Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 12/15 bl. 21-23
  • Waarom is dit so maklik om leuens te vertel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom is dit so maklik om leuens te vertel?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom leuens vertel word
  • Beskou die gevolge
  • Waarom dit so maklik is om ’n leuen te vertel
  • Waarom moet ons die waarheid praat?
  • Die eerste leuen—Wie het dit vertel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Leuens—Is dit ooit geregverdig?
    Ontwaak!—2000
  • Die waarheid oor leuens
    Ontwaak!—1997
  • Praat die waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 12/15 bl. 21-23

Waarom is dit so maklik om leuens te vertel?

NIEMAND hou daarvan as iemand vir hulle ’n leuen vertel nie. Tog vertel mense oor die hele wêreld om die een of ander rede vir mekaar leuens. ’n Meningsopname in die boek The Day America Told the Truth, deur James Patterson en Peter Kim, het getoon dat 91 persent van alle Amerikaners gereeld ’n leuen vertel. Die skrywers sê: “Die meeste van ons vind dit moeilik om ’n week lank nie ’n leuen te vertel nie. Een uit vyf mense kan dit nie eers een dag lank weerstaan nie—en ons praat van opsetlike, vooraf uitgedinkte leuens.”

Dit is in byna alle aspekte van die hedendaagse lewe ’n algemene gebruik om leuens te vertel. Politieke leiers vertel vir hulle ondersteuners en vir mekaar leuens. Hulle het al keer op keer op televisie verskyn waar hulle ontken dat hulle enigiets te doen het met die skandalige planne waarby hulle in werklikheid diep betrokke was. Sissela Bok sê in haar boek Lying—Moral Choice in Public and Private Life: “In die wet en in die joernalistiek, in die regering en in die sosiale wetenskappe word bedrog as vanselfsprekend aanvaar wanneer diegene wat die leuens vertel en wat ook geneig is om die reëls neer te lê, voel dat dit verskoon kan word.”

Common Cause Magazine van Mei/Junie 1989 het aangaande politieke leuens in die Verenigde State gesê: “Watergate en Viëtnam het die Iran-kontra amper oortref wat regeringsbedrog en openbare wantroue betref. Waarom was die tydperk toe Reagan aan bewind was so anders? Baie het leuens vertel, maar min was spyt daaroor.” Dit is gevolglik met goeie rede dat die gewone mense nie hulle politieke leiers vertrou nie.

Wanneer dit by internasionale betrekkinge kom, vind sulke leiers dit moeilik om mekaar te vertrou. Die Griekse filosoof Plato het gesê: “Die heersers van die Staat . . . mag leuens vertel as dit tot voordeel van die Staat is.” In internasionale betrekkinge is dit soos die Bybelprofesie in Daniël 11:27 sê: “Aan een tafel sal hulle leuens spreek.”

In die sakewêreld is dit ’n algemene gebruik om oor produkte en dienste leuens te vertel. Kopers moet versigtig wees wanneer hulle kontraktuele ooreenkomste aangaan en hulle moet die klein druk daarop lees. Party lande het organisasies in die regering wat die mense teen valse reklame, teen skadelike handelsware wat as voordelig of onskadelik uitgebeeld word en teen bedrog moet beskerm. Ten spyte van hierdie pogings ly mense steeds finansiële verliese weens handelaars wat leuens vertel.

Sommige mense vind dit so maklik om ’n leuen te vertel dat dit ’n gewoonte word. Ander vertel oor die algemeen die waarheid, maar wanneer hulle in die knyp is, sal hulle ’n leuen vertel. Daar is min mense wat weier om, wat die omstandighede ook al is, ’n leuen te vertel.

’n Leuen word gedefinieer as “1. ’n valse verklaring of optrede, veral een wat daarop gerig is om te bedrieg . . . 2. enigiets wat ’n valse indruk skep of veronderstel is om so ’n indruk te skep”. Die oogmerk is om ander iets te laat glo wat die leuenaar weet nie die waarheid is nie. Hy probeer om deur leuens of halwe waarhede diegene te bedrieg wat die reg het om die waarheid te weet.

Waarom leuens vertel word

Mense vertel om baie redes leuens. Party dink dat hulle leuens oor hulle vermoëns moet vertel sodat hulle in hierdie mededingende wêreld sukses kan behaal. Ander probeer om deur leuens foute of skuldgevoelens te bedek. Nog ander vervals verslae om die indruk te wek dat hulle werk verrig het wat hulle nie gedoen het nie. Dan is daar diegene wat leuens vertel om afbreuk te doen aan iemand anders se reputasie, om verleentheid te vermy, om vorige leuens te regverdig of om mense van hulle geld te beroof.

Een rede waarmee ’n leuen dikwels regverdig word, is dat dit iemand beskerm. Party beskou dit as ’n noodleuen omdat hulle meen dat niemand daardeur benadeel word nie. Maar het hierdie sogenaamde noodleuens werklik geen slegte gevolge nie?

Beskou die gevolge

Noodleuens kan daartoe lei dat jy ’n gewoonte daarvan maak om leuens oor moontlik ernstiger sake te vertel. Sissela Bok sê: “Alle leuens wat as ‘noodleuens’ beskou word, kan nie eenvoudig as sodanig verskoon word nie. Die onskadelikheid van leuens is eerstens, soos iedereen weet, betwisbaar. Wat die leuenaar as onskadelik of selfs as voordelig beskou, word dalk nie deur die een wat bedrieg word in dieselfde lig beskou nie.”

Leuens, ongeag hoe onskuldig hulle oënskynlik is, doen afbreuk aan goeie menseverhoudinge. Die geloofwaardigheid van die leuenaar word vernietig en daar kan moontlik ’n permanente breuk wees wat vertroue betref. Die beroemde essayis Ralph Waldo Emerson het geskryf: “Elke skending van die waarheid is nie net ’n soort selfmoord wat deur die leuenaar gepleeg word nie, maar is ’n terugslag vir die welsyn van die mensegemeenskap.”

Dit is vir ’n leuenaar maklik om iets vals oor ’n ander mens te sê. Hoewel hy geen bewyse daarvoor aanvoer nie, wek sy leuen twyfel en baie mense glo hom sonder om sy bewering te ondersoek. Daar word dus afbreuk gedoen aan die reputasie van die onskuldige persoon, en hy het die las om sy onskuld te bewys. Daarom is dit frustrerend wanneer mense die leuenaar pleks van die onskuldige persoon glo, en dit vernietig die onskuldige persoon se verhouding met die leuenaar.

’n Leuenaar kan maklik die gewoonte aankweek om leuens te vertel. Een leuen lei dikwels tot nog een. Thomas Jefferson, ’n eertydse Amerikaanse staatsman, het gesê: “Daar is geen verdorwenheid wat so gemeen, so bejammerenswaardig, so veragtelik is nie; en hy wat homself toelaat om eenkeer ’n leuen te vertel, vind dat dit baie makliker is om dit ’n tweede en ’n derde keer te doen, totdat dit mettertyd ’n gewoonte word.” Dit is die pad na sedelike verval.

Waarom dit so maklik is om ’n leuen te vertel

Leuens het begin toe ’n opstandige engel vir die eerste vrou ’n leuen vertel het, naamlik dat sy nie sou sterf as sy ongehoorsaam is aan haar Skepper nie. Dit het onafsienbare skade vir die hele menseras meegebring, waaronder onvolmaaktheid, siekte en die dood wat almal aantas.—Genesis 3:1-4; Romeine 5:12.

