Christelike onkreukbaarheid word gehandhaaf in oorloggeteisterde Liberië
Soos vertel deur ’n ooggetuie
“WANNEER olifante baklei, sal die gras ook ly.” Hoe goed som daardie spreekwoord uit Wes-Afrika tog op wat gedurende die onlangse oorlog in Liberië gebeur het! Sowat 20 000 mense het hulle lewe verloor, en die helfte van die land se bevolking van 2,6 miljoen het uitgewekenes geword. Die meeste van diegene wat gely het, was nie soldate nie; hulle was “die gras”—onskadelike mans, vroue en kinders.
Toe die oorlog in Desember 1989 uitgebreek het, het die ongeveer 2 000 Getuies van Jehovah in Liberië bestendige vermeerdering geniet en hulle het met vertroue na die toekoms uitgesien. Ongelukkig was hulle deel van ‘die gras wat gely het’.
Die oorlog versprei
Die oorlog het langs die grens tussen Liberië en Côte d’Ivoire begin, en kort voor lank het vlugtelinge na die hoofstad, Monrovia, wat meer as ’n halfmiljoen inwoners het, begin vlug. Vanaf Maart tot die einde van Mei 1990, terwyl die oorlog suid beweeg het, is sendelinge van Jehovah se Getuies eers uit Ganta en toe uit Gbarnga verwyder. Hulle was onder die laastes van die bevolking wat hierdie dorpe verlaat het. Die oorlog het op 2 Julie 1990 ’n klimaks bereik toe gewapende magte Monrovia ingeneem het.
Niemand was voorbereid op die gruwels wat daarop gevolg het nie. Drie afsonderlike leërs het dit met grofgeskut, vuurpyle en granaatlanseerders in die strate uitgeveg. Diegene wat nie doodgemaak is omdat hulle aan ’n gehate stam behoort nie, is voortdurend lastig geval en hulle besittings deursoek. Een nag in Augustus is meer as 600 mans, vroue en kinders wat in die Lutherse St. Petruskerk geskuil het deur ’n oorlogmal moordbende tereggestel.
Honderde mense het van die vegtery af weggevlug met net die klere wat hulle aangehad het. Gesinne is geskei en kon maande lank daarna nie herenig word nie. Dit het gelyk of die hele bevolking van Monrovia getrek het, terwyl soldate en vlugtelinge wat uit ander dele van die stad gevlug het in leë huise ingetrek het. Meer as die helfte van Monrovia se bevolking is ontwortel. Die meeste mense het al hulle besittings verloor sowel as ten minste een naasbestaande. Sommige het baie meer naasbestaandes verloor.
Die situasie het so ’n kritieke punt bereik dat vyf ander lande in Wes-Afrika soldate daarheen gestuur het om die vrede te probeer herstel. Teen die einde van Oktober 1990 het die vegtery grotendeels afgeneem. Maar toe het hongersnood soos ’n doodskleed oor die uitgebrande stad neergesak. Noodlenigingsgroepe het berig dat bykans ’n derde van Monrovia se kinders onder vyf op een tydstip ondervoed was en dat meer as honderd mense elke dag gesterf het. Gewinsoekers het toestande nog verder vererger; baie het rys van die noodvoorraad gesteel en dit dan vir 55 rand en meer per koppie verkoop. Siektes, veral cholera, het oral voorgekom, aangesien die stad se water, sanitasie en elektrisiteitsvoorsiening heeltemal vernietig is.
Die ongeveer eenduisend Getuies van Jehovah wat in Monrovia gewoon het, het ook verskriklik gely. Die meeste mense het uit die stad gevlug en na die platteland gegaan, terwyl ander per boot na Ghana en Nigerië of padlangs na Côte d’Ivoire of Sierra Leone gegaan het. Van Julie tot Desember 1990 het meer as 30 Getuies hulle lewe verloor. Sommige is doodgeskiet, terwyl ander weens die gevolge van siekte en honger gesterf het. Alan Battey en Arthur Lawson, Amerikaanse sendelinge wat aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer het, was klaarblyklik onder dié wat gesterf het. Wat ’n groot vertroosting is die Bybel se opstandingshoop tog vir dié van ons wat familielede of vriende gedurende daardie verskriklike tyd verloor het!—Handelinge 24:15.
Christelike broederskap in aksie
Terwyl die oorlog voortgewoed het, het baie ontwortelde Getuies vir skuiling na die takkantoor van Jehovah se Getuies en na ’n sendinghuis aan die ander kant van die dorp gevlug. Sommige het beskerming gesoek omdat hulle van ’n stam was wat deur die soldate in die gebied doodgemaak is. Die meeste het werktoewysings by die takkantoor ontvang en was van onskatbare waarde deur te help met die kook- en skoonmaakwerk, terwyl ander aangesê is om eetbare blaargroente in die moeras daar naby te gaan soek wanneer toestande buite dit toegelaat het.
Mense het orals geslaap, in die sendelinge se slaapkamers, in gange, in die Versendingsafdeling en in kantore. Ons het toilette gegrawe en in stand gehou. Vroue is aangestel om as verpleegsters te dien, en hulle het baie malaria- en koorsgevalle suksesvol behandel. Diarree was dikwels ’n probleem.
Ons het spesiale huisprosedures, waaronder bomoefeninge, gereël. Ons is dus geleer om beskutte gedeeltes van die takkantoor vinnig te bereik wanneer die strydende magte mekaar onder grofgeskut gesteek het. Hoewel ons drie meter hoë muur ’n bietjie beskerming gebied het, was dit nie genoeg om opslagkoeëls uit te hou nie. Ons dak het kort voor lank soos ’n peperpot begin lyk van al die gate daarin!
Baie het hulle lewe op die spel geplaas om mede-Getuies te beskerm van diegene wat hulle wou doodmaak omdat hulle aan ’n gehate stam behoort. Een dag het ’n Christensuster in trane by die takkantoor aangekom met haar oorlewende kinders, waarvan een ’n twee weke oue baba was. Haar man en tienderjarige seun is so pas voor haar oë doodgeskiet. ’n Ander Getuie het haar en haar oorblywende kinders weggesteek toe die moordenaars teruggekom het om na hulle te soek.
Nog ’n gesin het by die takkantoor aangekom met ’n ongedoopte verkondiger wat hulle help beskerm het sodat hulle nie deur lede van haar stam doodgemaak word nie. Later, toe die situasie verander het en die ongedoopte verkondiger in gevaar was, het die gesin haar teen lede van hulle stam beskerm.
Sendelinge het herhaaldelik met gewapende mans by die hek van die takkantoor gepraat om te probeer verhoed dat hulle die perseel deursoek of plunder. Een keer het ’n aggressiewe groep ingebars, ons met vuurwapens gedreig en volgehou dat ons lede van ’n spesifieke stam versteek. Hulle was verbaas om te sien hoe kalm die plaaslike Getuies was, en dat hulle stil gesit en luister het na die Christelike vergadering waarmee ons besig was. Hulle het die huis deursoek maar het nie gevind waarna hulle gesoek het nie. Ons kon die indringers altyd verseker dat ons nie soldate of enige van hulle vyande versteek het nie. As Christene was ons neutraal.
Een keer gedurende hewige gevegte het ’n groep Getuies wat ’n broer met terminale kanker gedra het by die tak aangekom. Ongelukkig het hy kort daarna gesterf. ’n Graf is in die erf gegrawe, en wat ’n emosionele begrafnis het ons tog nie gehou nie! Die broer was een van ons puikste plaaslike ouere manne, met baie jare van getroue diens. Omtrent honderd vlugtelinge het in die portaal vir die gedenktoespraak byeengekom, wat gehou is met die geluid van geweervuur in die agtergrond.
Ons bekom voedsel en water
Voedselvoorrade was baie beperk. Selfs voor die oorlog begin het, het handelaars nie meer goedere ingevoer nie. Baie min voedsel was dus in die stad oor. Ons voedselvoorraad by die tak sou ons 12 gesinslede baie maande gehou het, maar ons het soms tot 200 mense gehad wat by ons gewoon het, waaronder bure wat nie Getuies was nie maar wat hulp bitter nodig gehad het. Almal was beperk tot een klein maaltyd per dag; ons het etlike maande op sulke rantsoene oorleef. Almal was honger. Babas was net vel en been, en hulle het slap in hulle ouers se arms gehang.
Kort voor lank het ons voedselvoorraad begin opraak. Waar kon ons nog kry? Daar was geen winkels in Monrovia oop nie. Orals waar mens gekyk het, het verhongerde mense in die strate rondgeswerf op soek na kos. Mense het enigiets geëet—selfs honde, katte en rotte. Twee sendelinge van die tak het besluit om na Kakata te probeer gaan, ’n dorp ongeveer 60 kilometer daarvandaan, waar die vegtery opgehou het.
Hulle het eksemplare van Die Wagtoring en aanduidings om hulle as Jehovah se Getuies te identifiseer in die motor se vensters gesit. Nadat hulle deur verskeie kontrolepunte is, het ’n groot, fors man met granate wat op sy bors hang en ’n rewolwer aan sy sy hulle voorgekeer en ondervra. Hulle het hulle as Jehovah se Getuies geïdentifiseer en vir hom gesê dat hulle na Kakata wou gaan om voedsel te kry.
“Volg my”, het hy gesê. “Ek is die bevelvoerder hier.” Hy het hulle na sy hoofkwartier geneem. Toe hy hoor dat hulle skuiling bied aan vlugtelinge, het hy sy manskappe opdrag gegee om 20 sakke rys, wat elk 45 kilogram weeg, by ons takkantoor af te lewer! ’n Permit vir hulle om na Kakata te gaan, is ook uitgereik, en ’n gewapende wag is toegewys om hulle veilig deur die oorblywende kontrolepunte te lei.
By Kakata het hulle ons Christenbroer Abraham, wat ’n winkel gehad het, aangetref. Hy het kartonne voedsel vir ons gebêre, wat onder andere poeiermelk, suiker, ingelegde groente en ander noodsaaklike items bevat het. Dit was waarlik wonderlik om die manier te sien waarop ons broers op hulle reis versorg is. Dit moes Jehovah behaag het dat ons ons voedsel met ons vriende en bure gedeel het, want toe is ons voorrade weer aangevul.—Spreuke 11:25.
Aan die ander kant van Monrovia het sendelinge in ’n sendinghuis ook vlugtelinge versorg, en hulle het ook bystand uit onverwagte oorde ontvang. ’n Sendeling het byvoorbeeld drie sakke rys by ’n soldaat gekry, wat hom onthou het sedert die tyd toe hy sowat 16 jaar vantevore in die soldaat se gebied gedien het. Nog ’n sendeling het vier sakke rys gekry na ’n persoonlike onderhoud met die leier van een van die vegtende faksies.
Op een stadium het dit gelyk asof ons die takkantoor sou moes ontruim as gevolg van ’n watertekort. Ons put was ’n tyd lank die enigste bron van drinkwater vir baie in die gemeenskap. Die brandstof vir die elektriese kragopwekker vir ons pomp het egter begin klaar raak. Toe ’n man wat gedurende die eerste dae van die vegtery by die takkantoor geskuil het van ons probleem gehoor het, het hy brandstof vir ons gevind uit waardering vir wat ons vir hom gedoen het, en ons watervoorraad het dus nooit opgeraak nie.
Ons bly geestelik sterk
Toe die laaste van ons sendelinge aangespoor is om Liberië in Oktober 1990 te verlaat, was die eerste ding wat in ons gedagte opgekom het: Hoe sal ons broers en susters regkom? Uit die verslae wat ons sedert daardie tyd ontvang het, is dit duidelik dat hulle hulle in die bediening besig gehou het.
Voor die oorlog was die gemiddelde aantal ure wat elke Getuie in die bediening bestee het ongeveer 17 elke maand. Maar gedurende die oorlog, ten spyte van die feit dat hulle voortdurend in die bos moes gaan kos soek, het die Getuies in sommige gemeentes ’n gemiddelde van meer as 20 uur per verkondiger gehad! Daarbenewens het baie van ons susters, as gevolg van ’n tekort aan eksemplare van Die Wagtoring, die studie-artikels oorgeskryf sodat daar meer eksemplare kon wees om Sondae in die vergadering te gebruik.
Die vier gemeentes naaste aan Monrovia was vol Getuies wat van die vegtery in die stad af weggevlug het. Hierdie vriende het al hulle besittings verloor, aangesien hulle nie terug kon gaan na hulle huise om enigiets te gaan haal nie. Trouens, baie was maande lank selfs aan teenoorgestelde kante van die gevegslinies as hulle eie kinders en ouers! Vir die herdenking van Jesus se dood op 30 Maart het hierdie vier gemeentes ’n gesamentlike bywoning van 1 473 gehad.
Die 300 of wat Getuies wat in Monrovia oorgebly het, het ’n spesiale poging aangewend om gedurende die Gedenkmaalmaand hulppionierdiens te doen, al was hulle slegs ’n paar weke vroeër fisies so swak van die honger dat hulle skaars kon loop. Hulle het baie hard gewerk om mense na die Gedenkmaal toe uit te nooi, en 1 116 het dit bygewoon.
Een Christen- ouere man in Monrovia het verduidelik: “Ons het besluit om in Desember 1990 weer in ons Koninkryksaal te begin vergader. Daar was 17 by ons eerste vergadering. Later het dit tot 40 gestyg, en dit het ’n ruk lank in die 40 gebly. Toe, op 24 Februarie, het ons bywoning vermeerder tot 65 en ’n week later tot 85. Verder het byna almal in die gemeente gunstig gereageer op die versoek om gedurende Maart hulppionierdiens te doen.”
Sorg vir ander mense
“Ons kerkbroers [van strydende stamme] het mekaar gedurende die oorlog doodgemaak”, het ’n nie-Getuie wat ’n naasbestaande van een van die Getuies is, opgemerk, “en hulle het nooit tyd vir mede-aanbidders gehad nie.” Maar hoe anders was die situasie van Jehovah se volk tog nie!
Die voorsitter van ’n noodlenigingspan in die omgewing het byvoorbeeld aan die broers geskryf wat in Februarie 1991 vir die takkantoor gesorg het: “Hierdie brief is ’n blyk van dank en waardering vir julle en julle genootskap vir die bergplek wat julle voortdurend vir ons voorsien het terwyl ons voedsel aan ons mense uitgedeel het. Julle mensliewende gebaar toon julle gewilligheid as ’n Genootskap om vrede en welwillendheid na die land te bring. Hou asseblief aan met julle goeie diens.”
Jehovah se Getuies in ander lande het ook vinnig op die behoeftes van hulle broers in Liberië gereageer. Lande soos Sierra Leone en Côte d’Ivoire in Wes-Afrika, Nederland en Italië in Europa en die Verenigde State het ook noodleniging voorsien.
Een dogtertjie, wie se ma tereggestel is omdat sy lid van ’n gehate stam was, het haar dankbaarheid uitgespreek vir die hulp wat sy ontvang het. Sy het geskryf: “Baie dankie vir al die dinge wat julle vir my stuur. Julle laat my voel asof my ma by my is. Ek het haar en my boetie in die oorlog verloor. Ek vra Jehovah om julle almal te seën. Ek is 11 jaar oud.”
’n Broer met ’n gesin van ses en wie se vrou maande lank moes wegkruip as gevolg van die stam waaraan sy behoort, is ook dankbaar vir die hulp wat hy ontvang het, en hy het geskryf: “Ons het nie by mense se huise ingebreek om hulle eiendom te plunder en te verkoop nie en tog, anders as ons bure, het ons elke dag iets gehad om te eet omdat ons weet hoe om die bietjie wat ons het verstandig te gebruik. Dit het ons by Jehovah geleer.”
Die gees van ’n broer wat saam met sy vrou en twee kinders na Côte d’Ivoire gevlug het, is ook baie aangrypend. Hy het ’n pragtige huis agtergelaat wat later heeltemal afgebrand is. Maar hy het gesê dat dit nie die verlies van sy huis nie, maar die verlies van sy teokratiese biblioteek was wat hom die seerste gemaak het!
Waardevolle lesse wat ons geleer het
Wanneer ek terugdink, besef ek dat Jehovah ons talle waardevolle lesse geleer het. Die feit dat ek baie van die broers persoonlik ken wat hulle onkreukbaarheid gehandhaaf en die oorlog oorleef het, sowel as sommige wat hulle onkreukbaarheid gehandhaaf en gesterf het, het my gehelp om in te sien hoe belangrik dit is om die gesindheid te hê van die apostel Paulus, wat geskryf het: “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”—Romeine 14:8.
Nog ’n sendeling wat reeds jare lank dien, het gesê: “Deur al hierdie dinge heen het ons geleer dat Jehovah ’n Helper sonder weerga is. Dit is net soos Paulus gesê het: ‘Dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe’” (2 Korinthiërs 1:9, NAV; Psalm 30:11). Hy het bygevoeg: “Die oorlog het duidelik vir ons getoon dat Jehovah se volk waarlik ’n broederskap is, wat hulle beklee met die selfopofferende liefde wat Jesus beklemtoon het.”—Johannes 13:35.
’n Brief van ’n suster uit Liberië aan sommige van ons sendelinge wat die land gedurende die gevegte in Oktober 1990 moes verlaat, lig tereg die krag van ons Christelike broederskap toe. “Dit is my gebed dat julle almal spoedig na Liberië sal terugkeer en dat ons ’n byeenkoms kan hê”, het sy geskryf. “O! Ek kan nie wag vir daardie dag nie. Die blote gedagte daaraan maak my gelukkig.”
Ja, dit sal wonderlik wees om te sien dat die gewone roetine van Christelike bedrywigheid in Liberië ten volle herstel is. Ons suster is reg; die eerste byeenkoms in Monrovia ná die terugkeer van die sendelinge en ander vlugtelinge sal vreugdevol wees. Daar bestaan geen twyfel daaromtrent nie!
[Kaarte op bladsy 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
LIBERIË
Monrovia
Kakata
Gbarnga
Ganta
SIERRA LEONE
GUINEE
CÔTE D’IVOIRE
Atlantiese Oseaan
[Prent op bladsy 28]
Kinders van ontwortelde Getuies by die takkantoor gedurende die oorlog
[Prent op bladsy 31]
Liberiese vlugtelinge sorteer klere wat deur Getuies in Côte d’Ivoire geskenk is