorvaders en die hele volk van die land gepraat het nie. 7 O Jehovah, u is regverdig, maar vandag moet ons ons skaam – die manne van Juda, die inwoners van Jerusalem en die hele Israel, dié wat naby is en dié wat ver weg is, in al die lande waarheen u hulle verstrooi het omdat hulle ontrou teenoor u was.+
8 “O Jehovah, ons sowel as ons konings, ons leiers en ons voorvaders moet ons skaam omdat ons teen u gesondig het. 9 Jehovah ons God, u betoon genade en vergewe vryelik,+ hoewel ons teen u in opstand gekom het.+ 10 Jehovah ons God, ons het nie na u stem geluister deur gehoorsaam te wees aan u wette wat u deur middel van u knegte, die profete, vir ons gegee het nie.+ 11 Die hele Israel het u Wet oortree, en hulle het afgedwaal omdat hulle nie na u stem geluister het nie. En u het die vloek en die eed oor ons laat kom wat neergeskryf is in die Wet van Moses, die kneg van die ware God,+ want ons het teen u gesondig. 12 U het vervul wat u vir ons en ons heersers gesê het,+ deur groot rampspoed oor ons te laat kom. Wat met Jerusalem gebeur het, is erger as enigiets wat nog ooit op die hele aarde gebeur het.+ 13 Al hierdie rampspoed het oor ons gekom, net soos daar in die Wet van Moses geskryf is.+ En tog, Jehovah ons God, het ons u nie om genade gesmeek nie.* Ons het nie van ons sondes weggedraai+ en gewys dat ons u getrouheid* verstaan nie.
14 “Jehovah, u het waaksaam gebly en rampspoed oor ons gebring, want u, Jehovah ons God, is regverdig in alles wat u doen. En tog het ons nie na u stem geluister nie.+
15 “O Jehovah ons God – u wat u volk met ’n sterk hand uit Egipte uitgelei het+ en ’n naam vir uself gemaak het, soos dit vandag nog is+ – ons het gesondig en goddeloos opgetree. 16 O Jehovah, u doen altyd wat regverdig is.+ Moet asseblief nie meer woedend wees vir u stad Jerusalem, u heilige berg nie. Want weens ons sondes en die oortredings van ons voorvaders is Jerusalem en u volk ’n bespotting vir almal om ons.+ 17 O ons God, luister asseblief nou na die gebed en die smekinge van u kneg, en wees om u eie onthalwe genadig teenoor u heiligdom+ wat verwoes is,+ o Jehovah. 18 Skenk aandag, o my God, en luister! Kyk tog en sien hoe ons swaarkry en hoe verlate die stad is wat u naam dra. Want ons smeek u nie omdat ons dade regverdig is nie, maar omdat u baie genadig is.+ 19 O Jehovah, luister tog. O Jehovah, vergewe tog.+ O Jehovah, skenk tog aandag en tree op! Tree vinnig op, om u eie onthalwe, o my God, want u stad en u volk dra u naam.”+
20 Terwyl ek nog gepraat en gebid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely het en Jehovah my God om genade gesmeek het in verband met die heilige berg van my God,+ 21 ja, terwyl ek nog gebid het, het Gabriël,+ die man wat ek vroeër in die visioen gesien het,+ na my toe gekom. Dit was om en by die tyd van die aandoffer, en ek was heeltemal uitgeput. 22 En hy het my gehelp om te verstaan en gesê:
“O Daniël, ek het nou gekom sodat jy insig kan kry en kan verstaan. 23 Toe jy begin bid het, het ek ’n boodskap ontvang, en ek het gekom om jou daarvan te vertel, want jy is ’n baie geliefde* man.+ Skenk dus aandag en probeer om die visioen te verstaan.
24 “Daar is vir jou volk en vir jou heilige stad+ 70 weke* vasgestel, om die oortreding te beëindig,+ om ’n einde aan sonde te maak, om versoening te doen vir foute,+ om ewige regverdigheid te bring,+ om die visioen en die profesie te verseël+ en om die Allerheiligste te salf. 25 Jy moet weet en verstaan: Vandat die bevel gegee word dat Jerusalem herstel en herbou moet word+ totdat Messiʹas*+ die Leier+ kom, sal daar 7 weke wees, en ook 62 weke.+ Jerusalem sal herstel en herbou word, met ’n openbare plein en ’n grag, maar in moeilike tye.
26 “En ná die 62 weke sal die Messiʹas doodgemaak word,+ met niks vir homself nie.+
“En die volk van ’n leier wat kom, sal die stad en die heilige plek verwoes.+ En ’n vloed sal die einde daarvan veroorsaak. En tot die einde toe sal daar oorlog wees. Daar is op verwoestings besluit.+
27 “En hy sal die verbond een week lank vir baie geldig laat bly, en teen die helfte van die week sal hy offerande en offergawe laat ophou.+
“En die een wat verwoesting veroorsaak,+ sal op die vlerk van walglike dinge kom, en totdat ’n vernietiging plaasvind, sal dit waarop besluit is, ook kom oor die een wat verwoes is.”
10 In die derde jaar van koning Kores+ van Persië, het Daniël, wat Beltʹsasar+ genoem is, ’n openbaring ontvang. Die boodskap was waar en het gehandel oor ’n groot konflik. En hy het die boodskap verstaan en is insig gegee in wat hy gesien het.
2 In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur.+ 3 Ek het drie weke lank geen lekker kos en geen vleis geëet nie. Ek het nie wyn gedrink nie, en ek het geen olie aan my gesmeer nie. 4 Op die 24ste dag van die eerste maand, terwyl ek op die oewer was van die groot rivier, die Tigris,*+ 5 het ek opgekyk en ’n man in linneklere+ gesien met ’n lyfband van goud uit Ufas om sy middel. 6 Sy liggaam was soos chrisoliet,+ sy gesig was soos weerlig en sy oë was soos vuurfakkels. Sy arms en sy voete het soos blink gevryfde koper gelyk,+ en sy woorde het geklink soos die geluid van ’n skare. 7 Net ek, Daniël, het die visioen gesien. Die manne wat by my was, het dit nie gesien nie.+ Maar hulle het baie bang geword, en hulle het weggehardloop en gaan wegkruip.
8 Ek het alleen agtergebly. Toe ek hierdie indrukwekkende visioen sien, het my krag my verlaat. Ek het doodsbleek geword en al my krag verloor.+ 9 Daarna het ek hom hoor praat, maar terwyl hy gepraat het, het ek vas aan die slaap geraak met my gesig na die grond toe.+ 10 Toe het ’n hand aan my geraak+ en my gehelp om op my hande en knieë te staan. 11 En hy het vir my gesê:
“O Daniël, jy is ’n baie geliefde* man.+ Skenk aandag aan wat ek vir jou gaan sê. Staan nou op, want ek is na jou toe gestuur.”
Toe hy dit vir my sê, het ek bewend opgestaan.
12 Hy het toe vir my gesê: “Moenie bang wees nie,+ o Daniël. Van die eerste dag af dat jy jou ingespan het om te verstaan en om jou voor jou God te verneder, is jou woorde gehoor. En ek het weens jou woorde gekom.+ 13 Maar die prins+ van die koninklike gebied van Persië het my 21 dae lank teëgestaan. Toe het Miʹgael,*+ een van die vernaamste prinse, my kom help. En ek het daar by die konings van Persië gebly. 14 Ek het gekom om jou te laat verstaan wat aan die einde van die dae met jou volk sal gebeur,+ want dit is ’n visioen oor die toekoms.”+
15 En toe hy dit vir my sê, het ek my kop laat sak en stom geword. 16 Daarna het iemand wat soos ’n man lyk, aan my lippe geraak,+ en ek het my mond oopgemaak en vir die een wat voor my gestaan het, gesê: “My heer, ek bewe weens die visioen, en ek het geen krag oor nie.+ 17 Hoe kan ek, u kneg, dan met u praat, my heer?+ Want ek het geen krag oor nie, en ek kan skaars asemhaal.”+
18 Die een wat soos ’n man gelyk het, het weer aan my geraak en my versterk.+ 19 Toe het hy gesê: “Moenie bang wees nie,+ o baie geliefde* man.+ Mag jy vrede hê.+ Wees sterk, ja, wees sterk.” Terwyl hy met my gepraat het, het ek krag gekry en gesê: “Laat my heer praat, want u het my versterk.”
20 Toe het hy gesê: “Weet jy hoekom ek na jou toe gekom het? Ek gaan nou terug om teen die prins van Persië te veg.+ Wanneer ek weggaan, sal die prins van Griekeland kom. 21 Maar ek sal jou vertel wat in die geskrifte van waarheid staan. Daar is niemand wat my kragtig ondersteun in hierdie dinge nie, behalwe Miʹgael,+ julle prins.”+
11 Die engel het verder gesê: “In die eerste jaar van Darius+ die Meder het ek hom bygestaan en versterk. 2 Wat ek nou vir jou gaan sê, is die waarheid:
“Kyk! Nog drie konings sal oor Persië regeer, en die vierde sal groter rykdom opgaar as al die ander. En wanneer hy weens sy rykdom sterk word, sal hy alles inspan om teen die koninkryk van Griekeland te veg.+
3 “En ’n magtige koning sal opstaan en hy sal met groot mag regeer+ en doen net wat hy wil. 4 Maar wanneer hy baie magtig is, sal sy koninkryk opgebreek word en na die vier windrigtings toe verdeel word.+ Dit sal nie aan sy nakomelinge behoort nie, en dit sal nie soos sy heerskappy wees nie, want sy koninkryk sal uitgeruk word en aan ander behoort.
5 “En die koning van die suide, dit wil sê een van sy bevelvoerders, sal sterk word, maar daar sal iemand wees wat die oorhand oor hom kry en wat met groter mag as hy sal regeer.
6 “Ná ’n aantal jare sal hulle ’n ooreenkoms maak, en die dogter van die koning van die suide sal na die koning van die noorde toe kom om ’n ooreenkoms* te maak. Maar sy sal nie haar mag behou nie, en hy sal val en sy mag verloor. Sy sal oorgelewer word, sy en dié wat haar inbring, sowel as haar pa en die een wat haar in daardie tyd sterk maak. 7 En ’n spruit uit haar wortels sal in sy posisie opstaan, en hy sal na die leërmag kom en teen die vesting van die koning van die noorde kom en teen hulle optree en die oorhand kry. 8 Hy sal selfs met hulle gode, met hulle metaalbeelde, met hulle kosbare voorwerpe van silwer en van goud en met gevangenes na Egipte kom. Hy sal ’n aantal jare wegbly van die koning van die noorde, 9 wat teen die koninkryk van die koning van die suide sal kom, maar na sy eie land sal teruggaan.
10 “Sy seuns sal gereedmaak vir oorlog en ’n baie groot leërmag bymekaarmaak. Hy sal beslis optrek en soos vloedwaters deur die land stroom. Maar hy sal teruggaan, en hy sal die hele pad tot by sy vesting oorlog voer.
11 “En die koning van die suide sal verbitterd word en sal uitgaan en teen hom veg, dit wil sê teen die koning van die noorde. En hy sal ’n groot menigte bymekaarmaak, maar die menigte sal in daardie een se hand gegee word. 12 En die menigte sal weggeneem word. Hy sal hoogmoedig word, en hy sal tienduisende vernietig, maar hy sal nie van sy sterk posisie gebruik maak nie.
13 “Die koning van die noorde sal teruggaan en ’n groter menigte as die eerste een bymekaarmaak. En aan die einde van die tye, ná ’n aantal jare, sal hy beslis kom met ’n groot en goed toegeruste leërmag. 14 In daardie tyd sal baie teen die koning van die suide opstaan.
“En die gewelddadige mense onder jou volk sal opgesweep word in ’n poging om ’n visioen te laat waar word, maar hulle sal struikel.
15 “En die koning van die noorde sal kom en ’n beleëringswal oprig en ’n versterkte stad inneem. En die leërmagte* van die suide sal nie staande bly nie, en ook nie sy beste manne nie. Hulle sal nie die krag hê om staande te bly nie. 16 Die een wat teen hom kom, sal doen net wat hy wil, en niemand sal voor hom staande bly nie. Hy sal in die Pragtige Land staan,+ en hy sal die vermoë hê om te vernietig. 17 Hy sal vasbeslote wees om met die volle krag van sy koninkryk te kom. Hy sal ’n ooreenkoms maak,* en hy sal suksesvol wees in wat hy doen. En hy sal toegelaat word om die ondergang van die dogter te veroorsaak. En sy sal nie staande bly nie, en sy sal nie syne bly nie. 18 Hy sal terugdraai na die kuslande en baie lande verower. En ’n bevelvoerder sal die vernedering wat hy weens hom verduur het, laat ophou, en dit sal tot ’n einde kom. Hy sal die vernedering oor daardie een laat kom. 19 Dan sal hy terugdraai na die vestings van sy eie land, en hy sal struikel en val, en hy sal nie gevind word nie.
20 “In sy posisie sal daar iemand opstaan wat ’n eiser* deur die pragtige koninkryk laat trek. En binne ’n paar dae sal hy vernietig word, maar nie weens woede of oorlog nie.
21 “In sy posisie sal daar iemand opstaan wat gehaat* word, en hy sal nie koninklike waardigheid ontvang nie. En hy sal gedurende ’n tyd van veiligheid* inkom en die koninkryk deur middel van bedrog verkry. 22 En die leërmagte* wat soos vloedwaters sal wees, sal weens hom weggevee word, en hulle sal gebreek word, net soos die Leier+ van die verbond.+ 23 Weens hulle ooreenkoms met hom, sal hy bedrog pleeg en optrek en magtig word deur middel van ’n klein nasie. 24 In ’n tyd van veiligheid* sal hy in die beste dele van die provinsie ingaan en doen wat sy voorvaders nie gedoen het nie. Hy sal buit en goedere onder hulle verdeel, en hy sal planne teen vestings beraam, maar net vir ’n tyd.
25 “Hy sal met krag en moed teen die koning van die suide optrek met ’n groot leërmag. En die koning van die suide sal hom vir die oorlog gereedmaak met ’n uiters groot en magtige leërmag. En hy sal nie bly staan nie, want hulle sal planne teen hom beraam. 26 En dié wat sy kos eet, sal sy ondergang veroorsaak.
“En sy leërmag sal weggevee word, en baie sal doodgemaak word.
27 “Die harte van hierdie twee konings sal geneig wees om te doen wat sleg is, en hulle sal by een tafel sit en vir mekaar leuens vertel. Maar niks sal slaag nie, want die einde sal op die vasgestelde tyd kom.+
28 “En hy sal met baie goedere na sy land teruggaan, en sy hart sal teen die heilige verbond wees. Hy sal suksesvol wees en na sy land teruggaan.
29 “Op die vasgestelde tyd sal hy terugkom, en hy sal teen die suide optrek. Maar hierdie keer sal dit nie soos voorheen wees nie, 30 want die skepe van Kittim+ sal hom aanval, en hy sal verneder word.
“Hy sal teruggaan en sy woede* uitstort oor die heilige verbond,+ en hy sal suksesvol wees. En hy sal teruggaan en aandag gee aan dié wat die heilige verbond verlaat. 31 Hy sal leërmagte* uitstuur, en hulle sal die heiligdom+ – die vesting – ontheilig en die gereelde offerande* verwyder.+
“En hulle sal die walglike ding wat verwoesting veroorsaak, oprig.+
32 “En deur middel van vleiende* woorde sal hy dié wat goddeloos teen die verbond optree, afvallig maak. Maar die volk wat hulle God ken, sal oorwin en suksesvol wees. 33 En dié wat onder die volk insig het,+ sal baie mense help om begrip te verkry. En hulle sal ’n aantal dae lank struikel weens die swaard en die vlam, weens gevangenskap en plundering. 34 Maar wanneer hulle struikel, sal hulle ’n bietjie hulp ontvang. En baie sal deur middel van slinkse woorde by hulle aansluit. 35 En party van dié wat insig het, sal struikel, sodat daar weens hulle ’n suiwering en ’n reiniging kan plaasvind,+ tot die tyd van die einde toe. Want dit is vir die vasgestelde tyd.
36 “Die koning sal doen net wat hy wil, en hy sal hoogmoedig optree en homself bo elke god stel. En hy sal skokkende dinge sê teen die God van die gode.+ En hy sal suksesvol wees totdat die veroordeling tot ’n einde kom, want dít waarop besluit is, moet gebeur. 37 Hy sal geen respek hê vir die God van sy vaders nie. En hy sal ook geen respek hê vir die begeerte van vrouens of vir enige ander god nie, maar hy sal homself bo almal stel. 38 Maar hy sal eerder eer gee aan die god van vestings. Aan ’n god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy eer gee deur middel van goud en silwer en edelstene en kosbare dinge. 39 Met* ’n vreemde god sal hy optree teen die sterkste vestings. Hy sal groot eer gee aan dié wat aan hom erkenning gee,* en hy sal hulle oor baie laat regeer. En hy sal die grond teen ’n prys uitdeel.
40 “In die tyd van die einde sal die koning van die suide in ’n stotery met hom betrokke raak,* en die koning van die noorde sal hom bestorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe. En hy sal in die lande ingaan en soos vloedwaters daardeur stroom. 41 Hy sal in die Pragtige Land ingaan,+ en baie lande sal verslaan word. Maar Edom en Moab en die vernaamste deel van die Ammoniete sal nie in sy mag* beland nie. 42 Hy sal sy hand teen die lande bly uitsteek, en Egipte sal dit ook nie vryspring nie. 43 En hy sal beheer hê oor die versteekte skatte van goud en silwer en oor al die kosbare dinge van Egipte. En die Libiërs en die Etiopiërs sal hom volg.
44 “Maar berigte uit die ooste* en uit die noorde sal hom ontstel, en hy sal met groot woede uitgaan om te verwoes en om baie te vernietig. 45 En hy sal sy koninklike tente* tussen die groot see en die berg van die Pragtige Land opslaan,+ en hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie.
12 “Gedurende daardie tyd sal Miʹgael*+ opstaan, die groot prins+ wat tot voordeel van jou volk staan. En daar sal ’n moeilike tyd aanbreek soos daar nie was vandat ’n nasie ontstaan het tot op daardie tyd nie. En gedurende daardie tyd sal jou volk gered word,+ elkeen wat in die boek opgeskryf is.+ 2 En baie van dié wat in die stof van die aarde slaap, sal wakker word – sommige tot die ewige lewe en ander tot skande en ewige verwerping.
3 “En dié wat insig het, sal so helder skyn soos die hemele, en dié wat baie mense help om ’n regverdige weg te volg, sal so helder skyn soos die sterre, vir ewig en altyd.
4 “Hou die woorde geheim, Daniël, en verseël die boek tot die tyd van die einde toe.+ Baie sal dit deeglik ondersoek,* en die ware kennis sal oorvloedig word.”+
5 Toe het ek, Daniël, twee ander daar sien staan, een op hierdie oewer van die rivier en die ander aan die oorkant van die rivier.+ 6 Toe het een vir die man in linneklere,+ wat bokant die waters van die rivier was, gevra: “Hoe lank sal dit wees voordat hierdie wonderlike dinge vervul is?” 7 Toe het ek die man in linneklere, wat bokant die waters van die rivier was, hoor praat. Hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgelig en gesweer by die Een wat vir ewig lewe:+ “Dit sal ’n vasgestelde tyd, vasgestelde tye en ’n halwe tyd* wees. Sodra die mag van die heilige volk gebreek is,+ sal al hierdie dinge tot ’n einde kom.”
8 Ek het gehoor, maar ek kon nie verstaan nie,+ en daarom het ek gevra: “O my heer, wat sal die uiteinde van hierdie dinge wees?”
9 Toe het hy gesê: “Gaan, Daniël, want die woorde moet geheim gehou word en verseël word tot die tyd van die einde toe.+ 10 Baie sal hulle reinig en sal gesuiwer word.+ En die goddeloses sal goddeloos optree, en nie een van die goddeloses sal verstaan nie, maar dié wat insig het, sal verstaan.+
11 “En van die tyd af dat die gereelde offerande*+ verwyder is en die walglike ding wat verwoesting veroorsaak, opgerig is,+ sal daar 1 290 dae wees.
12 “Gelukkig is die een wat gretig bly wag tot die einde van die 1 335 dae!
13 “Maar jy moet aanhou tot die einde toe. Jy sal rus, maar jy sal opstaan om jou deel te ontvang* aan die einde van die dae.”+
Of “tempel”.
D.w.s. Babilonië.
Of moontlik “gevoed”.
Beteken “God is my Regter”.
Beteken “Jehovah was genadig”.
Beteken moontlik “wie is soos God?”
Beteken “Jehovah het gehelp”.
D.w.s. Babiloniese name.
Of “besweerders”.
D.w.s. ’n groep waarsêers en sterrevoorspellers.
Da 2:4b tot 7:28 is oorspronklik in Aramees geskryf.
Of moontlik “vullishope; mishope”.
D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Of “standbeeld”.
Of “gebakte (gevormde) klei”.
Of “standbeeld”.
Omtrent 27 m. Sien Aanh. B14.
Omtrent 2,7 m. Sien Aanh. B14.
Lett. “sy gesigsuitdrukking”.
Of moontlik “vullishope; mishope”.
Lett. “voorspoedig laat word”.
D.w.s. ’n groep waarsêers en sterrevoorspellers.
Lett. “alle vlees”.
D.w.s. ’n groep waarsêers en sterrevoorspellers.
Pers is destyds met koningskap, rykdom en eer geassosieer.
D.w.s. ’n groep waarsêers en sterrevoorspellers.
Lett. “om knope los te maak”.
D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Lett. “en knope kan losmaak”.
Pers is destyds met koningskap, rykdom en eer geassosieer.
Of “sy hart het hoogmoedig geword en sy gees het hard geword”.
Iemand is vermetel as hy iets doen wat hy nie die reg of gesag het om te doen nie.
Pers is destyds met koningskap, rykdom en eer geassosieer.
D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Of moontlik “en geen musikante is na hom toe gebring nie”.
Of “belaster”.
Of “soewereiniteit”.
D.w.s. drie en ’n half tye.
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Of “Ulai-kanaal”.
Lett. “hand”.
Of “sonsondergang”.
Lett. “hand”.
Of “sonsopkoms”.
Of “voortdurende kenmerk”.
Of “voortdurende kenmerk”.
Of “voortdurende kenmerk”.
Of “Ulai-kanaal”.
Of “wat dubbelsinnige gesegdes verstaan”.
Of “op ’n buitengewone manier”.
Of moontlik “En sonder waarskuwing”.
Of “Vors van die vorste”.
Of “’n tyd baie dae van nou af”.
D.w.s. die heilige boeke.
Of “ons nie u aangesig versag nie”.
Of “waarheid”.
Of “baie kosbare; hoogs gerespekteerde”.
Verwys na weke van jare, met ander woorde 1 week is gelyk aan 7 jaar.
Of “die Gesalfde”.
Lett. “Hiddekel”.
Of “baie kosbare; hoogs gerespekteerde”.
Beteken “wie is soos God?”
Of “baie kosbare; hoogs gerespekteerde”.
Of “redelike ooreenkoms”.
Lett. “arms”.
Of “sal met redelike voorwaardes kom”.
Moontlik ’n belastingeiser. Of “taakgewer”.
Of “verag”.
Of moontlik “sal sonder waarskuwing”.
Lett. “arms”.
Of moontlik “Sonder waarskuwing”.
Of “veroordeling”.
Lett. “arms”.
Of “voortdurende kenmerk”.
Of “valse”.
Of “Met die hulp van”.
Of moontlik “wat hy erken”.
Of “met die horings teen hom stoot”.
Lett. “hand”.
Of “sonsopkoms”.
Of “paleistente”.
Beteken “wie is soos God?”
Of “sal rondswerf”.
D.w.s. drie en ’n half tye.
Of “voortdurende kenmerk”.
Of “op die plek wat aan jou toegewys is”.