Onthou jy?
Het jy dit geniet om die onlangse uitgawes van Die Wagtoring te lees? Indien wel, sal jy dit ongetwyfeld interessant vind om die volgende te onthou:
▫ Watter oortuigende bewys is in die eerste eeu deur die verskeie werkinge van die heilige gees gelewer?
Hierdie werkinge het sigbare bewys gelewer dat God nie meer die 1 500 jaar oue gemeente van Israel as sy spesiale volk gebruik het nie, maar dat sy goedkeuring nou gerus het op die nuwe Christengemeente wat deur sy eniggebore Seun gestig is. (Vergelyk Hebreërs 2:2-4.)—8/15, bladsy 5.
▫ Waaraan is die fenomenale groei wat Jehovah se Getuies ondervind, te danke?
Dit is hoofsaaklik te danke aan die seën van God. Dit is God se werk. Wat Jehovah se Getuies in hulle evangelisasiewerk leer, is op die Bybel gegrond. ’n Ander sleutel tot hulle sukses is hulle volle erkenning van Christus Jesus as die aangestelde Hoof van die Christengemeente.—9/1, bladsy 19.
▫ Waarom was Jehovah Dawid barmhartig wat sy groot sonde met Batseba betref het?
Dit was hoofsaaklik ter wille van die Koninkryksverbond wat God met Dawid gemaak het, maar ook vanweë Dawid se eie barmhartigheid en sy opregte berou (1 Samuel 24:4-7; 2 Samuel 7:12; 12:13; Psalm 51:3, 4, 19).—9/15, bladsye 10, 11.
▫ Watter drie soorte bewys gee die Christelike Griekse Geskrifte ter ondersteuning van Jesus se Messiasskap?
Jesus se geslagslyn is die eerste bewys (Mattheüs 1:1-16; Lukas 3:23-38). Nog ’n bewys is vervulde profesieë. Daar is talle profesieë, soos dié in Daniël 9:25, wat Jesus as die Messias identifiseer. Die derde bewys is die getuienis van God self; hy het hierdie bewys by drie geleenthede met sy eie stem gelewer (Mattheüs 17:5; Lukas 3:21, 22; Johannes 12:28).—10/1, bladsye 10, 12.
▫ Wat het Jesus bedoel toe hy in Mattheüs 24:37 (NW) gesê het: “Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees”?
Noag het dekades lank aan die ark gebou en die goddelose gewaarsku voor die Vloed gekom en daardie verdorwe wêreldstelsel uitgewis het. Christus se onsigbare teenwoordigheid strek ook oor ’n tydperk van etlike dekades waartydens ’n wêreldwye getuienis gegee word voordat dit ook sy klimaks in ’n groot vernietiging bereik.—10/1, bladsy 16.
▫ Wat is van die vereistes vir ’n goeie gesinsbybelstudie?
Tyd moet vir die studie uitgekoop word. Ons moenie toelaat dat dit deur TV of ander afleidings verdring word nie. Die spesifieke behoeftes van die gesin moet in ag geneem word. Gebruik beskouingsvrae om seker te maak die kinders verstaan wat hulle leer (Mattheüs 17:25). Hou die atmosfeer ontspanne. Wees entoesiasties en betrek almal by die studie.—10/15, bladsy 17.
▫ In watter mate moet Christene hulle daaroor bekommer dat bloedkomponente dalk by voedselprodukte gevoeg is?
Christene moet daarteen waak om deur ’n blote moontlikheid of gerug ontstel te word, en redelikheid is nodig selfs met betrekking tot die nagaan van etikette en navrae by slagters. Maar as dit bekend is dat bloed plaaslik algemeen gebruik word—hetsy in voedsel of in mediese behandeling—moet Christene versigtig wees en God se bevel gehoorsaam om hulle van bloed te onthou (Handelinge 15:28, 29).—10/15, bladsye 30-1.
▫ Hoe beklemtoon die boek Spreuke die geestelike diepte van die onderrigtingsmetodes wat in Israel gebruik is?
Die boek Spreuke toon dat die doel was om die “onervarenes” sulke verhewe dinge soos wysheid, dissipline, begrip, insig, onderskeidingsvermoë, skranderheid, kennis en denkvermoë te leer—en dit alles in “die vrees van Jehovah” (Spreuke 1:1-7, NW; 2:1-14).—11/1, bladsy 12.
▫ Watter gebalanseerde beskouing van geleerdheid moet jongmense vandag hê?
Christene moet geleerdheid as ’n middel tot ’n doel beskou. Die doel daarvan is om Jehovah in hierdie laaste dae soveel en so bekwaam as moontlik te dien in die voltydse diens indien moontlik.—11/1, bladsy 18.
▫ Waarom het Jehovah vereis dat die nasie Israel tiendes betaal?
Eerstens sodat hulle hulle waardering vir Jehovah se goedheid op ’n tasbare wyse kon toon. Tweedens sodat hulle tot die onderhoud van die Leviete kon bydra, wat hulle dan kon toespits op hulle verpligtinge, wat onderrigting in die Wet ingesluit het. (Sien 2 Kronieke 17:7-9.)—12/1, bladsy 9.
▫ Wat is die tiende wat Christene genooi word om te bring? (Maleagi 3:10)
Die tiende verteenwoordig dié deel van wat ons s’n is wat ons aan Jehovah bring of in sy diens gebruik. Dit is ’n blyk van ons liefde vir hom en ons erkenning van die feit dat ons aan hom behoort.—12/1, bladsy 15.