Van die ongehoorsame Adam en Eva se tyd af het die verraderlike invloed van hierdie vader van leuens ’n klimaat in die mensewêreld geskep wat bevorderlik is vir leuens (Johannes 8:44). Dit is ’n dekadente wêreld waarin die waarheid net relatief is. The Saturday Evening Post van September 1986 het gesê dat die probleem van leuens “sake, die regering, opvoeding, vermaak en die eenvoudige daaglikse verhoudinge tussen medeburgers en bure raak. . . . Ons het die teorie van relativisme aanvaar, die een groot leuen wat sê dat daar geen absolute waarhede is nie.”

Dít is die beskouing van gewoonteleuenaars, wat geen empatie het vir diegene vir wie hulle bedrieg nie. Dit is vir hulle maklik om leuens te vertel. Dit is hulle lewenswyse. Maar ander wat nie gewoonteleuenaars is nie, kan dalk sonder huiwering uit vrees leuens vertel—vrees vir blootstelling, vrees vir straf, ensovoorts. Dit is ’n swakheid van die onvolmaakte vlees. Hoe kan hierdie neiging vervang word deur ’n vasbeslotenheid om die waarheid te praat?

Waarom moet ons die waarheid praat?

Die waarheid is die standaard wat die Skepper vir almal gestel het. Sy geskrewe Woord, die Bybel, sê in Hebreërs 6:18 dat “dit onmoontlik is dat God sou lieg”. Hierdie selfde standaard is deur sy Seun, Jesus Christus, gehandhaaf en hy was God se persoonlike verteenwoordiger op die aarde. Jesus het vir die Joodse godsdiensleiers wat hom wou doodmaak, gesê: “Nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. . . . En as ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle ’n leuenaar wees” (Johannes 8:40, 55). Hy het vir ons ’n voorbeeld gestel in die opsig dat hy “geen sonde gedoen het nie, en in [sy] mond geen bedrog gevind is nie”.—1 Petrus 2:21, 22.

Ons Skepper, wie se naam Jehovah is, haat leuens, soos dit duidelik in Spreuke 6:16-19 sê: “Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ’n gruwel; trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.”

Hierdie waaragtige God vereis dat ons volgens sy standaarde leef om sy goedkeuring te verkry. Sy geïnspireerde Woord beveel ons: “Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het” (Kolossense 3:9). Mense wat weier om die leuengewoonte af te lê, is nie vir hom aanvaarbaar nie; hulle sal nie sy gawe van die lewe ontvang nie. Trouens, Psalm 5:7 sê reguit dat God ‘die leuensprekers sal laat omkom’. Openbaring 21:8 sê ook dat die deel van ‘al die leuenaars die tweede dood’ is, wat ewige vernietiging is. Ons het dus goeie redes om God se beskouing van leuens te aanvaar en die waarheid te praat.

Maar wat moet gedoen word in ’n situasie waar die waarheid dalk ’n verleentheid of slegte gevoelens sal veroorsaak? Leuens is nooit die uitweg nie, maar soms help dit as jy niks sê nie. Waarom wil jy leuens vertel wat net afbreuk kan doen aan jou geloofwaardigheid en daartoe kan lei dat jy deur God veroordeel word?

Uit vrees en uit swakheid kan ’n mens versoek word om op ’n leuen te vertrou. Dít is die maklikste uitweg of misplaaste goedhartigheid. Die apostel Petrus het voor so ’n versoeking geswig toe hy drie keer ontken het dat hy Jesus Christus ken. Hy was daarna baie hartseer omdat hy leuens vertel het (Lukas 22:54-62). Sy opregte berou het God beweeg om hom te vergewe, soos gesien kan word uit die talle diensvoorregte wat hy later geniet het. As jy berou het en vas besluit het om nie meer leuens te vertel nie, is dit die weg wat na God se vergifnis lei omdat jy nie meer doen wat God haat nie.

Maar pleks van ná jy ’n leuen vertel het om vergifnis te vra, moet jy liewers ’n goeie verhouding met jou Skepper behou en jou geloofwaardigheid voor ander behou deur die waarheid te praat. Onthou wat Psalm 15:1, 2 sê: “HERE wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel