Die laaste van die Dooie See-rolle word beskikbaar gestel
VERLEDE September is ’n wetenskaplike knelpunt uiteindelik ná dekades verwyder. Dit wil voorkom of ’n bittere geskil tussen studente van die Dooie See-rolle beëindig is, hoewel ’n nuwe geskil dalk begin het.
Die Dooie See-rolle is in 1947 en in die daaropvolgende jare in grotte naby die Dooie See ontdek. Hulle was van groot waarde om die wesenlike akkuraatheid van die teks van die Hebreeuse Geskrifte te bewys en om lig te werp op godsdienstoestande in Palestina toe Jesus op die aarde was (Jesaja 40:8). Hoewel party manuskripte redelik gou gepubliseer is, was daar in 1991 byna 400 manuskripte wat nog steeds nie gepubliseer of vir die meeste kenners beskikbaar was nie. Baie kenners het soos professor Ben Zion Wacholder gevoel, “gefrustreerd deur die besef dat, teen die huidige tempo van publisering, ons almal dood sal wees wanneer die korpus van Dooie See-tekste vir die wêreld beskikbaar kom”.
Maar verlede September het die situasie verander. Professor Wacholder en ’n kollega, Martin Abegg, het eers aangekondig dat hulle ’n rekenaar vernuftig gebruik het om die streng bewaarde tekste te kopieer. Toe het die Huntington-biblioteek in San Marino, Kalifornië, VSA, aangekondig dat hulle foto’s van die oorspronklike manuskripte het en dit vrylik aan erkende geleerdes beskikbaar sal stel. Blykbaar is ’n aantal fotokopieë van die rolle gemaak om hulle behoud te verseker. Stelle foto’s is op verskillende plekke gebêre, en een het uiteindelik in die Huntington-biblioteek beland.
Een geleerde het hierdie ommekeer in gebeure ‘die wetenskaplike ekwivalent van die afbreek van die Berlynse Muur’ genoem. Amptelike redakteurs het die publisering van die rekenaargeproduseerde teks, asook die beskikbaarstelling van die foto’s, ‘diefstal’ genoem. Die argument oor etiek sal waarskynlik jare lank voortwoed. Intussen wil dit voorkom asof ander geleerdes die Dooie See-rolle uiteindelik as ’n geheel kan raadpleeg.
[Prent op bladsy 32]
Voorstelling van ’n kommentaar oor Habakuk, een van die Dooie See-rolle