Wandel met ’n verenigde hart
“Onderrig my, o Jehovah . . . Verenig my hart om u naam te vrees.”—PSALM 86:11, NW.
1. Hoe beloon Jehovah sy lojale knegte?
‘O JEHOVAH, U alleen is God’ (Psalm 86:8, 10, vgl. NW). Dawid het God met ’n hart vol waardering geloof. Selfs voor Dawid oor die hele Israel koning geword het, het Jehovah hom van Saul en van die Filistyne gered. Hy kon derhalwe sing: “Jehovah is my steil rots en my vesting en die Een wat my uitkoms verskaf. Jeens iemand wat lojaal is, sal u in lojaliteit handel” (2 Samuel 22:2, 26, NW). Jehovah het sy lojale kneg deur baie beproewings beskerm. Dawid kon sy vertroue in en hoop op sy lojale God stel, maar hy het voortdurend leiding nodig gehad. Dawid het God nou gesmeek: “Leer my, [o Jehovah], u weg.”—Psalm 86:11, vgl. NW.
2. Hoe het Jehovah voorsiening gemaak sodat ons deur hom geleer kan word?
2 Dawid wou niks met wêreldse idees of filosofieë te doen hê nie. Hy wou deur “die HERE geleer” word, soos God se profeet dit later gestel het (Jesaja 54:13). Dawid kon waarskynlik net oor nege boeke van die Bybel peins wat in sy dag beskikbaar was. Tog was daardie onderrigting van Jehovah vir hom kosbaar! Ons word vandag ook geleer en ons kan ons in al 66 boeke van die Bybel verlustig, sowel as ’n oorvloed van Koninkrykslektuur wat deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien word (Mattheüs 24:45). Laat ons ons, soos Dawid, op Jehovah beroep, sodat sy gees ons kan help om die dinge te ondersoek “wat God berei het vir die wat Hom liefhet, . . . ook die dieptes van God.”—1 Korinthiërs 2:9, 10.
3. In watter opsigte kan Bybelonderrig ons tot voordeel strek?
3 Die Bybel het die antwoord op elke vraag en probleem wat in ons lewe kan ontstaan. “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4). As ons die onderrigting van Jehovah af ons eie maak, sal dit ons versterk om ontberinge te verduur, ons in tye van terneergedruktheid vertroos en sal die Koninkrykshoop vir ons ’n werklikheid bly. Laat ons genot daaruit put om God se Woord te lees en om “dag en nag” daaroor te peins, want Bybelse wysheid word “’n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig”.—Psalm 1:1-3; Spreuke 3:13-18; sien ook Johannes 17:3.
4. Watter voorbeeld het Jesus vir ons ten opsigte van ons optrede gestel?
4 God se Seun, Jesus, wat ook die “Seun van Dawid” genoem word, het hom altyd tot Jehovah gewend vir onderrigting (Mattheüs 9:27).a Hy het gesê: “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so.” “Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek” (Johannes 5:19; 8:28). Jesus het ons ’n voorbeeld nagelaat ‘sodat ons sy voetstappe kan navolg’ (1 Petrus 2:21). Dink net daaraan! As ons studeer soos Jesus sekerlik gedoen het, sal ons in enige situasie kan optree soos Jehovah wil hê ons moet optree. Jehovah se manier is altyd die regte manier.
5. Wat is “waarheid”?
5 Dawid het vervolgens gesê: “Ek sal in u waarheid wandel” (Psalm 86:11). Duisend jaar later het Pilatus die Seun van Dawid, Jesus, aangespreek en gevra: “Wat is waarheid?” Maar Jesus het daardie vraag pas beantwoord toe hy vir Pilatus gesê het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie”, en hy het bygevoeg: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig” (Johannes 18:33-38). Jesus het derhalwe bekend gemaak dat die waarheid die aandag op die Messiaanse Koninkryk vestig. Trouens, die hele tema van die Bybel is die verheerliking van Jehovah se naam deur middel van daardie Koninkryk.—Esegiël 38:23, NW; Mattheüs 6:9, 10; Openbaring 11:15.
6. Waarvoor moet ons versigtig wees wanneer ons in die waarheid wandel?
6 Wat beteken dit om in die waarheid te wandel? Dit beteken om die Koninkrykshoop die belangrikste saak in ons lewe te maak. Ons moet Koninkrykswaarheid uitleef. Ons moet Koninkryksbelange geheel en al eerste stel en Jesus ywerig navolg na gelang van ons geleenthede om van die Koninkrykswaarheid te getuig (Mattheüs 6:33; Johannes 18:37). Ons kan nie gedeeltelik in die waarheid wandel deur blote vormdiens te verrig, maar onsself dan te behaag deur nou en dan af te dwaal om ons aan oordadige ontspanning oor te gee of om met ’n tydrowende loopbaan te begin of om ‘Rykdom as slaaf te dien’ nie (Mattheüs 6:24, NW). Ons kan maklik op een van daardie paadjies verdwaal en dalk nooit weer ons weg terugvind na ‘die smal pad wat na die lewe lei’ nie. Laat ons tog nooit van daardie pad afdwaal nie! (Mattheüs 7:13, 14). Ons Grootse Onderrigter, Jehovah, verlig die pad deur sy Woord en organisasie en sê: “Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.”—Jesaja 30:21.
’n Behoorlike vrees
7. Hoe kan ons ons hart “verenig”?
7 Dawid se gebed gaan in vers 11 voort: “Verenig my hart om u naam te vrees” (NW). Ons wil soos Dawid hê dat ons hart onverdeeld, volkome in die uitvoering van God se wil moet wees. Dit is in ooreenstemming met Moses se raad: “En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?” (Deuteronomium 10:12, 13). Dit is inderdaad tot ons eie voordeel dat ons Jehovah met ons hart en siel dien. Sodoende toon ons ’n behoorlike vrees vir sy roemryke naam. Jehovah se naam beteken letterlik “Hy laat word”, veral met betrekking tot die vervulling van sy grootse voornemens. Dit verteenwoordig ook sy oppermag oor die ganse heelal. As ons God uit ontsag vir sy majesteit dien, sal ons nie toelaat dat mensevrees ons laat afwyk nie. Ons hart sal nie verdeeld wees nie. Ons sal eerder bevrees wees om enigiets te doen wat Jehovah, die Opperregter en Soewereine Heer wat ons lewe in sy hand hou, sal mishaag.—Jesaja 12:2; 33:22.
8, 9. (a) Wat beteken dit om “nie van hierdie wêreld” te wees nie? (b) Watter stappe moet ons doen omdat ons “’n skouspel” is?
8 Ons sal selfs wanneer smaad en vervolging ons in die gesig staar Jesus se vreeslose voorbeeld volg deur geen deel van die goddelose wêreld om ons te wees nie (Johannes 15:17-21). Dit beteken nie dat Jesus se dissipels soos kluisenaars moet lewe of in ’n klooster afgesonder moet word nie. Jesus het in gebed tot sy Vader gesê: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur” (Johannes 17:15-18). Ons word soos Jesus gestuur om die Koninkrykswaarheid te verkondig. Mense het die vrymoedigheid gehad om Jesus te nader. Mense is deur sy manier van onderrigting verkwik. (Vergelyk Mattheüs 7:28, 29; 11:28, 29; Johannes 7:46.) Dit moet met ons ook die geval wees.
9 Ons spontane vriendelikheid, smaakvolle persoonlike versorging en voorkoms asook ons vriendelike en opbouende gesprekke moet ons en ons boodskap vir regskapenes aanvaarbaar maak. Ons moet slordigheid, onbeskeie kleredrag, assosiasies wat tot wêreldse betrokkenheid kan lei en die bandelose, beginsellose lewenswyse wat ons in die wêreld om ons sien, vermy. Aangesien ons “’n skouspel geword [het] vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense”, is ons 24 uur per dag aan diens om as voorbeeldige Christene te dien en te leef (1 Korinthiërs 4:9; Efesiërs 5:1-4; Filippense 4:8, 9; Kolossense 4:5, 6). Ons hart moet verenig wees om hierdie doel te bereik.
10. Hoe onthou Jehovah diegene wat hulle hart in heilige diens verenig?
10 Ons wat ons hart in die vrees van Jehovah se naam verenig, oor sy grootse voornemens peins en ons lewe met heilige diens vul, sal deur Jehovah onthou word. “Want die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9). Maleagi 3:16 praat profeties van ons dag, en lui: “Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer.” Mag ons hart tog in daardie gesonde vrees van Jehovah verenig wees!
Jehovah se goedertierenheid
11. Hoe sal Jehovah se goedertierenheid teenoor sy lojale knegte betoon word?
11 Hoe vurig is Dawid se gebed tog! Hy gaan voort: “[O Jehovah], my God, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer; want u goedertierenheid is groot oor my, en U het my siel uit die doderyk [“Sjeool”, NW] diep daaronder gered” (Psalm 86:12, 13, vgl. NW). Dawid loof Jehovah vir die tweede keer in hierdie psalm vir Sy goedertierenheid—Sy lojale liefde. Hierdie liefde is so groot dat dit in oënskynlik onmoontlike situasies tot ’n mens se redding kan kom. Toe Saul Dawid in die woestyn agtervolg het, het hy dalk gewens dat hy maar liewer net kon sterf. Dit was asof hy van aangesig tot aangesig met die diepe Sjeool—die dieptes van die graf—gekom het. Maar Jehovah het hom verlos! Net so het Jehovah al dikwels op wonderlike maniere vir sy hedendaagse knegte verligting gebring, en hy het ook handhawers van onkreukbaarheid onderhou wat selfs tot die dood toe getrou was. Almal wat lojaal is, sal hulle beloning ontvang, al is dit ook deur middel van ’n opstanding.—Vergelyk Job 1:6-12; 2:1-6, 9, 10; 27:5, NW; 42:10; Spreuke 27:11; Mattheüs 24:9, 13; Openbaring 2:10.b
12. Hoe het geestelikes al vermetel en tiranniek opgetree, en wat sal hulle loon wees?
12 Dawid roep die volgende aangaande vervolgers uit: “o God, vermeteles het teen my opgestaan, en ’n bende tiranne soek my lewe; en hulle stel U nie voor hul oë nie” (Psalm 86:14). Hedendaagse vervolgers het al geestelikes van die Christendom ingesluit. Hulle sê dat hulle God aanbid, maar vervang sy heilige naam met die titel “Here” en sê dat hy ’n geheimsinnige Drie-eenheid is waarvan daar in werklikheid nêrens in die Bybel melding gemaak word nie. Hoe verwaand tog! Dan probeer hulle nog om die politieke magte te oorreed om Jehovah se Getuies onwettig te verklaar en in die tronk te sit, soos steeds in verbasend baie lande wêreldwyd gedoen word. Hierdie geestelikes wat God se naam laster, asook al die hoeragtige sektore van Babilon die Grote, sal hulle verdiende loon ontvang.—Openbaring 17:1, 2, 15-18; 19:1-3.
13. Watter eienskappe toon Jehovah wanneer hy goedheid openbaar?
13 In gelukkige teenstelling hiermee gaan Dawid se gebed voort: “Maar U, [o Jehovah], is ’n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Psalm 86:15, vgl. NW). Hierdie eienskappe van ons God is inderdaad voortreflik. Hierdie woorde laat ons terugdink aan die geleentheid by die berg Sinai toe Moses gevra het om Jehovah se heerlikheid te sien. Jehovah het geantwoord: “Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die HERE uitroep.” Maar hy het Moses gewaarsku: “Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” Daarna het Jehovah in die wolk neergedaal en uitgeroep: “HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Exodus 33:18-20; 34:5, 6). Dawid het hierdie woorde in sy gebed aangehaal. Hierdie eienskappe van Jehovah beteken vir ons baie meer as enige fisiese voorkoms! Waardeer ons nie uit eie ondervinding Jehovah se goedheid soos dit deur hierdie voortreflike eienskappe toegelig word nie?
“’n Teken ten goede”
14, 15. Hoe doen Jehovah “’n teken ten goede” aan sy knegte?
14 Dawid smeek Jehovah weer eens om sy seën en sê: “Wend U tot my en wees my genadig; gee u sterkte aan u kneg en verlos die seun van u diensmaagd. Doen aan my ’n teken ten goede, sodat my haters dit sien en beskaamd kan staan, omdat U, o [Jehovah], my gehelp en getroos het” (Psalm 86:16, 17, vgl. NW). Dawid besef dat hy as ‘die seun van Jehovah se diensmaagd’ ook aan Jehovah behoort. Dit is dieselfde met ons almal wat vandag ons lewe aan Jehovah toegewy het en hom heelhartig dien. Ons het Jehovah se reddende sterkte deur sy heilige gees nodig. Ons vra ons God gevolglik om “’n teken ten goede” aan ons te doen. Jehovah se goedheid sluit die voortreflike eienskappe in wat ons pas bespreek het. Watter teken, of bewys, kan ons op grond hiervan verwag dat Jehovah ons sal gee?
15 Jehovah is die Gewer van “elke goeie gif en elke volmaakte gawe”, en soos Jesus ons verseker het, gee hy vrygewig “Heilige Gees . . . aan die wat Hom bid” (Jakobus 1:17; Lukas 11:13). Heilige gees—wat ’n kosbare gawe van Jehovah is dit tog! Jehovah voorsien, selfs in tye van vervolging, hartsvreugde deur middel van die heilige gees. Toe Jesus se apostels dus tereggestaan het op ’n aanklag wat die doodstraf kon beteken het, kon hulle vreugdevol sê dat God heilige gees gee aan diegene wat hom as heerser gehoorsaam (Handelinge 5:27-32). Die blydskap van die heilige gees was vir hulle voortdurend “’n teken ten goede”.—Romeine 14:17, 18.
16, 17. (a) Watter teken van sy goedheid het Jehovah aan Paulus en Barnabas gegee? (b) Watter teken is aan die vervolgde Thessalonicense gegee?
16 Gedurende hulle sendingreis deur Klein-Asië het Paulus en Barnabas baie ontberinge en selfs kwaai vervolging verduur. Toe hulle in Antiochië in Pisidië gepreek het, het die Jode hulle boodskap verwerp. Hulle het hulle gevolglik tot diegene uit die heidense nasies gewend. Met watter resultaat? “Toe diegene uit die heidense nasies dit hoor, het hulle hulle verheug en die woord van Jehovah verheerlik, en almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het, het gelowiges geword.” Maar die Jode het ’n opskudding veroorsaak sodat daardie sendelinge uit die gebied verdryf is. Het dit hulle en die nuwe gelowiges moedeloos gemaak? Geensins nie! Trouens, “die dissipels is vervul met vreugde en heilige gees” (Handelinge 13:48, 52, NW). Jehovah het hulle daardie teken van sy goedheid gegee.
17 Later is die nuwe gemeente in Thessalonika vervolg. Dit het daartoe aanleiding gegee dat die apostel Paulus ’n brief van vertroosting geskryf en hulle vir hulle volharding onder vervolging geprys het. Hulle het “die woord in baie verdrukking ontvang . . . met die blydskap van die Heilige Gees” (1 Thessalonicense 1:6). “Die blydskap van die Heilige Gees” het aangehou om hulle te versterk as ’n duidelike teken van die God wat barmhartig en genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou is.
18. Hoe het ons broers in Oos-Europa waardering vir Jehovah se goedheid getoon?
18 In onlangse tye het Jehovah sy goedheid teenoor ons getroue broers in Oos-Europa getoon, en diegene wat hulle gehaat het—hulle voormalige vervolgers—beskaamd gemaak. Hoewel hierdie dierbare broers onlangs van dekades van onderdrukking verlos is, moet hulle steeds lyding verduur, omdat baie van hulle ernstige ekonomiese ontberinge ly. Maar hulle “blydskap van die Heilige Gees” vertroos hulle. Watter groter vreugde kan hulle hê as om hulle nuutgevonde vryhede te gebruik om meer te kan getuig? Baie mense luister na hulle, soos verslae oor byeenkomste sowel as doopsyfers toon.—Vergelyk Handelinge 9:31.
19. Hoe kan ons die woorde van Psalm 86:11 ons eie maak?
19 Alles wat in hierdie en in die vorige artikel bespreek is, beaam Dawid se innige gebed tot Jehovah: “Onderrig my, o Jehovah . . . Verenig my hart om u naam te vrees” (Psalm 86:11, NW). Laat ons hierdie woorde van ons 1993-jaarteks ons eie maak terwyl ons heelhartig werk ter ondersteuning van Koninkryksbelange en uit waardering vir die onuitputlike goedheid van ons een God, die Soewereine Heer Jehovah.
[Voetnote]
a As die voorspelde “saad” is Jesus die erfgenaam van die Dawidiese koninkryk en gevolglik in letterlike sowel as geestelike sin die “Seun van Dawid”.—Genesis 3:15; Psalm 89:29, 34-37.
b Sien die Yearbook of Jehovah’s Witnesses se uitgawes van 1974, bladsye 113-212; 1985, bladsye 194-7; 1986, bladsye 237-8; 1988, bladsye 182-5; 1990, bladsye 171-2; 1992, bladsye 174-81 vir hedendaagse voorbeelde.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat toon ons as ons bid: “Onderrig my, o Jehovah”?
◻ Wat beteken dit as ons hart verenig is om Jehovah se naam te vrees?
◻ Hoe sal Jehovah sy goedertierenheid teenoor alle lojales toon?
◻ Hoe doen Jehovah aan ons “’n teken ten goede”?
[Venster op bladsy 16]
Die jaarteks vir 1993: “Onderrig my, o Jehovah . . . Verenig my hart om u naam te vrees.”—Psalm 86:11, NW.
[Prent op bladsy 15]
Jehovah is ’n steil rots en ’n vesting vir diegene wat in die waarheid wandel sonder om af te dwaal
[Prent op bladsy 18]
In Junie het 46 214 die “Ligdraers”- Internasionale Byeenkoms van Jehovah se Getuies in St. Petersburg, Rusland, bygewoon, en 3 256 is gedoop. Op watter wonderlike wyse maak hulle tog, met die “blydskap van die Heilige Gees”, gebruik van Jehovah se goedheid!