Nigerië se Hoogste Hof handhaaf godsdiensvryheid
DORPENAARS plunder ’n boer se oes. Ander bestorm ’n messelaar se huis en steel sy gereedskap. Nog ander keer dat ’n vrou handel dryf. Waarom hierdie mishandeling? Dit is omdat die slagoffers, wat almal Getuies van Jehovah is, nie aan ouderdomsgraderingsverenigings wil behoort nie. ‘Waaraan?’ wonder jy moontlik.
’n Ouderdomsgraderingsvereniging bestaan uit mense, gewoonlik mans, wat op ongeveer dieselfde tyd en in dieselfde dorp gebore is. Ouderdomsgraderingsgroepe is iets algemeens in Oos-Nigerië. Hulle ondersteun moontlik ’n gemeenskapsprojek, maar hulle beoefen ook afgodediens en voer spiritistiese rites uit om te toon dat die lede mondig is. Aangesien die Bybel sulke gebruike vir ware Christene veroordeel, maak Jehovah se Getuies nie deel uit van sulke groepe nie.—1 Korinthiërs 10:20, 21; 1 Johannes 5:21.
Samuel Okogbue het as ’n kleremaker in Aba, Nigerië, gewerk. Vroeg in 1978 het lede van die Umunkalu-Ouderdomsgraderingsvereniging van Alayi daarop aangedring dat hy “belasting” betaal om ’n gesondheidsentrum te help bou. Samuel doen as ’n ware Christen baie moeite om ander mense te help, maar hy het getrou aan sy gewete geweier om by die ouderdomsgraderingsgroep betrokke te raak. Op 22 April van daardie jaar het ses lede van die groep by sy winkel ingebreek en sy naaimasjien gesteel, en hulle het gesê dat hulle dit sou hou totdat hy die geld betaal. Samuel het nie hiermee saamgestem nie en het gesê dat hy nie verplig is om enigiets te betaal nie aangesien hy nie ’n lid van hulle vereniging is nie. Toe Samuel nie sy naaimasjien kon terugkry nie, het hy ’n saak teen hulle gemaak.
Van die een hof na die ander
In die Hooflanddroshof het die ouderdomsgraderingsgroep geredeneer dat Samuel weens sy ouderdom outomaties ’n lid is en enige belasting moet betaal wat hulle aan hulself oplê. Daarbenewens was dit die gemeenskap se gebruik om ’n lid wat nie belasting wil betaal nie se eiendom te konfiskeer totdat hy betaal.
Die hof het nie hiermee saamgestem nie. Op 28 Februarie 1980 het die hof beslis dat Samuel nie gedwing kan word om ’n lid van ’n ouderdomsgraderingsgroep te word nie. Die Hooflanddros het gesê: “’n Gebruik wat ’n burger daarvan weerhou om sy eie keuse ten opsigte van ’n vereniging te doen, is in teenstelling met S[eksie] 37 van die Grondwet van die Bondsrepubliek Nigerië en kan gevolglik nie die steun van die Wet verkry nie.”
Die ouderdomsgraderingsgroep het hierdie uitspraak na die Hooggeregshof geappelleer en die saak gewen. Daar het die regter Samuel gelas om die belasting te betaal en gesê dat dit eenvoudig ’n manier is waarop hy bydra tot die ontwikkeling van die gemeenskap waarin hy gebore is.
Toe het Samuel daarteen geappelleer omdat hy dit as ’n onreg beskou het. Die Appèlhof het die uitspraak van die Hooggeregshof ter syde gestel en in Samuel se guns besluit. Die ouderdomsgraderingsgroep wou nie die stryd gewonne gee nie en het die saak na die Hoogste Hof van Nigerië geneem.
Intussen was lede van die groep in Samuel se dorpie doenig. Hulle het die hoof van die dorpie oortuig dat hy die bedrywighede van Jehovah se Getuies in die gebied moet verbied omdat die Getuies volgens die groep teen alle gemeenskapsprojekte gekant was. Die dorpsomroeper het aangekondig dat almal wat sake met Jehovah se Getuies doen, beboet sal word. Getuies van omliggende dorpe het ingegryp en die saak aan die hoofmanne in die dorpie verduidelik. Hulle het verduidelik dat God se volk geensins gemeenskapsontwikkeling teenstaan nie. Trouens, Samuel het kwitansies in die hof voorgelê wat bewys het dat hy bygedra het tot gemeenskapsprojekte wat nie deur ouderdomsgraderingsgroepe ondersteun is nie. Die hoofmanne van die dorpie het toe hulle besluit herroep om die Getuies uit die gemeenskap uit te sluit.
Godsdiensvryheid seëvier
Op 21 Oktober 1991 het vyf regters van Nigerië se Hoogste Hof eenparig in Samuel se guns besluit. Regter Abubakar Wali het oor die hoofuitspraak van regter Paul Nwokedi gesê: “Die respondent [Samuel] is nie teen die betaling van die belastingheffing [opgelegte belasting] gekant nie, maar hy kan nie ’n lid van enige genootskap, klub of ouderdomsgraderingsvereniging wees nie, omdat dit teen sy godsdiensopvatting is, aangesien hy ’n lid van Jehovah se Getuie[s] is.”
Die regter het verder gesê: “Die Grondwet van 1963, seksie 24(1) het alle Nigeriese burgers van vryheid van gewete, denke en godsdiens verseker. Die respondent het die reg om die beginsels van sy godsdiens, denke en gewete te handhaaf wat hom daarvan weerhou om aan die Ouderdomsgraderingsvereniging te behoort. Enige gebruik wat die teenoorgestelde hiervan vereis, is in stryd met die Grondwet en is gevolglik in daardie opsig waardeloos.”
Kortom, die hof het beslis dat geen mens deur die wet gedwing kan word om by ’n ouderdomsgraderingsgroep aan te sluit nie, hoewel lidmaatskap daarvan moontlik ’n gemeenskapsgebruik is. Dit het ook beslis dat geen mens wetlik gedwing kan word om geld te betaal deur ’n vereniging waarvan hy nie ’n lid is nie, selfs wanneer die geld vir gemeenskapsontwikkeling gebruik word. Godsdiensvryheid vir alle Nigeriërs is gevolglik deur hierdie oënskynlik nietige saak gehandhaaf.