Vrae van lesers
Steun die Bybel die bestaan van eenhorings wat in sommige vertalings gemeld word?
Die King James-, Douay- en ander vertalings praat van eenhorings. Maar moderne vertalings wat die Hebreeuse gedagte getrou vertaal, maak geen melding daarvan nie.—Psalm 22:22; 29:6; 92:11 (21:22; 28:6; 91:11, Douay).
Deur die eeue heen het baie mites ontstaan oor ’n dier met die liggaam en kop van ’n perd maar die bene van ’n takbok en die stert van ’n leeu. Die vernaamste kenmerk van hierdie legendariese dier is waarskynlik die gedraaide horing op sy voorkop.a
“Mense het vroeër geglo dat die eenhoring se horing ’n teengif bevat, en gedurende die Middeleeue is poeiers wat kwansuis uit hierdie horings vervaardig is teen buitensporige pryse verkoop. Die meeste geleerdes glo dat die idee van die eenhoring ontstaan het uit Europese verhale oor die renoster wat op hoorsê berus het” (The World Book Encyclopedia). Sekere Assiriese en Babiloniese monumente het diere met een horing uitgebeeld. Vandag besef mense dat dit takbokke, Europese steenbokke, koeie en bulle is wat in profiel uitgebeeld is; ’n uitbeelding wat nie al twee horings getoon het nie.
Dit is vir Bybelstudente van belang omdat die Skrif nege keer van ’n sekere dier praat wat in Hebreeus reʼemʹ genoem word (Numeri 23:22; 24:8; Deuteronomium 33:17; Job 39:12, 13; Psalm 22:22; 29:6; 92:11; Jesaja 34:7). Vertalers was lank in die duister oor watter dier die Bybel van praat. Die Griekse Septuagint het reʼemʹ as ‘van een horing’, of eenhoring, weergegee. Die Latynse Vulgaat vertaal dit dikwels as “renoster”. Ander vertalings gebruik ‘wilde os’, ‘wilde beeste’ of ‘buffel’. Robert Young translitereer net die Hebreeus sodat dit in Engels “Reem” is, wat die leser in werklikheid in die duister laat.
Maar vandag se geleerdes het baie van die verwarring oor die reʼemʹ uitgeskakel. Leksikograwe Ludwig Koehler en Walter Baumgartner toon dat dit “wilde osse” beteken, wat wetenskaplik as Bos primigenius bekend staan. Dit is ’n “subfamilie van die groot familie diere wat horings en hoewe het”. The New Encyclopædia Britannica verduidelik:
“’n Paar digterlike dele van die Ou Testament praat van ’n sterk en pragtige dier met horings wat reʼemʹ genoem word. Hierdie woord word in baie vertalings as ‘eenhoring’ of ‘renoster’ vertaal, maar baie moderne vertalings verkies ‘wilde os’ (oeros), wat die regte betekenis van die Hebreeuse woord reʼemʹ is.”
Maar as gevolg van die feit dat “os” in moderne Engels ’n gekastreerde bees beteken, vertaal die New World Translation of the Holy Scriptures die woord reʼemʹ konsekwent en korrek as “wilde bul”. Die oeros (wilde os, of bul,) het blykbaar teen die 17de eeu uitgesterf, maar wetenskaplikes het vasgestel dat hy baie verskil het van die legendariese eenhoring. Die oeros was ongeveer 1,8 meter hoog en ongeveer drie meter lank. Hy kon tot 900 kilogram weeg en sy twee horings kon elk langer as 75 sentimeter wees.
Dit stem beslis ooreen met die Bybel se melding van die reʼemʹ, of wilde bul. Hy was bekend vir sy krag en steekse geaardheid (Job 39:13, 14) sowel as sy ratsheid (Numeri 23:22; 24:8). Hy het klaarblyklik twee horings gehad, en nie een, soos die legendariese eenhoring nie. Moses het na sy twee horings verwys toe hy toegelig het hoe twee magtige stamme van Josef se twee seuns sou afstam.—Deuteronomium 33:17.
Die Bybel steun dus nie die bestaan van eenhorings soos dit in legendes voorkom nie. Dit skilder wel ’n getroue, maar beperkte, beeld van die reuse- en vreesinboesemende oeros, of wilde bul, wat in Bybelse tye bestaan het en nie te lank gelede nie uitgesterf het.
[Voetnoot]
a Professor Paul Haupt verduidelik: ‘In Middeleeuse versamelings is daar aangeneem dat die horings van renosters of die stoottande van narwalle (wat ook eenhoringvisse of eenhoringwalvisse genoem word) die horings van eenhorings is.’
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Treasury of Fantastic and Mythological Creatures: 1,087 Renderings from Historic Sources, by Richard Huber/Dover Publications, Inc.