Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 6/1 bl. 27-30
  • Ek het die waarheid ná Buchenwald gevind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het die waarheid ná Buchenwald gevind
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons word gearresteer
  • Op pad na Duitsland
  • Die alledaagse lewe
  • ’n Groep wat anders was
  • Die doodstrein
  • ’n Nuwe stap
  • Ek het die “tog na die dood” oorleef
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • My haat het in liefde verander
    Ontwaak!—1995
  • Met Jehovah se hulp het ons getrou gebly onder totalitêre regimes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Ek kon altyd iets vir Jehovah doen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 6/1 bl. 27-30

Ek het die waarheid ná Buchenwald gevind

EK HET in die dertigerjare in Grenoble, Frankryk, grootgeword. My Duitse onderwyser, ’n Fransman, was ’n fanatieke Nazi. By die skool het hy altyd volgehou dat Duits eendag “goed te pas gaan kom”. Maar die meeste van ons onderwysers, wat veterane van die Eerste Wêreldoorlog was, was bekommerd oor die opkoms van Nazisme in Duitsland. Ek was ook bekommerd aangesien dit al hoe duideliker geword het dat daar oorlog aan die kom was.

In 1940, aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog, het ’n geliefde oom van my in ’n hewige geveg by die Somme-rivier gesneuwel. Ek het baie verbitterd geraak, maar ek was te jonk om by die Franse Leër aan te sluit. Ek is egter drie jaar later, tydens die Duitse besetting van Frankryk, die geleentheid gegee om my vaardighede as tekenaar ten behoewe van die Franse Versetbeweging te gebruik. Ek was besonder goed met die vervalsing van handtekeninge en het ook die Duitsers se rubberstempels nagemaak. Dit het my soveel bevrediging verskaf om my op hierdie manier teen die besettingsmagte te kon verset dat my metgeselle se Kommunistiese opvattings vir my op daardie stadium nie belangrik was nie.

Ons word gearresteer

Die plaaslike Versetbeweging het op 11 November 1943 ’n optog gereël om die Eerste Wêreldoorlog se wapenstilstand te herdenk. Maar Franse mobiele troepe het die toegang tot die brug wat na die oorlogsgedenkteken lei, geblokkeer, en hulle het ons aangeraai om terug huis toe te gaan. Ons het toe besluit om na ’n ander oorlogsgedenkteken in die dorp self te marsjeer. Maar ons het een ding vergeet. Die gedenkteken was maar ’n hanetreetjie van die Gestapo se kantore af.

Ons groep is vinnig deur gewapende soldate omring, wat ons in ’n ry teen ’n muur laat staan het. Toe die soldate ons daarvandaan laat aanstap het, het hulle etlike rewolwers op die grond aangetref. Aangesien niemand wou erken dat dit hulle s’n was nie, het die soldate net die vroue en die kinders van 16 jaar en jonger vrygelaat. Ek is dus, op 18, saam met 450 ander in hegtenis geneem. Ons is ’n paar dae later na ’n deurgangskamp naby Compiègne, in Noord-Frankryk, verskuif.

Op pad na Duitsland

Op 17 Januarie 1944 het ek my eerste ontmoeting—maar ongelukkig nie my laaste nie—met Duitse soldate gehad wie se helms ’n swastika aan die linkerkant en die letters SS (Schutzstaffel) aan die regterkant gehad het. Hulle het honderde gevangenes in ’n groep byeengebring, en ons moes na die Compiègne-stasie stap. Ons is letterlik in die treinwaens ingeskop. Daar was 125 gevangenes in ons goederewa alleen. Ons het drie dae en twee nagte niks gehad om te eet of te drink nie. Die swakkeres het binne ’n paar uur reeds inmekaargesak en is deur die ander vertrap. Twee dae later het ons by Buchenwald, naby Weimar, diep binne Duitsland, aangekom.

Nadat ek ontsmet en my hare afgeskeer is, is ek die registrasienommer 41 101 gegee en as ’n “Kommunistiese terroris” geklassifiseer. Tydens ’n kwarantyntydperk het ek die Dominikaanse priester Michel Riquet ontmoet wat ná die oorlog vir sy preke in die Notre Dame-katedraal, Parys, bekendheid sou verwerf. Ek, asook ander jong manne van my ouderdom, het hom gevra waarom God sulke gruwels toelaat. Hy het geantwoord: “’n Mens moet baie lyding deurmaak as jy dit waardig wil wees om hemel toe te gaan.”

Die alledaagse lewe

Die bewoners van al 61 barakke moes soggens omstreeks halfvyf opstaan. Ons het met kaal bolywe uitgekom en moes dikwels die ys opbreek om te kon was. Almal moes hierdie reëls nakom, of hulle nou gesond of siek was. Daarna is die brood uitgedeel—tussen 200 en 300 gram smaaklose brood per dag, met ’n lekseltjie margarien en iets wat amper soos konfyt gelyk het. Om 5:30 vm. moes almal bymekaarkom sodat ons name afgelees kon word. Wat ’n verskriklike ervaring was dit tog om diegene wat gedurende die nag gesterf het op ons rug uit te dra! Die skerp reuk van rook wanneer die lyke verbrand is, het ons aan ons medegevangenes laat dink. Weersin, wanhoop en haat het ons oorweldig, aangesien ons geweet het dat dit maklik met ons ook kon gebeur.

My werk by die BAU II Kommando was om slote te grawe wat glad nie gebruik sou word nie. Ons het skaars die sloot van twee meter diep gegrawe of ons moes dit weer net so sorgvuldig opvul. Ons het om 6:00 vm. begin werk, smiddae ’n halfuur lank gerus, en dan het ons weer tot 7:00 nm. gewerk. Wanneer ons name in die aand afgelees is, het dit gevoel of dit nooit gaan ophou nie. Wanneer daar ook al baie Duitsers aan die Russiese front gesterf het, kon dit selfs tot middernag voortduur.

’n Groep wat anders was

Enigiemand wat uit die kamp probeer ontsnap het, kon maklik uitgeken word omdat ons almal onegalige haarstyle gehad het. Ons hare is só gesny dat daar in die middel of langs die kante ’n geskeerde of baie kort geknipte strook was. Maar sommige gevangenes het ’n gewone haarstyl gehad. Wie was hulle? Die hoof van ons barak het ons nuuskierigheid bevredig. “Hulle is Bibelforscher (Bybelstudente)”, het hy gesê. “Maar waarom is daar Bybelstudente in ’n konsentrasiekamp?” het ek gewonder. “Hulle is hier omdat hulle Jehovah aanbid”, is ek ingelig. Jehovah! Dit was die heel eerste keer dat ek God se naam gehoor het.

Ek het mettertyd ’n bietjie meer oor die Bybelstudente te wete gekom. Die meeste van hulle was Duitsers. Sommige van hulle was reeds sedert die middel-dertigerjare in konsentrasiekampe omdat hulle geweier het om Hitler te gehoorsaam. Hulle kon hulle vryheid verkry het, maar hulle het geweier om hulle standpunt prys te gee. Die SS het hulle as hulle persoonlike haarsnyers gebruik, en hulle is spesiale take gegee waarvoor betroubare werkers nodig was, soos administratiewe werk. Wat ons die meeste dronkgeslaan het, was die feit dat hulle so kalm was en geen haat of ’n gees van opstandigheid en wraaksugtigheid getoon het nie. Ek kon dit nie verstaan nie. Ek het ongelukkig op daardie stadium nie genoeg Duits geken om met hulle te kon gesels nie.

Die doodstrein

Namate die Geallieerdes al hoe nader gekom het, is gevangenes na kampe dieper in die binneland gestuur, maar hierdie kampe het te vol begin raak. Die SS het die oggend van 6 April 1945 5 000 van ons bymekaargebring en ons gedwing om die nege kilometer na Weimar te stap. Diegene wat nie kon byhou nie, is koelbloedig in die nek geskiet. Toe ons uiteindelik by Weimar-stasie aangekom het, het ons in oop goederewaens geklim, en die trein het vertrek. Die trein het 20 dae lank van die een stasie na die ander deur Duitsland en toe tot in Tsjeggo-Slowakye gery.

Een oggend is ’n deel van ons trein op ’n sylyn afgehaak. Soldate het masjiengewere van hulle staanders afgehaak, ’n goederewa se deure oopgemaak en al die Russiese gevangenes daarbinne afgemaai. Die rede? ’n Stuk of twaalf gevangenes het gedurende die nag hulle wagte doodgemaak en ontsnap. Ek kan tot vandag toe nog sien hoe die bloed deur die vloer van die wa op die treinspoor drup.

Uiteindelik het die trein in Dachau aangekom, waar ons twee dae later deur die Amerikaanse Leër bevry is. Al wat ons tydens die hele reis van 20 dae gehad het om van te lewe was ’n paar rou aartappels en ’n bietjie water. Daar was 5 000 van ons toe ons vertrek het, maar net 800 het dit oorleef. Baie ander het dae later gesterf. Ek het die grootste gedeelte van daardie reis op ’n lyk gesit.

’n Nuwe stap

Na my bevryding was dit net vanselfsprekend dat ek die Franse Kommunistiese Party aktief sou ondersteun, aangesien ek in Buchenwald baie van die partylede—onder andere vooraanstaande lede—goed leer ken het. Ek het die assistentsekretaris van die afdeling in Grenoble geword en is aangemoedig om ’n bestuursopleidingskursus in Parys te volg.

Ek is egter spoedig teleurgestel. Ons is uitgenooi om op 11 November 1945 aan ’n optog in Parys deel te neem. Die camarade wat oor ons groep aangestel was, het ’n som geld vir ons verblyf ontvang; maar dit het nie juis gelyk of hy dit aan ons verblyf wou bestee nie. Ons moes hom herinner aan die beginsels van eerlikheid en vriendskap wat veronderstel was om ons te verenig. Ek het ook tot die besef gekom dat die talle vooraanstaande manne wat ek geken het eenvoudig nie die oplossing vir die wêreld se probleme gehad het nie. Bowendien was die meeste van hulle ateïste, en ek het in God geglo.

Ek het later na Lyon verhuis, waar ek steeds as tekenaar gewerk het. Twee Getuies van Jehovah het my in 1954 besoek en ek het op die Ontwaak! ingeteken. Twee dae later het ’n man my kom besoek saam met een van die vroue wat vantevore aan my deur geklop het. Ek en my vrou het skielik besef dat ons albei in geestelike dinge belangstel.

Gedurende die daaropvolgende besprekings het ek teruggedink aan die Bibelforscher in Buchenwald wat so standvastig in hulle geloof was. Ek het toe eers besef dat daardie Bibelforscher en Jehovah se Getuies dieselfde mense is. Danksy ’n Bybelstudie het ek en my vrou ons standpunt vir Jehovah ingeneem en is ons in April 1955 gedoop.

Al die gebeure is nog so vars in my geheue asof dit gister gebeur het. Ek is nie verbitterd oor my beproewinge van vroeër nie. Hulle het my versterk en my gehelp om te sien dat hierdie wêreld se regerings ons niks kan bied nie. Hoewel ’n mens se persoonlike ondervindinge ander net in sekere mate kan help, sal ek bly wees as my ondervinding hedendaagse jongmense net kan help om deur die skyn van hierdie wêreld te sien en derhalwe goeie, eerlike waardes in die ware Christelike godsdiens, wat Jesus geleer het, na te leef.

Vandag is lyding en ongeregtigheid ’n deel van die alledaagse lewe. Soos die Bibelforscher in die konsentrasiekampe sien ek ook uit na ’n beter wêreld in die toekoms, waar broederliefde en geregtigheid, pleks van geweld en fanatieke idealisme, sal heers. Intussen probeer ek as ouere man in die Christengemeente, saam met my vrou, kinders en kleinkinders, om God en Christus na die beste van my vermoë te dien (Psalm 112:7, 8).—Soos vertel deur René Séglat.

[Prente op bladsy 28]

Bo: Name word in die kamp afgelees

Links: Die ingangshek van Buchenwald. Die inskripsie lui: “Aan elkeen wat hom toekom”

[Prente op bladsy 29]

Bo: Krematorium by Buchenwald

Links: Sestien gevangenes op elke vlak

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel