Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 12/15 bl. 24-28
  • “Alle soorte mense” word bereik in België

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Alle soorte mense” word bereik in België
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Inisiatief lewer resultate
  • “Werp jou brood uit”
  • Die uitdaging wat tale bied
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 12/15 bl. 24-28

“Alle soorte mense” word bereik in België

DIE apostel Paulus het sy mede- gesalfde Christene herinner aan God se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot ’n juiste kennis van die waarheid moet kom”. Daarom moes hulle om “’n rustige en stil lewe” bid sodat hulle die goeie nuus van die Koninkryk aan almal kon verkondig wat bereid was om te luister.—1 Timotheüs 2:1-4, NW.

Om “alle soorte mense” te bereik, het vandag ’n spesiale betekenis vir Jehovah se Getuies in België aangeneem. Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het hierdie klein landjie, wat maklik in die Tanganjika-meer of die helfte van die Michigan-meer kan pas, drastiese veranderinge in sy etniese en kulturele samestelling ondergaan. Buiten sy drie tradisionele gemeenskappe—Vlaams (Nederlands), Frans en Duits—is daar nou in België ’n verskeidenheid taal- en kulturele groepe. Daar is Arabiese, Turkse, Indiese, Chinese, Filippynse, Afrika- en Amerikaanse bevolkingsgroepe, om maar ’n paar te noem. Daar word gereken dat 1 uit elke 10 mense in België van vreemde herkoms is.

Die Getuies in België kom dus, soos hulle mede-Christene oor die hele wêreld, voor die uitdaging te staan om “alle soorte mense” met die goeie nuus te bereik. Hoe is dit om onder so ’n verskeidenheid nasionaliteite te preek? Hoe benader jy persone wie se kultuur en godsdiensagtergrond geheel en al van joune verskil? En wat is hulle reaksie op die Bybelboodskap?

Inisiatief lewer resultate

Om met “alle soorte mense” oor die goeie nuus van die Koninkryk te praat, is ’n genotvolle en ’n opwindende ondervinding. Op die besige strate, op die markte, op openbare vervoer en van huis tot huis kan mense van alle kontinente gevind word. Met ’n bietjie inisiatief kan die Koninkryksverkondiger maklik ’n gesprek aanknoop, en dit lei dikwels tot lonende resultate.

By ’n bushalte het ’n Getuie ’n gesprek met ’n vrou van Afrika begin bloot deur hartlik vir haar te glimlag. Die vrou het gou haar vreugde om van God se Koninkryk te hoor, uitgespreek en sy wou meer omtrent die Bybel weet. Sy het Die Wagtoring en die Ontwaak! aanvaar en haar adres vir die Getuie gegee. Toe sy sê dat sy haar binnekort sal besoek, het die vrou beswaar gemaak. “Nee! Nee! Kom ons maak ’n definitiewe afspraak sodat ek by die huis sal wees wanneer jy kom.”

Drie dae later, toe die Getuie die afspraak wou nakom, het sy ontdek dat sy die vrou se adres verloor het. Maar sy het die straatnaam onthou en by elke huis gaan kyk of sy ’n persoon met ’n Afrika-van kon kry. Sy het aan die einde van die straat gekom sonder om te kry waarna sy gesoek het. Wat ’n groot teleurstelling was dit tog! Toe sy op die punt gestaan het om te vertrek, het die einste vrou na wie sy op soek was skielik, vanuit nêrens, voor haar gestaan, en dit was presies die tyd wat hulle afgespreek het om mekaar te ontmoet! ’n Tuisbybelstudie is begin.

Wat van die verskillende gewoontes, opvattings en tradisies? Wat byvoorbeeld van Hindoe-opvattings? Wel, een pionier het onthou wat sy in die boek Redenering uit die Skrif gelees het. Dit sê: “Bied die bevredigende waarhede in die Heilige Bybel aan in plaas van die ingewikkeldhede van Hindoe-filosofie te probeer bespreek. . . . Die duidelike waarhede in sy Woord sal die harte bereik van diegene wat na geregtigheid honger en dors.”

Dit was presies wat die pionier gedoen het toe sy Kashi, ’n vrou van Indië wat ’n Bybelstudie aanvaar het, ontmoet het. Kashi het geleidelik vordering gemaak, en sy het spoedig vir al haar vriende vertel van die dinge wat sy geleer het. Op ’n dag het die pionier ’n ambassadeur se vrou ontmoet wat haar gevra het: “Is jy die een wat vir Kashi die Bybel leer?” Hoe verbaas was die pionier toe die vrou vir haar sê: “Wat ’n onderwyseres is sy tog! Sy kon my al van soveel punte oortuig. Stel jou voor dat sy, ’n Hindoe, vir my, ’n Katoliek, die Bybel leer!”

Wanneer jy die Filippyners ontmoet, besef jy gou dat die meeste van hulle lief is vir die Bybel. Hulle is hartlik en gasvry, en dit is baie maklik om ’n gesprek met hulle aan te knoop. Een Filippynse vrou het geredelik twee tydskrifte aanvaar, maar omdat sy ’n Katoliek is, het sy hulle weggegooi. ’n Paar weke later het sy weer twee tydskrifte aanvaar wat sy in haar handsak gelos het. Een aand het sy lus gevoel om iets te lees. Nadat sy rondgesoek het vir iets interessants om te lees, het sy op die twee tydskrifte afgekom. Sy het hulle huiwerig begin lees, en haar belangstelling het gegroei. Kort daarna het ’n Getuie aan haar deur geklop, en die vrou het baie vrae gehad om te vra. Dit was die eerste keer dat sy ooit haar Katolieke opvattings vergelyk het met wat die Bybel sê. Die logiese, skriftuurlike aanbieding het haar oortuig dat sy uiteindelik die waarheid gevind het.

“Werp jou brood uit”

Baie van die buitelanders is in België vir sake of om by een van die 150 erkende ambassades of die Europese Gemeenskapskommissie te werk. Baie van hulle bly net ’n paar jaar. Om vir hulle te getuig en die Bybel met hulle te studeer, lyk dalk aanvanklik vrugteloos. Maar die Bybel herinner ons: “Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind” (Prediker 11:1). Dikwels is die resultate verbasend lonend.

Dit was die geval met ’n Amerikaanse vrou wat gereeld die tydskrifte van ’n Getuie ontvang het. Mettertyd het die Getuie vir haar gewys hoe voordelig dit is om die Bybel gereeld te bestudeer, en sy het aangebied om die Bybel met haar te studeer. Die vrou het die aanbod aanvaar en vinnig vordering gemaak. Sy het spoedig die verskil tussen ware en valse godsdiens gesien. Sy het gevolglik van alle godsdiensbeelde in haar huis ontslae geraak. Toe het die tyd vir haar aangebreek om na die Verenigde State terug te keer. Het dit die einde van haar geestelike vordering beteken? Stel jou voor hoe verheug en verras die Getuie was toe sy ’n telefoonoproep van ’n Getuie in die Verenigde State ontvang wat haar vertel dat die vrou haar studie voortgesit het, haar lewe aan Jehovah God toegewy het en gedoop is! Trouens, sy het reeds as ’n hulppionier gedien.

Dit was dieselfde met Kashi, die Indiese vrou, en met die Filippynse vrou wat vroeër gemeld is. Toe Kashi na Indië teruggekeer het, het sy en haar man hulle Bybelstudie voortgesit. Uiteindelik het albei hulle aan Jehovah toegewy en aan die predikingswerk begin deelneem. Aangesien hulle in ’n gebied gebly het waar daar geen ander Getuies was nie, het hulle hulle huis beskikbaar gestel vir ’n Gemeentelike Boekstudie. Kashi het hulppionierdiens gedoen in die mate wat haar gesondheid haar toegelaat het, en sy hou ses tuisbybelstudies wat altesaam 31 mense insluit. Die Filippynse vrou het later na die Verenigde State verhuis, en sy het ook tot toewyding en doop gevorder en ’n gewone pionier geword. Sulke gelukkige resultate is van die vele wat die Koninkryksverkondigers in België geniet terwyl hulle voortgaan om vir die mense in hulle gebied te preek.

Die uitdaging wat tale bied

Die taak om vir “alle soorte mense” te preek, vereis dat die takkantoor Bybellektuur in meer as honderd tale in voorraad moet hou. Daar is nou Belgiese gemeentes in tien tale. Van die 341 gemeentes is 61 in ander tale, en van die 26 000 Koninkryksverkondigers is 5 000 van ander nasionaliteite. In een gemeente is daar manne en vroue uit 25 verskillende lande. Stel jou die kleur en verskeidenheid by hulle vergaderinge voor! Tog is die liefde en eenheid onder die broers ’n kragtige getuienis van ware Christelike dissipelskap.—Johannes 13:34, 35.

Aangesien daar soveel mense in België woon wat die goeie nuus in ’n ander taal moet hoor, het party verkondigers die uitdaging aanvaar om moeilike tale soos Turks, Arabies of Chinees te leer. Hulle pogings is ryklik beloon.

Diegene wat onder die Arabiese bevolking werk, vind dat hulle dikwels belangstelling in die Bybel kan aanwakker deur die praktiese waarde daarvan te beklemtoon. Een Koninkryksverkondiger het ’n interessante bespreking met ’n Arabiese professor gehad, en toe vir drie jaar daarna kon hy die professor nie weer in die hande kry nie. Die verkondiger was nie maklik ontmoedig nie en het besluit om ’n nota met ’n paar Bybelvrae vir die professor te laat. Dit het hom so geïnteresseer dat hy bereid was om die Bybel objektief te ondersoek. Dit wat hy gevind het, het hom so verbaas dat hy en sy vrou, albei Moslems, sekere aande opsysit om die Bybel saam te lees.

Diegene wat die groot Chinese bevolking in die hoofstede probeer help, het buiten die taalgrens ’n ander struikelblok om te oorkom. Die meeste Chinese glo nie in God as die Skepper of in die Bybel as die Woord van God nie. Tog is hulle nuuskierig en wil hulle weet waaroor dit alles gaan. Hulle is ook ywerige lesers. Dit is nie ongewoon dat hulle die Bybellektuur wat by hulle gelaat word of selfs groot dele van die Bybel binne slegs ’n paar dae lees nie. As hulle die regte hartstoestand het, word hulle deur die krag van God se Woord beweeg.

Een Chinese vrou het dit baie moeilik gevind om die idee van ’n Skepper te aanvaar. Maar gedurende die tweede studie het sy trane in haar oë gekry en gesê: “Nou glo ek in Jehovah God, want as die Bybel oor ’n tydperk van 1 600 jaar deur 40 verskillende manne geskryf is en dit nogtans in volkome harmonie met een tema is, moes Jehovah God die skrywe daarvan gerig het. Dis so logies!”

’n Ander Chinese vrou is deur ’n Getuie op die trem genader. “Is jy ’n Christen?” het sy die Getuie gevra. Sy het toe gesê dat sy baie teleurgesteld is om te sien hoeveel teenstrydigheid daar onder diegene is wat beweer dat hulle Christene is. Die Getuie het met haar saamgestem, maar verduidelik dat die Bybel nie homself weerspreek nie. Net toe moes die vrou afklim. Sy het haar adres vir die Getuie gegee, en toe sy haar besoek, het die vrou uitgeroep: “As ek maar net geweet het, sou ek ’n jaar vroeër met die trem gery het!” Toe sy haar vra wat sy bedoel, het die vrou verduidelik: “Dit was die eerste keer dat ek met die trem universiteit toe gery het. Dink net daaraan; ek het ’n jaar gemors!” Sy was so verheug dat sy die Bybel kon bestudeer, al was dit net vir ’n paar maande voordat sy na China moes terugkeer.

Sulke ondervindinge het die Belgiese Getuies ’n les geleer. “Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie;” sê die Bybel, “want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie” (Prediker 11:6). Die pogings wat aangewend word om die hindernisse van taal, gewoontes en tradisie te oorbrug, is baie beslis die moeite werd. Die hartverblydende reaksies bewys bowenal dat God werklik “geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is”.—Handelinge 10:34, 35.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel