Meer as net boeiende pilare
Besoekers word geboei deur pilare in die Middellandse See by Cesarea, ’n antieke hawe aan die kus van Israel. Herodus die Grote het hierdie hawe gebou en dit ter ere van keiser Augustus na hom vernoem.
Argeoloë het ’n groot deel van die stad opgegrawe, met inbegrip van sy groot amfiteater. Hulle het ook geduik om vas te stel hoe die hawekompleks op die sanderige strand gebou is.
The New York Times (8 Januarie 1991) het ’n berig gehad oor die ontdekking van pilare in die oorblyfsels van ’n paleis wat voorheen tot in die see gestrek het. Wat hulle besonders maak, is die feit dat die pilare inskripsies bevat van die name van sekere Romeinse keisers wat voorheen onbekend was. Die “kurator” van die skepe word ook gemeld, en dit “is die eerste inskripsie wat tot nog toe ontdek is wat met die hawe verband hou”.
Bybelstudente weet dat die apostel Paulus hierdie hawe aan die einde van twee sendingreise binnegevaar het. Hier het hy by Filippus die evangelis tuisgegaan, en sy ondervindinge het die dissipels ongetwyfeld baie bemoedig (Handelinge 18:21, 22; 21:7, 8, 16). Ons kan talle van hierdie opwindende ondervindinge lees in die Bybelboek die Handelinge van die apostels.
Hierdie pilare langs die kus is derhalwe nie net nuttelose geskiedkundige oorblyfsels nie. Hulle herinner Christene aan hulle eertydse broers wat die goeie nuus ywerig in hawens en tot “aan die uiterste van die aarde” bekend gemaak het.—Handelinge 1:8.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Garo Nalbandian